Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is waarom DA sukkel

Baie mense het verwag die DA sou teen dié tyd ’n groter bedreiging vir die ANC by die stembus inhou. Waarom gebeur dit nie? vra Roger Southall.

Mmusi Maimane, leier van die DA, is ’n politieke liggewig vergeleke met pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Argief

Nadat hy al langer as twee dekades regeer, is die ANC diep in die moeilikheid. Die euforie rondom die aanstelling van Cyril Ramaphosa as die nuwe president, is vinnig aan die taan soos sy pogings om ’n skoon regering te vestig, toenemend teenstand uit sy party se geledere kry.

Boonop lyk dit of die finansiële krisisse in staatsbeheerde ondernemings vererger, terwyl sleutel- ekonomiese aanwysers soos werkloosheid, produksie en inflasie vinnig versleg.

’n Mens sou dink die DA as amptelike opposisie se kanse om die ANC in die volgende verkiesing te verslaan, word al hoe beter te midde van dié probleme.

Maar die jongste meningspeilings dui daarop dat die DA se steun sedert die laaste verkiesing afgeneem het. Die kanse dat dié party sy steun van 23% in die laaste algemene verkiesings sal kan ewenaar, lyk baie skraal.

Wat is aan die gang?

’n Deel van Maimane se probleem is dat die DA se attraksie vir baie gelê het in die party se aansprake dat hy skoner en doeltreffender sal regeer.

’n Mens kan op baie redes wys. Die eerste is hoewel Ramaphosa se aanvanklike gewildheid in die post-Zuma-era aan die afneem is, is hy steeds baie indrukwekkender en heelwat meer van ’n politieke swaargewig as Mmusi Maimane, leier van die DA.

’n Deel van Maimane se probleem is dat die DA se attraksie vir baie gelê het in die party se aansprake dat hy skoner en doeltreffender sal regeer.

Maar dié aansprake is erg onder druk met die dilemmas en versoekings wat die DA in die gesig staar nadat hy in 2016 die bestuur van drie metrorade oorgeneem het.

Hy het dit reggekry deur ongemaklike koalisies met die EFF (van wie se beginsels hy drasties verskil) en ander kleiner partye aan te gaan.

Dit het beteken sy houvas op die mag het dikwels broos gelyk en hy moes by politieke speletjies betrokke raak.

Noodsaaklik, maar nie goed vir die beeld nie.

Intussen het die party sy stryd met Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, te lank uitgerek.

Die kwessie van ras verdeel die DA van bo tot onder. Foto: Argief

En dan is daar natuurlik die kwessie van ras wat die party van bo tot onder verdeel.

Die DA is gestig op grond van die beginsels van liberalisme. Sy ideologiese posisie veronderstel dat die individu, en nie die groep nie, die primêre eenheid van die samelewing is en dat vryheid en gelykheid verwesenlik word deur die vryheid van die individu.

Baie van die DA se nuwe swart ondersteuners is nie gemaklik daarmee nie.

Die DA moes sy liberale kernbeginsels verwater om sy aantrekkingskrag buite sy tradisionele wit ondersteunersbasis uit te brei.

Boonop het die DA se klassieke liberalisme hom vasgeloop teen die probleem van hoe om op ’n individuele grondslag werk te maak van rasse-agterstand in ’n samelewing waar fundamentele regte en materiële goedere histories op grond van ras toegeken is.

Of die DA moet sy liberale beginsels versaak deur die probleem van rasse-benadeling met ’n frontaanval te pak. Of, as hy dit nie doen nie, stuur hy die boodskap na swart kiesers dat hy nie regtig daartoe verbind is om iets aan rasse-ongelykheid te doen nie.

Dié spanning was onlangs te sien toe die party verwikkel geraak het in ’n interne stryd oor of hy Swart Ekonomiese Bemagtiging, ’n regstellende aksie-beleid, moet steun.

Groei of beginsels?

Mmusi Maimane, leier van die DA, aan die woord by ’n byeenkoms waar die Marikana-slagting herdenk is. Die DA sukkel om sy beeld af te skud as ’n party wat net wit belange beskerm. Foto: Argief

Tot onlangs het die DA se steun met elke verkiesing toegeneem. Die DA moes egter sy liberale kernbeginsels verwater om sy aantrekkingskrag buite sy tradisionele wit ondersteunersbasis na swart, bruin en Indiërkiesers uit te brei.

In 2013 het die party aanvaar ras kan ’n grondslag vir regstelling wees. In 2015 het vryheid, regverdigheid en gelyke geleenthede deel van sy grondwet geword.

Later het Maimane ook voorgestel dat die DA regstellende aksie moet aanvaar en die party hard gedruk om “groter diversiteit” in sy samestelling te aanvaar.

Dit was ’n manier om te sê dat meer swart mense in leierskapposisies nodig is sonder om dié presiese woorde te gebruik.

Liberalisme werk net vir wit mense, is die gevolgtrekking van baie swart mense.

Die meer onlangse interne rusie oor Swart Ekonomiese Bemagtiging dui op soortgelyke spanning.

Gwen Ngwenya, beleidshoof, het aangekondig dat die DA swart ekonomiese bemagtiging laat vaar het ten gunste van ware bemagtiging van voetsoolvlak af. Maar baie van die party se nuwer lede het besef hulle sou nie wees waar hulle vandag is as dit nie was nie vir ’n beleid wat, ondanks al sy tekortkominge, deur die ANC teweeggebring is.

Die DA stuur die boodskap uit dat die kinders van ’n swart miljoenêr nie spesiale hulp van die staat nodig het nie. Dit is waar, maar sonder ’n beleid wat duidelik uitspel hoe hy “gelyke geleenthede” gaan bewerkstellig, sal die DA hard moet werk om ontslae te raak van sy ongewenste reputasie dat hy primêr ’n party is wat wit belange beskerm.

Liberalisme werk net vir wit mense, is die gevolgtrekking van baie swart mense.

Geen maklike oplossing

Die DA en Patricia de Lille se openbare stryery het lank aangehou en dié party kwaai skade berokken. Foto: Argief

Die probleem vir die DA is dat daar geen maklike oplossing is vir die dilemmas waarmee hy te doen het nie.

Dit is die lot van ’n party as jy die grootste in die opposisiebanke is en die meeste van jou steun van ’n wit rasseminderheid kry.

Sy probleem is dat beginsel op die pad na mag waarskynlik altyd verwater word.

Dit dui op die steeds groter probleem wat die DA moet konfronteer (en dit is die groot onsêbare).

Geen opposisieparty in enige land in Suider-Afrika het al daarin geslaag om ’n bevrydingsbeweging te ontsetel nie.

Dít gebeur ondanks die feit dat die streek se bevrydingsbewegings treurige regerings uitmaak en dit gebruik word vir die opkoms van korrupte “party-staat” elites.

’n Mens hoef nie verder as Zimbabwe te kyk nie. Dáár het die Movement for Democratic Change in 2008 ’n parlementêre meerderheid in die verkiesing gekry voordat hy hom in Zanu-PF se onversetlikheid vasgeloop het.

Die groot vraag in die Suid-Afrikaanse politiek is wat die ANC sal doen as hy sy meerderheid verloor.

Die mate waartoe die DA sy dilemmas oor ras oplos, sal dikteer hoe hy in só ’n situasie optree; want sonder massa swart steun sal hy geen kans staan om die ANC te konfronteer as hy die Grondwet verontagsaam en aan die staatsmag bly klou nie.

* Roger Southall is professor in sosiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Patricia De Lille  |  Opposisiepartye  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.