Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Dít is wat universiteite doodmaak’

’n Sekere soort eksklusiewe nasionalisme is die dood van ’n universiteit. Dit maak gesprekke dood en dit maak dit onmoontlik, sê prof. Andries Bezuidenhout, hoogleraar in ontwikkelingstudies aan die Fort Hare-Universiteit. Murray La Vita doen verslag.

Prof. Christi van der Westhuizen (links), het die laaste gesprek in Die Burger/Netwerk24 -gespreksreeks in die Kruiskerk op Stellenbosch gelei. Die ander deelnemers was prof. Andries Bezuidenhout en dr. Leslie van Rooi. Foto: Jaco Marais

Bezuidenhout was Vrydag een van die deelnemers aan die laaste gesprek in Die Burger/Netwerk24 se gespreksreeks op die Toyota US Woordfees op Stellenbosch.

“Dit maak gesprekke dood en dit maak dit onmoontlik. Ek het by Tukkies gesien hoe dit gebeur het en ek sien by Fort Hare hoe daar ’n baie, baie noue skakeling is tussen die regerende party, die staat en die universiteit,” het hy gesê.

Ek dink daar is korrupsie by ander universiteite ook, hulle praat net nie daaroor nie.
Prof. Andries Bezuidenhout

Dit kom uiteindelik op korrupsie neer. Aan Fort Hare is die nuwe rektor besig om “die korrupsiekraantjies toe te draai” en daarom is daar tans stakings.

“Ek dink daar is korrupsie by ander universiteite ook, hulle praat net nie daaroor nie.”

Van der Westhuizen aan die woord. Foto: Jaco Marais

Spraakvryheid

Prof. Christi van der Westhuizen, gespreksleier en mede-professor en hoof van die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit, het gesê om die rol wat universiteite nou speel te verstaan, moet ’n mens die rol verstaan wat histories gespeel is.

“Spraakvryheid is eintlik nogal ’n nuwe ding vir ons as Suid-Afrikaners en dít lei tot hierdie skrilheid in ons openbare debat waar ons eintlik meer op mekaar skreeu as wat ons regtig na mekaar luister.

Dit het vir my regstreeks te doen met die Afrikaner-nasionalistiese ding van monde wat gesnoer is; van om nie krities te dink nie en basies leiding te neem van mense met titels ...
Prof. Christi van der Westhuizen

“Wat vir my opvallend is van die universiteite wat kom uit ’n Afrikaner-nasionalistiese agtergrond, is dat daar steeds kulture van vrees is wat oorgedra is. Ek was voorheen by die Universiteit van Pretoria en dit was vir my interessant om te sien daar is kollegas wat onseker voel oor of hulle standpunte mag inneem en hulself mag laat geld in die openbare domein.

“Dit het vir my regstreeks te doen met die Afrikaner-nasionalistiese ding van monde wat gesnoer is; van om nie krities te dink nie en basies leiding te neem van mense met titels en in te val by die hoofstandpunt.”

Sy het gesê veral ons top-universiteite ding nou internasionaal mee; ’n neoliberalisering het plaasgevind.

‘Beste professor’

Bezuidenhout het gesê die televisieprogram Beste professor het as kind sy idee gevorm van hoe die akademiese wêreld daar uitsien.

Hulle was deur die bank Broederbondlede wat waarskynlik as gevolg daarvan die poste gekry het eerder as prestasie.

“ ’n Mens se idee van ’n professor was van iemand wat in so ’n dubbelverdiepinghuis woon – DJ Opperman . . . ’n mooi tuin in Mosterdsdrift; ’n groot studeerkamer met boekrakke en sagte lig. Iemand sit vir jou tee neer en dan begin jy jou boek te lees. En dan so elfuur se kant gaan jy klas toe en jy het hierdie interessante gesprekke met jou sewe studente . . . Dit is nie so nie,” het hy onder gelag uit die gehoor gesê.

“Dis ongelooflik interessant om te sien hoe universiteite privaatsektor-gedrewe matrikse begin gebruik om akademici te beheer, want jy het ’n probleem met lui akademici; daar is mense wat nie hulle deel doen nie . . . wat doodeenvoudig nie voorbly in hul veld nie en jaar ná jaar dieselfde kursus aanbied.

“Ek het in my eerste jaar sulke dosente gehad. Hulle was deur die bank Broederbondlede wat waarskynlik as gevolg daarvan die poste gekry het eerder as prestasie.”

In ’n poging om aan die voorpunt te bly het universiteite heeltemal te ver gegaan.

“ ’n Universiteit moet ’n plek wees waar mense érnstig is oor die probleme van die samelewing en navorsing sien as ’n manier om ’n invloed daarop te hê. Dít is nie iets wat jy met indekse op mense kan regkry nie; dit moet uit selfmotivering kom.”

Dr. Leslie van Rooi. Foto: Jaco Marais

‘Nood leer bid’

Dr. Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US), het gesê as universiteite goed wil wees, móét hulle ’n nasionale invloed hê, maar ook aan internasionale gesprekke deelneem.

“Ek dink ons doen dit in Suid-Afrika betreklik goed. Dis soms ’n moeilike balans en soms gebeur dit makliker. Maar ons gesprekke is lank nie net meer plaaslik en hier en nou nie. Ons is vir seker in ’n wentelbaan van internasionalisering.”

In ’n bespreking oor diversiteit aan universiteite het hy verwys na prof. Chris Brink, ’n voormalige rektor van die US, wat geskryf het oor die US se omwenteling in die laat jare negentig en vroeë 2000’s.

“Hy het aangetoon dat ons vir die grootste deel van ons geskiedenis nie navorsing-sterk was nie omdat dit nie belangrik was nie; die universiteit het ’n ander doel gehad in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Ek het ’n teorie dat nood ook hier [US] leer bid het. Verder staan van die staat en minder van ’n bevoorregte posisie met betrekking tot die staat, het beteken dat die universiteit ook oor sy voortbestaan anders dink en dat navorsing, gegee die ekonomiese moontlikhede en volhoubaarheidsmoontlikhede wat daarmee saamkom, ook hier ’n rol gespeel het om die universiteit in ’n nuwe fase in te drúk met uiters positiewe gevolge.”

‘Ons skreeu maklik’

Hy het gesê in die era na Fees Must Fall moet universiteite dikwels weer dink oor hul rol in die samelewing.

Dit sal interessant wees om te sien watter rol ons universiteite gaan speel om ’n oplossing te vind vir die Covid-19-pandemie.
dr. Leslie van Rooi

“Dít is nie altyd so seker nie. Dit is omdat die debat nasionaal betreklik anders lyk: Ons skreeu maklik en maak minder plek vir andersheid van stemme; ons wonder wat meerderheid en minderheid beteken; ons wonder oor taal, oor gendersake en hoe ons woorde moet gebruik.

“Dit sal interessant wees om te sien watter rol ons universiteite gaan speel om ’n oplossing te vind vir die Covid-19-pandemie.

“As ons ’n goeie en sinvolle rol wil speel, moet ons gefokus wees op wat aangaan binne én buite ons grense en onsself daarop rig om wetenskap te beoefen wat tog die samelewing ’n beter plek kan maak.”

Prof. Andries Bezuidenhout. Foto: Jaco Marais

Groot verskuiwing

Waaroor ons te min praat, is dat baie van die produksie van kennis en nuwe navorsing besig is om weg te beweeg van universiteite, het Bezuidenhout gesê.

“Dit vind in die privaat sektor plaas. Van die grootste navorsing oor kunsmatige intelligensie en genetika gebeur nie in universiteite nie, maar in maatskappye.

“Dit is ’n uitdaging vir ons in universiteite om te besef dat daar op die oomblik ’n groot verskuiwing plaasvind in die basis van kennis. Dit is in die belang van enige demokratiese samelewing dat kennis in die openbare domein bly; dat die publiek byvoorbeeld ’n sê het oor watter soort genetiese manipulasie gedoen word en die tipe biotegnologie wat plaasvind, of die nuwe wyse wat uitgevind word om rekenaars met die brein te laat praat.”

Hy het gesê universiteite verkeer inderdaad in ’n identiteitskrisis.

“Ons het nog nie eens die begin daarvan gesien nie, want ’n groot deel van daardie identiteitskrisis gaan wees as studente aanlyn by Harvard kan gaan studeer en dat die Suid-Afrikaanse elite nie meer van ons universiteite afhanklik gaan wees nie. So, ons sal báie meer moet dink oor wat ons met ons universiteite wil doen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.