Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Docs: Ikonies én mitologies

Dié onmiskenbare Britse stewels het ’n voorgeskiedenis wat self die moeite werd is om te vertel, skryf Desmond Painter.

’n Britse punk in die 1980’s. Foto’s: Getty Images

Doc Martens kan miskien 60 wees, maar dié skoene bly steeds die simbool van jeugdige aspirasie; van daardie ironiese versugting om met behulp van iets wat jy met duisende ander deel, ’n kommersiële produk wat jou rustelose soeke na individualiteit sinies deel maak van ’n geteikende bemarkingsveldtog, anders te wees.

Maar Doc Martens was nie spesifiek ontwerp vir tieners wat wil gatskop nie, en miskien is die langdurigheid van die produk juis hierin te vind. Toe die Britse skoenvervaardigers R. Griggs Group Ltd. daardie eerste onderskeidelik kersierooi en swart oprygstewels in hulle Cobbs Lane-fabriek in Wollaston, Northamptonshire, gemaak en uitgereik het, was dit as ’n funksionele produk wat veral onder die werkersklas aftrek gevind het.

Dit was gemaklik, relatief bekostigbaar, en het lank gehou. Ideaal vir fabriekswerkers, posbodes, busbestuurders en polisiebeamptes, mense wat werkstewels nodig gehad het eerder as modieuse bykomstighede. Dit het aan die nou beroemde stewel ’n allure van outentisiteit verleen wat bemarkers kon uitbuit, maar nooit sou kon opmaak nie.

R. Griggs Group Ltd. se onmiskenbare Britse stewels het ’n voorgeskiedenis wat self die moeite werd is om te vertel. ’n Vroeë weergawe van die stewels is deur Klaus Märtens ontwerp, ’n dokter in die Duitse weermag tydens die Tweede Wêreldoorlog. Märtens het sy enkel in 1945 tydens ’n skivakansie in die Beierse Alpe beseer, en het toe sy weermagstewels gemakliker gemaak met, onder meer, sagte leer en luggestopte sole van buitebande.

Die amptelike naam was die 1460, genoem na die eerste datum van uitreiking.

Ná die oorlog het Märtens sy ontwerp verfyn en stewels begin maak van herwonne leer wat hy uit Duitse skoenmakerswinkels gekry het. In 1947 het hy en ’n universiteitsvriend Herbert Funck saam ’n onderneming begin en skoene gemaak van weggegooide rubber wat hulle aanvanklik op Duitse Luftwaffe-vliegvelde opgetel het. Hulle funksionele skoene, gekenmerk deur ’n gemaklike snit en die luggestopte sole, was ’n reuse-sukses onder veral Duitse huisvroue, en meer as 80% van hulle mark gedurende die eerste dekade van hul bedryf was vroue ouer as 40.

In 1952 het Märtens en Funck ’n fabriek in München oopgemaak, en teen 1959 was hulle gereed om hul skoene ook internasionaal te bemark. R. Griggs Group Ltd. het op hierdie punt toegetree en die patentregte gekoop om die skoene in Brittanje te vervaardig.

Hulle het die naam verengels na Dr. Martens, die hak verander om beter te pas, die stewels (en later skoene) se kenmerkende geel stikwerk bygevoeg, en die sole onder die handelsnaam AirWare geregistreer. Die res is nie net geskiedenis nie. Die res is mitologie.

Dr. Martens is vandag ’n wêreldhandelsnaam en teen die 2010’s was R. Griggs Group Ltd. een van die suksesvolste en steeds vinnig groeiendste ondernemings in Brittanje. In 2018 het Business Insider berig dat daar jaarliks meer as 10 miljoen pare Dr. Martens-skoene vervaardig word, verreweg die meerderheid hiervan deesdae buite Brittanje. Die handelsnaam Dr. Martens verwys vandag na ’n uitgebreide reeks skoene en ook klere en ander produkte, maar ongelooflik genoeg bly hul gewildste produk steeds daardie eerste nederige stewel wat 60 jaar gelede bekend gestel is, die ikoniese Docs. Die amptelike naam was die 1460, genoem na die datum van eerste uitreiking.

’n Model in Parys in Maart vanjaar.

Dit het nie lank geneem vir die Doc Marten 1460 om meer te word as bloot ’n funksionele leerstewel nie. Die eerste groep in die Britse jeugkultuur wat dit deel gemaak het van hul kollektiewe estetika, was die “mods”.

Hierdie groep naoorlogse boomers het die Europese modernisme omhels. Hulle het op Vespas in Londen en Manchester se strate gery, in straatkafees en jazz-klubs uitgehang, en onmiddellik aangetrokke gevoel tot die minimalistiese koel van ’n paar Docs. Die deurslaggewende oomblik was toe Pete Townshend, die hoofkitaarspeler van The Who, een van die mods se gunsteling- Britse rockgroepe, met ’n paar van die stewels op die verhoog verskyn het.

Die Britse jeugsubkulture van die 1950’s tot vroeë 1980’s was natuurlik berug vir hulle onderlinge antagonisme en die soms gewelddadige identiteitskonflikte wat daarmee gepaard gegaan het. Die mods het hulle nie net van die konserwatisme van die vooroorlogse generasie, hul ouers en grootouers, gedistansieer nie, maar ook van hul tydgenote, die “rockers”. Verskille was nie beperk tot musiek en modes nie. Fisieke onderonsies tussen mods en rockers in Britse stede soos Brighton het in ’n stadium in die 1960’s die status van ’n morele paniek verkry. Daarmee saam het Doc Martens ’n visuele assosiasie verkry van hardegatgeit, anargie en selfs openbare geweld.

Hierdie assosiasie is verder gevoer deur die “skinheads”, of “skins”, wat hulleself selfs meer as die mods aan hulle Docs laat ken het. Die skinheads was ’n grootliks werkersklas-jeugbeweging wat hul klasseherkoms met trots koester en tot kulturele uitdrukking gebring het, en hulle van die tydgenootlike hippies se middelklaswaardes en sentimentele etos van liefde en vrede onderskei het.

Skinheads in Brighton, Engeland, 1985.

Die semi-militaristiese Doc, saam met bomwerperbaadjies en jeans, was die perfekte visuele teenvoeter vir die hippies se los kleredrag en sandale.

In die laat 1970’s, en deels op die hakke van die assosiasie met die skinheads, het Doc Martens moeiteloos deel geword van die “punks” se uitrusting, en is die assosiasie met buitestanderskap, anargie en stedelike subkultuur finaal beklink.

Die punks het, ten spyte van hulleself, natuurlik die groot teenstrydigheid van kontrakulturele jeugbewegings en identiteite blootgelê. Hoe meer hulle hulself esteties gedefinieer en teen die hoofstroom geposisioneer het, hoe makliker is hulle deur die verbruikerskultuur ingesluk.

Die mods, die skinheads, en die punks het een ná die ander ’n bemarkbare produk geword, net nóg ’n modegier wat deur die kapitalistiese stelsel oorgeneem is en nostalgies hersirkuleer kon word.

Toe “grunge” in die 1990’s vir ’n oomblik gepoog het om iets van die kulturele verset van punk te laat herleef, hierdie keer in die VSA, was dit weer eens dikwels met ’n paar Docs aan die voete.

Maar soos enige werklik suksesvolle produk, was Doc Martens nooit afhanklik van outentisiteit en buitestanderskap nie. Die blote skyn daarvan was genoeg om dit ’n selfs meer duursame kulturele artefak te maak as enige van die subkulture wat hulleself daarmee geassosieer het.

Natuurlik, Doc Martens sou sonder hierdie geskiedenis van jeugsubkultuur nie die ikoniese en nostalgiese waarde verkry het wat dit nou het nie.

Dit is presies die langdurige assosiasie met die kontrakultuur, met jeugdige rebellie en identiteitskonflik, wat die stewel so ’n begeerlike bykomstigheid gemaak het.

Of wie weet, dalk is dit bloot daardie luggestopte sole?

* Desmond Painter het ’n paar rooi Docs begeer, maar sy ouers wou niks weet nie. Om oor sy teleurstelling te kom het hy sosiologie aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer waar hy steeds klasgee.

Meer oor:  Brittanje  |  Skoene  |  Modes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.