Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Dis niks persoonliks nie, Henri’

Haar aha!-oomblik in die ondersoek na die Van Breda-bylmoorde was ’n sekere foto, sê adv. Susan Galloway aan Murray La Vita.

Adv. Susan Galloway besig om Henri van Breda in die Wes-Kaapse hooggeregshof te ondervra. Foto: Jaco Marais

Op ’n ronde tafel in haar kantoor in Kaapstad staan ’n zen-tuintjie: ’n houtbak met sand, ronde klippe en ’n harkie. Sy lag wanneer ek vra of sy dit gebruik.

“Dis veronderstel om jou kalm te hou, maar dit beland merendeels bo-op die kas,” sê sy.

Dit word bo op die kas gesit – uit die pad – wanneer sy hier in haar kantoor naby die Kaapse hooggeregshof onderhoude met getuies of ondersoekers voer. Soos nou weer met die Henri van Breda-saak.

Van Breda se versoek om teen sy skuldigbevinding te appelleer is vroeër vandeesweek van die hand gewys. Hy is in die opspraakwekkende bylmoord in Januarie 2016 in sy ouerhuis in Stellenbosch aan die moord op sy ouers en broer en die poging tot moord op sy suster skuldig bevind.

Hoe voel Galloway, die senior staatsadvokaat in die saak, wanneer sy terugkyk op hierdie verhoor?

“Baie mense sal seker nou sê dis omdat hy skuldig bevind is dat ek so sê, maar ek dink die saak het goed afgeloop omdat die regte bevindings op die regte tyd gemaak is. Ek dink op die uiteinde was selfs die feit dat dit uitgesaai was ’n goeie ding, want mense kon sien hoe gewóne regspleging werk.

“Ek dink dit het heel goed gelyk. Dit was nie ’n grandstanding-soort saak nie.”

En dis nie LA Law of CSI nie; DNS neem byvoorbeeld ’n hele paar maande om getoets te word.

Ek pols haar oor die feit dat die ondersoek na die misdade redelik lank – sowat ses maande – geduur het voordat Van Breda aangekla is.

“Kyk, dit was nie ’n geval van jy het ’n misdaadtoneel waar die verdagte onmiddellik bekend is nie. Onthou, hy het gesê dit was ander mense. So nou begin jy die saak ondersoek om hierdie ander vreemde mense te kry. Geleidelik blyk dit niks strook daarmee nie. Nou begin jy al hoe meer en meer forensiese getuienis kry. En dis nie LA Law of CSI nie; DNS neem byvoorbeeld ’n hele paar maande om getoets te word. En hier was nie net twee of drie monsters wat ingehandig is nie, hier was 219. Dit is die meeste wat Plattekloof [waar die laboratorium is] sê wat hulle nog ontvang het.

“So dít vat ’n rukkie. Daar was die skoenspoor-ontleding; die haarontleding wat Pretoria toe is; die fotoalbum was amper 400 foto’s – dis die meeste wat ekself nog van een misdaadtoneel gesien het.

“Daar was die opinies wat van die twee deskundiges oor Van Breda se beserings gekry is. Dis als goed wat langer vat as jou gewone: Kry gou ’n getuieverklaring hier; kry gou ’n getuieverklaring daar.

“En dan, uit die aard van die saak, toe daar eers ’n tydsverloop was, dan kom jy nie met ’n saak soos dié en jy arresteer hom en sit die saak op die rol en vra uitstel vir verdere ondersoek nie, want hy is hier, hy gaan nie weg nie, jy weet waar om hom te kry, daar is geen rede om hom te arresteer nie.

“So jy sorg dat jou saak kláár ondersoek is, dán arresteer jy hom en jy vat hom hof toe sodat jy onmiddellik met die verhoor kan begin.”

‘Nóú weet ek!’

Adv. Susan Galloway in die portaal van die nasionale vervolgingsgesag se kantoor in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Galloway beleef nie iets soos ’n “gut feeling” oor ’n saak nie. Daar is wel die “aha!-oomblik”.

“Dit is wanneer ek sê: Nóú weet ek dis ’n saak; nóú weet ek hier is genoeg getuienis om die persoon te vervolg.”

Wat was die aha-oomblik in die Van Breda-saak?

“Die eerste lêer wat ek uitgehaal het, was die fotoalbum. Die eerste foto’s is altyd van die toneel en hulle is in die volgorde waarin hulle [die ondersoekers] ingeloop het.

Hoe verder ek gelees het hoe meer het die getuienis my aanvanklike indruk bevestig.

“Die eerste foto waarna ek gekyk het, het my laat dink: Dit lyk nie soos ’n huisbraak of ’n huisroof nie. Daar was dit al vir my duidelik. En hoe verder ek gelees het [die dossier het uit 12 dik lêers bestaan] hoe meer het die getuienis my aanvanklike indruk bevestig.”

Wat was daar aan die foto wat haar laat dink het dit kan nie ’n huisbraak of huisroof wees nie?

“Kyk met ’n gewone huisbraak of huisroof is die huis gewoonlik deurmekaargekrap – kaste is oop, laaie is oop, goed is uitgegooi. In dié huis was daar ook een kas in die studeerkamer; die ma se handsak was oop op die eetkamertafel, maar niks is uitgehaal nie. Een van die pa se lessenaarlaaie was so effentjies oop, maar die inhoud was nétjies – beide in daai laai en in die kas van die studeerkamer. En dan het die messelaai en die kombuis en die een onder hom so ’n klein bietjie oopgestaan. Dís ál wat in daardie huis versteur was . . . Jy sien absoluut niks verkeerds totdat jy bo kom nie.”

Bly objektief

Die 52-jarige Galloway is al by die drie dekades ’n aanklaer en was al duisende kere met die grusaamste tonele denkbaar van menslike wreedheid en geweld gekonfronteer.

“Ek kan nie sê dat dit my glad nie beïnvloed nie. Ek het nie ’n ander werk gehad voordat ek hiermee begin het nie; dit is maar nog al die jare my werk. As gevolg van die feit dat dit my werk is, kyk ek ánders na foto’s as wat ander mense sou kyk. Ek dink ek kyk meer objektief daarna want jy moet objektief bly . . . Dit sê nie jy voel nie simpatie of empatie vir die mense nie, maar jy móét jou objektiwiteit behou as aanklaer sodat jy die getuienis na regte voor die hof kan plaas en die ander kant se getuienis kan oorweeg.

“Dit maak dit ’n bietjie meer verwyderd van jou af. En ek probeer om nie my werk huis toe te vat nie. In die begin was dit omdat ek klein kindertjies gehad het – ek wou nie hê hulle moet die goed sien nie, maar dit het nou ’n gewoonte geraak. Ek sal eerder hier bly of vroeër inkom of deur etenstyd werk, maar ek vat nie goed huis toe nie. En dis in die kas weggesteek; dit pla my as dit hier staan.”

Adv. Galloway en haar kollega, adv. Megan Blows. Foto: Jaco Marais

Sy kyk in die rigting van haar lessenaar waar ’n skootrekenaar (gestut deur ’n telefoongids) neffens geraamde familiefoto’s staan.

“Ek leef nie tussen my sake nie. As ek nie nóú werk aan ’n saak nie, dan word hy gebêre.”

Die objektiwiteit wat vir haar so belangrik is, openbaar sy ook teenoor ’n beskuldigde soos Henri van Breda.

“Onthou: dis niks persoonliks nie. Ek vervolg hom nie omdat ek ’n persoonlike wrok of issue teen hom het nie. En hy is eers skuldig waaraan hy ook al van aangekla word wanneer hy skuldig bevind word. En selfs al word hy skuldig bevind, bly hy steeds ’n mens.

“Ek het geen reg om enige beskuldigde minder as ’n gewone mens te behandel nie. Ek moet dít sê, dit het my een dag nogal opgeval . . . Jy sê maar môre wanneer jy by die hof inkom, ook aan die beskuldigdes. Maar dit was vir my snaaks, met Henri . . . Ons sit en praat baie nonsens in die hof terwyl jy wag want jy moet daar sit. En een keer het ons iets gepraat, ek kan nie onthou presies wat nie, maar ons het kommentaar gelewer op die saak; en toe besef ek maar hy sit skuins agter ons en hy hoor waarskynlik wat ons sê.

Hy het nie besef, en ek dink hy besef nóú nog nie, watter uitwerking sý optrede op die mense rondom hom het nie – insluitend sy eie familie en sy vriende.

“Toe het ek net omgedraai en vir hom gesê: ‘Luister, ek vra om verskoning, solank jy net weet als wat ons hier sê is nie persoonlik nie, dis net om die tyd om te kry.’ Toe sê hy hy verstaan. En toe besef ek dit is die eerste keer dat ek met hom praat en toe is die verhoor al ’n paar máánde aan die gang.

“Ek en Megan [Blows, mede-staatsadvokaat in die saak] het daaroor gepraat; vir so ’n groot saak wat oor sulke grusame goed gaan, was die persoon wat aangekla is – oor wié dit alles gaan – vir groot dele van die tyd half ’n non-entity in die hof. Ek weet nie hoekom dit so was nie. Ek kan nie vir jou sê nie. Dis die eerste keer wat ek dit so ervaar het. Hy het nie ’n indruk gemaak nie . . .”

Sy bly stil. Haar treffende groenblou oë rus vir ’n oomblik op die kapstok in die hoek waar haar swart togas hang.

“Hy het nie besef, en ek dink hy besef nóú nog nie, watter uitwerking sý optrede op die mense rondom hom het nie – insluitend sy eie familie en sy vriende.”

‘Hulle klou aan jou’

Ek vra haar uit oor die uitdagings in haar werk; die soort stamina – fisiek en psigies – wat dit vereis.

“Jy is die laaste reg en geregtigheid vir iemand wie se lewe van hom weggeneem is. En wat ék as verál stresvol ervaar, is die naasbestaandes van die oorlewendes, want hulle klou aan jou met hulle verwagtinge en jy moet sterk genoeg wees om dít te dra want hulle is geregtig om dit te doen want dit is waarvoor jy daar is . . .

“En dikwels moet jy die naasbestaandes van die beskuldigdes ook dra, want hulle is nét so onskuldig as enigiemand anders.”

’n Saak waaroor sy nie kan kom nie, is dié van ’n driejarige seuntjie wat deur sy pa se vriendin vermoor is.

“Ons kon uiteindelik net nie by daardie hekkie oorkom om te bewys wie dit gedoen het nie . . . en óns was sy stem. Dit was die mooiste seuntjie . . . Hy het die onskuldigste ogies gehad.”

Dokumente oor die Van Breda-saak in Galloway se kantoor. Foto: Jaco Marais

Mense sê dikwels vir haar oor die Van Breda-saak: “Dit is seker jou grusaamste saak wat jy nog gedoen het.” Dan sê sy: “Néé, ek het báie ander grusamer sake gedoen en ook baie ander tegnies moeiliker en langer sake. Maar dit was nooit in die media nie, wat hierdie een ’n ander dimensie gegee het, is die verskriklike mediablootstelling wat dit gekry het.”

Grusaam is nie noodwendig baie bloed en erge beserings nie.

“Grusaam is baiekeer die . . .” sy sug “. . . kennis wat die oorlede moes gehad het voordat hy of sy dood is; die kennis van: ‘Dít is besig om met my te gebeur. Dít is die persoon wat dit aan my doen!’

“Daardie konsep is vir my erger as die fisieke wonde.”

Wanneer ons vertrek, kyk sy na kartondose op die vloer langs die deur waarop staan: “S v H van Breda, SS17/2016, Exhibit files.”

En sê dan: “Ek wens hulle wil die goed kom haal.”

Meer oor:  Henri Van Breda  |  Susan Galloway  |  Bylmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.