Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is hoekom Covid-19 nie griep is nie

Covid-19 is nie dieselfde as die seisoenale griep nie, en ons het ook nie hier te doen met ’n “massiewe toetsskandaal” nie. Willemien Brümmer het met van Suid-Afrika se voorste kenners gepraat oor Covid-19-mites wat die potensiaal het om die heldhaftige pogings van gesondheidswerkers en wetenskaplikes in die wiele te ry.

Gedurende die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie in Londen betoog inwoners wat teen die inperking gekant is sonder om hulle daaraan te steur om ’n gesonde afstand te hou of maskers te dra. Plandemic verwys na die gelyknamige video’s wat waninligting en samesweringsteorieë oor die Covid-19-pandemie versprei. Foto: Richard Baker via Getty Images

“Ek is niks bang vir Covid-19 nie. Ek was nog nooit bang vir griep nie,” skryf ’n leunstoel-“wetenskaplike” die ander dag op Facebook.

Nog ’n “slimmerd” maak die pandemie af as ’n “total hype”, en die tweede vlaag van die virus wat tans deur Europa tier as “pure versinsel”.

Dit sou waarskynlik snaaks kon gewees het, as dit nie so disrespekvol was teenoor die meer as 1,3 miljoen mense wêreldwyd wat reeds bevestigde sterfgevalle was nie – óf die Covid-19-waaksale wat steeds vir die meeste pasiënte ’n eenrigtingstraat is na die onbekende nie.

Covid-19 is net so werklik soos die Tweede Wêreldoorlog (behalwe as jy dink dís ook uit die duim gesuig).

Natúúrlik is dit menslik dat die nasie pandemie-pê is. Ons is Covid-kapoet en ons wil dans en sing en braai. Ons smag na aanraking en die risiko’s wat in Maart gelyk het na ’n genootskap met die duiwel, het nou in party mense se gemoedere na ’n Sondagskool-piekniek verander. Ons sogenaamde Covid-19-“bevelsraad” het ’n paar besluite geneem wat beter sou gepas het in ’n kinderboek en die streng inperking aan die begin was heel moontlik teenproduktief as jy dit nie kon bekostig om van die huis te werk in ’n lowerryke, middelklas-woonbuurt nie.

Die vraag is of dit genoeg rede is om jou te vergryp aan sameswerings-teorieë, soos dat ons hier te make het met ’n “toetsskandaal” en nie ’n pandemie nie; en dat die afgelope nege maande van louter hel basies net ’n “scamdemic” of ’n “plandemic” was.

Die antwoord is dat die aarde rond is, nie plat nie, en dat Covid-19 net so werklik is soos die Tweede Wêreldoorlog (behalwe as jy dink dís ook uit die duim gesuig).

’n Dodelike virus

Daar is baie mites, maar een van die algemeenste is dat Covid-19 “eintlik maar net soos die seisoenale griep is”. Om mee te begin: Na raming is Covid-19 sowat tien keer dodeliker as die griep wat jy of jou ma of jou kind verlede winter gehad het. Wetenskaplikes soos dr. Anthony Fauci, Amerika se voorste infeksiesiektes-kenner, meen dat die infeksie-sterftekoers vir gewone seisoenale griep sowat 0,1% is en vir Covid-19 1,0%. (Die infeksie-sterftekoers is die totale getal gerapporteerde sterftes gedeel deur die totale getal mense wat draers is van die infeksie in ’n bevolking – dus ook dié wat asimptomaties is en nie noodwendig getoets word nie.)

Samesweerders glo dat regerings en wetenskaplikes oor die amptelike Covid-19 syfers en die getal sterftes jok. Foto: Getty Images

Dit is natuurlik ’n internasionale gemiddelde, wat in Suid-Afrika laer kan wees, onder meer omdat ons ’n veel jonger bevolking het as baie lande in die Noordelike Halfrond.

Die meeste kenners stem saam dat die amptelike Covid-19-sterftesyfer wat deur ons departement van gesondheid gepubliseer word, net soos die toetsresultate, nie die ware prentjie gee nie.

Prof. Glenda Gray, president en hoofuitvoerende beampte van die Mediese Navorsingsraad en ’n veteraan van die stryd teen MIV/vigs. Foto: JP Crouch Photography

Prof. Glenda Gray, president en uitvoerende hoof van die Mediese Navorsingsraad (MNR), reken die enigste daadwerklike manier om die spoor te volg van die pandemie is om die sogenaamde surplus-sterftes of oortollige sterftes te bestudeer. Sy en haar span meen die meeste van dié sterftes is weens Covid-19. Die oorsaak van dié sterftes word nie tans deur die regering aangedui nie, maar ’n span aktuariële navorsers by die MNR en die Universiteit van Kaapstad publiseer ’n weeklikse ontleding hiervan op die MNR se webtuiste.

Dié oortollige sterftes weens natuurlike oorsake was op 10 November vanjaar volgens dié span byna 51 000 – dit wil sê 51 000 meer as die voorspelde getal sterftes gebaseer op historiese tendense. Die navorsers vergelyk die amptelike Covid-19-sterftes in ’n grafiek met die oortollige sterftes, waar ’n mens kan sien dié twee loop hand aan hand wat tydsberekening en geografiese patrone betref. Eenvoudiger gestel: As ons uit die amptelike statistieke weet die sterftes in Port Elizabeth skiet op ’n gegewe tydperk die hoogte in, dan is die kanse baie goed dat die surplus-sterftes presies dieselfde patroon sal volg.

Hierdie oortollige sterftes word op dieselfde manier as die jaarlikse griep-sterftes bereken, wat gewoonlik tussen 10 000 en 12 000 is. Jy hoef dus nie vir griep getoets te word om deel te vorm van dié statistiek nie. Vanjaar was hierdie griep-sterftes egter byna heeltemal afwesig aangesien dit lyk asof ons hierdie gogga hierdie winterseisoen byna heeltemal ontwyk het.

Is dit stroomafwaartse gevolge?

Prof. Alex van den Heever, voorsitter van bestaansekerheidsadministrasie en bestuurstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand, het onlangs gesê dié oortollige sterftes is veel hoër. Hy het dié sterftes sedert die begin van die jaar tot 24 Oktober op 62 056 beraam en hy reken “byna almal” is te wyte aan Ears-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak. (Hy het ander metodologie as die MNR en die UK gebruik en hul span stem nie noodwendig met hom saam nie.)

Nie almal is dit egter eens oor die oorsaak van dié oortollige sterftes nie, omdat daar tydens ’n pandemie ook heelwat kollaterale skade is: Dit wil sê mense word nie net siek nie, hulle ly ook honger en hulle gaan nie noodwendig dokter toe vir ander skete nie.

Prof. Alex Broadbent, hoogleraar in epidemiologiese filosofie en dekaan van die fakulteit geesteswetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg, skryf baie van dié surplus-sterftes eerder aan die “stroomafwaartse gevolge” van die pandemie en die inperking toe. Dit is dinge soos MIV-behandelingsprogramme en inentingsprogramme wat onderbreek is en mense wat te bang was om gesondheidsgeriewe te besoek.

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal. Foto: Mlandeli Puzi

Prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), reken op sy beurt “die argumente oor oortollige sterftes weens TB en vigs en kanker is alles snert”.

“Natúúrlik is behandelings- en inentingsprogramme ontwrig, maar dis nie tipies dinge wat jou binne ’n kort tydperk gaan doodmaak soos Covid-19 nie. Ons sal mettertyd die probleme sien weens die ontwrigting, maar dis nie asof jy vandag jou masels-inenting misloop en môre sterf weens masels nie. Dit gaan eers in die medium- tot lang termyn ’n uitwerking hê. Dieselfde geld vir diabetes en hipertensie. Ek is die heeltyd betrokke by die riglyne vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, en sover ek kon sien, het hulle hul bes gedoen om hierdie negatiewe effekte te temper en hulle het selfs ’n paar baie goeie programme begin – soos om diabeteslyers reeds vroeg op te spoor en te behandel. Die departement het ook begin om medisyne tuis af te lewer sodat mense nie in rye hoef te staan by klinieke waar hulle die gevaar loop om die virus op te doen nie.”

Dis aansteekliker as griep

Die tweede probleem is dat die nuwe koronavirus baie aansteekliker is as seisoenale griep. Hier moet jy na die R0 kyk – die getal mense wat jy kan aansteek as jy met dié kiem besmet is. Vir die gewone influensa kan jy tussen 0,9 tot 2,1 mense aansteek as jy byvoorbeeld op hulle nies.

Betogers in Londen verkondig die samesweringsteorie dat maskers jou siek maak en dat hidroksichlorokien jou van Covid-19 kan genees. Foto: Getty Images

As jy Covid-19 onder lede het, kan jy twee tot ses mense siek maak, wat beteken gemiddeld is Covid-19 sowat twee en ’n half keer aansteekliker as griep.

Die redes hiervoor is legio. Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal en die US se mediese fakulteit, sê hy dink dis onder meer omdat daar minder onderliggende weerstandigheid is teen Ears-CoV-2 as teen griep. Oor ’n paar jaar kan dit dalk anders wees.

Preiser sê daar is al hoe meer getuienis dat Ears-CoV-2 waarskynlik in sommige gevalle lugoordraagbaar is.

“As jou vyfjarige seuntjie byvoorbeeld vanjaar Covid-19 kry, en hy kry dit weer oor ’n jaar en daarna dalk weer oor drie jaar, kan die virus oor 20 of 30 jaar van nou dus dalk net soos ’n verkoue wees omdat almal dan ’n onderliggende weerstand het. Dié wat die hoogste gevaar loop, sal seker die ouer mense wees wat miskien nie so blootgestel was daaraan nie.”

Die feit dat die virus moontlik ook anders oorgedra word as griep maak hom óók gevaarliker. Preiser sê daar is al hoe meer getuienis dat Ears-CoV-2 waarskynlik in sommige gevalle lugoordraagbaar is. “Dit beteken baie klein partikels wat ver reis en vir lank in die lug kan rondhang kan dit versprei – in teenstelling met groter druppels wat net ’n meter of twee ver kan versprei en gou na die grond val.”

David Icke, die koning van samesweringsteorieë, tydens ’n anti-inperkingsbetoging in Londen waar verskeie valse teorieë verkondig is, soos dat daar ’n verband is tussen 5G en Covid-19 en dat die pandemie ’n kullery is. Foto: Getty Images

Taljaard verduidelik: “Daar is ’n spektrum van hoe virusse oorgedra kan word van druppel na lugdraend en griep is aan die een kant van die druppeloordraagbaarheid-spektrum terwyl Covid-19 druppeloordraagbaar is, maar ook lugoordraagbaar. Siektes soos masels en waterpokkies kan byvoorbeeld ook oorgedra word deur aërosol-druppeltjies, wat een van die redes is hoekom dit soveel aansteekliker is.”

Die nuwe koronavirus is ook ’n stiller sluiper as gewone influensa omdat die inkubasietydperk – die tydperk tussen besmetting en wanneer simptome begin – ook baie langer is. Vir Covid-19 is dit gemiddeld vyf dae (en jy is aansteeklik vir twee of drie dae voordat die simptome begin) en vir griep net twee. Dit beteken asimptomatiese mense kan vir langer aansteeklik bly en dat daar dus meer wydverspreide “stille oordrag” is.

Die ‘lang stert’ van Covid-19

En dan is daar natuurlik die eindelose babelaas van die nuwe koronavirus bekend as “Long Covid” en die groeiende aantal krygsgevangenes van die kiem wat ná maande net nie die bisarre simptome afgeskud kry nie.

Dr. Jantjie Taljaard, hoof van infeksiesiektes by die Tygerberg-hospitaal en die mediese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Edrea du Toit

Al klink baie van die simptome soos iets uit Alice in Wonderland is dit tekenend van ’n wispelturige virus wat hom nie net op die longe toespits nie, maar hom by onwaarskynlike plekke inwurm.

Veral dié wat ernstig siek word, het dikwels ’n aansienlik meer komplekse stel simptome – enigiets van inflammasie van die brein tot bloedklonte en skade aan die hart en niere. Daar is ook al letterlik honderde studies gedoen oor die neurologiese en selfs neuro-psigiatriese probleme wat Covid-19 kan oplewer. Dinge wat wissel van kopsere, afgematheid, ’n verlies aan reuk en smaak, delirium, beroertes en stuipe tot depressie en kognitiewe inkorting. Selfs jong, gesonde pasiënte met slegs geringe simptome kan blywende skade opdoen. Onlangse navorsing in Amerika het daarop gewys selfs asimptomatiese atlete op universiteit loop die gevaar om potensieel gevaarlike inflammasie om die hart te ontwikkel.

Uit voorlopige data blyk dit 70% van 200 laerisiko-pasiënte met Long Covid het skade aan een of meer van hul organe gehad – insluitende die longe, hart, pankreas en lewer – sowat vier maande nadat hulle die eerste keer positief getoets is.

Nog ’n onlangse studie in Brittanje het skade aan die organe van jong pasiënte met Long Covid gevind wat, voordat hulle die virus opgedoen het, geen onderliggende siektes gehad het nie. Uit voorlopige data blyk dit 70% van 200 laerisiko-pasiënte met Long Covid het skade aan een of meer van hul organe gehad – insluitende die longe, hart, pankreas en lewer – sowat vier maande nadat hulle die eerste keer positief getoets is.

Volgens Taljaard kan alle virusinfeksies langtermynskade veroorsaak, maar nie op die skaal wat ons tot dusver gesien het by dié wat aan die sogenaamde “lang stert” van Covid-19 ly nie.

Hierdie Londense betoger noem die Wêreld Gesondheidsorganisasie die “World Hoax Organization”. Foto: Getty Images

“Ons moet egter onthou daar is nou ’n vergrootglas op Covid-19, so daar is ontsettend baie studies en monitering en inligting wat versprei teen die spoed van lig, so ons leer baie vinniger en meer as wat die geval was met ander virusinfeksies. Tydens die H1N1-griep-pandemie in 2009 (die varkgriep-pandemie) was daar byvoorbeeld een Australiese studie wat daarop gewys het dat daar vaskulêre probleme was onder sommige van die pasiënte wat in waaksale behandel is, maar verder is daar min oor die langtermyngevolge geskryf. Ons weet ook dat mense wat so siek word dat hulle in waaksale opgeneem moet word in elk geval meer vaskulêre probleme kry, maar met Covid-19 is dit buitengewoon.

“So, nee, ek dink nie ’n mens kan ’n vergelyking tref tussen Covid-19 en griep wat dit betref nie. Met eersgenoemde het baie meer mense post-virale simptome en ons sien ook baie meer vaskulêre simptome en ander organe wat aangetas word. Die feit dat dit ’n nuwe virus is, veroorsaak moontlik dat die immuunstelsel ’n baie meer kragtige reaksie daarop het – en dan kry jy al die ander komplikasies ook.”

Kenners verskil nog oor die presiese definisie van Long Covid, maar die aanvanklike verlengde simptome en stadige herstel is baie algemeen. “'n Aansienlike persentasie van almal wat simptome ontwikkel sal lank sukkel om te herstel. As jy die asimptomatiese mense insluit, word dit waarskynlik minder,” sê Taljaard.

Hy voeg by dis moeilik en “dalk selfs ’n bietjie onregverdig” om seisoenale griep en Covid-19 te vergelyk omdat laasgenoemde ’n nuwe virus is en ons tans in die middel van ’n pandemie is, maar dis tog nodig omdat jy dié argument om bykans elke braaivleisvuur hoor.

“As jy dit moet vergelyk met griep (wat terloops deur ’n heeltemal ander virus veroorsaak word) kan jy sê dis ’n griep op steroïede. Ons het verwag mense gaan doodgaan aan hierdie nuwe siekte, maar ek het nie die ander komplikasies verwag – of die skaal waarop ons dit sou sien nie.”

‘Suiwer snert’

’n Ander bewering wat die laaste tyd veral op sosiale media gedeel word, is dat regerings hele nasies deur valse toetsresultate probeer mislei.

’n Laboratoriumtegnikus plaas proefbuise met Covid-19 monsters in ’n vrieskas by die Toulouse Purpan-universiteitshospitaal in Toulouse, Frankryk op 17 November vanjaar. Foto: Bloomberg via Getty Images

In Julie vanjaar het prof. Carl Heneghan, direkteur van die sentrum vir bewysgebaseerde geneeskunde by die Universiteit van Oxford, ’n stuk geskryf getiteld “How many Covid diagnoses are false positives?” waarin hy argumenteer weens ’n soort vloek wat te make het met ingewikkelde statistiek kan die getal valse positiewe toetse in Brittanje so hoog soos 50% wees.

Dié tema is verder gevoer deur dr. Michael Yeadon, ’n voormalige visepresident van Pfizer, wat beweer het “die helfte of byna alle positiewe Covid-19-toetse is valse positiewe uitslae” en die tweede vlaag is “pure versinsel”.

Hulle praat hier van die sogenaamde PKR-toets – die polimerase-kettingreaksietoets, die belangrikste en die akkuraatste metode wat wêreldwyd gebruik word om aan te dui of mense die virus onder lede het. Dit word gebruik om die RNS of genetiese materiaal van Ears-CoV-2 op te spoor met behulp van ’n toetsdeppertjie wat agterin jou neus of mond gedruk word – en dit word ook gebruik om te toets vir ’n reeks ander infeksies wat algemeen in Suid-Afrika voorkom.

Die kanse vir ’n valse positiewe toetsuitslag is veel, veel kleiner en die Covid-ontkenners se argumente is eintlik maar ’n geval van “lies, damned lies and statistics”.

Die koronavirus is egter nie teenwoordig in jou lugweë tydens ’n gedeelte van die inkubasietydperk nie – wat beteken jy kan ’n negatiewe uitslag kry as jy te vroeg toets – maar ’n dag later kan die uitslag verander. Dis een van die hoofredes hoekom mense wat geen simptome toon nie, meestal nie getoets behoort te word nie, want onder daardie omstandighede is dit baie moeilik om ’n negatiewe uitslag te interpreteer.

Dit is ook relatief algemeen dat die toets ’n “valse negatiewe uitslag” oplewer – wanneer die monster uit jou lugweë byvoorbeeld van ’n swak kwaliteit is en dit dus moeilik is om genoeg virus daarin op te spoor. Dit kan ook wees dat iets in die laboratorium skeefloop, maar gehaltebeheermaatreëls hier behoort dit te vind en te wys dat ’n tweede toets nodig is.

Die kanse vir ’n valse positiewe toetsuitslag is veel, veel kleiner en die Covid-ontkenners se argumente is eintlik maar ’n geval van “lies, damned lies and statistics”.

’n Positiewe uitslag beteken dat jy op daardie oomblik akute Covid-19 het – of in sommige gevalle dat jy van jou simptome herstel het, maar dat die toets steeds dooie stukkies virus in jou lugweë bespeur. Jy is egter nie meer aansteeklik nie, omdat die viruslading mettertyd minder word.

’n Italiaanse weermag-verpleegster neem ’n monster van ’n pasiënt by ’n inry-toetssentrum in Sassari waar die tweede vlaag toenemend sy kloue inslaan. Dié monster sal met ’n PKR-masjien getoets word. Foto: Getty Images

Dr. Helen van der Plas, ’n infeksiesiektes-spesialis by die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands, verduidelik dit as volg: Indien jy uit ’n huis trek kan ’n laboratorium ná drie maande nog spore van jou genetiese materiaal opspoor, maar dit beteken nie jy woon nog daar nie.

“Niemand stry daaroor dat met enige diagnostiese prosedure daar valse positiewe en valse negatiewe kan wees nie,” verduidelik Preiser. “Maar die storie oor die valse positiewe wat op so ’n groot skaal gebeur is ’n totale verdooldheid. Natuurlik weet ons indien jy die virale genoom vind is dit nie gelyk aan aansteeklike virus nie. Dit is die rede hoekom iemand wat siek is tien dae moet wag nadat die simptome begin het en daarna verkieslik nie weer moet toets nie, want soms toets mense nog vir maande daarna positief.

Valse positiewe toetse is ontsettend seldsaam.
Prof. Wolfgang Preiser

“Partykeer kan jy dit nie vermy nie, want jy wil reis of jy moet ’n operasie kry en dan toets jy weer ’n keer positief – en die vraag is dan natuurlik is dit ’n nuwe infeksie of is dit die ou virus en is die persoon aansteeklik of nie? Dit word moeilik, maar dit beteken nie dat dit ’n valse positief is nie. Dis hoekom die viroloog wat die verslag skryf en die dokter wat die toets aangevra het dit moet bespreek. Dit is belangrik om die toets binne konteks te verstaan.”

Preiser sê valse positiewe toetse is “ontsettend seldsaam”. “Die private laboratoriums hier sowel as die nasionale gesondheidslaboratoriumdienste is almal geakkrediteer en hulle sal dit waarskynlik raaksien indien die probleem in die laboratorium ontstaan het. Daar is werklik nie ’n aanmerklike aantal valse positiewe wat die wêreld ingestuur word nie. Indien daar rede is om te twyfel oor so ’n toets, kan die laboratorium bykomende toetse doen en die toetse self het ingeboude meganismes waarmee daar na verskillende dele van die virus gekyk kan word. Dit is ontsettend onwaarskynlik dat so iets sal deurglip.”

Die valse negatiewe toetse is veel groter probleem. “Dis meestal nie iets wat in die laboratorium verkeerd loop nie. Die kwaliteit van die monster bepaal gewoonlik of jy die virus sal vind of nie. Dit is hoekom ons baie versigtig is met die negatiewe resultate.”

Hy sê die bewering dat jy positief vir Covid-19 kan toets met ’n PKR-toets indien jy met ’n ander koronavirus besmet is (soos een van dié wat gewone verkoue veroorsaak), is “suiwer snert”. “Die PKR-toets is uiters spesifiek. Indien jy die genetiese spore van die virus daar vind, ís dit Covid-19.”

‘Stommerike’

Hy sug net oor die bewering dat die sogenaamde tweede vlaag ’n versinsel is. “Jy hoef net te kyk na wat nou in Europa aan die gebeur is vir getuienis dat die virus die vermoë het om te herrys. Ons sién dit.

“En selfs plekke soos Spanje en Noord-Italië wat tydens die eerste ronde swaar getref is, het tans ’n massiewe herlewing.

Gesondheidswerkers behandel ’n pasiënt by ’n tydelike Covid-19-hospitaal by die Krilatskoje Yspaleis in Moskou, Rusland, tydens die tweede vlaag van die pandemie. Foto: Bloomberg via Getty Images

“Selfs al het sowat 40% van armer mense in Kaapstad dit al gehad, kan 60% dit steeds kry – en selfs al sou jy teen 70% kudde-immuniteit kry, is daar nog 30% van daai spesifieke bevolking wat nog moet siek word. Die virus hier het ook nog die potensiaal om na die ryker mense te versprei wat beter beskerm was die eerste keer en daar is die potensiaal om na die landelike gebiede te versprei wat met die eerste ronde gespaar is. Ons moet dus maar net aanneem ons is nog nie klaar nie. Dit lyk al hoe meer asof ons dalk op pad is na 'n vroeëe tweede vlaag. Mense het heeltemal te houtgerus geword."

Natuurlik is dit nie Ebola nie, maar dis baie makliker om oor te dra en dit versprei baie verder.

Hy praat heftig. “Dis eintlik ongelooflik hoe baie mense heldhaftig teen die virus baklei en ongelooflike werk doen – en dan kry jy hierdie paar stommerike wat dié harde werk in die wiele probeer ry.”

Hy sug weer. “Natuurlik is dit nie Ebola nie, maar dis baie makliker om oor te dra en dit versprei baie verder. Die aantal mense wat besmet word en ernstig siek raak en selfs sterf is belangrik, maar ook die totale aantal mense wat die virus kry. Indien jy ’n siekte het wat 40% van die bevolking raak en selfs al sterf net 0,5% van dié mense, is dit baie meer relevant as iets wat net 1% van die bevolking raak.”

Taljaard is dit roerend met hom eens. “Die kruks van die siekte is eintlik maar die openbare gesondheidsmaatreëls wat ingestel word om verdere blootstelling en verspreiding te voorkom en hierdie samesweringsteorieë veroorsaak dat mense dink dié goed is nie waar nie en hulle hoef nie hul maskers te dra of hul hande te was nie.

“Ons weet nou al voortdurende inperkings gaan veral in ons konteks nie werk nie. Dit gaan oor elkeen se individuele verantwoordelikheid en hierdie samesweringsteorieë laat mense dink dis sommer strooi.”

Meer oor:  Wolfgang Preiser  |  Jantjie Taljaard  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.