Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is wat staatsrede en Superrugby in gemeen het

Die staatsrede is soos om die Queensland Reds teen die Nieu-Seeland Highlanders te sien speel – min aksie met ewe min werklike substansie, skryf Pieter Labuschagne.

Die EFF se rooi brigade het ontwrigting tot ’n fyn kuns vervolmaak. Die choreografie van hul straatvlak-taktiek was om sprekers af te wissel wat presies geweet het wanneer om op infantiele wyse besware aan te teken.Foto: Jaco Marais

Ek dink dis tyd dat dit reguit gesê word – ons maak ’n onnodige ophef van die staatsrede. Die staatsrede is in wese maar net ’n toespraak van die president, versier met ’n militêre parade en ’n modeparade.

Die staatsrede het net ’n simboliese waarde, omdat baie van die sogenaamde “aankondigings” maar blote retoriek is, meestal met min substantiewe inhoud en omskakeling in aksie. Die aankondigings kan net sowel tydens ’n gewone parlementêre sitting gemaak word.

Die titel van die komedie deur William Shakespeare is hier van toepassing: “Much Ado About Nothing.”

Die 2020-staatsrede het veral vanweë die 30 jaar sedert die vrylating van oudpres. Nelson Mandela wel simboliese waarde gehad. Die EFF se destruktiewe gedrag het egter die staatsrede van dié simboliese impak beroof.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die wag van byna ’n uur en ’n half voordat hy sy staatsrede kon lewer. Foto: Jaco Marais

Staatsrede en Superrugby

Pres. Cyril Ramaphosa se vierde staatsrede het heelwat met die Superrugby-kompetisie in gemeen. Die staatsrede, net soos die Superrugby-kompetisie tussen die topspanne in die Suidelike Halfrond, het baie potensiaal omdat die verwagting is dat dit ’n topklas kompetisie sal oplewer. Vir die meeste rugbyliefhebbers het dit egter een lang gaap geword.

Ramaphosa het met groot verwagting die presidentskap oorgeneem, nadat sy voorganger, Jacob Zuma (uitvoerende korrupsiehoof) die land tot by die spreekwoordelike afgrond gekorrupteer het. Die aanvanklike optimisme het egter geleidelik amper vinniger as die skares op die rugby-paviljoene gekwyn.

Die 2020-staatsrede het binne die verslegtende ekonomiese konteks en die aangekondigde dalende werkloosheidsyfers plaasgevind. Daar is nou tien miljoen desperate werkloses, wat spreekwoordelik met hul CV’s in hul hande ronddwaal op soek na werk. En byna 60% van die jeug het met groot verwagtinge hul skoolloopbaan voltooi en sit nou sonder werk.

Dit is werklik ’n tragiese dag in ’n land se geskiedenis dat daar na die pensioene van staatsamptenare, verpleegsters, onderwysers en hospitaalwerkers gekyk moet word om Eskom se skuld te betaal.

Die ekonomiese groeikoers sukkel om die 1%-drempel oor te steek, terwyl die rollende kragonderbrekings maatskappye en individue geld kos en verontrief.

Almal weet wie of wat die groot olifante in die kamer is. Die staatsondernemings Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat soos groot albatrosse om die regering se nek hang, het leë, bodemlose putte geword.

Dit is werklik ’n tragiese dag in ’n land se geskiedenis dat daar na die pensioene van staatsamptenare, verpleegsters, onderwysers en hospitaalwerkers gekyk moet word om Eskom se skuld te betaal. Die pensioene is die een bron van sekuriteit wat staatsamptenare het: Om dit as ’n reddingsboei vir Eskom se skuld te beskou grens aan institusionele maatskaplike verkragting.

Brutale raad vir die SAL

Die SAL lê in die waaksaal en dokters (sakereddingspraktisyns) is ingeroep om te red. Die raad is brutaal – die besnoeiing van oortollige poste en die sny van die enorme salarisrekening. Dit is ’n belangrike toets vir Ramaphosa en die regering of hulle werklik – in die belang van die landsekonomie – die ruggraat het om vas te staan teen die vakbonde.

Ekonome waarsku al jare dat die staat se salarisrekening te hoog is, veral dié van staatsbeheerde entiteite. Die SAL moet deur bedryfsbeginsels bestuur word – dit is nie ’n maatskaplike instelling om die werkloosheid in die land aan te spreek nie. Die skepping van poste en werkgeleenthede moet elders plaasvind.

Die staatsrede is in wese maar net ’n toespraak van die president, versier met ’n militêre parade en ’n modeparade.Foto: Adrian de Kock

Staatsrede – baie oor min?

Die begrip staatsrede is natuurlik ’n wanbegrip. Die Afrikaanse benaming kon eerder die “status van die staat” wees, want dit is in wese ’n diagnostiese beskouing van die sosio-ekonomiese situasie in die land.

Ramaphosa was duidelik en reguit oor die probleme wat die land in die gesig staar. Hy het na ekonomiese hervormingsmaatreëls verwys wat toegepas moet word. Ook die belangrikheid van ’n sosiale kontrak tussen die regering, groot maatskappye en die burgerlike samelewing om die taak gesamentlik aan te pak.

Die uitvoerende korrupsiehoof Zuma, is nog steeds skotvry en hy het klaarblyklik nog nie eens die verskuldigde Nkandla-geld volledig terugbetaal nie.

Ramaphosa se versekering dat die regering nie gaan tou opgooi in die stryd teen korrupsie nie, word egter met taamlike skeptisisme begroet. Die uitvoerende korrupsiehoof Zuma, is nog steeds skotvry en hy het klaarblyklik nog nie eens die verskuldigde Nkandla-geld volledig terugbetaal nie.

Ramaphosa het ook na die steeds groeiende staatskuld verwys en sy kommer daaroor uitgespreek, maar die toename het gedurende sy ampstermyn plaasgevind.

In die geheel gesien, nadat die stof ná die staatsrede gaan lê het, duik die vergelyking met Superrugby weer op. Het ons nie hierdie regrukplanne al vantevore gehoor nie?

Die identifisering van die probleme in die land, die oplossings wat aan die hand gedoen word en dan realiseer daar maar min. Die greep wat korruptes oor Eskom het bestaan klaarblyklik steeds. Die kripvreters is so diep ingebed in die stelsel dat hulle steeds in 2020 voordeel trek.

Die Zondo-kommissie gaan nog tot amper aan die einde van die jaar sit en dan gaan ons maande vir die verslag wag. Dan moet die uitgerekte vervolgingsproses eers volg met die korruptes wat sekerlik nog vir jare skotvry gaan rondloop.

Dit is soos om die Queensland Reds teen die Nieu-Seeland Highlanders te sien speel – min aksie met ewe min werklike substansie.

Ons wil ter wille van positiwiteit graag Ramaphosa se woorde indrink dat ons verandering moet omarm, die lewe sal koester en vrese opsy moet skuif. Die vraag is of dit moontlik is in ’n land met soveel onsekerhede.

Die groot gevaar in die land is aanvaarding van lae standaarde. Ons raak later so gewoond aan beurtkrag en korrupsie dat dit deel van ons lewe en ervaringswêreld geword het.

Oudpres. FW de Klerk en sy vrou, Elita, in die openbare galery tydens die staatsrede. Die EFF het herhaaldelik gevra dat hy die parlementsgebou verlaat ná sy onlangse opmerking dat apartheid nie ’n misdaad teen die mensdom was nie. Foto: Jaco Marais

Parlementêre boewery

Die blywendste aspek van die staatsrede, wat ongelukkig ’n bitter smaak in die mond en ’n hol gevoel in die maag gelaat het, was die EFF se hoogs voorspelbare optrede. Ons sit met ’n land in krisis wat ekonomies op sy spreekwoordelike knieë is en baie inwoners is soos drenkelinge wat na strooihalms gryp. Ramaphosa se staatsrede was só ’n geleentheid met woorde van troos en hoop.

In die parlement se openbare galery het twee simbole van sukses gesit: Mej. Heelal, Zozibinzi Tunzi, en Siya Kolisi, die kaptein van die seëvierende Springbokke. Hul teenwoordigheid in die parlement was simbolies van die sukses van die nuwe geïntegreede veelrassige Suid-Afrika.

Die beeldmateriaal van dié twee simbole van sukses en hoop was ongelukkig hartseer, waar hulle vanaf die openbare galery vir amper 90 minute na die chaos moes afkyk.

Die EFF se rooi brigade het ontwrigting tot ’n fyn kuns vervolmaak.

Onder hulle was die teenpool van dit wat hulle verteenwoordig – die rooi brigade met net een doel voor oë – om destruktief en dwarstrekkerig te wees. Die EFF, gestroop van intellektuele bydraes om die probleme in die land op te los, het voorspelbaar tot ongesofistikeerde vlakke van parlementêre boewery gedaal.

Die EFF se rooi brigade het ontwrigting tot ’n fyn kuns vervolmaak. Die choreografie van hul straatvlak-taktiek was om sprekers af te wissel wat presies geweet het wanneer om op infantiele wyse besware aan te teken. Dan die vreugde en plesier wat uit die destruktiewe handeling gespruit het. Op ’n aand waar saamgestaan moes word in ’n land wat diep in die moeilikheid is, verkies die EFF om hul belange bokant landsbelang te stel.

Pieter LabuschagneFoto: Sarel van der Walt

Die gebruik van besware, retoriek en slagspreuke het weer as ’n bewys gedien van die lae kognitiewe vlakke waarop die party se lede in die parlement funksioneer. Nadat die EFF uit die parlement gestap het, is lede opgemerk waar hulle opgewonde in die gange gekommunikeer het – doodtevrede met hul handelwyse en die vernietiging van gesonde demokrasie.

Die optrede laat egter die res van ons skaam en diep teleurgesteld. Ek kan nie glo dat amper twee miljoen mense vir die EFF gestem het in die afgelope verkiesing nie. Terwyl die meeste gematigde mense in die land graag die woorde van hoop van hul president wou onthou, sal hulle ongelukkig die wanordelike gedrag van die EFF die langste onthou.

Ek wil nie eens weet wat die buiteland, toeriste en beleggers van dié tipe laevlak-boewery dink nie.

Die 2020-staatsrede van Ramaphosa sal gevolglik vir die verkeerde redes onthou word – en dít alleen is ’n hartseer dag vir die land se inwoners.

*Prof. Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Pieter Labuschagne  |  Staatsrede  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.