Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is hoekom alle standbeelde belangrik is

Indien enige standbeeld bloot verwyder word, trek dit ’n streep deur die veelvuldige fasette van die geskiedenis. Pieter Labuschagne waarsku teen ’n nasie wat aan geheueverlies ly.

Lede van AfriForum se jeugbeweging betoog voor die ontsierde standbeeld van Genl. Louis Botha voor die parlement. Foto: Maryna Lamprecht

Die eis om standbeelde uit ’n vroeëre politieke epog te verwyder het op ’n onrusbarende wyse weer momentum opgebou. In Suid-Afrika word daar byvoorbeeld nou daarop aangedring dat genl. Louis Botha se standbeeld voor die parlement verwyder moet word.

Die kernvraag oor die onophoudelike eise is: Watter soort samelewing wil ons in die land skep?

Is die gedagte om ’n onverdraagsame samelewing met een heersende ideologie te skep? Dit is presies wat met standbeelde in die voormalige Sowjetunie gebeur het.

Die morele eis om standbeelde af te breek negeer egter ’n verwante morele argument – die oogmerk om ’n veelrassige en inklusiewe samelewing te skep, waar minderhede se politieke en kulturele kosbaarhede ook ’n plek het. Só ’n samelewing was die verhewe ideaal van groot leiers soos oudpres. Nelson Mandela en emeritusaartsbiskop Desmond Tutu. Dit was ook die droom vir ’n nuwe Suid-Afrika wat die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) in hul verslag vervat het.

In die veelvoudige fasette van die geskiedenis is die een groep se held dikwels die ander groep se skurk.

Die hoopvolle verwagting was ’n inklusiewe samelewing met plek vir almal, selfs diegene waarmee ons nie saamstem nie.

Die verwydering van standbeelde in die naam van objektiewe vryheid skep juis deur dié subjektiewe optrede onverdraagsaamheid teenoor diegene waarmee hulle die land moet deel.

Die konsep “history” behoort te beteken “his and her story” en uit dié legkaart van opponerende en botsende stories bestaan ons land se geskiedenis. Dit is die land wat ons deel – die “goeie” en die “slegte”.

In die veelvoudige fasette van die geskiedenis is die een groep se held dikwels die ander groep se skurk.

Die realiteit is dat standbeelde sagte simboliese teikens geword het en as fokuspunte dien om onderliggende frustrasie oor rassediskriminasie binne die politieke stelsels te artikuleer.

Prof. Pieter Labuschagne Foto: Sarel van der Walt

’n Nasie wat aan geheueverlies ly

Die konsep van herinneringe het altyd politieke en ideologiese ondertone en elke epog en geslag vind sy eie betekenis in hierdie herinneringe. Die grondbetekenis van gedenkwaardigheid is om nie te vergeet nie en dit sluit die foute en die ongeregtighede van die verlede in. Daarom is alle monumente en gedenkwaardighede, selfs uit ’n onderdrukkende verlede, so belangrik.

Indien ’n magshebber elke monument en gedenkwaardigheid wat spesifiek vir sy groep aanstootlik is verwyder, word ons ’n nasie wat aan geheueverlies ly. Die tragiese verlede kan egter nie bloot uitgevee word nie. In elke nuwe politieke epog sal die magshebber altyd weer van voor wil begin deur die vorige magsgroep se geskiedenis – soos vergestalt in monumente en gedenkwaardighede – te wil verwyder. Dié werkswyse is soos ’n roterende deur sonder ’n volledige blik op die verlede.

Die Voortrekkermonument hou al vir dekades lank wag oor Pretoria. Wanneer ’n besoeker die monument betree is die oogmerk om hom of haar te beïndruk. Foto: Foto24

Monumente en gedenkwaardighede

Ten einde die benadering te rasionaliseer is die verskil tussen ’n monument en ’n gedenkwaardigheid belangrik.

Die belangrike onderskeid is om te weet wat die doel van monumente is – naamlik dat ons altyd sal onthou. Gedenkwaardighede (memorials) is weer sodat ons nooit sal vergeet nie.

Die Voortrekkermonument in Pretoria is ’n goeie voorbeeld van ’n monument. Wanneer ’n besoeker die monument betree is die oogmerk om hom of haar te beïndruk. Die indrukwekkende toneel in die binneruimte van die monument is om die Voortrekkers se triomf te vier. Die doel van die monument is dus om die oorwinnings wat die Voortrekkers behaal het te onthou, en te verseker dat die helde van die Groot Trek alomteenwoordig is.

Die senotaaf wat buite Dingaanstat vir die vermoorde Piet Retief en sy manne opgerig is, is weer ’n gedenkwaardigheid. Dis opgerig sodat hulle nie vergeet word nie en om diegene te eer wat dood is en gely het.

grafika
Grafika: Grafika24

Die post-koloniale epog by die Bloedrivier/Ncome-slagveld in KwaZulu-Natal is ’n interessante kombinasie waar twee verskillende opponerende groepe (die Zoeloes en die Boere) op een terrein ’n monument én ’n gedenkwaardigheid opgerig het.

Die brons Voortrekkerwaens, die granietwa en die uitstalling by die Bloedrivier-museum is almal voorbeelde van monumente wat wil vier en eer hoe die Voortrekkers op 16 Desember 1838 ’n oorwinning oor die Zoeloes behaal het. Die monumente maak seker dat die helde en hul oorwinning alewig teenwoordig is.

Oudpres. Jacob Zuma het op 16 Desember 2014 die Versoeningsbrug tussen die Ncome-museum en die Bloedrivier-monument geopen. Foto: Denzil Maregele
Die brons Voortrekkerwaens, die granietwa en die uitstalling by die Bloedrivier-museum is voorbeelde van monumente wat wil vier en eer hoe die Voortrekkers op 16 Desember 1838 ’n oorwinning oor die Zoeloes behaal het. Foto: Denzil Maregele

’n Geïntegreerde gedenkwaardigheid

Die latere Ncome-gedenkwaardigheid net oorkant Bloedrivier se doel is om die slag van Ncome en die 3 000 Zoeloes wat daar gesterf het te gedenk. Die Ncome-kompleks is opgerig ná ’n neerlaag en eer die helde wat daar gesterf het.

Op hierdie manier kan twee opponerende groepe in harmonie hul verskillende persepsies op ’n geïntegreerde wyse manifesteer.

Die Vrouemonument in Bloemfonteinis opgerig om die sowat 34 000 vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het te gedenk. Foto: Conrad Bornman

Die oorspronklike fokus van die Vrouemonument in Bloemfontein was, soos wat president Steyn in 1907 geskryf het: “ . . . dat de tijd aangebroken is om een Monument op Zuid-Afrika’s bodem daar te stellen ter roemrijke nagedachtenis van de moeders, vrouwen en kinderen die tijden den jongste oorlog zijn omgekomen.”

In werklikheid is die oorspronklike Vrouemonument dus nie ’n monument nie, maar eerder ’n gedenkwaardigheid, want daar was nie werklik iets om te vier nie.

Die doel was eerder om die sowat 34 000 vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het te gedenk.

Die pad vorentoe

Die oplossing vir die kompleksiteit in die land is om nie bloot alle monumente en gedenkwaardighede wat aanstoot gee te verwyder nie. Dit kan net soos die waens by Bloedrivier en Ncome ’n dubbele doel dien. Vir die Zoeloes kan dit simbolies wees van dit wat nie vergeet moet word nie – dit is deel van die neerlaag en dit eer dié wat dood is.

Dié benadering wat by Bloedrivier/Ncome versinnebeeld word, kan ook elders in die land gebruik word ten einde ’n inklusiewe samelewing te skep.

As monument vier dit die oorwinning van diegene wat vir vryheid geveg het, maar dit kan ook gedenkwaardighede wees om diegene te gedenk wat byvoorbeeld in die Kerkstraat-bom gesterf het.

Indien die standbeelde van die ANC-leierskorps uit die bevrydingstryd opgerig word, kan dit monumente én gedenkwaardighede wees. As monument vier dit die oorwinning van diegene wat vir vryheid geveg het, maar dit kan ook gedenkwaardighede wees om diegene te gedenk wat byvoorbeeld in die Kerkstraat-bom gesterf het.

Die belangrike onderskeid is dat die doel van monumente is dat ons altyd sal onthou en gedenkwaardighede is dat ons nooit sal vergeet nie.

Die huidige benadering is om standbeelde wat voor 1994 opgerig is te verwyder en sodoende om die voorkoms van kolonialisme te verskraal. Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is egter ook teen ’n imperialistiese koloniale Brittanje gevoer. ’n Groot getal van die standbeelde wat ná die oorlog opgerig is, is monumente om oorwinnings te vier, soos dié by Magersfontein. Dit is ook opgerig om neerlae en dié wat gesterf het te gedenk, soos dié by Holkrans.

Die standbeeld van Paul Kruger en sy twee boeregeneraals op Kerkplein in Pretoria is in 2015 met groen verf gevandaliseer Op dié foto is AfriForum Jeug wat destyds met ’n veldtog #Dankie Jan begin het om standbeelde in die land te beskerm. Foto: Theana Breugem

Dit is belangrik om die intrinsieke dualiteit van standbeelde te verstaan. Die standbeeld van die voormalige Transvaalse president, Paul Kruger, op Kerkplein is ’n monument om sy bydrae te huldig om ’n republiek in die binneland te stig en weerstand teen imperialisme te bied. Ons swart landgenote kan die standbeeld weer as ’n gedenkwaardigheid beskou ten einde nie te vergeet hoe swart stamme onder hom gely het nie.

Ons mag nie toelaat dat standbeelde bloot verwyder word, omdat dit ’n handige fokus vir onderliggende frustrasies geword het nie.

Indien enige standbeeld bloot verwyder sou word, ontken dit ’n deel van dié faset van die geskiedenis. Dit trek ’n streep deur die veelvuldige fasette van die geskiedenis en lei tot polities-kulturele en intellektuele armoede.

Die antwoord is eerder om balans te skep, soos by Bloedrivier/Ncome deur bykomende beelde op te rig om as monumente of gedenkwaardighede te dien. Op dié wyse is hoofman Tshwane naas generaal Andries Pretorius se standbeeld in Pretoria opgerig, om ook sy bydrae tot die geskiedenis van dié omgewing te herdenk.

So verryk ons die geskiedenis en verskraal dit nie. Ons mag nie toelaat dat standbeelde bloot verwyder word, omdat dit ’n handige fokus vir onderliggende frustrasies geword het nie.

*Labuschagne is ’n emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.