Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dís die ware verhaal van Abu Bakr

Daar bestaan baie mistastings oor die lewe van die Moslem-geleerde Abu Bakr Effendi, skryf Rushdi Guven Ataullah en Halim Gençoglu.

’n Familieportret uit die 19de eeu van ’n man met ’n fes en sy vrou met ’n hidjab. Voor die koms van die Turkse geleerde Abu Bakr Effendi was die fes en hidjab seldsaam onder Kaapse Moslems.

Ons verwys na die artikel “Ons taal se begin in die Bo-Kaap” deur Glenn Babb verlede week waarin hy onderhoudend skryf oor die lewe van Abu Bakr Effendi, die man wat verantwoordelik was vir die eerste geskrifte in Afrikaans.

Ongelukkig bevat die artikel enkele mistastings oor Abu Bakr wat ons graag wil regstel.

Dit is vanjaar die 157ste herdenking van die aankoms van die Ottomaanse teoloog Abu Bakr, wat in 1863 die eerste moderne Islamitiese skool vir meisies en seuns in Suid-Afrika opgerig het.

As meertalige geleerde het hy vinnig en maklik Engels en Afrikaans onder die knie gekry om met die plaaslike inwoners te kan kommunikeer.

Hy is twee keer in Kaapstad getroud – eers met Rukiye Maker, van wie hy in 1866 geskei is, en daarna met Tahora Saban (gebore Cook), wat 16 jaar oud was ten tyde van die huwelik. Sy was familie van die bekende seevaarder en ontdekkingsreisiger kapt. James Cook.

Die taalhistorikus Ahmed Davids noem hom ’n ‘buitengewone taalkundige’.

Abu Bakr het een seun by Rukiye Maker gehad. Die seun, Ahmet Ataullah, het later die eerste Moslem-politikus in Suid-Afrika geword. Ahmet Ataullah het ook ’n groot invloed gehad op sy neef dr. Abdullah Abdurrahman, wat in 1904 verkies is as Kaapstad se eerste bruin stadsraadslid – ’n pos wat hy tot sy dood beklee het. Ahmet Ataullah het later na Turkye verhuis en is aangestel as die eerste Ottomaanse konsul-generaal in Singapoer, waar hy ook oorlede is.

Sy seun Rushdi Ataullah het kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog die eerste bruin Suid-Afrikaner geword wat – soos ’n plaaslike koerant dit gestel het – “has mastered aviation sufficiently to be deemed a pilot”. Sy dogter Havva Khayrunnisa was die eerste Moslem- mediese dokter in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Abu Bakr se tweede huwelik met Tahora was ’n vrugbare een en hulle het vyf kinders gehad; een dogter en vier seuns. Tahora het die skoolhoof geword van die eerste Islamitiese skool vir meisies wat deur Abu Bakr in Kaapstad geopen is. Sy is daarom een van die eerste vroulike onderwysers in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Met Abu Bakr se dood op 29 Junie 1880 het hy ’n aansienlike boedel aan sy kinders nagelaat.

Gedurende sy lewe het Abu Bakr ’n beduidende rol gespeel in die vestiging van ’n unieke Moslem-identiteit aan die Kaap.

So het hy byvoorbeeld die rooi Ottomaanse fes vir alle manlike gelowiges en die hidjab vir Moslemvroue aan die Kaap gewild gemaak.

Abu Bakr se godsdienstige handleiding Beyan al-Din word beskou as een van die eerste Arabies-Afrikaanse boeke in die geskiedenis van Suid-Afrika. Sy bydrae tot Kaapse Afrikaans word goed bewaar in die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en ook in die Hugenote-museum in Franschhoek. Die taalhistorikus Ahmed Davids noem hom “ongetwyfeld ’n buitengewone taalkundige”.

Sy etniese herkoms word dikwels verkeerdelik as Koerdies vertolk.

Een van sy studente, Abdulrakip Abdulrauf, het later die imam van die Nurul Islam-moskee in die Bo-Kaap geword. Nog ’n student van hom, Muhammed Dollie, het ’n moskee in Londen gevestig. Volgens plaaslike koerante het baie van Abu Bakr se studente in die 1890’s hoogleraars in Islamitiese studies in Mekka geword.

Om seker te maak dat hierdie opvoedkundige aktiwiteite in Suid-Afrika voortgesit word, het die Ottomaanse Ryk daarna ook ander geleerdes na Suid-Afrika gestuur om die werk van Abu Bakr voort te sit.

Een student van Abu Bakr, Mahmud Fakih Effendi, het professor in Islamitiese studies geword en duisende studente onderrig, nie net in sy skool in Kasteelstraat nie, maar ook in sy huis in Waalstraat waar hy in 1913 oorlede is. Sy huis is vandag die Bo-Kaap-museum.

Een van die ander nalatenskappe van Abu Bakr was groter solidariteit van Suid-Afrikaanse Moslems met Turkye en die Ottomaanse Ryk. In 1912, toe die Ottomaanse leër probeer het om Libië teen Italiaanse aggressie te beskerm, het Suid-Afrikaanse Moslems geld ingesamel om die Ottomaanse Ryk te ondersteun. Voorts het sommige Suid-Afrikaanse Moslemleiers aangebied om by die Ottomaanse leër in Libië aan te sluit.

Selfs lank ná die val van die Ottomaanse Ryk het Suid-Afrikaanse Moslems donasies aan die Republiek van Turkye gestuur vir die slagoffers van ’n aardbewing in Erzincan in die noordooste van Turkye in 1939. Die agting en vriendelike betrekkinge tussen gelowiges van die twee lande kan deels toegeskryf word aan die nalatenskap van Abu Bakr.

Ten spyte van sy merkwaardige nalatenskap in Suid-Afrika lei sommige aspekte van sy persoonlike lewe, soos die verhouding met sy vrou en met plaaslike imams, soms tot omstredenheid.

Dit kom dikwels neer op ’n verdraaiing van die feite op ’n manier wat sy kleinkinders aanstoot gee.

As gevolg van die feit dat hy in die noorde van Irak gebore is, word sy etniese herkoms dikwels verkeerdelik deur baie skrywers as Koerdies vertolk. Hy was egter ’n Ottomaanse geleerde en ’n Emjedi.

Die Emjedi’s is lede van die Sayyid-familie – ’n familie wat hul wortels terug voer na die Quraysiese familie waaraan die profeet Mohammed behoort het. Ongelukkig is navorsers wat oor Abu Bakr geskryf het dikwels beïnvloed deur politieke geskrifte van Westerse oorsprong – eerder as om op argiefbronne te steun. Sommige het dus aanvaar dat elkeen wat uit Turkye kom, ’n hanafi-Moslem sou wees en diegene wat uit Irak kom, ’n Koerdiese sjafi-Moslem. Abu Bakr was ’n Ottomaanse geleerde en het die Turkse Ryk gedien. Sy nalatenskap moet dus as deel van die Turkse erfenis beskou word.

Boonop volg die Koerde in Irak die sjafi-skool van Islam, terwyl Abu Bakr nie sjafi was nie en selfs sommige van imam Sjafi se fatwas gekritiseer het. Verder het Abu Bakr sy briewe as Turkse professor onderteken – ’n duidelike aanduiding van sy Turkse identiteit. (Een so ’n brief wat hy aan die Kaapse regering geskryf het, word deur die Kaapse argief bewaar).

In teenstelling met wat Babb verlede week skryf was Abu Bakr ook nie ’n hanafi-geleerde nie. Sy hooggeleerde kennis het sommige imams in die 19de-eeuse Kaapstad bedreig en daarom het hulle verhale oor sy hanafi-identiteit versin om sy beeld skade te berokken.

Sommige van sy godsdienstige reëls het wel op die hanafi-manier van doen gesteun – nie omdat hy self die hanafi-leerstellings aangehang het nie, maar omdat dit volgens hom die beste oplossing vir die Moslem-samelewing in daardie spesifieke konteks was.

Die gebedskwessie in die Nurul Islam-moskee (toe daar ’n twis ontstaan het oor hoeveel gelowiges teenwoordig moet wees vir formele gebede op ’n Vrydag) is nog ’n voorbeeld. Alhoewel Abu Bakr se standpunt (dat die gebede kan plaasvind selfs al is daar minder as 40 gelowiges) ooreengestem het met die hanafi-leer, beteken dit nie dat hy ’n hanafi-geleerde of aanhanger was nie.

In Babb se artikel bestaan daar ook verwarring oor Abu Bakr se ouderdom ten tyde van sy dood.

Hy was nie 27 met sy aankoms in die Kaap nie (soos wat soms beweer word). Volgens sy paspoort was hy toe reeds 48. Hy is daarom oorlede toe hy reeds 66 was.

Die lewe van Islamitiese geleerdes soos Abu Bakr wys hoe belangrik dit is dat navorsers ook oor ’n grondige kennis van Islam beskik om die fynere nuanses van hul werk en lewe te verstaan en te kan kontekstualiseer.

Deur die foute van vorige skrywers te herhaal, word ’n waardevolle geleentheid verkwis om die bydraes van hierdie Ottomaanse figuur aan die Kaap ten volle te begryp.

Die herhaling van sulke foute kan uiteindelik net so gevaarlik wees as die Kaapse Moslems se Ratiep-ritueel met swaarde en kettings.

Die stigter van moderne Turkye, Mustafa Kemal Atatürk, het eens gesê dat om geskiedenis te skryf, net so belangrik is as om geskiedenis te maak. Die afstammelinge van Abu Bakr in Turkye en Suid-Afrika hoop dat navorsers reg sal laat geskied aan hul grootoupa.

* Rushdi Guven Ataullahis ’n afstammeling van Abu Bakr se seun uit sy eerste huwelik en dr. Halim Gençoglu is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.