Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is die groot fout wat DA gemaak het

Wat het verkeerd geloop in die DA en wat is dié party se vooruitsigte in die verkiesing ná die Patricia de Lille-sage? Willemien Brümmer het met kenners – en aunty Pat self – gepraat.

Patricia de Lille, voormalige burgemeester van Kaapstad, met haar bokshandskoene terwyl sy haar besittings ontruim het uit die burgemeesterskantoor. “Hierdie ronde het ek gewen,” het sy gesê. Foto: Adrian de Kock

Die belangrikste vaardigheid wat die DA weer moet aanleer is om “aangenamer” te wees in interne geskille.

Dit is die mening van Jan-Jan Joubert, veteraan- politieke joernalis en skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer?.

Want as die DA nie gou die ekwivalent voltooi van ’n kitskursus in mindfulness nie kan hy dalk net in die komende verkiesing die Wes-Kaap, die “skitterende juweel in die DA se kroon”, verloor.

Joubert het onlangs geskryf “die harde stemstatistiek toon dat die DA in die Wes-Kaap onteenseglik en op groot skaal agteruit geboer het sedert die ontstaan van die interne oorlog deur sommige DA-leiersfigure” teen die voormalige burgemeester, Patricia De Lille”.

Die DA het in sewe van die agt Wes-Kaapse munisipale tussenverkiesings sedert die begin van die breekspul steun verloor – gemiddeld met meer as 9 persentasiepunte. Indien dié tendens voortgaan, kan hy in 2019 die Wes-Kaap kwyt wees.

Jan-Jan Joubert, skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer?

Die DA se vooruitsigte word verder beduiwel deur die gerugte dat De Lille se ondersteuners ’n eie politieke party wil stig nadat nege Kaapse DA-stadsraadslede uit die party bedank het.

’n Nuwe herlewing van iets soortgelyks aan De Lille se Onafhanklike Demokrate (OD) sou selfs die party se nasionale vooruitsigte kon laat wankel. De Lille het dié party in 2003 gestig en dié party het in 2010 met die DA saamgesmelt.

“In die afgelope twee verkiesings (2014 en 2016) het die DA nie nodig gehad om te veel moeite te doen in die Wes-Kaap nie,” verduidelik Joubert. “Die Wes-Kaap het soort van vir homself gesorg en sy kernkiesers, wit én bruin, het maar net in elk geval gaan stem vir hulle. Hulle het nie veel geld hier gespandeer nie en hul leiers het gefokus op Gauteng en ander dele van die land waar hulle wou groei.”

Indien daar nou ’n “nuwe” party kom wat met die DA meeding om die sogenaamde bruin stem in die Wes-Kaap, gaan hy skielik baie meer geld in dié provinsie moet opdok.

“Dit gaan beteken hy gaan minder kan doen in die gebiede waar hy wil groei in die noorde van die land. Dit is die dom fout wat die DA gemaak het deur vir homself mededinging te skep in sy hartland omdat sy bestuursvaardighede nie op peil was nie,” sê hy.

‘Dis ’n swaar besluit wat ek moet maak’

Joubert meen De Lille het moontlik nog heelwat bykomende steun in die Kaapse stadsraad aangesien sowat 40 uit 153 DA-raadslede geweier het om vroeër vanjaar teen haar te stem in ’n mosie van wantroue.

Hoe die mantels gedraai gaan word na aanleiding van die nuwe bewind in die Kaapse stadsraad onder leiding van die nuwe burgemeester, Dan Plato, is egter onseker.

“Daar is ’n hengse klomp faktore voordat ’n individu sy keuse kan maak,” sê Joubert.

De Lille wou nie sê of die Onafhanklike Demokrate uit die graf gaan opstaan nie.

“Aspekte sluit in beginsel, eiebelang en inkomste. Daar is baie mense wat baie ontevrede is met hoe mev. De Lille behandel is en vir wie daai beginsel baie belangrik is, maar dan is daar ander dinge wat ter sprake is: Baie van hulle het gesinne en hulle het ’n inkomste nodig. Met ander woorde is jy kwaad genoeg vir die DA oor hoe hulle mev. De Lille behandel het om te bedank en wat is jou opsies?”

Hy meen dit gaan ’n opdraande stryd wees vir so ’n party. In ’n situasie waar jy twee sterk partye het, word die derde party gewoonlik stukkend gemaal tussen die twee.

De Lille wou self by navraag nog nie die aap uit die mou laat oor of sy haar by ’n nuwe party sal skaar en of die Onafhanklike Demokrate uit die graf gaan opstaan nie.

“Wel, ek kan regtig nie spekuleer nie,” het sy vanuit haar huis in Pinelands gesê. “Gee my asseblief net daai twee weke waarvoor ek gevra het om te besluit wat ek wil doen met my toekoms. Dis ’n swaar besluit wat ek moet neem wat met die volgende fase van my lewe te doen het.”

Hoërisiko-politiek vir die DA

Roland Henwood, ’n politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Pretoria, dink dis moontlik dat ’n nuwe party die DA kan skade berokken. Dis egter onwaarskynlik dat só ’n party ’n swaargewigbokser gaan word op nasionale vlak.

Roland Henwood, ’n politieke ontleder by die Universiteit van Pretoria.

“Jy kan ’n soortgelyke situasie kry as wat jy in die Johannesburg en Tshwane metro’s het waar ’n klein party ’n magsmakelaar word omdat nie een van die ander partye ’n voldoende meerderheid het om op hul eie te regeer nie. Patricia de Lille kan dus vir Kaapstad word wat die EFF in Johannesburg en die Tshwane metro is.”

Die DA se eie interne struwelinge kan dié party wel op nasionale vlak ernstige skade berokken. “As hulle nou ’n klomp stemme verloor in die Wes-Kaap, gaan dit op proporsionele vlak hul stemme-verhouding afbring en dit gaan hulle baie seermaak met betrekking tot hoeveel setels hulle in die nasionale vergadering kry. Dis dus hoërisiko-politiek en ’n hoërisiko-tydperk vir hulle. Net soos wat die ANC tans hoërisiko politiek beleef in KwaZulu-Natal en Noordwes.”

‘Raak ontslae van daai vrou’

Om werklik te verstaan waaroor die binnegevegte en die Machiavelliaanse magspel in die DA gaan, het ’n mens ’n doktorsgraad in die binnewerkinge van die opposisie nodig.

Vra jy vir De Lille, het dit met die een of ander duistere “instruksie” te make gehad.

“Vir my was dit asof iemand hulle ’n instruksie gegee het en gesê het julle moet ontslae raak van daai vrou of ons ondersteun julle nie meer nie. Ek het geen bewyse nie, maar daar moet ’n rede agter dit wees om ontslae te raak van my en die leierskap weet seker hoekom.”

Altus Joubert was die kern van die bakleiery in die Wes-Kaapse DA in die botsing tussen die meer sosiaal-demokratiese of linksgesinde lede onder De Lille aan die een kant en die meer regsgesinde, neo-konserwatiewes aan die ander kant.

Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille. Foto: Peter Abrahams

Jan-Jan Joubert wou nie name noem nie, maar daar word in politieke kringe gefluister dié vleuel se heethoofde is mense soos die premier, Helen Zille, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid.

Die neo-konserwatiewes was meer geneig om gevestigde eiendomsbelange te beskerm en minder geneig om die apartheidsonderbou in die “skoonste Kaap” af te takel.

“Die toets kom baie naby aan waar ek woon by die verkoop van die perseel van die Tafelberg Remediërende Skool in die hoofstraat van Seepunt,” vertel Joubert.

Daar is geen twyfel dat die deel van die DA namens wie mev. de Lille gepraat het meer gefokus was op die behoeftes van arm mense as baie van die ander dele van die DA nie.
Jan-Jan Joubert

“Dit was ’n perfekte geleentheid om bekostigbare behuising te vermeng met jou luukser behuising ten einde toegang tot ons voorstad te gee vir mense wat óf verwyder is in die verlede óf wat daar woon maar nie daar kan koop nie, hetsy omdat hulle huur óf omdat hulle op die sypaadjie bly. Daardie kans is hulle ontneem deur die Wes-Kaapse regering wat besluit het om daardie grond te verkoop vir ’n appel en ’n ei – R135 miljoen – wat baie klink totdat jy besef wat grond daar werd is.”

Dié eiendom van 17 000 vierkante meter is verkoop aan die Phyllis Jowell Jewish Day School, ’n klein private skool.

“Luidens berigte in die SA Jewish Report wil hulle daardie grond onder meer kommersieel ontwikkel, so dit gaan om die hondjie en nie die halsbandjie nie. Wat ons hier sien, is ontwikkelaars wat staatsgrond teen ’n appel en ’n ei opkoop en dit dan privatiseer en die DA provinsiale regering het willens en wetens daarmee saamgewerk. Mev. De Lille het hulle teengestaan. ’n Klag oor daardie kwessie is by die openbare beskermer ingedien.”

Die kern van die DA se probleem

Dit sluit aan by die ANC se argument dat die kabaal in die DA-koukus die belange van ’n klein, magshonger groepie in die DA dien.

“Ek hou nie daarvan om in politieke analise op persoonlikhede te fokus nie, maar dat die groep dáár is, is so en dat hulle besig is om die tamboer te slaan, is ook so, maar ek dink nie vir baie lank meer nie,” sê Joubert.

Die dryfveer agter die anti-Patricia-veldtog binne die DA het egter ander redes ook. “Daar is geen twyfel dat die deel van die DA namens wie mev. de Lille gepraat het meer gefokus was op die behoeftes van arm mense as baie van die ander dele van die DA nie. Tweedens was daar persoonlike geskille. Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en mev. De Lille het byvoorbeeld nie langs dieselfde vuur gesit nie. Derdens is daar ’n bietjie van ’n probleem deesdae in die DA dat hulle mense uitwerk wat nie heeltemal saam met die stroom swem nie – in teenstelling met die jarelange geneigdheid in die DA om mense bymekaar te bring.”

Hy meen dis die kern van die probleem waarvoor die DA nou te staan gekom het: “Politieke partye wat met allerlei klein vetetjies hul bestaan definieer word kleiner.”

Meer as ’n heksejag

Henwood reken die stryd teen De Lille was ietwat meer gekompliseerd as ’n heksejag.

Hy meen ook ’n mens moet versigtig wees vir bewerings van rassisme binne die DA. “Almal wat nie van die DA hou nie, het hulle in die verlede al van rassisme beskuldig. Die DA het ’n spesifieke ideologie en beleidsraamwerk en ’n spesifieke demografie. Maak dit hulle outomaties rassisties?”

Hy verwys na mense soos Brett Herron, De Lille se regterhand, wat onlangs uit die Kaapse stadsraad bedank het ’n dag nadat die DA strafregtelike klagte gelê het teen hom en De Lille. Hy het hom net ’n paar weke vroeër amptelik beskikbaar gestel om die nuwe burgemeester van Kaapstad te word, maar Plato het hom verslaan.

Ek dink nie dis ’n rassekwessie nie. Ek dink dis magspolitiek en eiebelang wat steeds voorop gestel word.
Roland Henwood

“Skielik verlaat mense die DA nou omdat dit rassisties is nadat hulle hulself ’n paar weke gelede nog beskikbaar gestel het as burgemeesterskandidaat . . . Dit klink nie reg nie. Hoekom maak jy nie die bewerings terwyl jy staan en sê jy wil dit regstel nie?”

Hy voeg by dat Herron saam met De Lille na die DA gekom het toe dié party met die OD saamgesmelt het. Dié party het in 2014 ontbind as ’n aparte politieke organisasie.

“Wat het in die DA verkeerd geloop dat die OD as ’n onafhanklike groepering binne die DA kon bly voortbestaan en toe dit hulle nie meer pas nie, kon hulle net uittree en aangaan? Dít is die belangrike vraag en die DA sowel as die OD moet daardie vraag beantwoord. Ek dink nie dis ’n rassekwessie nie. Ek dink dis magspolitiek en eiebelang wat steeds voorop gestel word.”

Die DA minus ’n boodskap

Henwood reken die probleme in die Wes-Kaapse DA moet versigtig ontleed word. “Daar is ’n krisis van leierskap binne die DA en die DA se aandag is afgetrek van wat hy eintlik wil doen en nou sit hulle met hierdie probleme.”

Die DA lyk ook volgens hom nie asof hulle weet hoe om die ANC onder pres. Cyril Ramaphosa te pak nie. “Hulle het die ANC onder Zuma baie maklik gehanteer en nou skielik het hulle nie meer daai maklike teiken nie en dit lyk asof hulle nie meer ’n boodskap het nie. Wat ek nou sê is ’n verdoemende uitspraak oor opposisie-politiek, maar ek dink ons moet eerder gaan kyk na antwoorde as om te gaan kyk na die populêre en gemaklike opsie om bloot rassisme te blameer.”

Die toekoms sal leer of De Lille ’n slagoffer was.

“Die vraag is nou gaan daar stappe gedoen word? Gaan daar strafregtelike klagte volg? Gaan daar ondersoeke volg? Albei kante gaan mekaar nou maar takel en ’n mens sal moet sien waar lê die swaartepunt van die feite en wat werklik gaan gebeur.”

Aunty Pat se ‘sementbek’

Patricia de Lille vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Kaapstad. Sy het ’n saak teen die DA aanhangig gemaak nadat die party verklaar het sy is nie meer ’n DA-lid nie en dus ook nie meer burgemeester van Kaapstad nie. Foto: Adrian de Kock

Joubert reken die DA se probleme het nie geëindig noudat De Lille weg is nie. “Daar is ’n klomp goed op pad, daar is géén twyfel daaroor nie. Géén. Die eerste skote het reeds hierdie Donderdag geklap toe De Lille klagte by die polisie ingedien het teen senior DA-lede wat vervalste bevindings deur die ouditeur-generaal teen haar op sosiale media versprei het. Dit sluit die federale ondervoorsitter van die DA, Mike Waters, en die DA-LP Bronwynne Engelbrecht in. Die ouditeur-generaal het dit in ’n amptelike verklaring as vervalsings uitgewys.”

Hy aarsel. “Maar ek dink nie Patricia is sonder sonde nie.”

Hy beklemtoon elke woord. “Party mense sal sê mevrou de Lille se ontaktvolle uitgesprokenheid het teen haar gewerk en dít is kritiek op haar waarmee ek saamstem. Sy het wat die mense noem ’n sementbek. As jy vir haar kwaad maak, gaan sy vir jou skel.”

Daar is egter tans geen tasbare bewyse van selfverryking nie, sê hy. “Waarvan daar wel bewyse is, is dat sy mense in posisies probeer plaas het wat sy waarskynlik nie moes nie. Die vraag is hier of dit genoegsaam is om hierdie tipe oorlog te ontketen?”

Die DA sou waarskynlik slimmer gewees het as hulle in die openbaar vir haar ’n finale waarskuwing gegee het en dit dan in haar hande gelos het, sê hy.

“Daar is ’n aanhaling van die Amerikaanse president Lyndon Johnson: ‘You want someone in the tent pissing out, not outside pissing in’. Dis absoluut waar. Hulle sal dit nog leer.”

Meer oor:  Da  |  Onafhanklike Demokrate  |  Patricia De Lille  |  Dan Plato  |  Helen Zille  |  Jp Smith  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.