Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Dis oukei vir ’n dokter om nie oukei te wees nie’

Vrydag 7 Junie is “CrazySocks4Docs-dag” om die psigiese welsyn van mediese parktisyns en studente in dié rigting te belig, skryf Lizette Rabe.

As hulp om daardie stigma en stilte te verbreek word 10 000 pare pret-sokkies hierdie week aan mediese studente landwyd in gesondheidsfakulteite uitgedeel. Vrydag is CrazySocks4Docs-dag om ’n bewustheid te skep van depressie en ander psigiese siektes onder dokters. Foto: Medical Academic

Dit het alles begin met ’n man met die naam Toogood – die Australiese kardioloog dr. Geoff Toogood – wat die dag CrazySocks4Docs (CS4D) in 2017 begin het om die psigiese welsyn van sy beroep te belig nadat hy op die rand van die afgrond was.

Ironies genoeg, kan volgens navorsing met sekerheid gesê word dat die onveiligste beroep in terme van psigiese gesondheid die gesondheidsberoepe is. In die VSA sterf een dokter per dag weens selfdood. Dit is die hoogste selfdoodsyfer in enige beroep. Inderdaad is selfdood onder dokters in die VSA meer as twee keer dié van die algemene bevolking.

Toogood se sokkiedag het tot ’n internasionale veldtog gegroei. In Suid-Afrika is die slagspreuk “Caring4OurCarers” onder die sambreel van die Ithemba-stigting – ’n nie-wins-organisasie wat bewusmaking van depressie en verwante siektes as kliniese siektes bevorder. Dus: Siektes wat behandelbaar is. Plus: Hoe vroeër die siekte behandel word, hoe vroeër kan jy leer om dit te bestuur, net soos diabetes of asma. Dis immers ’n siekte, nie ’n swakheid nie.

Een uit vier dokters het gedink aan selfdood

Die Australiese kardioloog dr. Geoff Toogood het die CrazySocks4Docs-dag in 2017 begin om die psigiese welsyn van sy beroep te belig nadat hy self op die rand van die afgrond was. Foto: Racgp.org.au

Hoewel spesifieke statistieke nie vir Suid-Afrika beskikbaar is nie, kan ’n mens met groot stelligheid vermoed dat dieselfde krisis onder die mediese professie in ons land bestaan.

Om die waarheid te sê, ek het onlangs ’n Britse artikel aan plaaslike dokters gestuur met die strekking dat “help my” die moeilikste woorde vir dokters met psigiese probleme is. Die reaksie was eenparig: Hier te lande is die situasie baie erger. En ons het nie eens ’n spesiale afdeling in ons mediese vereniging, soos in Brittanje, om hulle te ondersteun nie.

Maar die een dokter wat die gesprek letterlik begin het deur ’n onpaar sokkies aan te trek (hoewel absoluut per ongeluk), was Toogood. Sy depressie en angs het hom op baie vlakke stigma en diskriminasie op die hals gehaal, maar hy was vasbeslote om ’n bewusmaking te skep en die dodelike siklus vir soveel van sy kollegas wêreldwyd te breek. Hy wou hê dit moes “oukei wees vir ’n dokter om nie oukei te voel nie”.

Immers, medici ervaar die volle omvang van psigiese gesondheidskwessies, soos alle ander mense. En ja, dokters “verlaat die beroep in hordes, of sukkel onder onmenslike verwagtinge en enorme emosionele, regs- en papierwerk-laste”.

Plaas jou sokkie-selfie en wen

Jy kan op Vrydag 7 Junie ’n foto van jouself met jou lawwe sokkies op sosiale media plaas met die hutsmerk #CrazySocks4Docs en #ithembafoundation. Mediese studente kan selfs R1 000 wen met hul sokkie-selfies – neem net jou sokkie-selfie, plaas dit, en moedig familie en vriende aan om dit te “like”. Op elkeen van die deelnemende kampusse sal die sokkie-selfie met die meeste “likes” sy eienaar R1 000 ryker maak.

Volgens een studie ly een uit elke vyf dokters aan depressie en een uit elke vier het al gedink aan selfdood. En een uit 50 het probeer.

In 2016 is ’n studie bevind dat 50% van vroulike dokters wat ’n vraelys voltooi het, voldoen aan die kriteria vir ’n psigiese siekte, maar dat ’n vrees vir stigma hulle daarvan weerhou om hulp te soek.

Toe Ithemba verlede jaar op die eerste Vrydag in Junie dr. Toogood se CrazySocks4Docs informeel bevorder het, het dit soveel steun gekry dat die stigting besluit het om dit ’n amptelike projek vir 2019 te maak. Alles het daarop gedui dat diegene wat vir ons welsyn moet sorg, in stilte ly.

Dit is juis tragies beklemtoon toe prof. Bongani Mayosi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, einde Julie weens selfdood gesterf het.

Ironies genoeg het die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging ook sy Insider-tydskrif in Julie aan dokters en psigiese gesondheid gewy. In sy artikel, “Depression: Don’t wait until it’s too late!” het psigiater Christoffel Grobler, medeprofessor aan die Walter Sisulu-universiteit, oor sy eie psigiese gesondheid geskryf.

Hy het beklemtoon: “As ons in die mediese professie nie oor ons eie psigiese siektes kan praat nie, hoe verwag ons ons pasiënte moet – met al die stigma rondom die onderwerp?”

Mediese studente in gevaarsone

Wêreldwyd het statistieke gewys presies wat die omvang van psigiese gesondheid onder medici is. ’n Britse studie het bevind dat 68% van die respondente aan depressie gely het; ’n Kanadese studie dat 80% van dokters aan uitbranding ly. In Nieu-Seeland is psigiese gesondheidsprobleme byna drie keer meer algemeen by huisdokters en chirurge as in die algemene bevolking.

Dit was ’n geval van “ditto” vir studies wêreldwyd, nie net met hoër gevalle van angs, depressie en selfdood onder dokters nie, maar ook onder mediese studente. Plaaslik het een studie bevind dat ongeveer ’n derde van Suid-Afrikaanse mediese studente selfdoodgedagtes het en dat 6% ’n poging aanwend.

Lizette Rabe

Ons mediese studente is dus ook reeds in die gevaarsone. Met “Caring4OurCarers” moet ook ons toekomstige dokters psigies fiks word – en nie net tydens hul studies nie, maar ook vir wat daarna in hul internskappe wag. Psigiese siektes verlam mediese studente, maar hulle is te bang om te sê “help my!” omdat hulle diskriminasie vrees.

In ’n poging om daardie stigma en stilte te help verbreek, word 10 000 pare pret-sokkies hierdie week aan mediese studente dwarsoor Suid-Afrika in gesondheidsfakulteite uitgedeel om Vrydag te dra. Dit word deur die sokkievervaardiger Falke geborg. Vir mediese praktisyns het die farmaseutiese maatskappy Cipla 2 500 pare sokkies geborg.

Die mediese beroep is ’n uiters stresvolle werk, maar die kultuur van gesondheidsorg moet ook hervorm word sodat dokters én mediese studente kan sê “help my!” voor dit te laat is. En ons as pasiënte moet ons ondersteuning met “Caring4OurCarers” wys.

Hier is hulp

Skakel die CIPLA 24-uur-psigiese gesondheidshulplyn by 0800 456 789 of WhatsApp 076 882 2775.

Die Lifeline-24-uur-hulplyn: 0861 322 322

Dis tyd om die stilte en die stigma rondom psigiese gesondheid in die gesondheidsberoepe te verbreek. Gee dus nou letterlik jou eerste tree op Vrydag 7 Junie en kies nou al jou prettigste onpaar sokkies vir die dag. En kom, dokter of suster, terapeut of verpleegster: Moedig jul pasiënte en hul gesinne aan om vir julle as huisdokter, spesialis, verpleegsuster, of studentedokter, om te gee. Begin die gesprek en help om die stigma te verbreek. Want dis oukei vir dokters om nie oukei te wees nie.

* Rabe is professor en akademiese prinsipaal vir nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch en stigter van die Ithemba-stigting.

Meer oor:  Lizette Rabe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.