Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is die kritieke fout wat DA gemaak het

Die DA moet sy klem op ras los en besef indien jy iets vir almal wil wees, is jy later niks vir niemand nie. Pieter Labuschagne skryf wat hy meen die DA vorentoe te doen staan.

Die voormalige DA-leier, Mmusi Maimane, groet ondersteuners voor sy toespraak by die bekendstelling van die DA se manifes vir verlede jaar se verkiesing. Maar wat het tydens hierdie verkiesing verkeerd geloop? Foto: Mpumelo Buthelezi

Die aanbreek van die nuwe dekade is om verskeie redes ’n belangrike mylpaal. Polities is dit ’n groot jaar met die munisipale verkiesing om die draai.

In dié stadium wil politieke partye graag hul ondersteuning as afspringplek konsolideer, om (hopelik) hul steunvlakke in die 2021-verkiesing te verhoog.

Die munisipale verkiesing is natuurlik eiesoortig, met ’n ander dinamika as die nasionale verkiesing. In die munisipale verkiesing fokus die partye meer op plaaslike aspekte – dinge wat op grondvlak gebeur soos dienslewering, behuising, straatligte en slaggate.

Die DA het met die munisipale verkiesing in 2016 skitterend opgang gemaak. Dié party het daarin geslaag om die munisipale agteruitgang in meeste stede en dorpe uit te buit, en sterk steun in die groot stedelike gebiede soos Tshwane, Johannesburg, Nelson Mandelabaai en Midvaal te kry. Hy kon sy totale steun in die 2016-verkiesing tot net onder 27% opstoot, terwyl die ANC na ’n ongekende historiese laagtepunt van 53,9% gedaal het.

Die sukses in die 2016 munisipale verkiesing was wind in die seile van die DA, wat toenemend geglo het dat hulle die magtige ANC van sy troon kon laat tuimel.

Wat skort in die DA?

Kan die DA se tussentydse leier John Steenhuisen help om die DA weer op koers te kry voor die munisipale verkiesing volgende jaar?Foto: Felix Dlangamandla

Die DA het tydens verlede jaar se algemene verkiesing probeer om die ANC-steun in Gauteng tot onder 50% te dwing, en self op nasionale vlak na hoër as 30% steun te groei.

Wat het dan verkeerd geloop vir die DA?

Die DA se ambisies ná die 2016-verkiesing om na steunvlakke hoër as 30% te groei en die beheer in twee verdere provinsies (Gauteng en die Noord-Kaap) oor te neem, was realisties, gegewe hul sukses in 2016.

Die DA het in die aanloop tot verlede jaar se verkiesing egter een fundamentele fout gemaak. Dit was kritiek belangrik ná sy skielike groei om eers sy steunbasis te konsolideer. Dit is die primêre vereiste dat ’n party nie sy tradisionele steunbasis moet vervreem nie.

Die groter klem op swart ekonomiese bemagtiging en rasseaangeleenthede het die tradisioneel meer behoudende wit kiesers afgeskrik.

Die DA se tradisionele steunbasis is gematigde sentristies-gebaseerde wit en bruin kiesers, met klein enklaves swart steun. Dié party se ideologiese wortels was in liberale beskouinge ingebed, met die takke wat effens gebuig is na ’n matig sosiaal-demokratiese fokus.

Die DA se klem op groei in swart gebiede en die noodsaaklike verskuiwing en beklemtoning van aspekte soos swart ekonomiese bemagtiging was kontra-produktief. Die klem op ras het tot voorvalle soos die Schweizer-Reneke fiasko kort voor die 2019-verkiesing gelei, wat ongetwyfeld die tradisionele kiesers vervreem het.

Die groter klem op swart ekonomiese bemagtiging en rasseaangeleenthede het die tradisioneel meer behoudende wit kiesers afgeskrik en 1,5% het eenvoudig na die VF Plus gedros.

Tydens die DA se een saamtrek in Soweto was die paviljoene volgepak met swart ondersteuners en die afwesigheid van wit ondersteuners was merkbaar.

Die eenvoudige realiteit is indien jy iets vir almal wil wees, is jy later niks vir niemand nie.

Klemverskuiwing in 2019

Die verskil tussen die sukses van die DA in die 2016 munisipale verkiesing en die 2019 algemene verkiesing, is eintlik eenvoudig. Die ANC se onvermoë om stede en dorpe te bestuur is voor die 2016 munisipale verkiesing doeltreffend oopgevlek.

Die DA kon met hul suksesvolle rekord in stede soos Kaapstad en ander dorpe in die Wes-Kaap toon hoe dit gedoen kan word. Hy het gewys dat hy stede en dorpe beter kan bestuur en stukkende straatligte en slaggate vinniger en beter kan herstel.

Voor die 2019-verkiesing was daar egter ’n klemverskuiwing. Die DA het ten einde meer swart steun in die tradisionele ANC-steungebiede te verwerf, sterker klem op rassekwessies en swart ekonomiese bemagtiging gelê. Die DA is as ’n “ANC lite” party beskou wat in die liggewigafdeling boks eerder as ’n gematigde sentristiese party. Die verlies aan ondersteuners veral na regs na die VF Plus is reeds geskiedenis.

Dís wat die DA vorentoe moet doen

Helen Zille pas nadat sy tot voorsitter van die DA se federale raad verkies is, gevolg deur die bedanking van ’n rits senior DA-lede verlede jaar. Is Zille die besem wat die party nou moet skoonvee voor die munisipale verkiesing?Foto: Sarel van der Walt

Die Suid-Afrikaanse Westminster parlementêre stelsel het die illusie geskep dat die amptelike opposisie die “regering in afwagting” is. Die Westminster-idee is dat die amptelike opposisie eendag die politieke beheer kan oorneem, en die opposisieparty spog gewoonlik met “skadu-ministers” in elke portefeulje.

Daar is natuurlik geen fout met hierdie basiese teoretiese aanname nie. Die probleem is egter dat die parlement in Kaapstad in Afrika is en nie in Londen langs die Teemsrivier nie. Afrika suid van die Sahara word gekenmerk deur een-party-dominansie.

In Zimbabwe is Zanu-PF al langer as 40 jaar in die regeringstoele en in Suid-Afrika is die ANC al amper 30 jaar aan bewind. Ten spyte daarvan dat die ANC se steun in die 2019-verkiesing na 57,5% geval het, sal dié party nog ten minste vir ’n dekade of langer in beheer bly.

Die DA se eerste belangrike taak is om sy tradisionele steun terug te wen en vir eers afstand te doen van die idee om op kort termyn skerp te groei om dalk eendag die meerderheidsparty te word.

Die ANC se onvermoë om stede en dorpe te bestuur is voor die 2016 munisipale verkiesing doeltreffend oopgevlek deur die DA.Foto: Foto24

Die ANC se ondergang sal eerder een van geleidelike wegkalwing wees. Die DA moet daarom eers weer konsentreer om ’n sterk gekonsolideerde opposisieparty te wees met steunvlakke bo 20%.

Die tweede belangrike strategiese fokus in 2020 moet op plaaslike sake – die sogenaamde brood-en-botter-kwessies – wees: Basiese dienslewering, elektrisiteit, paaie, stormwaterslote, straatligte en slaggate. Die DA moet inkrementeel wegbeweeg van nasionale brandpunte en eerder op die tekortkominge in plaaslike munisipale bestuur fokus. Die DA se munisipale suksesverhaal in gebiede soos Midvaal en Kaapstad moet as getuigskrif gebruik word.

Die sleutel moet op positiewe probleemoplossing wees.

Die DA moet sy beheer verstewig en terugwen in die groot metropole soos Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai en kleiner stede soos Kimberley in die visier kry. Die fokus moet eerder op konsolidasie as op groei wees.

Waarom is ’n sterk DA nodig vir die land?

Die EFF se groei kan net plaasvind indien dit van die meer radikale ANC-steun wegrokkel.Foto: Tebogo Letsie

Daar is in werklikheid net twee medium-groot partye (die DA en die EFF) en een groot party (die ANC) in die land – en dié drie partye trek saam amper 90% van die totale steun. Elkeen van dié partye het ’n spesifieke nis of plek op die ideologiese partypolitieke spektrum.

Die EFF is ideologies links met sy verknogtheid aan sosialisme, staat-sentralisme en staatsbeheer oor bates. Die ANC bevind hom naas die EFF met ’n meer gematigde vorm van sosialisme, wat breedweg as sosiaal demokraties beskou kan word.

Die DA is meer van ’n sentristiese party met ’n beleid wat sosiale demokrasie én liberalisme as ideologiese vertrekpunte insluit.

Die EFF se groei kan net plaasvind indien dit van die meer radikale ANC-steun wegrokkel. Die ANC sal weer hoop om meer gematigde steun (veral bruin steun) van die DA weg te rokkel.

Pieter LabuschagneFoto: Sarel van der Walt

Indien die DA se steun onder 20% sou daal, terwyl die EFF na hoër vlakke net onder 20% groei, gaan die swaartepunt en fokus van die debat in die land skuif. Die DA-versus-ANC-debat van vroeër sal dan toenemend na links na die EFF en die ANC skuif.

Die DA se agteruitgang sal beteken dat die politieke gesprek na die linkerkant van die politieke partystelsel gaan skuif. Die debat sal toenemend daaroor gaan hoe radikale transformasie, herverdeling en swart bemagtiging in die land moet gebeur.

In Suid-Afrika is dit van kritieke belang dat daar ’n sterk politieke party is wat gematigheid en liberalisme as basis het.

Die DA sal toenemend in die debat gemarginaliseer word. Die debatte en gesprek sal dus meer radikaal word ten koste van gematigheid en balans in die politieke stelsel.

In Suid-Afrika is dit van kritieke belang dat daar ’n sterk politieke party is wat gematigheid en liberalisme as basis het en wat die ondersteuners se belange kan artikuleer.

Die land benodig daarom ’n sterk DA vir balans en gematigheid in die politieke stelsel.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Vf Plus  |  Wes-Kaap  |  Kaapstad  |  Schweizer-Reneke  |  Verkiesing 2019  |  Gematigdheid  |  Liberalisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.