Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wet oor diskriminasie: Wat beteken dit regtig?

Voorgestelde wysings rakende wetgewing oor diskriminasie ontlok wyd kommentaar. Maar, skryf Chris Jones, die doel daarvan is bloot om ons álmal aanspreeklik te hou in ons optrede teenoor mekaar.

Daar is die laaste tyd heelwat geskryf en gepraat (op alarmistiese wyse) oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp rakende die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (op Engels Pepuda).

Heelwat kritiek is hierop uitgespreek, ook vanuit godsdienstige geledere. Ongelukkig word daar ook onakkurate inligting via sosiale media hieroor versprei.

Soos ek dit verstaan wil hierdie voorgestelde wysigingswetsontwerp onbillike diskriminasie op grond van (onder meer) ras, gender en gestremdheid voorkom – ook enige vorm van diskriminasie wat sistemies of struktureel nadelig kan wees.

Die interessante is dat die bestaande wetgewing hier ter sprake, sonder die wysigingsvoorstelle, nie “intensie” vereis wanneer dit kom by die verbod op onbillike diskriminasie, haatspraak en teistering nie. En dat die wysigingsvoorstelle nou skielik die “nie-intensionele” byvoeg.

Niks te vrees nie
Foto: ISTOCK

Die bestaande wet werk reeds met die intensionele asook nie-intensionele vorme van diskriminasie. Hierdie voorgestelde wysigingswetsontwerp klaar dít bloot uit.

Eintlik help die nuwe wysigingsvoorstelle ons om diskriminasie in sommige opsigte makliker te bewys. Diskriminasie, hiervolgens, sluit nou ook in wanneer iemand (anders) aangemoedig word om te diskrimineer, waar daar vooroordeel is, asook waar iemand se waardigheid ondermyn word.

Die definisie van gelykheid word ook uitgebrei of opgegradeer en sluit in gelyke reg en toegang tot hulpbronne, geleenthede, voordele en voorregte. Dit sluit ook “substantiewe gelykheid” in. Dit beteken dat elkeen billike toegang tot sosiale goedere behoort te hê. Dit poog nie om gelyke verdeling van hulpbronne, geleenthede en voordele te waarborg of af te dwing nie.

Dit beteken dus nie “perfekte gelykheid” nie. Dit beteken dat mense in verskillende kontekste verskillend behandel word met die doel om te verseker dat almal ’n billike kans het om toegang tot sosiale goedere te verkry.

Almal het in elk geval reeds toegang ingevolge hoofstuk 9 van ons Grondwet tot die gelyke genieting van alle menseregte en vryhede, asook ekonomiese en sosiale regte. Ons het niks om in hierdie opsig te vrees nie.

Besighede (eienaars en bestuurders) byvoorbeeld, sal onder hierdie wetgewing – sou die voorgestelde wysigings aanvaar word – moet kan bewys lewer dat hulle redelike stappe gedoen het om diskriminasie deur ’n werknemer doeltreffend aan te pak, om aanspreeklikheid vry te spring. Anders kan die wetlike gevolge hulle saam met daardie oortreder (individu of individue) in die gesig staar.

Die voorgestelde wysigings wil die inwerkingstelling van die wet verbeter en die konsepwysigings poog om sekere pligte rakende die staat uit te klaar en te verminder.

Maatskappye en ander openbare instellings of funksionarisse, aan die ander kant, word deur groter verantwoordelikhede in die gesig gestaar.

Wat van die kerk?

Hierdie wysigingsvoorstelle rakende die bevordering van gelykheid en die voorkoming van onbillike diskriminasie het my laat dink aan die hofsaak tussen 12 lidmate en die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings (SGV’s).

Hierdie voorgestelde wysigingswetsontwerp wil onder meer juis hierdie soort besluite – in hierdie geval deur ’n kerk geneem – met die nodige bewusmaking en wetgewing probeer voorkom.

Twee kern-regsvrae moes destyds deur die hof oorweeg word. Die eerste was of die 2016-besluit (wat die goeie 2015-besluit rakende SGV’s ongedaan gemaak het) korrek geneem is wat betref die prosedures wat deur die Kerkorde uiteengesit word. Nou dit is nie vir hierdie argument so belangrik nie, maar word ter wille van volledigheid uitgewys.

Die tweede, en dís belangrik, het verband gehou met die substansiële konstitusionele debat.

Die applikante (namens die “12”) het vooraf in hul beëdigde verklaring aangedui watter kerkordelike foute die Buitengewone Algemene Sinode (BAS) begaan het, maar ook waarom die 2016-besluit op onbillike diskriminasie teen gay mense neergekom het en daarom ongrondwetlik was. Adv. Jeremy Gauntlett het in sy beredenering in die hof dít baie duidelik uitgewys.

Dr. Dewyk Ungerer (aktuarius en kerkregkundige) het namens die NG Kerk in sy eedsverklaring in die hofstukke ’n baie ongelukkige stelling gemaak: “Ek ontken spesifiek dat die 2016-besluit die aansoekers se reg tot vryheid van assosiasie beperk. Hulle is vry om aan te sluit by enige Christelike kerk wat die Skrif interpreteer soos hulle doen, of om hul eie te begin. Ek erken dat dit vir hulle moeilik mag wees, maar hulle moet op hul beurt die reg van die kerk om die Woord te gehoorsaam soos sy dit verstaan, erken.”

Gauntlett het daarop gewys dat daar nooit voorheen deur die kerk se vergaderings besluit is dat gay lidmate maar indien hulle so sou voel, die kerk moes verlaat en elders ’n heenkome gaan soek nie. Inteendeel, daar is telkens verklaar hoe welkom gay lidmate in die NG Kerk is.

Die ironie is natuurlik ook dat die applikante die Algemene Sinode se eie besluit van 2015 wou laat herstel het – ’n besluit wat daardie jaar vir die sinode juis “gehoorsaamheid aan die Woord” beteken het.

Die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria is op 8 Maart 2019 gelewer. Die regters het verklaar dat die hof verplig is om uitspraak te lewer in gevalle waar die grondwetlike regte van mense aangetas word. Volgens die regters het die applikante daarin geslaag om in hul aansoek aan te toon dat die 2016-besluit van die BAS wel LGBTIQA+-mense se regte tot onder meer gelykheid, waardigheid, privaatheid, vryheid van godsdiens en deelname in kulturele en godsdienstige gemeenskappe aantas.

In hul uitspraak sê die regters ook dat die 2016-besluit “demonstreerbaar diskriminerend” is deurdat dit op grond van seksuele oriëntasie diskrimineer.

“In hierdie saak is die vraag wat beantwoord moet word, het die LGBTIQA+-gemeenskap ongelykheid gely in die voor-grondwetlike Suid-Afrika en vandag nog. Die antwoord is ’n oorweldigende ‘ja’,” het die regters in hul uitspraak gesê.

Sodat dit nie vir misverstand vatbaar is nie, herhaal die regters in dieselfde paragraaf: “Dit is onregverdig om lede van die Kerk uit te sluit van hul volle en gelyke genieting van alle regte en vryheid wat die Kerk bied”. Dit sluit byvoorbeeld in die reg om in die kerk en met die kerk se seën te mag trou soos heteroseksuele lidmate mag doen.

Die hof het gevolglik die besluit van die BAS van 2016 oor selfdegeslagverhoudings tersyde gestel.

In ’n omvattende artikel oor die regsgevolge van hierdie hofsaak, verwys Walter en Lodewyk Sutton onder meer na die betoë wat die Alliance Defending The Autonomy of Churches in South Africa (ADACSA) as (die NG Kerk se) vriend van die hof aangevoer het. Dit sluit in dat die kerk die reg het om oor sake van leer en interne funksionering te besluit.

Hulle verduidelik dan dat dít deeglik deur die hof oorweeg is, en dat die hof nie daardie “reg” van die kerk betwis nie, maar wel die reg het om te beslis wanneer ’n geval van onbillike kerklike diskriminasie – wat deur die Grondwet verbied word – ter sprake kom.

Ons bevind ons in Suid-Afrika in ’n konstitusionele demokrasie en daarom is die Grondwet die hoogste wet. Alle mense moet dit gehoorsaam. Daarom mag kerke byvoorbeeld nie sodanig teenoor mense optree en/of besluite neem – op grond van hul verstaan van hul heilige geskrif – wat diskrimineer, mense se gelykwaardigheid of ander waardes van die Grondwet, aantas nie.

Terloops, die Grondwet hoef nie teenstrydig met ’n verantwoordelike lees van (byvoorbeeld) die Bybel te wees nie. Die NG Kerk het destyds toe aan ’n nuwe Grondwet gewerk is, ook etlike bydraes gelewer waarna wel ook geluister is.

Aanspreeklikheid

Hierdie voorgestelde wysigingswetsontwerp gaan uiteraard oor meer as bogenoemde hofsaak – dit wil individue en instellings juis help om op ’n breë vlak gelykheid te bevorder en diskriminasie te voorkom.

Dit wil mense teen haatspraak, teistering en vals inligting beskerm – so ook kwesbare groepe, soos taal-, ras- en godsdiensminderhede. Dit wil mense veilig laat voel, en hulle bemagtig.

Dit wil van ons verantwoordelike burgers maak, met begrip vir en respek teenoor ander.

Dit wil vir ons almal ’n wetlike stuk gereedskap gee waarmee ons mekaar, ons instellings, maar ook ons demokrasie kan versterk.

’n Goeie vertrekpunt om sodanige kultuur van gelykheid en nie-diskriminasie in ons samelewing te vestig, begin met opvoeding en onderwys. Ons elkeen moet bereid wees om groter aanspreeklikheid hiervoor te aanvaar.

  • Dr. Jones is verbonde aan die eenheid vir morele leierskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.