Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dís waarom kinders aan Kersvader glo

Hoekom glo kinders regoor die wêreld aan Kersvader? Is dit miskien volwassenes se skuld? vra Rohan Kapitany.

Kersvader, soos kinders wêreldwyd hom van kleins af leer ken. Illustrasie: iStock

Baie van ons vertel ons kinders van ’n plompe bebaarde man in rooi wat in die ysige toendra aan die bopunt van die wêreld bly. Sy taak is om regter te speel oor die morele waardes van kinders oral in die wêreld.

Hy het ’n lys. Hy het dit twee keer nagegaan. En daar is geen appèlhof nie.

Ons belowe ons kinders dat hy op ’n dag wat aan ons bekend is onder die beskutting van die donker by ons huise sal insluip. Daar sal hy sy beslissing fel.

Ter voorbereiding is dit gebruiklik om ’n boom (’n dooie een of ’n namaaksel sal goed werk) in ons huise staan te maak en te versier. Ons laat ook ’n offerande in die vorm van koekies met ’n hoë vetinhoud en melk ryk aan voedingswaarde.

Dié Kersvader verkies ’n koppie tee in die plek van die meer tradisionele melk en koekies. Illustrasie: iStock

Hy sal sy optrede miljarde kere herhaal, bygestaan deur sy gevolg van vlieënde rendiere uit die poolgebiede.

Waarom sal kinders iets so absurd glo? En kan dit ons iets leer van hoe kinders onderskei tussen dit wat werklik is en dit wat nie werklik is nie.

Kinders is verstandig

Waar is die rendiere en slee? Illustrasie: iStock

’n Mens mag in die versoeking wees om te dink dat kinders vatbaar is vir die denkbeeldige. Hoewel dit geregverdig mag wees om só te dink, tree kinders op verskeie maniere verstandig en skepties op.

In een ondersoek bekend as die “Princess Alice”-studie, het navorsers aan kinders vertel van die onsigbare en denkbeeldige prinses Alice wat in die vertrek “teenwoordig” is en op ’n stoel daar naby sit.

Die kinders is daarna alleen gelaat en die geleentheid gegee om te kroek met take wat hulle gekry het en waarvoor hulle ’n beloning beloof is. Terwyl van die kinders na die leë stoel gekyk het, het minder nog hul hande beweeg deur die plek waar Alice veronderstel was om te sit en daar was net karige statistiese bewyse dat die proefneming kinders se gedrag enigsins beïnvloed het – ander skrywers, waaronder ook ek, kon dié effek nie dupliseer nie.

Kersvader se gesig versier ’n bushalte in Kiëf, Oekraïne. Foto: Reuters

In teenstelling hiermee, is daar die “Candy Witch”-studie. Twee verskillende volwassenes het ’n skool op twee afsonderlike geleenthede besoek, kinders van die Lekkergoedheks vertel en hulle prentjies van haar gewys. Hulle is ook vertel dat die Lekkergoedheks van hulle Allerheiligeaand-lekkergoed vir ’n speelding sal ruil as hulle dit nie eet nie, iets wat glad nie maklik vir kinders is nie.

Ouers moes ook die Lekkergoedheks vooraf bel. Baie kinders het gevolglik in die Lekkergoedheks geglo, sommiges selfs ’n jaar later nog.

Die primêre verskil tussen dié twee studies is (baie) volwassenes se pogings om die kinders van iets te oortuig. Kinders is baie sensitief vir sulke pogings, en met goeie rede.

Dade praat harder as woorde

Kersvader het sy opwagting in een van die akwariums in Parys, Frankryk, se tenks gemaak. Foto: Reuters

Kleintyd is ’n unieke stadium van die lewe waarin seksuele rypwording vertraag word ten gunste van die ontwikkeling van die brein en die opdoen van sosiale kennis. Die enigste manier om oor iets te leer wat jy nie direk ondervind het nie, is om op getuienis staat te maak.

Kinders kan onderskei tussen fantasie en geskiedenis en die waarde van getuienis evalueer en verkies aansprake binne ’n wetenskaplike raamwerk.

Kinders in baie kulture is minder geneig as volwassenes om hulle op bonatuurlike verduidelikings vir onwaarskynlike gebeure te beroep. Trouens, kinders leer om bonatuurlike aansprake te maak.

Brandon Nimmo van die New York Mets deel geskenke in ’n ongewone blou Kersvader-uitrusting uit op dié Amerikaanse bofbalspan se Kerspartytjie. Foto: Reuters
Finland se amptelike Kersvader kom op ’n moderne wyse per vliegtuig in Japan aan. Foto: Getty Images

Teorie dui daarop dat rituele ’n besondere invloedryke soort getuienis is. Joe Henrich se teorie oor hoe vertoon geloofwaardigheid kan versterk, doen aan die hand dat leerders (soos kinders) wat uitbuiting wil vermy, aandag moet gee aan die optrede van modelle (soos volwassenes). Hulle moet ook probeer om vas te stel tot watter mate modelle glo dat hul optrede hulle duur te staan sal kom as dit nie gegrond is op iets waaraan hulle met oortuiging glo nie. Eenvoudig gestel: Dade praat harder as woorde.

Die “Kersvader”-deel van Kersfees is ’n uitstekende voorbeeld van volwassenes wat gewillig deelneem aan ’n uitgerekte en duur ritueel. Kersvader moet werklik wees, waarom anders sal my ouers dit doen?

Uiteraard is die truuk dat ons ons kinders oor en oor vertel dat die boom, die Kersfeeslyste, die koekies en die glase melk daar is vir Kersvader en nie vir tradisie nie.

Dis moeilik om ’n geloof in iets te skep

Een van die deelnemers aan die jaarlikse Kersvader-pretdraf in Riga, Letland. Foto: Reuter

Omdat ons kultuur deurdrenk is Met Kersfees, word dit as vanselfsprekend aanvaar. En omdat Kersvader ’n leuen is wat ons vir kinders vertel, beskou ons dit nie as ’n volwasse onderwerp nie. Maar tog kan Kersfees en Kersvader ons heelwat leer oor onsself en hoe ons die werklikheid verstaan.

Kersvader, die Tandemuis en die Paashaas is ietwat uniek. Hulle vereis deelname aan sosiale norme en kulturele rituele op ’n manier wat geen ander bonatuurlike figure (Christelike figure uitgesluit) van ons doen nie.

Kinders is nie soseer verward oor wat werklik is nie, maar hulle is sensitief vir die verskeie leidrade wat ons as volwassenes verskaf.

Wanneer dit by Kersvader kom, is ons geneig om nie net aanspraak op iets te maak nie, maar ons verskeie gedetailleerde dade skep die idee dat ons nie lieg nie.

Soldate in Bagdad, Irak, neem foto’s saam met ’n Kersvader. Foto: AP

My eie voorlopige navorsing het gewys dat die figure wat oor die algemeen die meeste met rituele verbind word, die figure is wat die stempel van werklikheid kry – hulle is dan selfs meer werklik as sommige ander straks meer geskikte figure soos wesens uit die buitenste ruim en dinosourusse.

Kinders is sensitief vir ons optrede – die sing van Kersliedere, dooie bome in ons huise, melk en koekies wat vir Kersvader gelaat word – en kinders, verstandig genoeg, let dit op.

En die gevolg is geloof: Ma en pa sal dit nie doen as hulle nie glo nie, so Kersvader moet werklik wees.

Hoekom sal hulle vir my lieg?

* Kapitany is ’n lektor in sielkunde aan Keele Universiteit. Hy is besig met navorsing oor Kersvader se invloed op kinders tydens Kerstyd.

* Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Kersvader  |  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.