Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dit is tyd vir ’n nuwe model

Suid-Afrika se grondwetlike skikking het op ’n wettige maar onbillike meerderheidsoorheersing uitgeloop, skryf Carel Boshoff.

Nelson Mandela by sy huis, vyf dae nadat hy vrygelaat is. Foto: Getty Images

Hoewel ons nie almal ewe veel daarin belang stel nie, speel ons lewensverhale af teen ’n agtergrond wat na politieke denkbeelde teruggevoer kan word. Ouer swart leiers se ervarings is deur die uitsluiting van apartheid gestempel en hulle lewensverhale het gevolglik verhale van verset teen die magteloosheid wat dit meegebring het, geword.

Jonger swart leiers se ervarings is weer deur verwagtings van insluiting en deelname danksy transformasie gekenmerk, maar die verwagtings word dikwels deur armoede en politieke hekwagters verydel. Hulle lewensverhale is soms dié van toegang tot fantastiese (letterlik sprokiesverhaalagtige) roem en rykdom, maar meer dikwels dié van toeskouers te wees van ander se toegang tot die fantasie terwyl hulle self steeds uitgesluit en magteloos voel. Vandaar ’n voortgesette behoefte aan stryd en verset.

Daarenteen ken ons nog ouer wit leiers wie se verhale op baie lewensterreine deur sukses en vervulling gekenmerk is omdat die samelewingsorde dit vir hulle moontlik gemaak het, terwyl baie talentvolle jong wit mense op talle terreine voel dat hulle deur ’n rasseplafon onder gehou word. Selfs al kry meer wit as swart jong mense werk, ervaar hulle deurentyd die druk daarvan om tot ’n nieaangewese bevolkingsgroep te behoort en word hulle lewensverhale, tot almal se nadeel, dikwels dié van afskeid en vertrek.

Die saak wat ek wil uitmaak, het egter minder met die verskil tussen swart en wit verwagtings en werklikhede te make as met die politieke denkbeelde wat dit onderlê, veral die opkoms, hoogbloei en afloop daarvan. Die rede is eenvoudig dat ’n vaster greep op hierdie denkbeelde nie net ’n ander lig op ons verwagtings en werklikhede sal werp nie, maar ook op wat ons onder die huidige omstandighede te doen staan.

Demokrasie met min voorsiening vir ons veelvolkigheid.

Om sulke denkbeelde te begryp, moet mens van die bekende na die onbekende beweeg om nie in blote bespiegeling te verval nie. Daarom benader ek dit vanuit ’n stuk Afrikanerervaring.

                                                                                         ***

By die Afrikanerbond se onlangse eeufees het die oud-diplomaat en staatsamptenaar Dave Steward ’n toekenning ontvang vir sy “deurlopende bydrae op die grondwetlike terrein in die daarstelling en bevordering van demokrasie in Suid-Afrika”. In antwoord daarop gee hy toe ’n treffende opsomming van sy eie politieke denkweg – wat immers die beste denke van ’n hele geslag besluitnemers in Suid-Afrika verteenwoordig en daarom ’n tweede oorweging verdien. Ek parafraseer sy uiteensetting soos volg:

Aanvanklik het hy “Suid-Afrika” – daardie samevoeging in 1910 van twee verowerde Boererepublieke en twee Britse kolonies – as ’n kunsmatige ontwerp van Britse imperialisme beskou en geglo dat die spanning wat daar ingebou is die beste deur nasionale selfbeskikking op ’n etniese grondslag gehanteer kon word. Mettertyd het hy, en ander, tot die besef gekom dat dié oplossing hom vasgeloop het in werklikhede wat verreken moes word en dat ander oplossings gevind moes word.

Daarom het hy hom vir ’n konstitusionele demokrasie begin beywer, een wat met toepaslike reëlings en teëwigte vir die plurale aard van die Suid-Afrikaanse bevolking sou voorsiening maak. Dit is wat hy tot stand help bring het en sedertdien in stand help hou. Mettertyd het dit egter geblyk dat die gees en letter van bepaalde ooreenkomste wat in die Grondwet vervat is, nie gehuldig word nie en die hele bedeling skeef trek. Dit bevoordeel die oorheersende meerderheid ten koste van spesifieke minderhede en plaas sake soos Afrikaans en moedertaalonderwys onder hewige druk. Ons het egter ’n goeie Grondwet om ons op te beroep en Suid-Afrika moet na daardie ooreenkoms terugkeer.

Tot sover die parafrasering, nou my vertolking daarvan. Steward se argument is eenvoudig, samehangend en oortuigend. Dit was duidelik dat sy destydse ondersteuning van die selfbeskikkingsbeleid, maar nie klein apartheid nie, ’n integrale deel daarvan uitmaak. Daarby kon ek aansluiting vind, want dit is hoe ek ook grootgeword het. Verder kon niemand aan die feit ontkom dat die geleentheid om daardie beleid tot volvoering te bring, verbygegaan het en ander antwoorde vir onopgeloste beleidsvrae gevind moes word nie. Daarom dat selfs diegene wat nie opgewonde was oor die spesifieke uitkomste van die grondwetlike onderhandelings nie, die “versoeningsbedeling” ’n redelike kans gegee het deur dit te probeer ondersteun en benut.

Tot hiertoe kan ek, soos baie ander, amper in Steward se spore loop, maar hoe langer ek daaroor gedink het, hoe meer het ek besef dat sy laaste stap nie net vir my onoortuigend lyk nie, maar eintlik uit pas met die res van sy argument is. Dit is naamlik om ten aansien van ons huidige moeilikhede ’n beroep op die goeie Grondwet van 1994-’96 te doen en na die goue oomblik van versoening tussen botsende belange terug te keer.

Die eerste, siniese beswaar kan wees dat dit nie waarlik ’n goue oomblik was nie, maar bloot ’n pragmatiese skuif van albei kante om die grootste verskille onder die mat in te vee en transformasieverwagtings te ignoreer of uit te stel. Sinisme is egter selde ’n vrugbare invalshoek en ek laat dit daar, want die tweede beswaar dra vir my meer gewig. Ek dink naamlik dat nie net Steward nie, maar talle gewone Afrikaners en wit Suid-Afrikaners wie se denke dieselfde pad geloop het, dalk met my sal saamstem as ek dit só stel:

Die politieke denkbeeld van etniese selfbeskikking, wat op die denkbeeld van apartheid gevolg het en dit moes vervang, het tussen 1955 en 1960 aan die orde gekom en is teen 1985 deur onder meer swart verstedeliking agterhaal. Teen 1990 was dit geskiedenis en het die land reeds ’n ander koers ingeslaan. Net ’n paar bittereinders het 25 of 30 jaar later nog geglo dat dit moontlik of wenslik sou wees om na die Verwoerdiaanse tuislandbeleid terug te keer en dat daardie goue era kon herleef. Oor die alternatiewe is daar drasties verskil, maar oor die noodsaak van ’n nuwe denkbeeld was daar aansienlike ooreenstemming.

Die nuwe denkbeeld wat onder die vaandel van versoening in werking gestel is, was ’n konstitusionele demokrasie, maar met min konkrete voorsiening vir die veelvolkigheid van ons samelewing. ’n Verenigde, onverdeelde, nierassige Suid-Afrika op die grondslag van eenvoudige meerderheidsregering het op swart oorheersing met ’n voorkeur vir sentralisering en transformasie uitgeloop. Dit is nie wat minderhede gewens het om te sien gebeur nie, maar ons kan darem ook nie voorgee dat ons dit nie verstaan nie. Ons is ook 25, amper 30 jaar in die pad af en ons kan sien die resep het, vir ons ten minste, misluk.

Nou is my punt dat ’n beleid se sukses aan sy uitkoms gemeet word, nie aan sy bedoeling nie. Dit was só met die tuislande en dit is só met ’n konstitusionele demokrasie. Ek kan my nie indink dat enigeen wat diep daaroor gaan dink, steeds sal aanvoer dat ons na die goue era van versoening moet terugkeer en die Grondwet bloot beter moet implementeer nie. Dié denkbeeld het sy beurt gehad; dit het op onbillike dog wettige meerderheidsoorheersing uitgeloop en geen beroep op goeie bedoelings gaan dit verander nie.

Die tyd vir ’n nuwe politieke beeld van Suid-Afrika het weer aangebreek. Een wat die selfstandigheid van mense en gemeenskappe respekteer en bevorder, wat mense nie apart dwing nie, maar ook nie saamdwing nie omdat dwang geen goeie grondslag vir vrede en vryheid kan wees nie. Kom ons dink aan Suid-Afrika as ’n gemeenskap van gemeenskappe, ons ontwikkel ’n sterker sin vir die plaaslike en die spesifieke en ons beding ’n stelsel wat mense en gemeenskappe in staat stel om verantwoordelikheid vir hulle eie lot te neem.

Ons moet die beste ewewig vind tussen identiteitsgedrewe selfbeskikking en oorhoofse samehorigheid in ’n model wat nie die een se voorspoed op die ander se teëspoed bou nie, maar wat deur wedersydse erkenning die grondslag vir wedersyds voordelige samewerking daarstel. Nie net Suid-Afrika nie, maar die hele Afrika sal daarby baat as ons dié harde neut kan kraak.

* Boshoff is president van die Orania Beweging.

Meer oor:  Carel Boshoff  |  Demokrasie  |  Orania-Beweging  |  Kodesa  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.