Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is hoekom Covid-19 toe nie katastrofaal was vir mense met MIV nie

Die angswekkende vooruitskattings oor MIV en Covid-19 het tot dusver nie werklikheid geword nie. Burtram Fielding vra of dit moontlik is dat MIV ’n soort immunologiese skild is teen ernstiger vorme van Covid-19?

Covid-19 was nie so verwoestend in Suid-Afrika soos wat aanvanklik gevrees is nie. Foto: Getty Images

Gegrond op amptelike syfers – wat moontlik te laag is – was Covid-19 nie so verwoestend in Suid-Afrika soos wat aanvanklik gevrees is nie.

In Maart en April vanjaar was die getal positiewe gevalle nog beskeie. Maar die vooruitskattings en projeksies was donker. Daar was ’n konsensus dat lande in Afrika swak openbare gesondheidstelsels en weinig toetsgeriewe het en dat inperking en die handhawing van ’n gesonde afstand ’n probleem sou wees in arm gemeenskappe.

Plaaslike en internasionale organisasies het daarop gewys dat dié gebiede gewoonlik die hoogste voorkoms het van mense met ’n onderdrukte immuunstelsel. Kenners het gevrees dat die miljoene mense met MIV en TB meer as ander geraak sou word deur Covid-19.

Hierdie angswekkende vooruitskattings het tot dusver nie werklikheid geword nie.

Dit was nie goeie nuus nie vir Suid-Afrika waar meer as 7 miljoen mense waarskynlik met MIV/vigs leef. Hierdie mense se immuunstelsels is verswak en hulle kan dikwels nie teen infeksies baklei nie. Daar is gevrees dat Covid-19 katastrofaal sou wees vir dié hulle.

Hierdie angswekkende vooruitskattings het tot dusver nie werklikheid geword nie. Sowat die helfte van die Covid-19-pasiënte op die vasteland was in Suid-Afrika. Sowat 16 206 mense het na beraming gesterf weens Covid-19. Dit is tragies, maar nie naastenby so baie soos wat sommige mense voorspel het nie.

Vroeë aanduidings was dat daar meer as ’n miljoen simptomatiese gevalle van Covid-19 sou wees teen Julie vanjaar, met meer as 30 000 sterftes teen November.

Die relatief “lae” syfers was ’n verrassing.

Menslike koronavirusse

Heelwat moontlike verklarings vir hierdie relatief ingetoë uitbreking (vergeleke met dit wat voorspel is) doen die ronde.

Sommige insigte wat ons gekry het uit vorige uitbrekings van menslike koronavirusse kan in dié verband nuttig wees.

My laboratorium het onlangs gekyk na wat tans bekend is – en wat nog onbekend is – oor mense wat terselfdertyd met MIV en ’n koronavirus besmet is.

Gesondheidswerkers toets ’n inwoner van Alexandra vir Covid-19. Foto: Getty Images

Sewe menslike koronavirusse is tans bekend aan wetenskaplikes. Die vier algemeenste wat steeds sirkuleer, veroorsaak na raming 10 tot 30% van alle verkoues in die wêreld. Gelukkig wys navorsing dat hulle slegs ligte tot matige verkouesimptome veroorsaak. In seldsame gevalle kan dit ernstiger respiratoriese siektes by kinders, ouer mense en dié met ’n onderdrukte immuunstelsel veroorsaak – soos onder mense met MIV of ander onderliggende siektes.

Maar sover as wat ons weet, is sterftes weens infeksie met hierdie vier “algemene” menslike koronavirusse nogal seldsaam.

Dan is daar drie meer patogeniese of gevaarlike koronavirusse. Die eerste was die Ernstige Akute Respiratoriese Sindroom Koronavirus (Ears-CoV), wat Ernstige Akute Respiratoriese Sindroom veroorsaak, of te wel Ears. Dit het net meer as 10% van die sowat 8 000 mense se dood veroorsaak wat dit gekry het.

Volgende was die Midde-Oosterse Respiratoriese Sindroom Koronavirus (Mers-CoV) wat Midde-Oorsterse Respiratoriese Sindroom (Mers) veroorsaak, wat gelei het tot die dood van sowat 34% van die 2 494 mense wat daarmee besmet is.

Proefbuise met die bloed van MIV-positiewe pasiënte in ’n hospitaal in Tilburg, Nederland. Dié hospitaal het tussen 400 en 500 mense per dag getoets vir die nuwe koronavirus. Foto: Robin Utrecht via Getty Images

En nou het ons Ernstige Akute Respiratoriese Sindroom Koronavirus-2 (Ears-CoV-2), die virus wat tot Covid-19 lei.

Ons het geleer dat daar ’n aantal faktore is wat onderliggend is aan ernstige siekte en sterfte weens Ears-CoV-2. Dit sluit in ’n gevorderde ouderdom, om ’n man te wees en die voorkoms van reeds bestaande mediese kondisies wat insluit obesiteit, diabetes, hartsiektes, longsiektes en nierkwale. Dit beteken nie vroue en jongmense is immuun teen die siekte nie. Hulle kan dit steeds kry en dit oordra aan ander.

Wat veral opspraak verwek het in Suid-Afrika, is die risiko van gesamentlike infeksie met Covid-19 en MIV/vigs.

MIV en koronavirusse

Voor die Covid-19-pandemie was daar weinig gepubliseerde akademiese werk oor gesamentlike infeksie met MIV en ander koronavirusse. Dit is deels hoekom die vooruitsig dat Covid-19 amok sou saai in lande met ’n hoë voorkoms van MIV/vigs die angsvlakke so opgejaag het.

Mediese werkers by die Tygerberg-hospitaal op die 11de dag van die staat van inperking op 6 April vanjaar. In dié stadium is nog gevrees dat die Covid-19-pandemie ’n verwoestende uitwerking sou hê op diegene met MIV/vigs. Foto: Nardus Engelbrecht via Getty

Dis veral omdat daar reeds in die tagtigerjare bewys is koronavirusse is agente vir opportunistiese infeksies onder mense met ’n gekompromitteerde immuunstelsel en dat dit verbind is aan diarree onder vigs-pasiënte.

Terselfdertyd het navorsers begin spekuleer dat antiretrovirale medisyne pasiënte met MIV moontlik kan beskerm teen Ears-CoV.

Behalwe daarvoor was daar min bekende assosiasies tussen MIV en koronavirusse. Ek weet van net een aangemelde geval van ’n MIV-positiewe persoon wat ook met Ears besmet was. Dié persoon het volledig herstel van Ears.

In dieselfde tydperk het nog ’n studie op ’n konneksie tussen MIV en Ears gewys. In dié geval het 19 MIV-positiewe pasiënte ’n hospitaalsaal gedeel met 95 pasiënte wat positief getoets het vir Ears. Op die een of ander manier het nie een van die MIV-positiewe pasiënte besmet geraak met Ears-CoV nie. Ses uit die 28 mediese personeellede wat in die saal gewerk het, is wel geïnfekteer.

Terselfdertyd het navorsers begin spekuleer dat antiretrovirale medisyne pasiënte met MIV moontlik kan beskerm teen Ears-CoV. Maar aangesien Ears-CoV weer so vinnig van die radar verdwyn het, kon dit nie bevestig word nie.

’n Paar hipoteses

Die Covid-19 pandemie het navorsers nou weer genoop om gesamentlike infeksies van ’n koronavirus en MIV te bestudeer.

My laboratorium het onlangs ’n oorsig oor studies gepubliseer wat gekyk het na Covid-19-infeksie onder meer as 11 000 mense met MIV. Die risiko van gesamentlike infeksie sorg steeds vir debat.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, en die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane-Zulu, op besoek aan die Clairwood-hospitaal in Durban net voor die gevreesde piek van die epidemie daar. KwaZulu-Natal is een van die gebiede wat die ergste geraak word deur MIV/vigs. Foto: Darren Stewart via Getty Images

Maar die geraamde voorkoms van Covid-19 wat in verskeie studies gerapporteer is, doen nie aan die hand dat daar ’n hoër koers van hospitalisasie of sterftes is onder MIV-positiewe pasiënte nie. Kliniese kenmerke en die uitkoms van die siekte was vergelykbaar met dié in die algemene bevolking met Covid-19.

Die redes vir die infeksie- en sterftekoers is steeds onduidelik. Maar wetenskaplikes het vorendag gekom het verskeie interessante hipoteses.

Die een is dat antiretrovirale middels eienskappe het wat koronavirusse teenwerk en ’n vlak van beskerming bied teen infeksie met Covid-19. Nog een is dat die verswakte immuunstelsels van mense met MIV hul liggame keer om te oorreageer op die teenwoordigheid van die nuwe koronavirus. Só keer dit die verhoogde inflammasie wat verbind word met Covid-19.

Kenners het al geargumenteer dat sommige virusse wat verkoue veroorsaak het, minstens een griepepidemie in Europa gestuit het in 2009.

Nog ’n hipotese is omdat die helper T-selle gedeaktiveer is onder MIV-positiewe pasiënte, is die respons van die immuunstelsel getemper en sodoende word die risiko vir oormatige inflammasie beperk.

’n Boeiender hipotese is dat die oorspronklike MIV-infeksie die gasheer-selle verander sodat dit nie meer ’n gunstige omgewing is vir ander virusse nie. Hierdie verskynsel staan bekend as “virale inmenging”. Kenners het al geargumenteer dat sommige virusse wat verkoue veroorsaak het, minstens een griepepidemie in Europa gestuit het in 2009.

Die pad vorentoe

Die bekommernis oor MIV-positiewe pasiënte is verstaanbaar. Maar huidige data uit die Covid-19-pandemie – én vorige ervaring met Ears en Mers – dui daarop dat hulle nie ’n hoërisiko groep is nie. Dit laat ons vra of MIV ’n soort immunologiese skild is teen ernstiger vorme van die siekte?

Wat uit die staanspoor duidelik was, is dat ouderdom en onderliggende toestande soos vetsug, hipertensie en diabetes belangriker faktore is om in ag te neem in sowel gewone infeksies en gesamentlike infeksies van MIV en Covid-19.

Gegrond op wat ons nou weet, moet regerings en gesondheidsamptenare ’n meer strategiese en geteikende benadering volg tot die beperking van die virus as ’n tweede of selfs ’n derde golf van Covid-19 ons tref.

• Morgan Morris, ’n rolprentmaker en vryskutskrywer vir die Wêreldgesondheidsorganisasie, het ook tot hierdie artikel bygedra. Fielding is ’n hoogleraar en die direkteur vir navorsingsontwikkeling aan die Universiteit van die Wes-Kaap.

• Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Burtram Fielding  |  Covid-19  |  Koronavirusse  |  Miv/Vigs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.