Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is hoe die koronavirus deur die lug versprei

Dis nou al ou nuus dat Covid-19 deur klein respiratoriese lugdruppels kan versprei. Wetenskaplikes verduidelik hier bondig wat hierdie aërosols is, hoe lugpartikels die koronavirus kan oordra en hoe om jouself te beskerm.

Wanneer iemand nies, kan klein, respiratoriese lugdruppels in die lug bly hang. Foto: Getty Images

Wetenskaplikes waarsku nou al vir maande dat die nuwe koronavirus deur klein respiratoriese lugdruppels kan versprei wat mense vrystel wanneer hulle praat of nies, en wat in die lug kan bly hang.

Die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) het aanvanklik gelyk asof hulle dié risiko erken op 18 September vanjaar. Die CDC het riglyne op sy webtuiste gepubliseer wat hierdie aërosols gelys het as een van die maniere waarop die virus versprei. Die organisasie het gesê daar is al hoe meer getuienis dat hierdie lugpartikels in die lug kan bly en verder as ses voet kan reis. Maar drie dae later was hierdie riglyne weg.

’n Nota in die plek daarvan het laat weet ’n ruwe konsep is per ongeluk hier gepos en dat die CDC nog daaraan werk om hierdie inligting by te werk.

Passasiers boek in vir ’n plaaslike vlug by die Haneda-lughawe in Tokio, Japan. Die toonbanke het plastiekgordyne om infeksie te help keer. Foto: Kyodo News via Getty Images

Hierdie soort verskuiwing deur ’n regering kan verwarrend wees. In die hieropvolgende vyf artikels wat onlangs in The Conversation gepubliseer is, het wetenskaplikes verduidelik wat hierdie aërosols is, hoe lugpartikels die koronavirus kan oordra en hoe om jouself te beskerm.

Wat moet ons weet oor aërosols?

Wanneer jy sing of praat, breek die stroom lug stringe slym in jou lugweë op en sodoende word druppels in die lug vrygestel. Terwyl groter druppels vinnig val, kan kleiner, ligter druppels in die lug bly. Indien jy met die virus besmet is, kan daardie druppels die koronavirus bevat – en vroeë navorsing wys daarop dit kan vir minute tot ure lewensvatbaar bly.

Die aërosol-kenners Byron Erath, Andrea Ferro en Goodarz Ahmadi van die Clarkson-Universiteit in Amerika het die meganika van dié lugdruppels in ’n onlangse artikel in The Conversation verduidelik.

Hulle het ook bespreek wat mense kan doen om hulself te beskerm. Hulle reken dis van kritieke belang om jou gesig te bedek om jou risiko te verlaag om deur die lug aan die virus blootgestel te word. Hulle sê “om die tyd te verminder wat jy in swak geventileerde, digbevolkte areas spandeer is ’n goeie manier om die risiko van lug-blootstelling te verminder”.

Is ses voet genoeg?

Die algemeenste raad om ’n gesonde afstand te hou is om ses voet (of sowat 1,8 meter) weg te staan van ander mense. Dis maklik om te onthou, maar dit gaan jou nie beskerm teen alle risiko’s van besmetting met aërosols nie – veral nie binnenshuis nie.

Lugstrome van ’n waaier of ventilasiestelsel kan respiratoriese druppeltjies verder as ses voet versprei.

Omdat mense wat besmet is met Ears-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak, groot hoeveelhede van die virus kan oordra is daar nie ’n veilige afstand in ’n kamer wat swak geventileer is nie. Lugstrome van ’n waaier of ventilasiestelsel kan respiratoriese druppeltjies verder as ses voet versprei. Net so kan sing of hard praat as sogenaamde super-verspreiders dien.

Wetenskaplikes van die Clarkson-Universiteit het dit vergelyk met ’n rokerige kamer om die risiko’s te illustreer en hulle het maniere voorgestel om dit te beheer. Hulle sê mettertyd sal dit nie saakmaak waar jy is in ’n kamer nie. Terwyl dit nie ’n perfekte vergelyking is nie, kan ’n mens jou voorstel hoe sigaretrook deur verskillende omgewings beweeg – binne én buite – en dit kan jou help visualiseer hoe virus-belade druppeltjies deur die lug sirkuleer.

Lugpartikels en super-verspreiders

’n Groot getal Covid-19 gevalle is veroorsaak weens super-verspreider-geleenthede waar iemand wat hoogs aansteeklik is die virus na dosyne ander versprei het.

Besoekers dra beskermende maskers in ’n restaurant in Hong Kong se Disneyland wat onlangs weer vir besoekers heropen het. Foto: Lam Yik via Getty Images

Navorsers in Hongkong het onlangs beraam dat sowat 20% van die mense wat daar geïnfekteer is verantwoordelik was vir 80% van die plaaslike oordrag van die virus. Kooroefeninge, kerkdienste, nagklubs en verjaardagpartytjies was maar net ’n paar van die gedokumenteerde super-verspreider-geleenthede.

Elizabeth McGraw, die hoof van die deelstaat Pennsilvanië se sentrum vir infeksiesiektes-dinamiek, het die getuienis en die belang van super-verspreider-geleenthede in nog ’n artikel  verduidelik.

“Die goeie nuus is dat die regte beheermaatreëls – soos maskers, handewas, kwarantyn, inenting, die beperking van sosiale kontak ensovoorts – die koers van oordrag kan verlangsaam en die pandemie in sy spore kan stuit,” sê sy.

Heropening van die ekonomie

Die manier waarop die virus in die lug versprei bied ook ’n uitdaging vir die heropening van die ekonomie en van skole. Die respiratoriese wetenskaplike Douglas Reed van die Pittsburgh-Universiteit het gekyk na studies wat gewys het hoe die virus versprei het  – insluitende by ’n inbelsentrum in Suid-Korea, ’n restaurant in China en ’n kooroefening in die deelstaat Washington.

Personeel in die vermaaklikheidsbedryf in Madrid, Spanje, het hulleself vir twaalf uur lank toegesluit in ’n nagklub as deel van ’n protesaksie om te vra vir die heropening van uithangplekke in Spanje wat tans gesluit is weens die Covid-19 pandemie. Foto: Oscar Gonzalez via Getty Images

“Die getuienis dui sterk daarop dat oordrag deur die lug maklik gebeur en waarskynlik ’n belangrike drywer is vir die pandemie. Dit moet in ’n ernstige lig beskou word namate mense begin terugkeer na die (regte) wêreld,” sê hy.

Meer navorsing is sedertdien gepubliseer wat ook daarop dui dat die virus deur die lug versprei. Een oorsig het bevind mense wat positief getoets is vir Covid-19 was twee keer meer geneig om voor die tyd by ’n restaurant te geëet het as diegene wat negatief getoets is. Nog so ’n studie het ’n groot uitbreking beskryf in een saal van ’n verpleeginrigting met swak ventilasie. ’n Verdere twee studies het gekyk na hoe die virus gedurende vlugte versprei.

Die probleem met skoolbusse

Met temperature wat in die noordelike halfrond begin afkoel, is dit moeiliker om vensters oop te hou om vars lug na toe ruimtes te bring, en dit sluit openbare vervoer en skoolbusse in.

Jesse Capecelatro, ’n meganiese ingenieur by die Universiteit van Michigan, het die risiko’s van die koronavirus wat binne ’n skoolbus versprei gelys as agt aanbevelings. Hieronder was die belangrikste: “Kort ritte, maskers vir almal en minder passasiers”.

*Hierdie storie is ’n samevatting van vorige artikels uit The Conversation se argiewe.

*Stacy Morford is die redakteur van algemene opdragte by The Conversation.

Meer oor:  Stacy Morford  |  Lugverspreiding  |  Covid-19  |  The Conversation
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.