Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'Dit is hoekom Julius Malema 'n fascis is'
06 September 2018

Julius Malema blyk die jongste verpersoonliking van fascistiese politiek in Suid-Afrika te wees, skryf Christi van der Westhuizen.

Julius Malema het reeds as ANC-jeugligaleier verklaar hy “sal doodmaak vir Zuma” en gewelddadige voorvalle het jeugliga-byeenkomste in sy tyd ontwrig. Foto: Sabelo Nsele

Suid-Afrikaners word deur soveel krisisse in die gesig gestaar dat dit moeilik is om lank genoeg aandag te gee aan enige een spesifiek. Maar iets wat dopgehou moet word, is die stelselmatige maneuvrering van die EFF al nader en nader aan die sentrums van staatsmag.

Die nuus die pas afgelope naweek dat Julius Malema se lyfwagte met EFF-ondersteuners handgemeen geraak het en skote op hulle afgevuur het, pas in by ’n onrusbarende patroon. Kortom, die EFF as politieke verskynsel kombineer kenmerke wat met fascistiese organisasies geassosieer word. Dit is nie heeltemal verbasend nie. Tans is daar ’n wêreldwye herlewing van politieke magsvorme wat sterk aan fascisme herinner – vanaf Donald Trump in die VSA, tot Recep Erdogan in Turkye, Viktor Orbán in Hongarye, Shinzo Abe in Japan . . .

Ongelukkig bly Suid-Afrika nie onaangeraak nie. Ten spyte van die land se geografiese ligging is ons veral sedert die Brits-imperialistiese oorname in die 19de eeu behoorlik in wêreldwye magsnetwerke en -tendense verstrengel.

Byvoorbeeld (en relevant vir die argument hier) die opkoms van sogenaamde wetenskaplike rassisme het rassepolitiek in die vroeë 20ste eeu hier ook sterk beïnvloed. Daarteenoor het die denke van Booker T Washington en Marcus Garvey ook plaaslik ’n invloed op die ontwikkeling van Afrika-nasionalisme gehad. Met die opkoms van fascisme in Europa in die 20’s, en Afrikaner-nasionaliste soos Hendrik Verwoerd en Geoffrey Cronjé wat toe daar gestudeer het, het Suid-Afrika ’n fascistiese oplewing beleef.

Die Ossewa-Brandwag (OB) was destyds die opvallendste vergestalting van die oplewing in fascisme in Suid-Afrika. Foto: SA History

Die fascisme kom van ver

Die Ossewa-Brandwag (OB) was die opvallendste vergestalting. Op sy hoogtepunt was dié organisasie sowat 300 000 lede sterk, en dus ’n bepalende element in Afrikaners se politiek (ook in my familie, met my ouma Els Erasmus wat ’n OB-veldkornet was).

Die Nazi’s se nederlaag wat die Tweede Wêreldoorlog beëindig het, het dié vorm van politiek van geloofwaardigheid en steun ontneem.

Maar daardie stroming het nie verdwyn nie. Dit is opgeneem in die Nasionale Party, waar dit voortgeleef het. Dit is geen toeval nie dat Balthazar John Vorster, ’n OB-lid wat vir ’n tyd lank opgesluit is, as justisie-minister van die mees drakoniese apartheidswette (soos aanhouding sonder verhoor) ingebring het nie. Insgelyks die praktyke van die Buro vir Staatsveiligheid onder leiding van Lang Hendrik van den Berg, Vorster se vriend uit sy OB-dae.

Die Buro vir Staatsveiligheid, gepas bekend as “BOSS” – nie net weens die Engelse afkorting nie – was die voorloper vir vergrype wat die polisiemoordbendes later gepleeg het.

Die destydse premier B.J. Vorster groet vir oudpres. P.W. Botha in Mei 1973. Foto: Die Burger-argiewe

Toe die verligtes apartheid begin hervorm het, het die fascistiese vorm van Afrikanerpolitiek weer op ooglopende wyse kop uitgesteek in die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) van Eugène Terre’Blanche. Die swastika-agtige embleem en Nazi-kleure van die AWB kon geen twyfel laat oor die ideologiese posisie van dié organisasie nie. Heelparty ander kleiner of splintergroepe het ook deur die jare gekom en gegaan.

Suid-Afrika het dus ’n lang geskiedenis van politiek met fascistiese bo- en ondertone. Wat die gevaarligte oor die EFF laat flikker, is eerstens die militarisme. Dit is tipies van fascistiese organisasies se lede om uniforms te dra. Die EFF se rooi uitrustings laat hulle doeltreffend van ander partye uitstaan, terwyl dit konformisme kommunikeer.

Die “sterk man” as hoofleier (dink Hitler, Mussolini en Franco) is ’n ander kenmerk van die fascisme.

Ditto Malema se titel “commander-in-chief” wat media-organisasies lukraak gebruik sonder om twee keer daaroor te dink. Die titel is tog afgekyk by die VSA, waar die president van die land as opperbevelvoerder van die weermag bekend staan.

Joernaliste vra hulself egter klaarblyklik nie af as waarvan Malema homself as “commander-in-chief” sien nie. Dit suggereer meer as om net leier van ’n politieke party te wees. Maar ook in die konteks van ’n organisasie ruik dit outokraties. Die “sterk man” as hoofleier (dink Hitler, Mussolini en Franco) is ’n ander kenmerk van die fascisme.

Die swastika-agtige embleem en Nazi-kleure van die AWB kon geen twyfel laat oor die ideologiese posisie van dié organisasie nie. Hier is die vermoorde AWB-leier Eugène Terre’Blanche by ’n vergadering op Ventersdorp.Foto: Herman Verwey

Malema en sy aanvalsgeweer

Die derde verklikker van die EFF se ideologiese oriëntasie is hoe geweld gebruik word as legitieme politieke praktyk naas deelname in demokratiese instellings soos die parlement. Mussolini en Hitler het dit albei gedoen. Malema het reeds as ANC-Jeugligaleier verklaar dat hy “sal doodmaak vir Zuma” en gewelddadige voorvalle het jeugliga-byeenkomste in sy tyd ontwrig. Sedertdien was daar ander soortgelyke uitsprake, en hy het na bewering ’n aanvalsgeweer by die EFF se onlangse verjaarsdagviering afgevuur.

Gemeet aan bogenoemde, blyk Malema die jongste verpersoonliking van fascistiese politiek in Suid-Afrika te wees.

Die vierde aanduiding is die rasse-populisme wat, saam met die normaliserende uitsprake oor geweld, onheil spel. Byvoorbeeld sy onlangse opmerkings oor hoe Suid-Afrika sonder wit mense daaruit sou sien. Hoewel hy verklaar het dat hy hom nie só ’n land kan voorstel nie, is die blote ophaal van só ’n moontlikheid suggestief in ’n konteks van hoë rassespanning.

Gemeet aan bogenoemde, blyk Malema die jongste verpersoonliking van fascistiese politiek in Suid-Afrika te wees. Maar, anders as met die AWB en OB, is daar ’n debat oor wat die EFF magsgewys werklik verteenwoordig. Die EFF se beleid vind aanklank by linkses omdat dit beloof om ooglopende sosiaal-ekonomiese ongeregtighede trompop te loop wat die ANC tot dusver nie genoegsaam kon takel nie.

Loop Adolf Hitler se spook weer in Suid-Afrika in die vorm van die fascisme? Foto: Wikipedia

Maar die Nazi’s se ideologiese posisie was nasionaal-sosialisme. Dit wys dat die nasionalisering van staatsbates of ’n beleid soos grondonteiening ter wille van die mobilisering van ’n spesifieke kollektief, nie inherent bevrydend is, of ongeregtighede sal oplos nie.

Die leidraad oor of die doelwit geregtigheid laat geskied vir dié wat voorheen uitgesluit is, is hóé daardie kollektief gevorm word. As hierdie vorming deur die stigmatisering van ander groepe plaasvind, en as ras spesifiek gebruik word, het ’n mens minstens met die gees van fascisme te make.

Die Argentynse denker Ernesto Laclau tref ’n onderskeid tussen populisme-van-bo en populisme-van-onder. Eersgenoemde populiste is deel van die regerende klas, of het weggebreek van die regerende klas, en deel dus daardie klasbelange. Hulle stook die antagonisme wat weens onopgeloste sosiale krisisse ontstaan het vir hul eie eng belange. Die EFF is ’n segment van die regerende klas, maar die vraag is of hul aan laasgenoemde punt voldoen.

Christi van der WesthuizenFoto: Edrea du Toit

Noudat die EFF die DA vir die ANC verruil, sal Malema met volgende jaar se verkiesing in ’n posisie wees om hoë eise te stel, wat hom waarskynlik tot in die hart van staatsmag sal nooi.

Let wel, historiese voorbeelde wys dat dit nie die populêre stem is wat fasciste by die bopunt uitbring nie, maar slinkse politieke maneuvrering. Dit is die punt waar die kollektief bruikbare idiote in ’n groter skema van selfverryking en geweld word.

*Prof. Van der Westhuizen is ’n genoot by die Democracy Works-stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.