Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dis hoe Jeremy Vearey die taal van verdraag-saamheid leer

Vantevore was hy 'n kliniese, teikengerigte masjien vir wie ideologie belangriker was as mense. As dit nie vir oudpres. Nelson Mandela was nie, was hy lankal dood, het genl.maj. Jeremy Vearey aan Willemien Brümmer vertel.

Oudpres. Nelson Mandela spreek die skare op die parade toe kort ná sy vrylating op 11 Februarie 1990. Foto: Getty Images

Op 11 Februarie 1990 is dit ’n bloedwarm Sondag op Robbeneiland. Jeremy Vearey is ’n geharde rewolusionêr, ’n dodelike en doelgerigte MK-operateur en lid van ’n MK-sel wat die opdrag gehad het om bomme deur die Wes-Kaap heen te plant.

As lid van die sogenaamde Fighting Fifteen het hy baie meer gedoen as dit waaraan hy skuldig bevind is tydens sy terreurverhoor – maar nou nog swyg hy oor alles behalwe dit wat in die hof uitgekom het.

“Ek was ’n kliniese, teikengerigte persoon,” sê hy bloot. “Ek is nie opgelei in peacekeeping nie.”

Ons sit in ’n raserige Meksikaanse restaurant in ’n voorstad van Kaapstad. Buite wag sy lyfwagte.

Vandag, presies dertig jaar ná 11 Februarie 1990, is hy generaal-majoor in die polisie en speurhoof in dié provinsie en hy is steeds immer in die skadu van die dood.

Maar al het hy destyds gedink 11 Februarie was net nog ’n roetinetronkdag van klere stryk, stort en gaan slaap was dit, sonder dat hy dit ooit kon vermoed, die begin van ’n nuwe lewe.

“Ons het almal daar gesit en later het dit amper donker geword en jy wag nog steeds vir die ouman,” sê hy oor dié dag toe Madiba vir ure tussen die Victor Verster-gevangenis en die Kaapse parade verdwyn het.

Ek het sy vrylating gesien in die konteks dat hulle hom só gaan inperk dat hy gedemitologiseer word en niks meer gaan beteken vir enige iemand nie.

In die D-seksie op Robbeneiland voel nie almal voor die televisieskerm so opgewonde soos die skare op die parade en in die Paarl nie.

Vearey en die ander MK-lede is uiters skepties. Party is soos hy “eng ideoloë” wat alles deur die bril sien van Marx, Engels en Lenin.

“Ek het gedink hulle het hom (Madiba) seker maar êrens geskiet of wat ook al toe sy motor vir ’n paar uur verdwyn tussen die Paarl en die Kaap.”

Hy knik. “Ek het sy vrylating gesien in die konteks dat hulle hom só gaan inperk dat hy gedemitologiseer word en niks meer gaan beteken vir enige iemand nie.”

Oudpres. Nelson Mandela en sy vrou Winnie gedurende die vieringe vir sy vrylating. Foto: David Turnley/Corbis via Getty Images

Bittereinders

Op Sondag 4 Maart 1990 begin die grootste eetstaking tot nog toe deur politieke gevangenes op Robbeneiland. Hulle staak tot vrylating of die dood.

“Op die elfde dag was dié van ons wat nog nie in die hospitaal was nie die bittereinders,” sê hy. “Ek was in die groep wat ook ophou water drink het. Die onsekerheid vreet jou op. Jy hoor ons gaan moontlik vrygelaat word. Dan kom jy by ’n stadium waar jy in die middel van die nag wakker word en dan vat hulle drie ouens uit jou sel en dan pak hulle baie vinnig en dan is hulle weg. Dit was ’n baie onstabiele tyd en ons het nie die politiek vertrou nie.”

Ná elf dae se staak kom daar ’n instruksie van Oliver Tambo dat hulle moet ophou. “Moenie martelaars van julle maak nie,” is die opdrag.

En toe eensklaps, ná tien in die nag van Saterdag 9 Junie 1990 word hy, David Fortuin, Tokyo Sexwale, Jeff Radebe en 24 ander eensklaps sonder waarskuwing kom haal in wat deur oudpres. De Klerk bestempel is as ’n “gebaar van welwillendheid”.

Hy het egter geen idee of hulle uitgelewer word aan ’n moordbende nie; die oorlog is vir hom nog baie ver van verby.

Die ouens wat terug is na KwaZulu-Natal en die Oos-Rand is doodgemaak. Ek wou net weer gaan baklei.

Die laaste slot sluit agter hulle en hulle loop deur die poort na die Susan Kruger wat langs die kaai wag voordat sy teen troebel golwe na die Kaapse hawe jaag. Hulle het net een vraag: Hoekom het alles so vinnig en so onverwags gebeur?

“Ek het ’n idee gehad ek sou weer gaan na MK se strukture toe,” sê hy. “Die ouens wat terug is na KwaZulu-Natal en die Oos-Rand is doodgemaak. Ek wou net weer gaan baklei.”

Hy lag skaam. Selfs op 56 is daar nog iets seunsagtig aan hom.

Hy voel fisiek uitgemergel omdat hy nie by die nuwe wêreld kan aanpas nie. Sy ouers en hegte kamerade is geskok deur ’n selfportret wat hy maak van ’n skreeuende oopbekfiguur, deurboor op ’n tronktralie, uit wie se gebroke skedel ’n atoombom ontplof.

Genl.maj. Jeremy Vearey (links) was tussen Desember 1990 tot net voor die eerste demokratiese verkiesing oudpres. Nelson Mandela se persoonlike lyfwag.

Pal aan Madiba se sy

In November word hy en ’n paar ander MK-kamerade deur die ANC opgeroep om lyfwagopleiding onder die Britse Special Air Services (SAS) te doen. Net die mees geharde operateurs bly tot die einde.

Net voor Kersfees 1990 sypel hulle en hul Britse instrukteurs Suid-Afrika binne op ’n SAL-vliegtuig met ’n arsenaal persoonlike FN Browning-9mm-pistole, Heckler & Koch MP5- outomatiese masjiengewere, bokse ammunisie en ander toerusting soos radio-tegnologie en selfone.

Met hul aankoms by die destydse Jan Smuts-lughawe in Johannesburg wag daar geen veiligheidspolisielede om hulle te visenteer of ondervra nie en hy het geen idee hoe die ANC vir hom ’n Suid-Afrikaanse paspoort gekry het nie.

Hulle word inderhaas na die Sandton Sun vervoer, na ’n “swierige affêre met kos en drank wat ek nog nooit in my lewe teëgekom het nie”. Hy ontmoet die ikoniese leier wat sy naam en herkoms ken selfs voordat hulle aan mekaar voorgestel word.

Toe Madiba eindelik aan die woord is, bedank hy die Britse geheime diens M16 vir hul opleiding – die gevolg van ’n ooreenkoms met die Britse eerste minister Margaret Thatcher gedurende sy eerste besoek aan Brittanje.

Die taal van verdraagsaamheid

Van toe af is hy en 14 ander hoogs opgeleide veiligheidswagte pal aan Madiba se sy.

“Ons was net altyd daar. Ek het nie juis ’n lewe buitekant gehad nie. Net wanneer ek afgelos is kon ek huis toe gaan na my ouma Galant in Uitsig. Ek het haar opgepas op haar siekbed.”

Sy lieflingouma Jakoba Galant wat hy in sy boek Jeremy vannie Elsies beskryf as die “bronaar van my geestesoog”.

Dis juis oor haar dat hy vir die eerste keer by “Tata” in die moeilikheid kom.

Vearey (heel links) saam met Madiba en die span wat ‘Mandela: Son of Africa, Father of a Nation’ opgeneem het. Regs agter Mandela is Jo Menell, die regisseur. Hulle is afgeneem in die Bahamas.

Hulle hou saam met Madiba vakansie op Tony O’Reilly, Ierland se eerste miljardêr, se landgoed in Lyford Cay naby Nassau, ’n stad in die Bahamas. Soggens sesuur gaan stap hulle op ’n private strand en smiddae proeflees Madiba die konsepmanuskrip van Anthony Sampson se biografie oor hom.

Die dag ná Kersfees kry Jeremy die tyding van sy ouma Galant se dood by sy destydse vriendin nadat sy vir dae vergeefs probeer het om by hom uit te kom.

Die nuus tref diep – veral toe hy hoor sy het op haar sterfbed gevra na hom. Maar hy glo vas daar is geen wegkomkans nie. Dokumentêre rolprentvervaardigers is besig om tonele vir Mandela: Son of Africa, Father of a Nation te skiet.

Hy skud sy kop. “Die ouman was eintlik baie kwaad. Ek het vir niemand gesê dat my ouma dood is nie, maar hy het daarvan te hore gekom. En toe vat hy my vas terwyl ons op die strand loop.”

As ’n mens in MK is, ontwikkel jy ’n hele woordeskat wat totaal georiënteer is om die geveg voort te sit. Jy het nie ander woorde nie.

Vearey probeer verskoning maak dat sy “revolusionêre plig verhewe bo die persoonlike is”, maar Tata wys hom kalm tereg dat daar ’n balans moet wees tussen die persoonlike en die revolusionêre.

Sy stem is sag. “Hy het humanistiese waardes en woorde vir my geleer. As ’n mens in MK is, ontwikkel jy ’n hele woordeskat wat totaal georiënteer is om die geveg voort te sit. Jy het nie ander woorde nie. Jy ken nie die taal van verdraagsaamheid nie.

“Om dit van hóm af te leer, was ’n groot ding, want hy was die vader van MK. Ek het ’n hele ommeswaai gehad oor hom. Daar was ’n beeld van my onder die intelligensie-ouens as ruthless en daai. Dat ek ’n kliniese operateur is. Ook in intelligensie . . . ek het nie pyne gehad om mense te draai nie. En afpersing en dié tipe van goed nie . . . Dis deel van die taktiek gewees. As jy onder my bevel gewerk het, het baie van die ouens my gesien as ’n masjien. En ek het doelbewus dit verander op ’n later stadium en dis sy invloed en niemand anders nie.”

Jeremy Vearey (onder links) saam met Madiba. Hy sê as dit nie vir Mandela was nie, was hy lankal dood.

Madiba se “ferm maar ewekansige behandeling van veral dié wat hom baie vyandiggesind is” word vir hom ’n soort epifanie.

Hy onthou veral die “Mexican standoff” met die AWB in Beaufort-Wes kort voor die eerste demokratiese verkiesing. Die AWB sou onder leiding van ’n “kolonel Monroe” en sy stormtroepe die dorp afsper en die Oasis-hotel beset waar Madiba ’n vergadering met plaaslike leiers sou hê.

Geweld lyk onafwendbaar.

Maar toe doen Mandela iets heel onverwags. Hy beveel hy wil met Monroe praat. Hy luister na die AWB se kwelvrae oor die toekoms van Afrikaners en Madiba luister respekvol, sonder om te onderbreek.

Lede van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) betoog teen Mandela se vrylating. Foto: Patrick Durand/Sygma via Getty Images

Uiteindelik onttrek Monroe sonder aarseling almal onder sy bevel en hulle verlaat Beaufort-Wes in ’n konvooi.

Daar is talle soortgelyke gevalle. In die middel van die oorlog tussen Inkatha en die ANC wil Madiba met die Inkatha-leier Gatsha Buthelezi gaan praat ná nog ’n slagting in Shobashobane in die hartland van Inkatha.

“Jy sien hierdie goed vanuit ’n ideologiese lens op ’n afstand en dan sien jy hoe hy met hierdie mense werk. En die mens in die ander een uitbring. Nie die impi nie. Ons was in ’n hoërisiko-situasie in KwaZulu-Natal. Enigiets kan gebeur, maar hy sien nog altyd die menslikheid in die ander persoon.”

‘Your word is your bond’

Dis toe dat hy begin leer die wêreld is grys, nie swart en wit nie en soms is medemenslikheid groter as die politiek.

Daar was ’n uitdrukking wat die ouman gebruik het: ‘Your word is your bond’. Dit was so anders as in die intelligensiewêreld waar jy ’n skyn moet skep.

Hy leer ook daar is altyd ’n middelgrond en verdraagsaamheid is belangriker as ideologie.

“Daar was ’n uitdrukking wat die ouman gebruik het: ‘Your word is your bond’. Dit was so anders as in die intelligensiewêreld waar jy ’n skyn moet skep. Hy het nie baie gehou van die koverte wêreld nie. Dis daar, dis seker nodig staatkundig, maar nee. Hy was nie ’n ou vir cloaks and daggers nie.”

Genl.maj. Jeremy Vearey, speurhoof in die Wes-Kaap, was ’n doelgerigte en dodelike MK-operateur in die vorige bedeling. Hy was lid van ’n MK-sel wat die instruksie gehad het om bomme deur die Wes-Kaap heen te plant. Foto: Yunus Mohamed

Die restaurant word al hoe voller. Wat sou gebeur het as Mandela nie dertig jaar gelede vrygelaat is nie?Hy knik, antwoord vinnig. “Ek dink altyd aan die Ierse situasie – ’n selfverterende burgeroorlog wat net aangaan en aangaan vir geslagte en geslagte en geslagte in ’n ewige siklus van geweld. Dit sou nie ’n konvensionele oorlog gewees het nie.”

Hy lag. “As dit nie vir Mandela was nie, was ek seker op my pad . . . Ek sou lankal dood gewees het. Ek sou net al hoe meer militant geraak het. Maar ek dink nie meer dieselfde nie.”

Genl.maj. Jeremy Vearey het as Madiba se lyfwag geleer die wêreld is grys, nie swart en wit nie en soms is medemenslikheid groter as die politiek. Foto: Edrea du Toit

Oor party van die jong mense van vandag wat Mandela as ’n “sellout” beskryf omdat die ekonomie steeds in die hande van die wittes is, skud hy net sy kop.

Of dit nou Donald Trump is, of wie ook al, jy moet verstaan ’n leier is niks sonder ’n basis nie.

“Ek dink dis mense wat nie die geskiedenis verstaan nie. Of dit nou Donald Trump is, of wie ook al, jy moet verstaan ’n leier is niks sonder ’n basis nie. Hy of sy kan net beweeg soos die onderbou beweeg. En om alles toe te skryf aan een man se handel is ’n bietjie ahistories.”

En néé, sê hy ferm. Hy hét nie die land “uitverkoop” nie.

“As regse mense so sê – nee! En as ons mense so sê, vergeet ons wat ons het. Ons kan stem. Elektrisiteit en behuising is by plekke waar daar nooit was nie. Ek vergelyk dit altyd met wat my pa my vertel het van die wag by Tygerberg-hospitaal. Toe hy soontoe gaan in 1993 of 1992 toe gaan die ry vinnig, hoor. Maar daar was ’n wit man wat baie gekerm het oor hoe stadig dinge nou gaan. So die punt is daardie man het ’n land gehad wat grotendeels net gerat was om die ander kant te bedien. En met daardie selfde infrastruktuur moet hulle nou miljoene bedien. Daar is natuurlik haakplekke hier en daar, maar dis die tipe verandering wat nie maklik in ander lande gebeur het nie.”

Bowenal het gewone mense nie verval in wanhoop nie, sê dié generaal wat steeds immer moet koes vir die dood.

“In die apartheidstyd kon jy omtrent net ’n onderwyser word, en nou is daar baie meer hoop vir die toekoms. My kind kan nou iets wórd. Dís vir my sy nalatenskap.”

Vearey: “As ’n mens in MK is, ontwikkel jy ’n hele woordeskat wat totaal georiënteer is om die geveg voort te sit. Jy het nie ander woorde nie. Jy ken nie die taal van verdraagsaamheid nie.”Foto: Deon Raath

‘Die politiek het verval in hebsug’

Hy is versigtig om iets te sê oor die hedendaagse politiek. “Ek dink wat ingekruip het is ’n baatsugtigheid of ’n hebsug wat deursyfer onder die vaandel van nuwe rewolusionêre denke en ou beginsels word net gebruik vir materiële eie gewin. Dis vir my die kern van die probleem.”

Jy kan nie glo dat van die kamerade met wie jy saam was nou hulself skuldig maak aan sulke gedrag nie.

Hy kyk af na sy hande. Twee vingertoppe van sy ringvinger en pinkie aan sy regterhand is af.

“Die die skaal van korrupsie is vir my skokkend. Jy kan nie glo dat van die kamerade met wie jy saam was nou hulself skuldig maak aan sulke gedrag nie. Die politiek het verval in hebsug.”

Hy bly stil vir ’n oomblik. “Maar daar is hoop om te verander.”

Hy onthou skielik wat Mandela gesê het ’n paar jaar voor sy dood. Dit was dinamiet. “Hy’t gesê as die ANC draai teen hulle eie beginsels, dan is hulle nie meer dit wat hulle was nie en dan moet hulle verwyder word, dan moet hulle uitgestem word.”

Hy staan op voordat hy hom weer aansluit by sy veiligheidswagte en die “bloedwerke” van ’n speurhoof.

“Ek dink regtig ons kinders moet met nuwe waardes hierdie land herbou – een wat nie vasgevang is in ons ou ideologieë nie. Ons bagasie is deel van die probleem.

As ek my kinders sien, kan ek die toekoms sien.”

*Bykomende bron: Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey (Tafelberg, 2018)

Meer oor:  Mk  |  Jeremy Vearey  |  Nelson Mandela  |  Robbeneiland  |  Mandela-Vrylating
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.