Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dít is wat Trump en Malema gemeen het

In Suid-Afrika het ons ons eie Donald Trump-light – Julius Malema. Dit laat ’n mens wonder of hulle by dieselfde politieke leerskool was, skryf Pieter Labuschagne.

Indien Julius Malema president word in Suid-Afrika, sal hy net soveel verdeling saai soos Donald Trump in Amerika, meen Pieter Labuschagne. Foto: Felix Dlangamandla

Die lang uitgerekte Amerikaanse verkiesing is genadiglik nou iets van die verlede. Dit was hoogs voorspelbaar dat Donald Trump met groot fanfare sou beweer dat die verkiesing bekook was.

Sy reaksie is tipies van iemand wie se presidensiële ampstyd deur sy unieke, ongesofistikeerde styl gekenmerk is. Sy optrede en reaksie was deurentyd amper buffelagtig en deurspek met halwe waarhede en verdraaiings.

Indien Trump se leierskapstyl en gebrek aan politieke verfyndheid en sosiale vaardigheid ’n klokkie vir die meeste Suid-Afrikaners lui, is dit te verstane. In die plaaslike politiek is daar dieselfde benadering en leierskapstyl – as’t ware ’n “Donald Trump-light”.

Albei leiers herinner aan die Middeleeuse Don Quichot wat altyd windmeulens moes bestorm ...

Dié leierskapstyl word hier te lande deur die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Julius Malema, en sy kaders in leierskapsrolle gebruik.

Die ooreenkomste tussen Trump en Malema sluit in die gebrek aan diplomatieke en politieke sofistikasie en die voortdurende stroomop benadering. Dit laat ’n mens vermoed dat albei by dieselfde politieke leerskool ’n kursus in politieke wetenskappe 101 voltooi het.

Albei leiers herinner aan die Middeleeuse Don Quichot wat altyd windmeulens moes bestorm – daar was altyd ’n vyand wat beveg moes word.

Die Donald Trump-leierskapshandboek

Die een eienskap wat Trump onderskei het – eers as presidensiële kandidaat en later as president van die VSA – was sy deurlopende fokus op en roekelose uitbuiting van die verdelingslyne in die samelewing. Sy prioritisering van maatskaplik-etniese verdelingslyne en sy minagting van die kompleksiteit van diversiteit, het sy aanslag en styl verskraal tot een van “ons teen hulle”. Op dié manier het hy verdeeldheid geskep en in die geval van teenstand het hy op sy regse steunbasis teruggeval.

Pres. Donald Trump tydens ’n verkiesingsaamtrek in Iowa. Foto: Getty Images

Trump het van meet af aan gepoog om die behoudende deel van die samelewing – die werkersklas, die verontregtes, die regses en verregses aan sy kant te kry – teenoor die sogenaamde bevoorregtes (die establishment), die liberales en die immigrante. Sy strategie was om die bevoorregtes op te stel teenoor diegene wat uitgesluit is en dan hul woede en frustrasie uit te buit. Tydens groot saamtrekke het hy die uitgeslote groep gemotiveer met retoriek en slagspreuke.

Die ander kant is die “vyand” en dit bly ’n sentrale tema, waarvan daar nie afgewyk kon word nie.

Trump het deeglik besef waarna die massas streef en hy het deurentyd beloftes gemaak om daaraan te probeer voldoen, sodat hy uiteindelik as ’n maatskaplik-ekonomiese populistiese leier bestempel kon word.

In dié opsig was groot vergaderings baie belangrik. Dit was geleenthede waar emosies opgejaag kon word (“ons versus hulle”), want dit pas naatloos by die fokus om op die verdelingslyne in die samelewing te konsentreer.

In die verdelende benadering is daar geen ruimte vir vereniging of saambinding nie. Die ander kant is die “vyand” en dit bly ’n sentrale tema, waarvan daar nie afgewyk kon word nie.

Trump en sy muur

Dit is ook die basiese taktiek van Malema en die EFF: Wit mense is die “vyand” – die “hulle” waarteen daar gemobiliseer moet word. Hierdie aspek word gewetenloos deur volgehoue slagspreuke uitgebuit en vorm die sentrale tema in die party se aanslag.

Trump én Malema sal nie huiwer om te daal na vulgariteit of selfs om geweld aan te hits nie. Trump het indirek dikwels die regse ekstremiste “aangemoedig” om protesoptogte te opponeer – waar nodig met geweld. Malema en sy rooi span huiwer net so nie om blankes en selfs polisielede aan te val en met geweld te dreig nie.

Prof. Pieter Labuschagne Foto: Sarel van der Walt

Die taktiek is om deurentyd die politieke water modderig te hou met halwe waarhede en verdraaiings en, waar nodig, intimidasie soos wat by Clicks gebeur het.

Een van Trump se regse raadgewers het die taktiese strategie rondom die bou van die muur tussen Mexiko en die VSA verduidelik. Trump het kort nadat hy aan bewind gekom het, aangedui dat ’n muur tussen die twee lande gebou sou word en dat Mexiko daarvoor sou betaal. Die raadgewer het verduidelik dat regse sentiment ’n fokus en vaste verenigingspunt nodig het – al is dit onrealisties en onhaalbaar.

Trump het deeglik besef dat die muur nie gebou sou kon word nie en dat die Mexikaanse regering nog minder daarvoor sou betaal. Dit was nie belangrik nie – die doel was om die spesifieke groep in hul rassevooroordeel te verbind.

Die ironie lê in die naam van die Ekonomiese Vryheidsvegters – daar is geen werklike vryheid nie.

Dieselfde taktiese oorwegings geld Malema en sy EFF-span. Die EFF-leiers is intelligent genoeg (hoop ’n mens) om te besef dat nasionalisering van myne en groot maatskappye en die sentrale beheer van die ekonomie die doodsklok vir die land se ekonomie sal laat lui. Dit sal die ekonomie finaal laat inplof.

Die retoriek oor die besetting en nasionalisering van landbougrond, myne en maatskappye hoort in dieselfde kategorie as Trump se Mexikaanse muur. Die oogmerk is onrealisties en onhaalbaar, maar dien as ’n nuttige versamelpunt waarrondom ondersteuners kan verenig.

Die ironie lê in die naam van die Ekonomiese Vryheidsvegters – daar is geen werklike vryheid nie. Die oogmerk is juis om die vryheid weg te neem om met die minimum beperkende regulasies aan die ekonomie deel te neem.

Politieke pretpark

Trump en Malema het ook albei ’n haat-liefde-verhouding met die media. Trump het as president van meet af aan alle waardigheid as staatsman oorboord gegooi deur hardwerkende joernaliste te beledig. Hy het by meer as een geleentheid waar indringende vrae gevra is die media as die skeppers van fopnuus bestempel.

Pres. Donald Trump se ondersteuners wys hul ontevredenheid nadat die Demokrate se kandidaat Joe Biden aangewys is as die wenner van die Amerikaanse presidentsverkiesing. Foto: Getty Images

Malema huiwer ook nie om joernaliste by sy mediakonferensies te verwyder nie. Floyd Shivambu, die onderleier van die EFF, het selfs al ’n fotojoernalis by die parlement aangerand.

In dieselfde asem smag Trump én Malema na publisiteit. Albei besef hoe belangrik die media is. Samekomste van Trump se ondersteuners en van die EFF-rooihemp-brigade is deels politieke byeenkoms en deels politieke pretpark. Elke uiting van die leiers word gretig deur die media opgeraap, want dis nuuswaardig, al het dit min om die lyf.

Julius Malema sweep die skare op in Senekal in die Vrystaat tydens die tweede hofverskyning van Brett Horner se vermeende moordenaars .Foto: Deon Raath
Die EFF se onderleier, Floyd Shivambu, sal waarskynlik volgende jaar verhoor word vir aanranding nadat hy na bewering die Netwerk24-fotograaf Adrian de Kock by die parlement aangerand het. Foto: Mary-Ann Palmer

Albei leiers huiwer nie om self fopnuus en vals inligting te skep nie. Soos Malema wat op Senekal beweer het dat daar nie so iets is soos plaasmoorde nie. Trump en Malema weet selfs wanneer ongesubstansieerde inligting oor hul lippe vloei, sal die media dit rapporteer.

Gevolglik is elke klein voorval ’n gulde geleentheid – hetsy by Clicks of by Senekal – om weer op televisie of in die koerante te verskyn. Die waarheid is dat hulle nie sonder die media kan bestaan nie.

In ’n groot mate is die EFF, net soos Trump, ’n karikatuur. Hulle is nie geskep deur die pers nie, maar hulle het danksy die media blootstelling gekry.

En wat as hulle as swak leiers ontbloot word?

Die groot maatskaplik-politieke dilemma vir Trump en Malema is indien hulle die gesag na ’n verkiesing op ’n demokratiese wyse verkry, word hulle as swak leiers ontbloot. Nie een van hulle beskik oor staatmanskap of waardigheid nie en hulle is nie in staat om die fokus te verskuif vanaf hul segmentele basisgroep na die breër, diverse samelewing nie.

Trump se ondersteuners hou vol die Demokrate het die Amerikaanse verkiesing “gesteel”. Foto: Getty Images

Die uitdaging vir enige staatsman van statuur is om opponerende groepe saam te bind tot ’n groter geheel. Trump het egter die ons-en-hulle-tema geperpetueer en uitgebuit en Malema sal beslis dieselfde doen indien hy president word. Trump se nalatenskap is die aanhoudende versterking van verdelingslyne, voortgesette konflik en wantroue in ’n diverse samelewing. Die VSA was lank laas intern so verdeel as gedurende Trump se bewind.

In Suid-Afrika sal leierskap deur Malema en die EFF net sulke verwoestende verdeling saai.

*Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die opinies is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.