Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Diepte-verslag: So dwing pandemie kleuterskole op knieë

Die pandemie het die landskap van voorskoolse onderrig in Suid-Afrika op sy knieë gedwing terwyl die regering meestal geslaap het. Die vraag is of ons kinders ooit sal kan terugkry wat hulle verloor het, vra Willemien Brümmer.

Theodora Lutuli, die prinsipaal van Khanyisa-kleuterskool en Inkwenkwezi Educare-sentrum in Nyanga, moes verlede jaar uitvind nie almal staan gelyk voor die virus nie.

“Dit voel asof ons weer heeltemal van voor af moet begin,” sê Theodora Lutuli, ’n prinsipaal van Nyanga wat die afgelope jaar moes leer nie almal staan gelyk voor die virus nie.

Vir haar, soos vir baie ander, was dit ’n jaar van verlies. Nie net is haar twee kleuterskole se bankrekeninge gesluit nie; die een beur ook nou voort sonder elektrisiteit nadat sy weens die pandemie gedwing was om verlede jaar vir sewe maande nie haar voet in die klein baksteengeboutjie op die perseel van die Metodistekerk te sit nie.

Lutuli was reeds voordat Covid-19 gekom het en die kleuterskoollandskap uitgekalwer en afgetakel het gewoond aan raap en skraap.

Haar twee sentrums, Khanyisa-kleuterskool en Inkwenkwezi Educare-sentrum, se enigste inkomste was nog altyd uit die skoolgeld van tussen R200 en R300 per maand wat ouers betaal. Toe pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar gelas het dat alle kleuterskole, kinderhawens en speelgroepe op 18 Maart moes sluit, het daar nie meer ’n sent na haar of haar skole se bankrekening gevloei nie.

Nadat die Khaynisa-kleuterskool in Nyanga verlede jaar vir sewe maande gesluit was, kon die skoolhoof dit nog nie bekostig om die heraansluitingsfooie te betaal sodat dié sentrum weer elektrisiteit kan kry nie.

“Ons wêreld is onderstebo gekeer. Baie van ons kinders kom uit huise waar die ouers nie drie maaltye per dag vir hulle kan bekostig nie en die drie etes wat hulle by die skool gekry het, is toe weggeneem van hulle. Ek kon ook nie meer my personeel betaal nie en baie van hulle was reeds vantevore afhanklik van die kos wat hulle by die sentrums gekry het. Met dit wat ek kon bekostig, was dit reeds nie genoeg om hulle deur te dra nie.”

Vir alles en enige iets wat ons doen, moet ons bewys dat ons ’n diens is wat van kritieke belang is in ons samelewing en in ons gemeenskap.
Theodora Lutuli

Soos die meeste ander voorskoolse sentrums in Suid-Afrika is haar sentrum nie geregistreer nie – wat beteken sy kry geen regeringsfinansiering nie. Dié sentrums is meestal informele dienste deur private diensverskaffers. In arm gemeenskappe word dit dikwels op klein skaal deur vroue bedryf, met personeel wat bestaanslone verdien.

Lutuli, voorsitter van die Ubumbano- voorskoolse forum in haar gemeenskap, klink moedeloos oor die telefoon. “Terwyl daar voorsiening gemaak is vir byna elke ander sektor tydens die pandemie was ons s’n die laaste wat enige steun van die regering gekry het. Vir alles en enige iets wat ons doen, moet ons bewys dat ons ’n diens is wat van kritieke belang is in ons samelewing en in ons gemeenskap. Dis baie hartseer, want as jy daarna kyk is dit die grondslagfase wat die boublokkies is waarop die kinders vir die res van hul lewe moet bou, maar die regering sien ons nie so nie.”

’n Minister minus ’n Nobelprys

Die departement van maatskaplike ontwikkeling en sy minister, Lindiwe Zulu, waaronder die meeste van hierdie sentrums en kleuterskole val, het inderdaad nog nie juis vir ’n Nobelprys gedurende die pandemie gekwalifiseer nie. Ná die aanvanklike sluitings was daar aansienlike verwarring oor wanneer voorskoolse sentrums mag heropen. Eers in Julie het ’n hofuitspraak deur regter Hans Fabricius gelas dié sentrums mag oopmaak, mits hulle aan die nodige gesondheidsprotokols voldoen. Fabricius het in sy uitspraak sy “ernstige misnoeë” te kenne gegee in Zulu se optrede – of dalk eerder die gebrek daaraan.

’n Kleuterskoolkind in Palestina dra ’n gesigmasker by die skool om hom teen Covid-19 te beskerm. In Suid-Afrika het nog net sowat die helfte van alle voorskoolse sentrums weer oopgemaak nadat hulle in Maart verlede jaar gesluit is. Foto: Getty Images

Die werklikheid was egter dat die onbeholpenheid van die departement een van die baie redes was hoekom ’n hele sektor verlede jaar byna heeltemal tot stilstand geruk is. Teen Augustus verlede jaar het ’n Nids-Cram-opname oor Covid-19 bevind die bywoning van voorskoolse sentrums en kleuterskole was die laagste die afgelope 18 jaar – met slegs 13% van voorskoolse kinders (van 0 tot 6) wat ’n sentrum of kleuterskool bygewoon het. ’n Huishoudingsopname in 2018 het bevind byna die helfte van voorskoolse kinders was in dié jaar by ’n soort bewaarsentrum of kleuterskool.

Prof. Eric Atmore, direkteur van die Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling, sê volgens ’n aparte blitsopname wat in September verlede jaar deur sy organisasie en ander gedoen is, het net 15 tot 20% van kinders wat in Maart verlede jaar by ’n sentrum ingeskryf was ná die sluitings teruggekeer.

Toe die Inkwenkwezi Educare-sentrum in Nyanga in Oktober verlede jaar uiteindelik weer sy deure kon oopmaak, het net 25 van die 100 kinders teruggekom.

Sentrums soos dié van Lutuli kon eers in Oktober verlede jaar heropen omdat hulle nie aan die Covid-19-protokol kon voldoen nie.

In Augustus verlede jaar was sy een van duisende voorskoolse onderwyseresse en hoofde wat die strate ingevaar het omdat hulle gevoel het dié sektor word misken. Hierna het die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling vir sentrums in dié provinsie tussen R1 638 en R4 000 elk gegee om hulle te help om beskermende toerusting te koop. Hulle moes egter steeds aan ’n “dik dokument vol voorskrifte” voldoen en kleuters moes 1,5 m van mekaar af sit – wat beteken dat klasse nie so vol soos vantevore kon wees nie.

In Augustus verlede jaar het duisende kleuterskoolonderwyseresse en prinsipale die strate ingevaar in ’n poging om voorskoolse onderrig in Suid-Afrika te red. In daardie stadium was 13 277 poste in dié sektor reeds verlore.

“Selfs toe ek weer in Oktober oopmaak, het net 25 van die 100 kinders by Inkwenkwezi teruggekom en by Khanyisa het 15 van die 71 teruggekom,” sê Lutuli. “Vanjaar is gelukkig baie beter. Ons begin nou eers weer ons voete vind, maar weens die Covid-19-maatreëls mag ons nog nie teen ons volle kapasiteit funksioneer nie.”

‘Ek sou honger gely het’

Lutuli het gedurende die inperking vir haar gemeenskap gekook met die oorskietkos wat in haar sentrums oorgebly het “om seker te maak ek beland nie in ’n psigiatriese inrigting nie”.

“Ek het die gemeenskap gevoed op ’n daaglikse basis met behulp van ander organisasies en só kon ek seker maak dat ek ook elke dag aandete kon geniet. As dit nie daarvoor was nie, sou ek in dié tyd honger gely het. My man is ’n predikant en hy het ook nie ’n inkomste gehad nie,” sê sy sag.

Haar hart het byna gebreek toe sy vir haar personeel moes vertel sy sal dit nie teen hulle hou as hulle ander werk soek nie.

’n Onderwyseres by die Khanyisa-kleuterskool voer ’n baba in die dae voor Covid-19. Baie kinders en ouers is afhanklik van die drie maaltye per dag wat die kinders by die kleuterskool kry.

“Dit is hoekom ek wat ek ook al in hierdie tyd gehad het met hulle gedeel het.”

Die meeste voorskoolse praktisyns in haar gemeenskap se bankrekeninge is in hierdie tyd gesluit omdat daar nie ’n enkele sent daarin oor was nie.

“Nou kry dié van ons wie se sentrums weer oopgemaak het weer geld, maar ons het nie meer bankrekeninge nie en as jy nou wil aansoek doen vir die president se aansporingsfonds vir voorskoolse ontwikkeling, moet jy ’n bankrekening hê in die naam van jou sentrum.”

Toe ek nou weer probeer het om elektrisiteit te koop, kon ek nie omdat hulle vir my gesê het ek skuld R1 752 se heraansluitingsfooie voordat hulle dit weer sal aansit.

Dieselfde geld vir haar elektrisiteit. By Inkwenkwezi kon sy nie gedurende die sluitings haar voorafbetaalde elektrisiteit bekostig nie omdat sy nie eens by haar huis vir krag en water kon betaal nie.

“Toe ek nou weer probeer het om elektrisiteit te koop, kon ek nie omdat hulle vir my gesê het ek skuld R1 752 se heraansluitingsfooie voordat hulle dit weer sal aansit.”

By vreemdelinge gelos

“Haar” kinders het haar in hierdie tyd snags wakker gehou.

Die gr. R’s by Inkwenkwezi Educare-sentrum kry “graad” in die dae voor die pandemie.

“Die een meisie se ma het gebel om te sê sy huil elke oggend omdat sy wil kleuterskoolpap hê. Daar is ook kinders wat in hierdie tyd weggeraak het en toe moes die gemeenskap na hulle gaan soek. Toe die ekonomie weer oopmaak en ouers terug is werk toe moes hulle letterlik die kinders by sibbe los en ander kinders is op hul eie gelos. Die ouers sou byvoorbeeld vir die bure ’n sleutel gee en hulle moes op ’n sekere tyd gaan oopsluit. In sommige gevalle was daar alkoholmisbruik of verwaarlosing, selfs al is hierdie mense betaal vir hul dienste.”

Die meeste van haar ouers, sê sy, het hul kinders glad nie in hierdie tyd gestimuleer nie.

“Hulle verlaat die huis soggens om ses en wanneer hulle terugkom moet hulle aandete maak en hulle is moeg en dan bad hulle net die kind en dis dít. Ek het probeer om aktiwiteite aan te stuur via WhatsApp, maar baie mense het nie toegang gehad tot die internet nie, en baie het nooit eens die moeite gedoen om te kyk na die aktiwiteite nie.”

In Januarie vanjaar toe die kinders ná die somervakansie terugkom, kon sy sien baie van hulle is “half afgetrokke”.

Die kinders word dan slagoffers van verbale of fisieke geweld en hulle sukkel.

“Hulle is by vreemdelinge gelos terwyl hul ouers by die werk was en sommige van hulle is in hierdie tyd aan geweld blootgestel. Terwyl die ma en pa nog albei by die huis was, sou die kinders vir kos vra en dan is daar niks. Die kinders word dan slagoffers van verbale of fisieke geweld en hulle sukkel. Hulle kom dan terug na die sentrum en ons mag hulle nie vasdruk nie en ons kan nie vir hulle die fisieke ondersteuning gee waaraan hulle gewoond is nie. Ons moes aan nuwe maniere dink wat steeds vir ons veilig is.”

Helfte van sentrums bly toe

Vergeleke met sommige ander kleuterskoolhoofde was Lutuli verreweg nie die ergste daaraan toe nie. In die Wes-Kaap het die meeste sentrums uiteindelik in Oktober en November hulp gekry met beskermende toerusting en dié provinsie was ook die enigste waar subsidies regdeur die inperking uitbetaal is.

Die regeringsubsidie van R17 per kind per dag vir 264 dae per jaar is egter slegs vir geregistreerde sentrums en vir baie arm kinders – en dit bereik slegs ’n fraksie van alle voorskoolse sentrums in die land.

Een van die duisende voorskoolse sentrums in Suid-Afrika wat steeds leeg staan omdat hy dit nog nie kon bekostig om weer sy deure oop te maak nie.

Die sektor moes hom in Oktober verlede jaar weer eens tot die hof wend, waar die hooggeregshof in Pretoria toe gelas het die minister en haar provinsiale LUR’e (almal behalwe in die Wes-Kaap) moet die volle subsidies vir die duur van die inperking uitbetaal – of hulle oop was of nie. Die meeste wag egter nog op dié geld.

Volgens Atmore kon sowat die helfte van voorskoolse sentrums in die land dit eenvoudig nog nie bekostig om te heropen nie.

“Dit is omdat ouers nie gedurende die inperking betaal het nie en hulle nie nou die kontantvloei het om te heropen of om aan die nodige gesondheidsprotokol te voldoen nie,” sê hy.

Die Covid-19-protokol wat by kleuterskole geld, beteken dat nie een van die sentrums al hul kinders kon terugverwelkom nie.

Luidens die jongste Nids-Cram-opname, wat verlede week bekend gestel is, is dit ook een van die vernaamste redes hoekom baie kinders nog nie teruggekeer het skool toe nie. Sowat 31% van die volwassenes wat aan die studie deelgeneem het, het einde verlede jaar gesê hul kinders het nie teruggegaan nie omdat die sentrum steeds tydelik gesluit was. ’n Verdere 6% het aangedui hul kind se sentrum het permanent gesluit.

Nog ’n rede, luidens dié opname, is omdat ouers dit nie meer kan bekostig om hul kleuters terug te stuur nie. Ander het hul kleuters wel weer skool toe gestuur – al kon hulle nie betaal nie.

Mario Claasen, programbestuurder by die Early Learning Resources Unit.

Dit het op sy beurt ’n invloed op die gehalte van die diens by dié sentrums. Mario Claasen, programbestuurder by die Early Learning Resource Unit (Elru), vertel heelwat van die sentrums waaraan hulle in die Wes-Kaap hulp verskaf moes aan kos, salarisse en personeel besnoei.

“Hulle moes vir ouers sê om hul eie kos skool toe te stuur vir die kinders. Hulle kan nie meer by die sentrums kook nie, want dit maak nie meer ekonomies sin om ’n kok aan te hou nie. By ander moet die onderwysers ook nou instaan as kok en hulle moet kyk wat hulle alles in hul reeds oorvol roosters kan inpas.”

Hy sê baie sentrums moes ook nou vir die eerste keer begin om aan kinders voorrang te gee volgens wie se ouers wel kan betaal.

“Ideaal gesproke moet kindersorg ’n fundamentele mensereg wees en ons behoort nie kinders weg te wys omdat hulle dit nie kan bekostig nie. Omdat sentrums weens Covid-19 nie kon terugkeer na hul voormalige kapasiteit nie, verloor hulle nou inkomste en die kruissubsidiëring wat voor die inperking plaasgevind het is ook nou moeiliker. By baie van die sentrums het die meer bevoorregte ouers dié kinders help subsidieer wie se ouers glad nie kon betaal nie, maar nou sukkel daai stelsel.”

Bloudruk vir die brein

Reeds voor ’n tyd van Covid-19 moes voorskoolse onderrig dikwels aan die agterspeen suig wanneer die nood druk. Ouers besluit om eerder hul laaste geld vir kinders in laerskole en hoërskole te gee, eerder as vir hul kleuters, sê Claasen. Dié situasie het nou vererger.

Jy kan maar instap in iemand se huis, maar jy gaan nie daai kinders sien nie.

Hy sê vir kinders met gestremdhede was die situasie selfs meer benard. Inklusiewe sentrums wat vir hierdie kinders plek maak, sowel as staatsrehabilitasiesentrums, was ook gesluit en baie wat van terapie en ander vroeë ingrypings afhanklik was, was nou daarsonder gestrand.

“Selfs voor die pandemie het ouers dikwels kinders met gestremdhede in agterkamers weggesteek waar hulle nie gesien kan word nie,” sê Claasen. “Jy kan maar instap in iemand se huis, maar jy gaan nie daai kinders sien nie. Ek weet glad nie wat van hulle geword het tydens die sluitings nie. Hulle is seker by ’n ouma of ’n ouer broer of suster gelos, maar hulle word nie gestimuleer nie en hulle word nie opgevoed nie en dis glad nie wat ons wil hê nie.”

Sonja Giese, stigter en uitvoerende direkteur van Innovation Edge.

Sonja Giese, stigter en uitvoerende direkteur van Innovation Edge, ’n organisasie wat hom toespits op arm kinders tussen die ouderdom van 0 en 6, sê die probleem is dat miljoene kleuters dalk maande en maande se broodnodige stimulasie misgeloop het in ’n tyd wat ’n soort bloudruk vir die res van hul lewe is.

“In die eerste vyf of ses jaar van ’n kind se lewe word belangrike neurale konneksies gevorm en indien kinders byvoorbeeld aan stories en boeke blootgestel word, sal die neurale konneksies in hul breine wat te doen het met taalontwikkeling geoefen word. Die brein is soos ’n spier wat versterk moet word en dis besonder ontvanklik vir ontwikkeling in daardie eerste vyf tot ses jaar.

“Indien kinders blootgestel word aan ’n omgewing waarin hulle leer, dan word die neurale konneksies na die verskillende dele van die brein sterker en dan bou jy daarop oor tyd. Indien kinders in ’n omgewing is waar hulle van stimulasie ontneem word – of hulle kry nie die regte soort stimulasie nie – dan is dit baie moeilik om later op te vang. Die eerste ses jaar is ’n ongelooflike geleentheid waarin ons kinders nie net moet stimuleer nie, hulle moet ook behoorlike voeding kry en beskerm word teen toksiese vlakke van stres, want dit het regtig ’n skadelike impak op die brein.

“Teen die tyd dat ’n kind vyf of ses jaar oud is, het hy reeds in ’n groot mate ’n bloudruk vir die brein wat hopelik gerat is om te leer – ’n brein wat veilig voel en gesond is en wat ’n langtermynuitkyk op die lewe het.”

Kinders raak meer en meer agter

Die langtermyngevolge van die kleuterskoolkrisis is legio.

Terwyl voorskoolse sentrums gesluit was, het miljoene kinders nie elke dag dié broodnodige maaltye gekry wat hulle vantevore by die skool sou kry nie. Foto: Getty Images

Nommer een is die verlies aan kennis en lewensvaardighede.

“Daar is ’n verwagting dat driejariges sekere dinge kan doen en vyfjariges weer ander dinge en as hul juffrou nie besef hulle het ses of agt maande van leer misgeloop en probeer opmaak vir die verliese nie, sal die verliese ophoop,” sê Giese. “Dit kan beteken as kinders wél vanjaar na ’n sentrum teruggaan, sal dit wees sonder sekere basiese konsepte en die daaropvolgende jaar sal dieselfde gebeur en dan word dit ’n saamgestelde verlies. Dis iets wat oor die volgende dekade in die opvoedingstelsel kan uitspeel. Jy gaan waarskynlik kinders kry wat elke jaar net meer en meer agter raak.”

Atmore sê die tweede probleem is dat kinders van voedsame kos by dié sentrums ontneem word. Die jongste Nids-Cram-opname het bevind in byna een uit elke vier huishoudings het kinders elke liewe dag te min kos om hul magie te vul.

Die derde groot impak, sê Atmore, is dat kleuters wat nie by die skool is nie, moet probeer oorleef in onveilige gemeenskappe.

“Voorskoolse sentrums verskaf ’n betreklik veilige omgewing vir kinders gedurende die dag. Net nou die dag was daar ’n kind in Langa wat geëlektrifiseer is omdat hy aan ’n gelaaide draad geraak het. As hy by ’n voorskoolse sentrum was, sou dit nie gebeur het nie.”

Verwoes nes restaurantbedryf

Net soos die restaurantbedryf gaan die voorskoolse sektor moeilik terugsteier ná die pandemie.

Onderwyseresse by die New Beginnings-kleuterskool in Chatsworth, Durban, het verlede jaar aan ’n landwye staking deelgeneem om die voorskoolse sektor in Suid-Afrika te probeer red.

“Voorskoolse praktisyns verdien reeds baie min en dikwels is hierdie inkomste in elk geval nie betroubaar nie,” sê Giese. “Maar daar was ontsettend baie belegging in opleiding en die opbou van kapasiteit oor die afgelope tien jaar en ek dink ons het nou heelwat van daardie vaardighede verloor. Mense is desperaat. Hulle sal die sektor verlaat en dalk ander geleenthede vind en ek weet nie hoe maklik dit gaan wees om hulle terug te lok nie.”

Dit gaan minstens ’n dekade neem om terug te keer na waar ons voor die pandemie was.
Prof. Eric Atmore

Dié impak gaan die ergste deur arm swart vroue gevoel word. In ’n peiling deur Ilifa Labantwana in Augustus en September verlede jaar is bevind 42,5% van die poste in die voorskoolse werksmag was toe reeds daarmee heen.

Atmore sug. “Dit gaan minstens ’n dekade neem om terug te keer na waar ons voor die pandemie was. Oor die afgelope 20 jaar het gemeenskappe radikale vordering gemaak met die voorsiening van voorskoolse sentrums. Die sektor is platgeslaan. Dis verwoes net soos die restaurantbedryf – dis die sektore wat die ergste geraak is tydens die pandemie.”

Prof. Eric Atmore, direkteur van die Sentrum vir Vroeë Kinderontwikkeling.

Die probleem was dat die regering in ’n groot mate afwesig was in hierdie tyd. “Ek het my doktorsgraad gedoen oor regeringsbeleid oor voorskoolse onderrig in die land en die belangrikste bevinding was dat daar reeds voor die pandemie ’n enorme gebrek aan politieke wilskrag was,” sê Atmore.

Hoewel organisasies die president se aansporingspakket vir indiensneming in voorskoolse onderrig verwelkom, was daar wydverspreide klagtes oor die burokratiese aansoekproses en die min tyd wat hiervoor opsygesit is. Dié noodlenigingsfonds van R496 miljoen wil probeer om 108 833 werkers in dié sektor te help met inkomste wat hulle verloor het en die aansoekproses is onlangs met ’n week verleng omdat daar aanvanklik net tien dae hiervoor opsygesit is.

“Aanvanklik het die president in Oktober aangekondig daar sou R1,3 miljard hiervoor beskikbaar wees, maar nou hoor ons net van die R496 miljoen wat ’n maksimum sal wees van R4 470 per onderwyser en vir ’n maksimum van vier onderwysers per sentrum. Dis skandelik!” sê Atmore.

Mense het oor die telefoon gehuil omdat hulle nie die mas opkom nie.

Claasen sê Elru het tydens die pandemie ’n opname by sentrums gedoen en die meeste kleuterskoolhoofde het “oorbluf en ontsettend eensaam” gevoel.

Mense het oor die telefoon gehuil omdat hulle nie die mas opkom nie. Hulle kon nie hul personeel betaal nie, hulle was bekommerd oor die kinders en hulle het nie geweet of hulle kan heropen of nie,” sê hy. “Die leierskap op nasionale vlak het nie vir hulle hoop gegee nie. Dit was die druk wat die sektor en die burgerlike samelewing op die regering geplaas het wat gemaak het dat die aansporingspakket ingestel word, maar administratief was dit ’n nagmerrie.”

Die grootste probleem is egter dat miljoene kinders sal moet probeer voortbou op ’n grondslag gekenmerk deur trauma en verlies.

Lutuli skud haar kop. “Ons kan ongelukkig nie terugloop en sekere dinge gaan regmaak nie. Ons kan nie dit wat hulle gemis het vir hulle teruggee nie.”

As jy TV kyk in plaas van klim

Al is jy ’n kleuter met ’n kamer vol speelgoed, sou jy nie onaangeraak gewees het deur die pandemie nie. Dit was nie net arm kleuterskole wat geraak is deur die pandemie en die skoolsluitings nie.

Ilse Human, hoof van die Kinderland-kleuterskool in Wellington, sê die impak op die kleuters se ontwikkeling was merkbaar. Dié kleuterskool, wat meestal ’n diens lewer aan meer gegoede ouers, het verlede jaar reeds op 13 Julie heropen, kort ná die hofuitspraak. Hulle het hierna met behulp van ’n arbeidsterapeut gemeet wat die kinders se agterstande was.

“Ons het baie uitval gesien met dinge soos potloodgreep en knipvaardigheid en inkleur, maar ook met hul begrip van syfers,” sê Human. “Ons dink in die drie tot vier maande waarin hulle by die huis was, het ouers eenvoudig nie die kapasiteit gehad om hulle heeldag sinvol besig te hou nie en kinders het baie meer tyd voor die televisie en tablette deurgebring en nie geklim en klouter nie.”

Almal het ook nie groot erwe of klimrame nie en omdat hul groot spiere nie geoefen is nie, sukkel hulle nou met die fyn motoriese vaardighede.

“Die groot spiere moet eers sterk wees voordat hulle die fyn spiere onder beheer kan kry,” sê sy. “Ons sien ook kinders se luistervaardighede is ’n uitdaging. Dis asof hulle die vermoë verloor het om reeds die eerste keer te luister.

Al het die skool tydens die sluitings lesmateriaal en video’s uitgestuur, het ouers nie noodwendig die tyd gehad om dit saam met hul kinders deur te gaan nie.

“Ons lê baie klem op geletterdheid en wiskunde sodat ons die kinders gereed kan kry vir gr. R, maar die ouers het net nie by alles uitgekom nie en jy sién dit.”

Gelukkig, sê Human, is kleuters in die algemeen baie aanpasbaar. “Hulle het vinnig aangepas by die termometers en die maskers en die steriliseer van hul hande en hulle weet hulle moet nou hul ouers by die deur groet. Waar Mamma hulle vantevore gedra het klas toe, sit hulle die kind nou neer en hulle stap self,” sê sy.


Meer oor:  Theodora Lutuli  |  Sonja Giese  |  Mario Claasen  |  Eric Atmore  |  Covid-19  |  Kinders  |  Kleuterskole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.