Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dis ’n krisis, erken dit

Stefan Smit (63) is skaars ’n week gelede vermoor op sy wynplaas Louiesenhof buite Stellenbosch in die Wes-Kaap.

Vermoor: Stefan Smit.

Boonop was hy vir meer as ’n jaar ’n slagoffer van grondroof. Steeds ontken die president dat hierdie tipe gebeure plaasvind.

Die doodsdreigemente wat Smit ontvang het, het ’n werklikheid geword, en die vrees waarmee hy moes saamleef was nie net sy of enige iemand anders se verbeelding nie, maar ’n harde, nare werklikheid.

Pres. Cyril Ramaphosa is nou onder ’n morele verpligting om in die openbaar sterk standpunt teen plaasmoorde in te neem, juis vanweë die feit dat hy die bestaan van die krisis vroeër op ’n internasionale platform ontken het. Khusela Diko, die president se woordvoerder, het Dinsdag aan die media gesê dat die president hom spesifiek nié oor plaasmoorde gaan uitspreek nie omdat dit die verantwoordelikheid van die polisie is. Hy weerspreek geheel en al wat hy verlede jaar op ’n VN-geleentheid aan die wêreld verkondig het, naamlik dat daar nie iets is soos plaasmoorde nie. Hy het veral beklemtoon dat wit boere nie in Suid-Afrika vermoor word nie. In dieselfde asem het die president gesê dat grondroof nie bestaan nie. Hy beledig die slagoffers wat kos op sy tafel sit.

Plaasaanvalle in Suid-Afrika is meer kompleks as wat voorgegee word. Net soos dit verkeerd sou wees om te ontken dat dit polities of rasgemotiveerd is, sou dit onverantwoordelik wees om te sê dat dit slégs polities of rasgemotiveerd is. So ook met die debat oor die sosio-ekonomiese verband tussen armoede en plaasaanvalle. Elke voorval moet in afsondering oorweeg word en die motief agter elke voorval moet ondersoek word.

AfriForum se data toon dat plaasaanvallers in baie gevalle nie geld gebuit het nie, maar tog het mense baie seergekry.

Politici skep dus ’n klimaat van polarisasie en spanning tussen groepe.

Alhoewel sommige, soos die KwaZulu-Natal-landbou-unie, van mening is dat plaasaanvalle net sosio-ekonomies gemotiveerd is, is dit beslis nie altyd die geval nie. In talle gevalle is daar bloeddorstige, sadistiese misdadigers, wat blyk beroepsmisdadigers te wees, by aanvalle betrokke. Om te sê plaasaanvalle gebeur alleenlik weens sosio-ekonomiese redes is ’n powere, roekelose poging om landelike misdaad en meer spesifiek plaasaanvalle en moorde onder die dekmantel van “normale misdade” te verskans. Dit bly ’n unieke misdryf.

Verder word geen ander misdaad op dieselfde wyse deur invloedryke politici aangemoedig en selfs geromantiseer (deur byvoorbeeld strydliedere) soos plaasmoorde nie. Ronald Lamola, die nuwe minister van justisie, het slegs sewe jaar gelede beskryf hoe hy glo die bloed van wit mense in Suid-Afrika moet vloei. Slegs ’n dag of twee later is Arina Muller wreed vermoor op ’n kleinhoewe buite Pretoria.

Julius Malema beskryf in 2018 aan Turkse media (TRT) hoe hulle gelukkig nog nie vir die uitwissing van wit mense gevra het nie, “ten minste nie vir nou nie”. Politici skep dus ’n klimaat van polarisasie en spanning tussen groepe.

In die afgelope vyf maande het AfriForum reeds meer as 190 plaasaanvalle en 21 plaasmoorde aangeteken.

Ons data toon dat in minder as 50% van aanvalle vanjaar geld gesteel is. Hierdie tendens weerlê weer eens die bewering dat hierdie wrede aanvalle alleen aan sosio-ekonomiese omstandighede toegeskryf kan word.

In die Wes-Kaap is aanvalle reeds meer as dubbeld soveel as verlede jaar, met 19 aanvalle en vier plaasmoorde sover dié jaar.

Smit se moord moet nog behoorlik ondersoek word en daar moet bepaal word of die grondbesetting op sy plaas enigsins ’n rol gespeel het. Ons moet vra of die polisie se optrede in verband met die betreding deur onwettige grondrowers nie dalk die spanning kon aanhelp nie.

Al redding vir Wes-Kaapse gemeenskappe teen dié soort misdaad is as die provinsiale regering provinsiale polisiëring drasties versterk. Verder en as eerste prioriteit moet gemeenskappe hulself organiseer om binne die raamwerk van die wet teen misdaad op te tree.

AfriForum se strukture landswyd dui daarop dat gemeenskappe tog die misdaadsyfer in hul gemeenskappe kan laat daal deur slim en wettige optrede. Daarom verwelkom ons die vestiging van ’n ministeriële taakspan vir landelike veiligheid in die Wes-Kaap en sien uit na samewerking om die provinsie se krisis onder beheer te kry.

Ondervinding het geleer dat ons ’n paar dinge kan doen om plaasaanvalle en landelike misdaad te bekamp. Dit sluit in dat:

  • Gemeenskappe binne die raamwerk van die wet in veiligheidstrukture organiseer;
  • Gemeenskappe wetstoepassingsowerhede se oë en ore moet wees;
  • Gemeenskappe regsopleiding kry sodat hulle te alle tye regmatig handel in hul veiligheidsinisiatiewe;
  • Gemeenskappe pro-aktief optree; en
  • Te alle tye die morele hoëgrond behou.

Om self te organiseer is die bepalende faktor vir gemeenskapsweerbaarheid. Die polisie kan nie alleen die stryd teen misdaad wen nie.

Bestaande wetgewing maak mildelik voorsiening vir gemeenskappe om binne die raamwerk van die wet te help om misdaad te beveg.

Tog is dit ook belangrik dat ons nie net in statistieke alleen vaskyk nie, aangesien dit dikwels veroorsaak dat mense emosioneel afgestomp word. Ons moet in gedagte hou dat daar mense is wat vergete en eensaam op die agtergrond sit – slagoffers wat ongelooflik seergekry het en deur verskriklike trauma gegaan het, en steeds daarmee worstel. Dit is waarom elke slagoffer se storie gedeel moet word. Geen slagoffer mag net deel van die statistieke word nie.

Kommentators en meningsvormers probeer dikwels aktief om die wreedheid en algemene voorkoms van plaasaanvalle af te maak of te diskrediteer deur dit as ’n samesweringsteorie of ’n oordrywing te bestempel. Plaasmoorde en aanvalle ís ’n ernstige krisis en ons móét dit met die wêreld deel.

* Ian Cameron is AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Meer oor:  Ian Cameron  |  Stefan Smit  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle  |  Afriforum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.