Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Dís hoekom so baie mense skei’

’n Egskeiding is soos die dood; niemand kan dit namens jou doen nie – jy moet alleen daar deurgaan, sê een van die land se bedrywigste egskeidingsprokureurs aan Murray La Vita.

Albert Marais met die onderhoud in sy kantoor in Kuilsrivier. Foto: Adrian de Kock

Vier uit elke tien egpare gaan nie hul tiende huweliksherdenking haal nie, sê Statistieke SA in sy jongste verslag oor huwelike en egskeidings in Suid-Afrika.

Met dié inligting in my kop sit ek op ’n bewolkte Dinsdagoggend in die ontvangslokaal van die prokureurspraktyk Marais Müller Hendricks. Die moderne gebou is aan die hoofstraat van Kuilsrivier. Oorkant die straat is ’n ou kerkgebou met ’n hoë toring en ’n hoeksteen met Hollandse woorde op. Dit is die tuiste van die NG moedergemeente.

Op die ontvangsdame se toonbank staan ’n bonsai. ’n Groot swart-wit foto van die ou Kaapstadse hawe hang teen ’n muur oorkant my. Op die ry stoele onder die foto sit twee vroue en ’n meisie in skooldrag wat besig is om uit ’n klein pakkie NikNaks te eet. Die ouer vrou van die twee klem ’n plastiekomhulsel vas waarin dokumente is.

Albert Marais (62) kom die vertrek binne. Hy is ’n lenige gryskopman met blou oë en ’n besonder ferm handdruk. ’n Kennis het my onlangs vertel hoe beïndruk hy was met die wyse waarop Marais sy egskeiding gehanteer het; die menslikheid en empatie wat hy geopenbaar het.

Ons volg Marais in ’n gang af tot in sy kantoor waar die groot lessenaar so te sê heeltemal toe is onder ligblou leggers wat elkeen die besonderhede van ’n egskeidingsaak bevat. Daar is net-net plek vir ’n wit orgidee in een hoek.

Op ’n rak langs sy lessenaar is ’n Bybel sigbaar. ’n Groot blouwildebees (wat Marais geskiet het) se vel lê op die vloer. Agter sy lessenaar is ’n kleurryke kwiltagtige muurbehangsel wat sy vrou gemaak het toe sy en hul vier kinders in die reën in ’n Kombi gesit het terwyl hy aan die Bergrivier-kanomarathon deelgeneem het.

Marais begin by die begin:

“Jy weet mos nou die kliënt wat die oggend hier inkom om jou oor ’n egskeiding te kom sien, lê baie nagte wakker voordat hulle tot dié stap oorgaan. Dit is beslis nie ’n máklike uitstappie nie.

“So, wanneer die kliënt by die deur inkom, kan ek sien . . . voordat sy sê waaroor haar probleem gaan, weet ek waaroor die probleem gaan, bloot omdat ek dit aan haar houding kan sien.

“Ek sê nou ‘haar’ – wat vir my baie interessant is, is dat seker 75% tot 80% van my kliënte vroue is. Dis asof vroue eerder tot die stap oorgaan as mans. Ek dink mans leef makliker saam met die ongeluk en vind ander maniere om te ontsnap waar die vrou . . . as dit nie reg gaan in die huwelik nie, dan wil sy nie so lewe nie."

Ja, dis maar ’n traumatiese ding, dink ek, om die ys te kom breek teenoor iemand en te sê: ‘My huwelik is daarmee heen.’

Dis maar ’n stuk selferkenning, om te erken ek het ’n fout gemaak, of in die keuse van ’n maat of in die manier hoe ek my verhouding opgepas het.”

‘Hoekom doen jy dit?’

Wat is die aard van die ontboesemings?

“Dit hang mos nou maar van persoon tot persoon af. Maar dit is vir my verstómmend dat mense wat my letterlik vyf minute ken, bereid is om vir my goed te vertel wat ek wéét hulle nog nooit teenoor iemand hardop erken het nie.

“Dis asof daar ’n inténse behoefte is . . . Ek sê altyd ek dink my rol is baie meer dié van ’n sielkundige as van ’n prokureur. Ek kan ook ná die uur of twee se gesprek die verligting sien van net om daarvan ontslae te kon raak; om vir iémand daarvan te kon sê.”

Baie mense vra hom hoekom hy egskeidings behartig.

“My bron van inkomste is hoofsaaklik dorpsontwikkelings en transportwerk wat die betalende deel van prokureurswerk is. Min mense verstaan hoekom ek my met egskeidings wil ophou. Maar dit is die enigste wyse waarop ek voel ek lewer regtig ’n bydrae omdat ek mense in nood kan help en hulle miskien ’n bietjie kan bring tot insig oor hoe die pad vorentoe behoort te lyk; hoe die kinders daardeur kan kom sonder om seer te kry . . .

“Ek dink alle mense hou daarvan om ander mense te kan help, maar almal het nie die geleentheid nie. Ék het die geleentheid dat daar elke uur voor my iemand kom sit wat ek kan help.

“Ek is bemágtig om hulle te help – ek ken die antwoorde – en dit is vir my ’n ongelooflike voorreg dat mense hulle inténse emosies met my kom deel en weet dat dit vertroulik hanteer sal word en dat hulle maar kan gesels.

“Ek het nou net voordat jy ingekom het ’n kollega oor die egskeiding van ’n ander prokureur gebel. Ek het vir hom gesê: ‘Ek probeer om liewers eers ’n gesprek te hê voordat ek oorgaan tot litigasie, want as jy by litigasie betrokke raak, is dit gewoonlik maar litigante wat wil wen en verloor en dan raak prokureurs tegnies terwyl daar ’n klómp emosie op die spel is.’ ”

Marais se lessenaar is vol stapels ligblou leggers wat elkeen die besonderhede van ’n egskeiding bevat. Foto: Adrian de Kock

Daar is nie iets soos ’n wenner in ’n egskeiding nie.

“En terselfdertyd glo ek dat enige egskeiding – hoe ingewikkeld ook al – binne ’n maand gefinaliseer kan word as almal redelik is, teenoor twee tot drie jaar wanneer daar baklei word. Die régsgedeelte van die egskeiding is gewoonlik baie, baie eenvoudig. Dis die emosies van mense wat gekompliseerd is. Mense wat wil hê iemand moet gestraf word of iemand moet slae kry. En dís nie waaroor dit gaan nie.”

Wil net praat

Baie mense “kom nie eers tot egskeiding” nie.

“Hulle wil eintlik maar net met iemand gesels. Dit is vir my partykeers asof hulle dit makliker vind om die prokureur te betaal om met hom te praat as met die sielkundige.”

Soms sê hy vir kliënte hy dink nie hulle behoort met ’n egskeiding voort te gaan nie.

“Ek se byvoorbeeld: ‘As jy om hiérdie rede skei wat jy aan my noem, dan moes my vrou my al jare terug geskei het. Jy verstaan dalk nie hoe ’n man dink nie.’

Ek sê vir almal egskeiding is – en ek gló dit – die totale laaste opsie; dit is nie noodwendig die antwoord nie.

“Ek weet hoe ’n man voel en dink. En ek is reguit met ’n vrou wat kom met goed wat sy nie kan verstaan nie: Hoekom wil haar man gholf speel of gaan jag? Of: Hoekom wil hy nie by die huis wees nie? Dan sê ek vir haar wat mý gevoel is en ek probeer vir haar ’n bietjie realiteit gee oor hoe die lewe is.

“Ek sê vir almal egskeiding is – en ek gló dit – die totale laaste opsie; dit is nie noodwendig die antwoord nie. As jy kan sê dat jy álles in jou vermoë probeer het om die huwelik te maak werk, dán kan jy voortgaan met die egskeiding. Maar dan moet jy vir mý oortuig dat jy 100% álles gegee het en álle roetes probeer volg het om die huwelik te red.”

Hoe staan sake deesdae wat toesig oor kinders betref?

“Daar is beslis ’n verskuiwing. Hulle praat ook nie meer van toesig nie maar van primêre versorging. Die primêre versorger is gewoonlik die party by wie die kinders in die gewone loop van hul lewe bly, en dan met kontakregte vir die ander party voorbehou.

“Maar deesdae is sielkundiges, howe en gesinsadvokate baie gelukkig daarmee dat die kinders een week hier is en die volgende week daar is. Die vraag is wat is die beste vir die kind, maar al meer geredelik aanvaar die howe dat ’n reëling van die een week by die een en die volgende week by die ander, aanvaarbaar is.

“Ongelukkig gebeur dit dikwels dat die pa hierdie reëling versoek bloot om sy onderhoudsverpligting minder te maak; so dit gaan vir hom oor geld en nie noodwendig wat die beste vir die kind is nie.

“Die probleem van kinders in ’n egskeiding, soos ek dit sien, is dat ’n kind dink dat hulle moet kies. Ek sê altyd vir ouers: ‘Die groot toets wat julle het, is om vir julle kinders te leer en wys te maak dat hulle nie tussen ’n ma en pa hoef te kies nie. Dis nie hulle baklei nie; hulle moet glad nie kies nie.’ ”

“Ek vra nie naastenby die tariewe wat ek behoort te vra nie.” Foto: Adrian de Kock

Soos ’n masjien

Marais behartig sowat 20 egskeidings per maand.

“Dit is seker meer as enige ander prokureur in die Kaap. Dit het ongelukkig ge-snowball en te groot geraak amper vir my om dit rêrig te doen soos wat ek dit wil doen deur emosioneel betrokke te raak.

“Die praktyk raak so groot dat dit vir my amper ’n bietjie soos ’n masjien is – ek staan die oggend in die hof dan dink ek: Jis, ek kan nie jou storie onthou nie en nou skei ek jou al, waar ek eintlik graag ’n ondersteuningsrol wou gespeel het.”

Ek sê altyd mense wat skei, is ’n bietjie soos kankerpasiënte – hulle praat met mekaar.

Waaraan skryf hy dit toe dat die praktyk so gegroei het?

“Ek sê altyd mense wat skei, is ’n bietjie soos kankerpasiënte – hulle praat met mekaar. So 95% van my kliënte is verwysings.”

Baie van sy kliënte kom van ver af.

“Gister was hier ’n vrou van Pretoria vir wie ek gesê het: ‘Weet jy, Mevrou, jy kan nie oor al hierdie prokureurs vlieg nie; daar’s niks magic aan ’n egskeiding nie!’ Nee, maar ek is by haar aanbeveel, sê sy toe.

“Ek dink die ding is maar die deernis waarmee dit gedoen word. As ek kyk hoe ek dit nóú hanteer teenoor 30 jaar gelede. Ek wou destyds met almal baklei en tot elke prys wen. En dit het heeltemal verander.”

Hy beskou dit as ’n “liefdadigheidspraktyk”.

“Ek vra nie naastenby die tariewe wat ek behoort te vra nie. En ek vra ook vir elke party ’n ander tarief; ek stuur nie vir hulle ’n rekening nie, ek kom met hulle ooreen.”

“Ek is nie ’n sielkundige en opgeleide berader nie, maar ek weet hoe ’n man voel en dink.” Foto: Adrian de Kock.

Pastorale werk

Sy pa, wat ook ’n prokureur was, het ’n sêding gehad.

“Ek het altyd daaroor gelag, want die prokureur is mos nou tradisioneel die skelm persoon. Hy het altyd gesê die twee beroepe wat die naaste aan mekaar is, is dié van ’n predikant en ’n prokureur. Baie laat in my loopbaan het ek besef daar is baie meer waarheid in as wat ek gedog het.”

Ek sê altyd kinders is die grootste seën wat jy kry, maar hulle is ook die grootste struikelblok.

Wat vir hom hartseer is, is mense van 70 of 80 wat skei.

“Dan het hulle hul héle lewe gemors. Dis skrikwekkend. En daar is baie van hulle – hulle het gewag tot die kinders uit die huis uit is; en dit het die kinders niks goed gedoen nie, níks nie. Daai kinders het nooit liefde in daai huis gesien in hulle hele lewe nie . . .

“Dis natuurlik heelwat makliker as daar nie kinders is nie. Ek sê altyd kinders is die grootste seën wat jy kry, maar hulle is ook die grootste struikelblok. Baie mense skei, onbewustelik, oor kinders want die man verstaan nie hoekom kry hy nou nie meer enige aandag van die vrou nie . . . sy het die kinders waarop sy haar toespits.

“Ek sê baiekeer ook vir mans: ‘Jý wil ook die kinders hê. Jy moet onthou, die natuur sê sý moet hulle versorg. En ek sê vir die vrou: ‘Móénie jou man afskeep nie. Reël dat jy by hom ook uitkom. Hy voel uitgestoot; jy kan nie jou aandag nét aan jou kinders gee nie. Hy stel nie net in ’n skoon huis en opgevoede kinders belang nie; hy stel belang dat jy in hom belang stel.”

Tyd om te luister

Marais beskou gebrekkige kommunikasie as die groot oorsaak van egskeidings.

“Dit gaan uit en uit oor kommunikasie. En wat vir my verskriklik hartseer is, is ons lewe mos nou in die dekade van kommunikasie: WhatsApp en e-pos en Twitter en Facebook en al dié goed. Ek dink die mens het ’n inherente behoefte daaraan om emosionéél met iemand kontak te maak en dít is besig om te gaan. Jy het nie meer ’n bankbestuurder nie, jy weet nie eers wie dit is nie, jy ken niemand meer nie . . .

“Ek het my vrou al vyf keer ge-WhatsApp vandag, maar ek het nog geen sinvolle gesprek met haar gehad nie. Vanaand kom ek by die huis, ek wil gou kyk wat die krieket-score is; ek wil gou kyk wat gaan op Facebook aan, ek wil al dié goeters kyk. Daar is nie meer die tyd om te luister na wat haar werklike behoeftes en haar begeertes en haar vrese is nie.

“So, ons kommunikeer nie meer oor ons intense behoeftes nie: Waaroor is ons bekommerd? Wat is vir my lekker en wat nie? Dit gebeur dan só gou dat mense nie meer kan kommunikeer nie. ’n Vervreemding en ’n huiwerigheid om te kommunikeer, vind plaas.”

En die ongelukkigheid lê daarin dat mense nie meer moeite doen om met mekaar te kommunikeer nie ten spyte daarvan dat elke mens ’n behoefte het daaraan om ’n maat te hê met wie jy jou emosie kan deel.

Baie van die probleme waaroor mense skei, kan deur kommunikasie opgelos word, meen hy.

“Nou kom die vrou en dan sê sy: ‘Hy drink; hy sit die heeldag by die gholfbaan.’ Maar dis nie vir hom lekker by die huis nie. Ná die egskeiding hou hy onmiddellik op drink. Of sy sê hy het by ’n ander vrou gaan kuier.

“Dít is nie redes vir ’n egskeiding nie, dis gevólge van ongelukkige huwelike. Al die goed wat mense as redes aangee, is maar gevolge van ongelukkige huwelike.

“En die ongelukkigheid lê daarin dat mense nie meer moeite doen om met mekaar te kommunikeer nie ten spyte daarvan dat elke mens ’n behoefte het daaraan om ’n maat te hê met wie jy jou emosie kan deel.”

‘Soos die dood’

Dit neem ’n minuut of twee in die hof om te skei.

“Wat ’n mens nie besef nie, is die huwelik is eintlik net so vinnig – die tekening van die huweliksregister is ook maar net ’n halfminuut.

“Maar daar is ’n groot verskil. Ek sê altyd vir kliënte: ‘As jy trou, is almal saam met jou bly, maar as jy deur ’n egskeiding gaan, is jy stoksielalleen vanaand as jy in jou bed lê; dan het jy niémand wat jou bystaan nie.’

“Dis iets wat jy op jou eie moet hanteer. Dis amper ’n bietjie soos dood; niemand kan dit namens jou doen nie – jy moet alleen daar deurgaan.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Egskeiding  |  Prokureur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.