Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dís hoekom Republiek van die Wes-Kaap onmoontlik is

Die afstigting van die Wes-Kaap wat deesdae uit verskeie oorde bepleit word, is eenvoudig onmoontlik. Pieter Labuschagne verduidelik hoekom.

Hoofstad van die onafhanklike Republiek van die Wes-Kaap? Foto: Argief

Die strewe na ’n onafhanklike streek, los van die unitêre greep van die meerderheidstaat in Suid-Afrika, het die afgelope paar weke heelwat dekking in die media gekry met mense en groepe wat vra vir die afstigting van die Wes-Kaap.

Die kernvraag is egter hoe haalbaar die strewe vir selfregering is, gegewe die politieke meerderheidsoorheersing in die land?

Die ontleding van die vraag kan natuurlik verskeie invalshoeke hê, maar dié artikel konsentreer net op twee. Albei is kritiek belangrik met betrekking tot die hele afskeidingsgedagte en die strewe na Wes-Kaapse selfregering.

Die meerderheid van wat of wie?

Verskeie politici en organisasies beweer die meeste kiesers in die Wes-Kaap is ten gunste van afstigting. Foto: Bruce Sutherland

Verskeie politici en burgerregte-organisasies het die stelling gemaak dat die meerderheid van die mense in die Wes-Kaap die gedagte van afskeiding sterk steun.

Die steun vir afskeiding in die Wes-Kaap sal natuurlik eers in ’n referendum met ’n gefokusde vraag bepaal kan word, maar argumentsonthalwe word dié aanname aanvaar en laat ons die punt eers daar.

Die probleem lê egter juis by die aanname dat die afskeiding moet plaasvind omdat die meeste mense in die Wes-Kaap dit wil hê.

Dié standpunt is by herhaling in kontras met die begrip magspolitiek – sy aard, werking en wese.

Vanaf die onderhandelaars van die Nasionale Party wat tydens die onderhandelingsproses voor die swaargewigte van die ANC geswig het tot die huidige debat oor selfbeskikking en afskeiding, word die wese van magspolitiek en politiek steeds nie begryp nie.

Die woord mag is afgelei van die Latynse woord potere, wat beteken om in staat te wees. Die Amerikaanse politieke wetenskaplike Harold Laswell se omskrywings van politiek is dat dit die “monopolie in ’n land is om te kan besluit wie kry wat, wanneer en hoe”.

Niemand hoef heldersiende te wees om te weet dat die meeste parlementslede teen afskeiding gekant sal wees nie. Die ANC-regering sal sekerlik nie die verbrokkeling van sy magsdomein goedkeur of ondersteun nie.

Die monopolie van sentrale besluite in Suid-Afrika is in die hande van die ANC-regering.

Hier is ’n stukkie realpolitiek gegrond op die nugter werklikheid, of jy nou daarvan hou of nie: Die ANC is ondanks sy korrupsie en inherente swakhede nog stewig in die saal en is monopolisties in beheer van die land se politiek.

Dit mag insiggewend en interessant wees dat die meeste mense in die Wes-Kaap selfregering wil hê, maar dit is nie bepalend of dwingend nie. Die besluit of die Wes-Kaap selfregering kan of gaan kry, is dié van die sentrale regering.

Met ander woorde: Dit is nie wat die mense in die Wes-Kaap wil hê nie – dit is wat die meerderheid van die mense in die land wil hê.

Die meerderheid van die mense in die land sal oor die afskeidingsvraag moet besluit en hul verteenwoordigers in die parlement is gemagtig om dié besluit namens hul te neem.

Niemand hoef heldersiende te wees om te weet dat die meeste parlementslede teen afskeiding gekant sal wees nie. Die ANC-regering sal sekerlik nie die verbrokkeling van sy magsdomein goedkeur of ondersteun nie.

Dié aspek is die wese van realpolitiek en nie ’n “ontbemagtigdende siening” soos die VF Plus beweer nie. Dit is eerder ’n realistiese beskouing van die wese van magspolitiek.

Grondwetlike posisie

Mense wat vroeër vanjaar onder die vaandel van Gatvol Capetonian betoog het. Foto: Jaco Marais

Art. 1(a) van die Grondwet bepaal dat Suid-Afrika een ondeelbare soewereine land is wat volgens art. 103 uit nege provinsies bestaan.

’n Grondwetlike verandering sal dus nodig wees om die soewereine eenheid te ontbondel.

Daarvoor is ’n voorgeskrewe meerderheid in die parlement nodig en nie ’n meerderheid in een provinsie nie.

Politieke wil

Die boodskap van dié Kapenaar is baie duidelik. Foto: Argief

Die realiteit van magspolitiek is dus dat die besluit oor die afskeiding van ’n provinsie in die hande van die ANC-regering is en dit is nie ’n regering wat sommer onttroon sal word nie.

In die onderhandelingsproses was dit duidelik dat individuele regte voorop gestel en sterk in die Grondwet ingeskryf is, maar dat groepsregte nie dieselfde status geniet nie.

Die ANC-onderhandelaars was van die begin sterk teen enige vorm van federasie of balkanisering van die land gekant.

Dit is duidelik dat die ANC nie die begeerte of politieke wil het om territoriale afskeiding toe te laat nie.

Die balkanisering van die land herinner te veel aan die ou tuislandbeleid en hewige teenkanting daarteen bestaan steeds.

Enige behoorlike vorm van federasie, met streke soos die Wes-Kaap wat ’n groot mate van selfregering het, moes voor 1994 beding gewees het.

Nadat die NP-onderhandelaars se federasieplanne misluk het, was die kans daarvoor verby en ná 1994 het die ANC-regering die mag om te besluit “wie kry wat, wanneer en hoe”.

Dit is duidelik dat hy nie die begeerte of politieke wil het om territoriale afskeiding toe te laat nie.

Redes vir weiering

Koos Kombuis se voorstelling van die Wes-Kaap wat sy hekke sluit. Skets: Koos Kombuis

Daar is ’n magdom ander redes waarom die ANC-regering nie afskeiding steun nie. Een daarvan is belastinginkomste – sal die regering bloot toelaat dat soveel potensiële en werklike belastingbetalers bloot uit die belastingnet ontsnap?

Dit is boonop onrealisties om te dink dat die magsbehepte ANC sal toelaat dat sy beheer oor ’n deel van sy grondgebied, materiële bronne en mense (wat ANC-ondersteuners insluit) weggeneem word.

Vir die ANC kom die afskeiding op neo-apartheid neer. Sal ’n Wes-Kaapse Republiek byvoorbeeld die vrye beweging van mense vanuit die Oos-Kaap en elders na sy grondgebied kan verhoed?

As grootskaalse emigrasie vanuit die res van die land plaasvind weens die “sukses” van die Wes-Kaap, sal die emigrante verhoed word om oor die grense te trek? Indien wel, sal die Wes-Kaapse polisie op die grense ontplooi word?

Die internasionale dimensie

Is daar werklik enigiets wat die Verenigde Nasies kan doen om die onafhanklikheid te handhaaf van ’n gebied wat van Suid-Afrika wil afstig? Foto: Getty Images

In skrywes oor die selfbeskikkingstrewe van die Wes-Kaap, word dikwels na die internasionale reg verwys wat só iets sal rugsteun – veral die reg van minderhede om oor hulself te regeer.

Die beginsel waarop veral gesteun word is die Handves van die Verenigde Nasies (VN), Resolusie 1514 van 14 Desember 1960, en ander internasionale verdrae waar daar na die reg op selfregering verwys word.

Dit moet egter in gedagte gehou word dat die internasionale reg as “swak” beskou word, grotendeels vanweë die onafdwingbaarheid daarvan.

Die internasionale reg is nie soos die huishoudelike reg van ’n land waar daar ’n polisiemag en bevoegdhede om dit af te dwing nie.

In die 1960’s het verskeie minderheidsgroepe die VN genader om hul reg tot selfbeskikking af te dwing, soos die mense van Wes-Sahara wat van Marokko wou afskei.

Pieter Labuschagne

Daar was ook ander gebiede of streke wat die selfregeringspad probeer volg het.

In die literatuur daaroor is daar ’n duidelike tendens: Die gebrekkige vermoë van die VN om dit af te dwing en die feit dat volledige afskeiding nie haalbaar is nie.

Iets meer substantief as mooi woorde en ’n paar verklarings het selde gerealiseer.

Waar afskeiding wel plaasgevind het, soos in Oos-Timor, is die politieke skikking binnelands bereik en bestuur.

Waar daar nie kolonialisme en die onderdrukking van ’n minderheid was nie, geld die beginsel dat territoriale soewereiniteit voorkeur geniet.

Wat sal gebeur as die VN argumentsonthalwe bevind dat die Wes-Kaap op grond van die internasionale reg wel die reg het om af te skei, maar die ANC weier om dit toe te laat?

Wat kan die VN dan realisties gesproke doen om afskeiding af te dwing? Inmeng by ’n soewereine land se sake – nogal een wat ’n lang stryd teen apartheid gestry het – troepe met blou helms stuur om die afskeiding militêr af te dwing, sanksies teen die ANC-regering instel?

Net ’n basiese kennis en insig van realpolitiek is nodig om te weet dat dit nooit sal gebeur nie.

Op papier lyk die aandrang op selfregering op grond van die internasionale reg goed, maar realisties gesproke en met inagneming van die magspolitiek, beteken dit egter nie veel nie.

Die oplossing

In die huidige situasie met die ANC aan die stuur van sake is die aandrang op ’n onafhanklike Wes-Kaap net ’n droom. En dit het niks met persoonlike onbemagtiging te doen nie.

Opposisiepartye moet eerder probeer om sterker te groei en ’n parlementêre meerderheid te vorm as hulle só ’n besluit wil neem.

Die groter doel moet eerder wees om die ANC-regering uit te daag, sy meerderheidsoorheersing nasionaal te beëindig sodat die ooglopende sukses van die DA-beheerde Wes-Kaap na die res van die land kan oorspoel.

Propagandiste en politici moet met groot omsigtigheid met die idee van selfregering omgaan. Daar is baie konserwatiewe mense op die platteland wat dié idee nou omhels het en om vals verwagtinge in dié onsekere tye te skep, is nie regverdig teenoor sulke mense nie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.