Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Donald Trump en die boere

Die meeste Amerikaanse boere sal in vanjaar se verkiesing lojaal aan Donald Trump bly. Wendong Zhang en Minghao Lee verduidelik hoekom.

’n Boer in die Montour-distrik in Pennsilvanië maak dit duidelik vir wie hy gaan stem in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Foto: Getty Images

Amerikaanse boere het heelwat terugslae die laaste paar jaar gehad: Die handelsoorlog met China, natuurrampe en die Covid-19-pandemie het tot beduidende verliese vir baie gelei.

Boere het Donald Trump oorweldigend in 2016 gesteun en hul stem is steeds kritiek in baie sogenaamde swaai-deelstate soos Iowa en Minnesota. Maar gegewe die uitwerking van alles wat gebeur het, sal hulle hul steeds by die president skaar in November se verkiesing?

Ons het in die afgelope jare omvattende navorsing gedoen onder Amerikaanse boere deur middel van peilings en onderhoude. Ons het ook die invloed van die handelsoorlog tussen China en Amerika bestudeer.

Hoewel die ekonomiese koste erg was, het Trump ’n manier gekry om daarvoor te vergoed: Rekord subsidies. En daarom glo ons dat die meeste Amerikaanse boere lojaal aan Trump sal bly.

Dalende uitvoer

Trump-wêreld: ’n Teken op ’n skuur in Danville, Pennsilvanië. Foto: Getty Images

Die handelsoorlog met China wat in 2018 begin het, was ’n groot terugslag vir die uitvoer van Amerikaanse landbouprodukte.

Meer as ’n jaar nadat dit toegeneem het, het Chinese vergeldingstariewe teen die herfs van 2019 bykans alle Amerikaanse landbouprodukte ingesluit.

As gevolg daarvan het die uitvoer van sekere kernprodukte soos sojabone skerp gedaal wat volgens ons berekeninge tot verliese van meer as $10 miljard vir Amerikaanse sojaboon-boere gelei het.

Dié pyn is in die hele Amerika gevoel, hoewel nie oral ewe erg nie.

Kalifornië se ekonomie het byvoorbeeld die ergste deurgeloop met ’n verlies van meer as $6 miljard. Tog het die meeste deelstate verliese van honderdmiljoene dollar gely en in 11 het dit meer as $1 miljard beloop.

Federale subsidies tot die redding

Dit lyk of pres. Donald Trump van Amerika weer kan staatmaak op die steun van die meeste boere in dié land. Foto: AP

In 2018 het die Trump-administrasie ’n subsidie-program geskep om die verliese te temper wat boere weens die handelsoorlog gelei het.

Anders as wat tradisioneel die geval was, het die regering die Amerikaanse departement van landbou toegelaat om die geld uit te gee sonder om eers toestemming by die kongres te kry.

Ingevolge dié program het saaiboere en veeboere $8,5 miljard gekry vir die verliese wat in 2018 gely is en $14,3 miljard vir 2019.

Geen handelsverwante subsidies is in 2020 uitbetaal nie behalwe vir die oorblywende derde van 2019 se betalings.

Maar nes sommige deelstate erger as ander gely het weens die handelsoorlog, het nie almal in gelyke mate voordeel uit die betalings getrek nie.

Die program word gefinansier deur deelstate met groot stedelike bevolkings soos Kalifornië, Texas en New York.

Die subsidies was kwaai toegespits op die Middeweste, wat die politieke invloed van die landelike kiesafdelings in dié deelstate weerspieël.

Die meeste van die deelstate wat die grootste subsidievoordele gekry het – soos Iowa en Nebraska – is geneig om vir die Republikeine te stem en het relatief groot landbousektore.

Soos Trump dit op ’n onlangse byeenkoms in Iowa gestel het: “Sommige van die boere het meer geld gemaak op die manier waarop ek dit gedoen het eerder as om hul gatte af te werk, reg? Hulle was baie, baie gelukkig.”

Die program word gefinansier deur deelstate met groot stedelike bevolkings soos Kalifornië, Texas en New York, en hulle bestee meer geld as wat hulle kry in hulppakkette. Boere in Kalifornië het $106 miljoen gekry ondanks verliese van $6 miljard en dat belastingbetalers in dié deelstaat $2 miljard tot die program bygedra het.

Koronavirus dra tot verliese by

Ondersteuners van pres. Donald Trump in Tucson, Arizona, wys waar hul lojaliteit lê. Foto: AP

Ongelukkig vir die boere het die Covid-19-pandemie ’n ander bron van ernstige ekonomiese pyn geword net toe Amerika en China ’n skietstilstand in hul handelsoorlog bereik het.

Hoewel die ekonomiese tol wat die virus geëis het onberekenbaar bly, het die sluiting van skole, restaurante en ander ondernemings kosverkope laat daal en markte vir saai- en veeboere in die hele Amerika beïnvloed. Koring- en sojaboonboere in die Middeweste sal na verwagting in 2020 finansiële verliese ly ondanks federale hulp.

Die Trump-administrasie het dié keer saam met die kongres gewerk en nog ’n program tot stand gebring vir boere wat verliese weens die koronavirus gely het en bykans $30 miljard is al uitgedeel.

Terwyl die uitbetalings verligting op kort termyn moet bring, het die handelsoorlog Amerikaanse boere waarskynlik reeds skade op lang termyn berokken.

’n Groot deel van die geld het weer na rooi deelstate in die Middeweste soos Iowa gegaan, wat alleen $1 miljard gekry het van die eerste $10,2 miljard wat uitgedeel is.

Uitbetalings is versnel soos die verkiesingsdag nader gekom het. Saam met die handelsverwante subsidies en dié van voor die Trump-era, sal die algehele uitbetalings na verwagting dié jaar ’n rekord $46 miljard beloop.

Terwyl die uitbetalings verligting op kort termyn moet bring, het die handelsoorlog Amerikaanse boere waarskynlik reeds skade op lang termyn berokken.

Die tariewe op Amerikaanse landbouprodukte het Chinese maatskappye genoop om na goedkoper bronne van kos en voer te soek. Brasiliaanse boere het rekordbedrae se sojabone in Mei en Junie aan China verkoop en maak nou die grootste winste in die geskiedenis uit dié produk.

Steun vir Trump bly sterk

In Boston is dié betoger ernstig oor sy keuse vir president. Foto: Reuters

So wat beteken dit vir Trump se steun onder boere met die verkiesing?

Twee onlangse studies wys dat Republikeinse kandidate steun verloor het in 2018 se verkiesing in distrikte wat deur die handelsoorlog geraak is en distrikte waar meer sojabone verbou is.

En alle boere is beslis nie tevrede met Trump nie.

Een boer van Ohio wat in 2016 vir Trump gestem het, het onlangs in ’n artikel gekla dat die president “altyd dieselfde doen. Hy maak jou seer en gee dan vir jou geld om jou stil te hou.”

Verskeie onlangse peilings het daarop gedui dat boere se steun vir Trump oor die algemeen sterk bly.

Tog is die mildelike subsidies vir boere een rede waarom hulle Trump se handelsoorlog gesteun het. In ons meningsopname wat die vorige herfs onder saaiboere in die Middeweste gedoen is, het 56% gesê hulle steun Trump se tariewe op Chinese produkte gedeeltelik of heeltemal, ondanks vergeldingstariewe op hul eie uitvoerprodukte.

Boere het ook gesê hulle deel die kommer van baie Amerikaners oor die gewaande Chinese bedreiging oor kwessies soos die handelstekort en kuberspioenasie.

En verskeie onlangse peilings het daarop gedui dat boere se steun vir Trump oor die algemeen sterk bly – 82% van die boere in die Farm Journal se peiling in Augustus het gesê hulle beplan om vir Trump te stem.

’n Opname onder megaboere in Julie het bevind dat 75% van hulle die president sal steun, basies dieselfde getal as in 2016.

Hoewel die invloed van die handelsoorlog op die verkiesing onseker is, is daar geen rede om te verwag dat ’n beduidende deel van boere hul steun aan Trump sal onttrek nie.

• Zhang is medeprofessor in ekonomie aan Iowa se staatsuniversiteit en Li is medeprofessor in ekonomie aan Nieu-Mexiko se staatsuniversiteit. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Donald Trump  |  China  |  Amerika  |  Landbou  |  Amerikaanse Verkiesing  |  Handelsoorlog  |  2020  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.