Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Dit is nag vir ons regstelsel’

Ons regstelsel was een van die bestes ter wêreld, maar dit het in die afgelope dekade verword tot een wat wanfunksioneel en chaoties is, sê ’n regskenner met wie Murray La Vita gepraat het.

Regter Mbuyiseli Madlanga (regs bo) lees die uitspraak in die konstitusionele hof oor die grondwetlikheid van adv. Shaun Abrahams se aanstelling as hoof van die nasionale vervolgingsgesag. Foto: Deaan Vivier

Dit is nag. Die stelsel is in sy kas in. Daar is groot fout.

Dít is hoe regskenners reageer wat gepols is oor die stand van ons regstelsel teen die agtergrond van onlangse misdaadstatistieke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se jongste jaarverslag waarin hy onder meer sê georganiseerde misdaad is besig om landsburgers se vertroue in die sakegemeenskap, regering en politieke stelsels te ondermyn.

Dr. Llewellyn Curlewis: “Ons is op ’n baie, baie delikate punt in ons regsgeskiedenis . . .” Foto: Sarel van der Walt

Dr. Llewellyn Curlewis, ’n strafregkenner, sê die doeltreffendheid al dan nie van die regstelsel kan nie net voor die deur van die NVG gelê word nie.

“Maar die NVG is ’n hoofrolspeler in die hele proses . . . en as een van die hoofbene van die stelsel nie na behore funksioneer nie, dan is dit so goed ons sit met ’n ongebalanseerde tafel wat die een of ander tyd gaan omval. En as dit ’n glasblad is, dan gaan hy definitief breek. So dít is die toestand van ons regstelsel.

“Ons is op ’n baie, baie delikate punt in ons regsgeskiedenis waar indien daar nie drásties veranderinge kom nie; verbeterings kom in die vervolgingsgesag en die kaliber van aanklaers wat ons in ons howe het nie, dan voorsien ek dat die mens op straat nog meer vertroue in die regstelsel gaan verloor.

“Daar is alreeds ’n persepsie dat dit in ’n chaos gedompel is; dat dit wanfunksioneel is, en hierdie tipe verslae verleen basies net bevestiging aan dit wat almal vermoed.

“As ’n mens nou nog byvoeg dat die polisie klaarblyklik óók nie baie doeltreffend funksioneer nie, dan sit ons met ’n probleem, want dan beteken dit die hele stelsel wat onderliggend is om die publiek se regte te beskerm, wat optree vir die slagoffer en die man op straat, is wanfunksioneel.”

Ondervinding ontbreek

Leigh-Ann Mathys, 'n parlementslid van die EFF, praat buite die konstitusionele hof met die media nadat dié hof bevind het die speaker van die nasionale vergadering (NV), Baleka Mbete, het die mag om te besluit oor ’n geheime stemming oor ’n mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma. Foto: Wikus de Wet

Hy voorsien nie dat daar binne die afsienbare toekoms ’n oplossing hiervoor gevind gaan word nie.

“Daar moet onmiddellik bevoegde mense aangestel word, mense wat ondervinding het en die proses ken; mense wat nie net aangestel is op grond van transformasiebeginsels nie. Mense wat met ander woorde die kaliber aanklaers is wat letterlik deur die prosesse gegaan het. Daar is genoeg kundigheid daarbuite wat gebruik kan word om hierdie mense by te staan en selfs hul hande te vat en hulle op te lei oor ’n tydperk.

“ ’n Mens kan nie net eendag opstaan in ’n hof, al het jy ’n graad agter jou naam, en dink jy gaan nou ’n goeie litigant wees nie. Dit neem tyd en dit verg ondervinding; iets wat klaarblyklik ontbreek in hierdie stadium.”

In vergelyking met Europese regstelsels en dié van die Amerikas, is ons ver agter.

“Ons regstelsel, veral ons strafregstelsel, was tot ’n dekade of twee gelede een van die bestes in die wêreld. Ons het letterlik in die afgelope dekade so agteruitgegaan in ons vervolging en die persentasie van suksesvolle vervolgings, wat aanduidend daarvan is dat daar ’n groot fout is. En duidelik is die groot fout in hierdie stadium grootliks ook aan die kant van die NVG.

Die agteruitgang het gekom weens transformasie wat onoordeelkundig toegepas word.
Dr. Llewelyn Curlewis

“So daar is niks fout met die regstelsel per se nie, dit is die implementering van die regstelsel wat ’n probleem is.”

Die agteruitgang het gekom weens transformasie wat onoordeelkundig toegepas word.

“Ons sien dit ook op so baie ander terreine. Ons sien dit in ons ingenieurswese met brûe wat inmekaarval, ons sien dit in ons mediese wetenskappe . . . Orals waar mense doodeenvoudig aangestel word net om te voldoen aan kwotas.”

Hoe vergelyk ons regstelsel met dié van ander ontwikkelende lande?

“Ons is min of meer op dieselfde vlak as die meeste van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se ander lidlande, inteendeel, ons is hulle dalk nog ’n bietjie voor. So wat dít betref, is ons darem nog in ’n leierskapsposisie in Afrika, maar as jy ons met byvoorbeeld Namibië vergelyk dan dink ek is ons miskien selfs stadigaan besig om agter te raak by Namibië. Hulle het in die laaste dekade al hul wet op regspraktisyns geïmplementeer . . . Dit wat ons nou eers van stapel stuur, het hulle al deurtrap.”

Lof vir konstitusionele hof

Prof. Pierre de Vos: “Hoewel dit weens geldgebrek moeilik is om geregtigheid te kry, het ons die voordeel dat die meeste van ons regters betreklik eerlik en onafhanklik is.”

Op die hoogste vlakke, soos in die konstitusionele hof, het ons ’n geweldig gesofistikeerde regstelsel wat wêreldwyd baie hoog geag word, sê prof. Pierre de Vos, grondwetkenner en akademikus.

“Ons weet dit want die uitsprake van die konstitusionele hof word aangehaal deur ander howe; jy kry hulle in akademiese handboeke; en mense skryf en praat daaroor in akademiese kringe oor die wêreld heen.

“Maar as jy na die landdroshof toe gaan in Putsonderwater dan is dit nag. Dis nag om twee redes. Eerstens: Dit is baie swaar vir mense wat nie geld het nie om regsverteenwoordiging te kry, daarom is geregtigheid baie beperk vir iemand wat nie sakke vol geld het nie. En tweedens: die gehalte van mense wat as landdroste aangestel word, is nie altyd na wense nie.”

Ons regstelsel, soos die Grondwet en uitsprake, is meer progressief as dié van die meeste ander lande.

“As jy dit vergelyk met Amerika . . . goeie genade. En ook die meeste ander lande, met die uitsondering miskien van Kanada en Duitsland.

“Ons word hoog geag vanweë die progressiewe aard van die uitsprake en beslissings. Tegnies is hulle nie altyd so gesofistikeerd nie, maar die algemene manier waarop ons hoogste hof veral met die Grondwet omgaan en so aan, word baie hoog geag.”

Hy verwys na Indië wanneer hy gevra word oor hoe ons regstelsel vergelyk met dié van ander ontwikkelende lande.

“Indië se regstelsel is ’n bietjie soos dié van Suid-Afrika. Dit het ook ’n Rolls-Royce-hoëhof, die ekwivalent van ons konstitusionele hof, waar baie interessante uitsprake gemaak word wat ook aangehaal word. Maar onder dit gaan die stelsel ’n bietjie daarmee heen.

“Hoewel dit weens geldgebrek moeilik is om geregtigheid te kry, het ons die voordeel dat die meeste van ons regters betreklik eerlik en onafhanklik is. Dit is nie altyd die geval in ander lande waar politieke druk op die regbank sy tol eis nie.”

Strafregstelsel wankel

Adv. Francois Smuts: “Ons strafregstelsel, die héle stelsel, is myns insiens totaal in sy kás in.”

Adv. Francois Smuts, ’n lid van die Kaapse balie en skrywer van Die Suid-Afrikaanse reg: Wat elkeen moet weet, sê die strafregstelsel en die sivieleregstelsel moet afsonderlik bekyk word.

“Ons strafregstelsel, die héle stelsel, is myns insiens totaal in sy kás in. Die regskant, dis wanneer jy in die hof kom, is waarskynlik die mees funksionele deel van die stelsel, maar dit is deel van en afhanklik van die res van die strafregstelsel: die polisie, die korrektiewe stelsel, en so aan. En jy kan nie met die helfte van die polisiemag wat nie behoorlik kan lees en skryf verwag sake gaan behoorlik ondersoek word nie.

“Onder meer om daardie rede is die strafregstelsel totaal disfunksioneel. Dis ’n ding wat ek al lank terug gesien het toe ek nog ’n strafreglanddros was . . . En dit is nou ordekoerse slegter.”

Met die publiekreg gaan dit beter.

“Die publiekreg, ’n onderdeel van die sivielereg, is daardie deel van die reg wat handel met die verhouding tussen die burger en die staat of die staat onderling. Dit is tipies burgerregte-organisasies wat vir Zuma hof toe vat, of hersienings van tenderprosedures wat as gevolg van korrupsie nie behoorlik gevolg is nie.”

Geweldig duur

Die publiekregstelsel is redelik funksioneel as “jy substansiële hoeveelhede” geld het.

“Die gewone mens, ek en jy selfs, is gewéldig kwesbaar as ons teen die staat sou moes litigeer, eenvoudig omdat dit so geweldig duur is. Ek het al ’n paar sake gehad waar ek namens kliënte optree teen ’n staatsinstansie en waar hul geld eenvoudig opraak. Dan kry jy uiteraard nie geregtigheid nie.

“Die ander probleem met die publiekregstelsel, soos Zuma vir ons al die jare geïllustreer het, is dat dit hopeloos te lank neem om doeltreffend te wees. En dit is ’n álgemene kritiek teen ons regstelsel. Dit is wêreldwyd ’n probleem, maar in ontwikkelde lande gebeur dinge baie vinniger.”

Die sivielereg is tot ’n hoë mate die deel van die reg wat die ekonomie in stand hou.

In vergelyking met ander ontwikkelende lande is Suid-Afrika se regstelsel sterk in dié opsig dat ons bitter min korrupsie het.

“Die gesondheid van die sivielregtelike sisteem word deur baie lande en instansies gebruik om byvoorbeeld te bepaal of hulle in ’n land kan investeer: Is daar nog ’n regstelsel wat met redelike sekerheid ’n kontrak kan afdwing?

“Wat dit betref, is daar ’n baie merkbare afname in die gehalte van regspleging. Dis moeilik om dit te kwantifiseer, maar dit is ongelukkig so dat daar eenvoudig vanweë kwotadruk mense aangestel word wat . . . Kyk, voor 1994 en selfs nog ’n kort rukkie daarna, is regters aangestel uit die geledere van senior advokate.

“Wat dít beteken het, is dat regters nie noodwendig bekwáám was nie, maar hulle was minstens ervare.

“Ná 1994 is toenemend mense wat nié advokate is nie, as regters en waarnemende regters aangestel. Daar is ook mense aangestel wat bitter min litigasie-ervaring het en daarom van die toepassing van die reg in ’n hofsituasie en van die beoordeling van getuienis en so aan. En dit wys tot ’n toenemende mate.”

In vergelyking met ander ontwikkelende lande is Suid-Afrika se regstelsel sterk in dié opsig dat ons bitter min korrupsie het.

“Ons keuringsproses is wel redelik polities, met politici wat besluit oor die aanstelling van regters, maar ons het nog nie daardie blatante partypolitieke partydigheid en inmenging wat daar in die res van Afrika is nie.

“Wat ontwikkelde lande betref, steek ons verder en verder af, is ek bevrees om te sê.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.