Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dis vir Ramaphosa wat hul wil bykom

Tito Mboweni en die tier by minerale hulpbronne het nie ‘toevallig’ vir dieselfde meisie geval nie, skryf Cecilia Balfour.

Tito Mboweni, minister van finansies
Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie. Foto: Nelius Rademan

Lank voordat hy die Britse Arbeidersparty aan die bewind help bring het, het Alastair Campbell uit die suide van Frankryk pornografie geskryf vir ’n publikasie genaamd Forum. As Tony Blair se woordvoerder was sy bekendste bydrae tot obsene fiksie egter die manier waarop hy die wêreld help oortuig het dat Saddam Hoesein inderdaad oor wapens van massavernietiging beskik het – op sterkte waarvan die Britte uiteindelik die Amerikaners gehelp het om Irak binne te val.

Hier plaaslik het daar die afgelope week ’n storie gebreek wat smaaklose erotiek en politiek so naatloos saamsnoer dat min mense besef het dat dit glad niks met seks uit te waai het nie.

Toegegee, die beweerde liefdesdriehoek tussen Gwede Manta­she, Tito Mboweni en ’n 26-jarige meisie met ’n voorliefde vir manne met lang asems kan uit vele hoeke benader word.

As vertrekpunt is joernalistieke etiek op die spel. Die ANC-voorsitter en minister van minerale bronne en energie het immers aangevoer dat hy verslaggewers van die Sunday World R70 000 betaal het om die storie van sy verhouding met die jong dame uit die koerante te hou.

Mantashe het Donderdagaand bevestig dat hy wel die bewering gemaak het, maar dat hy gelieg het daaroor – hy is nooit afgepers nie.

Binne ure was elke meningsvormer en sy hond op die toneel met breedsprakige ontledings om te verduidelik dat dit hier, kug-kug, om veel meer gaan as goedkoop sensasie of ’n onbetaamlike belangstelling in die agbare minister se slaapkamersake.

Ons gee regtig nie om by wie ministers slaap nie, is die strekking van baie van dié menings, maar as ons die geleentheid gegun word, gaan ons beslis nie die kans laat verbygaan om saam te giggel oor die grillerige details en troetelnaampies nie.

En aangesien Mantashe klaarblyklik ’n tier tussen die lakens is, kan ons ook nie nalaat om ons lesers te herinner aan die ander tiere en cupcakes wat voor hom om die kabinetstafel gesit het nie.

In die verbygang word daar natuurlik ook terloops laat val dat Mboweni geskei is, terwyl Manta­she getroud is – net om seker te maak dat die lesers besef wie se misstap groter is.

In die geskreeu vergeet amper almal wat eintlik besig is om te gebeur.

Maar, dreun die “ernstige” kommentators voort, kyk ’n mens verby die aspek van outydse morele waardes, bevestig die skandaal eintlik net weer Suid-Afrikaanse mans se houding teenoor vroue en hoe dit bydra tot die krisis van mishandeling en geweld.

“Luister, dit sê net weer dat Suid-Afrikaanse mans hulle net nie kan bedwing nie. Die hele lot is so,” sug ’n gesoute politieke joernalis terwyl die media Woensdag wag vir Mboweni se mediumtermynbegrotingstoespraak.

En as ’n mens verder moet soek na skade in die skande, is daar natuurlik altyd die land se veiligheid.

Staatsgeheime kon uitlek in die bed. Dis immers die minister van finansies. Die markte kon selfs wankel. (En as die markte dan glad nie reageer nie, kan ons ten minste wys op die bewyse dat nóg ’n kabinetsminister se foon afgeluister word.)

Hierdie tradisie van outydse geelpers-nuuskierigheid wat paradeer as ernstige ontleding is een wat ver terugstrek.

Soos in 2001, toe gerugte die rondte begin doen het oor oudpres. Thabo Mbeki en die vrou van die Cosatu-leier Sam Shilowa. Destyds was die bron van die gerugte ’n brief van Winnie Madikizela-Mandela wat aan die media gelek is.

’n Vername redakteur van ’n vergane Afrikaanse struggle-koerant het destyds aangevoer dis nou die tyd om openlik te praat oor die president se reputasie as rokjagter en die gevolge daarvan vir die land. Om dit te verswyg sou Suid-Afrika op dieselfde vlak plaas as die voormalige Zaïre, waar die veiligheidsmagte gebruik is om die geheime van Mobutu Sese Seko se ontelbare verhoudings stil te hou.

Die ANC het destyds teruggekap en Max du Preez van rassisme beskuldig – in ’n dubbele geval van iets wat doelbewus misgis word as iets anders.

Want in die geskreeu van destyds, soos nou weer, het amper almal vergeet wat eintlik besig is om te gebeur.

Wat Madikizela-Mandela se brief destyds onthul het, het niks te doen gehad met Mbeki se matrasgimnastiek nie, maar alles met die vernietigende magstryd tussen Mbeki en Jacob Zuma vir beheer van die ANC.

Nou, 18 jaar later, speel Zuma steeds ’n rol in die agtergrond. ’n Rol wat waarskynlik baie belangriker is as die vraag wie van Mantashe of Mboweni die meeste uithouvermoë tussen die lakens het.

Ek is jammer, maar die kans dat dit blote toeval is dat twee ministers vir dieselfde onopmerklike vrou met zero diskresie geval het, is so skraal dat selfs ’n legendariese spindokter soos Campbell sou sukkel om met dié draaiboek te oortuig.

Ek sou my kop op ’n blok sit dat hierdie niks anders as ’n goeie outydse heuninglokval is nie.

En as daar iemand is wat dit ’n myl ver sal kan ruik, is dit Cyril Ramaphosa.

Eerstens ken hy die skaduwêreld van die politiek soos die palm van sy hand en tweedens weet hy dat hý die eintlike teiken is van die aanval op twee van sy mees onmisbare ministers. Hy kan immers nie oorleef in die leeukuil van die ANC se verdeelde topses sonder Mantashe se steun nie, en op die oomblik dra Mboweni die ekonomie in sy hande.

Woensdag, vier dae nadat die storie die voorblaaie gehaal het, het Mboweni in die Nasionale Vergadering gestaan met ’n aalwyn in sy hand as metafoor vir die kwynende ekonomie. Hy het beslis nie gelyk soos ’n man wat wil wegsink van skaamte oor onthullings dat hy nie die grootste tier in die bos is nie.

Sy kommer was by die land se skuldbalans en werkloosheid.

Eweneens behoort die land se kommer te lê by wat Ramaphosa weer eens wrang moes besef – dat hy polities omring is deur Zuma-lojaliste en hul slinkse meelopers, sonder ’n oorwinning in sig.

Miskien moet ons eerder wonder hoekom ons so blind is, net so maklik om te mislei soos ’n katoolse kabinetsminister.

En miskien moet ons wonder of seders in Waterkloof, net soos bome in ’n woud, nog steeds val as niemand hulle hoor nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.