Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is wat selfbeskikking regtig is

Die idee van ’n volkstaat het skielik weer deel van die politieke debat in Suid-Afrika geword. Maar dikwels besef voorstanders van dié idee nie wat selfbeskikking beteken nie, skryf Pieter Labuschagne.

Die standbeeld van dr. H.F. Verwoerd, voormalige eerste minister van Suid-Afrika, in Orania. Foto: Brendan Croft

Die reg tot selfbeskikking en die skep van ’n volkstaat bly ’n relevante onderwerp binne die politieke dinamika van Suid-Afrika.

Dit is duidelik dat minderheidsgroepe toenemend ervaar dat hul taal en kultuurregte bedreig word en dat selfbeskikking ’n oplossing vir die beskerming daarvan kan wees.

In gesprekke oor selfbeskikking kan verskillende standpunte geïdentifiseer word. Orania en soortgelyke enklaves in die land huldig die standpunt dat “selfbestuur in geografiese afsondering” die eerste stap in ’n geleidelike opbouproses tot volledige (politieke) selfbeskikking en de jure erkenning as staatsentiteit is. Indien die versoek om politieke selfbeskikking onsuksesvol is, is daar die opsie om ’n beroep op die Verenigde Nasies (VN) te doen om die selfbeskikkingstatus op grond van die selfbeskikkingsreg in die VN se handves af te dwing.

In gesprekke oor selfbeskikking word ook gesê dat selfbeskikking verskillende verskyningsvorme (kamers) het. Dié denkrigting propageer ’n “verminderde” vorm van politieke selfbeskikking wat die beperkte interne selfbestuur van taal en kultuurregte behels.

Historiese agtergrond van selfbeskikking

Die Amerikaanse president, Woodrow Wilson (links), tydens die vredesonderhandelinge van 1919 in Parys. Foto: Getty Images

Die konsep politieke selfbeskikking is ’n wesensbegrip in die internasionale reg. In die VN-handves staan die konsep as die jus congens-reël bekend. Dit bepaal dat ’n gemeenskap op grond van gelyke regte, en die gelykheid van geleenthede, die reg het om hul eie soewereiniteit en politieke status, sonder inmenging van buite, te kies.

Die konsep selfbeskikking is die eerste keer in 1860 gebruik en het daarna vinnig versprei. Wladimir Lenin, eerste leier van die Sowjetunie, en Woodrow Wilson, die Amerikaanse president, het albei gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog na selfbeskikking as ’n reg verwys.

Wilson het in sy bekende Veertien Punte op 8 Januarie 1918 beklemtoon dat “nasionale aspirasies gerespekteer moet word en dat mense nie oorheers en regeer moet word as hulle nie daartoe ingestem het nie”. Hy het beklemtoon dat selfbeskikking nie net ’n leë frase is nie, maar ’n dwingende beginsel van aksie.

Die selfbeskikkingsbeginsel is in die Tweede Wêreldoorlog in die Atlantiese Handves ingesluit, wat op 14 Augustus deur die Amerikaanse president, Franklin D. Roosevelt, en Winston Churchill, Britse premier, onderteken is.

Selfbeskikking en soewereiniteit

Hein Marx, president van die Verenigde Vryheidsalliansie, wat ’n onafhanklike konfederale staat vir wit- en bruin mense voorstaan. Foto: Verskaf

In die konseptualisering van selfbeskikking is dit uiters belangrik om vakwetenskaplik met konsepte om te gaan.

Die konsep selfbeskikking het eksklusief met staatskepping of die bestaan van ’n onafhanklike staat as akteur in die interstaatlike domein te doen.

In die internasionale reg en die VN se omskrywing van ’n staat is daar vyf vereistes wat noodsaaklik vir staatsvorming en staatskap beskou word: afgebakende grondgebied, ’n permanente bevolking, ’n regering met de facto politieke gesag, internasionale erkenning, en (eie) soewereiniteit.

’n Staat moet soewerein wees as hy as staatsentiteit wil bestaan en eie besluite binne staatsverband wil neem sonder inmenging van buite. As interne besluitneming afhanklik of onderhewig is aan eksterne gesag, is die eenheid ’n ondergeskikte entiteit en nie ’n staat nie.

Die woord self beteken dat die uitoefening van gesag sonder inmenging van buite moet plaasvind.

Wanneer ’n gemeenskap staatstatus nastreef of eis, moet dit eerstens selfbeskikking verkry of afdwing oor ’n eie grondgebied om soewereine status te verkry.

Die filosoof Jean Bodin (1570-1596), die vader van die konsep soewereiniteit, het in sy Republique geskryf dat die konsep ondeelbaar en noodsaaklik vir die bestaan en voortbestaan van ’n staat is. Soewereiniteit is absolute en onbeperkte mag en kan regsgesag of politieke oppergesag beteken, afhangende of die entiteit ’n regstaat, ’n demokrasie of ’n diktatuur is,

Die konsep regsoewereiniteit beteken dat die staat se oppergesag op die reg gegrond is en dat landsburgers se gehoorsaamheid binne die raamwerk van die reg vereis word. Politieke soewereiniteit verwys na politieke mag en die besit van afdwingende gesag binne staatsverband.

Interne soewereiniteit is die oppergesag binne staatsgrense om huishoudelik besluite te neem en op al die burgers van die land af te dwing. Eksterne soewereiniteit verwys na die staat se status binne die internasionale gemeenskap en die vermoë om as onafhanklike en outonome entiteit te funksioneer.

Die kernbegrip wat in al bogenoemde uitdrukkingsvorme van soewereiniteit voorkom, is in die self-aspek van selfbeskikking. Die woord self beteken dat die uitoefening van gesag sonder inmenging van buite moet plaasvind.

Orania-groep

Orania se koeksister-monument. Foto: Getty Images

Dit is belangrik om tussen die konsep selfbeskikking (soewereiniteit) en beperkte/toegelate selfbestuur te onderskei.

In die geval van Orania is daar nie sprake van selfbeskikking (soewereiniteit) nie, maar “toegelate” selfbestuur. Die sentrale regering is grondwetlik gemagtig om in Orania se huishoudelike besluite in te meng as dit strydig met landswette is.

Die “toegelate” selfbestuur in Orania is in die vorm van ’n kwasi-maatskappy wat binne ’n mikro-verband eie interne sake reël.

Die “toegelate” selfbestuur is op die onuitgespreekte voorwaarde gegrond dat die bestuur binne die landswette moet geskied en dat die regte van ander landsburgers nie misken moet word nie.

Dié vorm van “toegelate” selfbestuur moet egter nie met soewereiniteit verwar word wat noodsaaklik vir politieke selfbeskikking en staatsvorming is nie.

In Afrika alleen is daar meer as 100 minderheidsgroepe wat op soortgelyke wyse binne staatsverband vasgevang is.

Orania word dus binne die vryheid van die Grondwet “toegelaat” om oor sekere mindere plaaslike aspekte te besluit, maar word beperk deur die politieke werklikhede en deur gewone landswette.

In die vertikale verdeling van gesag, is Orania se formele posisie in werklikheid op ’n laer vlak as munisipale status.

Orania se uiteindelike strewe na selfbeskikking (soewereiniteit) is polities nie realisties binne die huidige konteks van meerderheidsoorheersing en die sentrale regering se magspolitieke beskouing nie.

Hy kan hom ook die moeite spaar om ’n beroep op die VN te doen as die regering onwillig is om (politieke) selfbeskikking toe te staan.

Die VN het met die Wes-Sahara duidelik getoon dat hy met verwysing na selfbeskikking nie belang stel om in die interne sake van lande betrokke te raak nie.

In Afrika alleen is daar meer as 100 minderheidsgroepe wat op soortgelyke wyse binne staatsverband vasgevang is.

Die ‘mindere’ vorme van die selfbeskikkingsbegrip

Pieter Labuschagne

Die tweede denkrigting beskou selfbeskikking nie as ’n absolute konsep nie en dat selfbeskikking verskillende gedaantes of verskyningsvorme het, net “soos ’n huis baie verskillende kamers het.”

Dié liberale, breër beskouing van die konsep selfbeskikking het egter nie ’n vakwetenskaplike grondslag nie. Die konsep (volk)staat is volledig afhanklik van (politieke) selfbeskikking en is intiem met die soewereiniteitsbeginsel vervleg.

’n Staat kan nie bestaan of funksioneer sonder selfbeskikking gegrond op eie soewereiniteit nie. Selfbeskikking beteken dat die staatseenheid self regeer sonder inmenging of eksterne opdragte en dat dié soewereine reg nie sonder meer ekstern opgehef kan word nie. (In die globale era staan soewereine state wel sekere funksies in globale verband af, maar dit is vrywillig en kan weer opgesê word.)

Die teenwoordigheid van soewereiniteit is soos swangerskap – iemand is swanger of is nie swanger nie – daar bestaan nie iets soos mindere of semi-swangerskap nie.

Die “mindere” verskyningsvorms of “kamers van selfbeskikking” ten einde outonoom oor kultuur en taal te besluit, is eerder selfbestuur of groepsorganisering, wat die sentrale regering afwaarts kan delegeer of bloot toelaat. Hierdie verskyningsvorm is beslis nie selfbeskikking (soewereiniteit) nie, want die regering kan binne die Grondwet en landswette die delegering terugtrek of met die kulturele entiteit se besluite inmeng en dit ophef.

Politieke selfbeskikking

Die debat oor selfbeskikking en die skep van ’n volkstaat is beslis nog nie afgehandel nie.

In die gesprekke is dit egter noodsaaklik dat daar vakwetenskaplik met konsepte omgegaan word om enige verwarring te voorkom.

In die teenwoordigheid van magsentralisasie en magspolitiek in die land bly dit hoogs te betwyfel of enige groep toegelaat sal word om selfbeskikking (eie soewereiniteit) in staatsverband te verkry.

Die tweede prys is waarskynlike gedelegeeerde selfbestuur of beperkte outonomie oor kulturele en taalaspekte, maar dié interne reëling moet nie met soewereiniteit en selfbeskikking verwar word nie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa en het ook ’n doktersgraad in die regte. Die menings van skrywers isn hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.