Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is toe ek klagte indien

Ons het almal ’n plig om die regte wat die Grondwet ons gee te help beskerm, skryf Gielie Hoffmann.

Gretha Wiid Foto: Deaan vVvier

Ek het ’n Gretha Wiid-hangover. Net om dit duidelik te maak: Ek het nie ’n groot kuier met Vrugte van die Gees-body­shots of ’n Voelgoed/Carpe Diem-binge-lees agter die blad nie.

Hier, die oggend nadat sy haar ooreenkoms met die Menseregtekommissie (MRK) onderteken het, sit ek sonder emosie of gedagte agter my yskoue Apple MacBook. Buite lê die winterryp wit. En binne is dit windstil. Ek vra myself af: Hoekom het ek nou weer ’n klagte teen haar homofobiese uitsprake in haar boeke ingedien?

Ek sukkel om iets betekenisvols te sê en elke nota wat ek maak, lyk pretensieus, geforseerd of onsamehangend. So, kom ek begin maar by die begin.

Meer as 14 maande gelede het ek een oggend doelloos deur my Facebook-inskrywings geblaai. Êrens het ’n post my oog gevang: Foto’s wat iemand geneem het uit Wiid se boeke Lyfslim vir seuns en Lyfslim vir meisies. Die spesifieke foto’s wys hoofstukke wat geskryf is oor homoseksualiteit. Ek het vlugtig daardeur gelees, my oë gerol en die dag gegryp.

Oor middagete gesels ek en ’n vriend land en sand. Hy is nie op Facebook nie en ek deel die foto’s met hom. Nadat ek dit gelees het, kyk ek op; sy oë is nat. Myne ook. Ons oë rol weer. Maar in trane.

Die aand besluit ek om iets daaroor te sê op Facebook; ek deel die foto’s, asook hoekom ek dink die teks is roekeloos en gevaarlik. En verkeerd. Ek sluit ewe ’n skakel in na ’n lang essay deur die filosoof Johann Rossouw oor hoe geestelik honger ons samelewing is.

En toe begin die notifications instroom. Mense hou van my inskrywing of is boos oor die feite. Hulle lewer kommentaar. Hulle deel dit. Êrens het hierdie inskrywing en die boeke waarna dit verwys ’n aar raakgeboor. Ek wonder of mense die skakel na LitNet oopgemaak het.

Soos die nag dieper word, raak die kommentaar feller.

Soos die nag dieper word, raak die kommentaar feller. Ek moet bontstaan om kwetsende woorde en opmerkings af te haal. Ek het heeltemal begrip vir mense se emosie. Maar om ’n diskriminerende teks wat deurspek is met onverdraagsaamheid aan te val op ’n onverdraagsame wyse is, wel, teenproduktief.

Iemand maak die opmerking: Vat haar MRK toe. Teen daardie tyd het ek reeds gesels met ’n vriendin wat ’n menseregte-advokaat is. Ek gaan na die MRK se webblad en stel ondersoek in. Dit is ’n tydrowende proses en vereis dat jy ’n vorm druk, invul en terugstuur. Ek is nie goed met sulke admin nie.

Belangriker, ek moet sê hoekom die teks problematies is. Ek lees vinnig die Handves van Menseregte. Vryheid van spraak en assosiasie is hoekstene van die handves. Die reg op gelykheid en waardigheid gelukkig ook.

En só word ek ’n amptelike klaer.

Almal kla deesdae. Sosiale media leen hom tot leunstoel-aktiviste; toetsbordsoldate wat beweeg van een histerie na ’n ander sonder om ooit regtig iets te doen. Hier, nou, het ek uit my skerm geklim en in die regte wêreld ingeklim.

My oorspronklike Facebook-inskrywing kry op die ou einde meer as 750 “likes”, 437 deel dit en daar is honderde kommentare. Persoonlik kry ek baie boodskappe van ondersteuning. Maar dit als beteken niks as mens nie iets daaraan doen nie.

Skaars ses weke voor die petalje was ek by my eerste optog. Dis was die oggend nadat oudpres. Jacob Zuma vir Pravin Gordhan afgedank het. Die oggend op Kerkplein het ek my stem gaan voeg by ander; ons was hoogstens ’n paar honderd mense. ’n Week later was daar ’n groter optog; meer as 40 000 mense het na die Uniegebou gestap. Teen die einde van verlede jaar was Zuma nie meer ons president nie.

Aktiewe burgerskap maak tog ’n verskil.

Die MRK-proses is tydsaam. Hul voorneme is om ’n klagte binne 180 dae af te handel; uiteindelik het dit meer as 400 dae geneem. Menseregte is nie kinderspeletjies nie; uitsprake en ooreenkomste skep ’n presedent. Mediasie vat tyd. Uit die magdom interaksie op sosiale media het 77 mense ’n klagte ingedien by die kommissie. Dit is baie. Maar ook min.

Deur die loop van 2018 het dit duidelik geword dat daar ’n ooreenkoms sal wees. Dit kan gesien word as ’n erkenning en verskoning; sonder die ooreenkoms sou die MRK die saak hof toe geneem het. As klaer is ek in kennis gestel van die voorgestelde ooreenkoms.

Die stappe wat Wiid sou moes doen was voldoende: Die hoofstukke in haar boeke moet aangepas word en sy mag nie meer oor die onderwerp praat nie.

Ek het voorgestel dat sy sensitiwiteitsopleiding kry om seker te maak sy verstaan waaroor die klagtes gaan. Ook dat sy ’n skenking maak aan ’n organisasie wat werk met die gay- en transgender-jeuggemeenskap omdat sy ’n wesenlike inkomste verdien het uit die boek en praatjies waar sy hierdie woorde kwytgeraak het. En dat haar uitgewer, Carpe Diem, wat die boek geredigeer, versprei en verkoop het, ook meer verantwoordelikheid aanvaar. Die voorstelle is egter van die hand gewys.

Woensdag, in die raadskamer van die MRK-kommissaris, het ek vir ’n oomblik opnuut weer die erns en die omvang besef van ’n jong demokrasie; dat ons ons Grondwet moet beskerm en ja, dat ons nog ’n lang pad het om werklikwaar te verstaan hoe om ons eendersheid en andersheid te versoen op so ’n manier dat niemand te na gekom word nie.

In die woorde van die uitgewer Ingrid Jones: Ons is nog steeds te “bedoosd”. Om ander te vervreem op grond van ’n enkele verskil en hulle daarvolgens te definieer en te hanteer bly die grootste vorm van ontmensliking, dink ek. En dit is hoekom ek ’n klagte ingedien het.

* Gielie Hoffmann is ’n motiveringspreker en skrywer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.