Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dood van ’n gek Afrikanerdroom

Vandag, presies 50 jaar gelede, kom ’n debat tot ’n einde wat die idee van ’n ‘Kleurlingtuisland’ finaal die nek ingeslaan het, skryf Gustaf Pienaar.

Dis in dié dae net mooi 50 jaar sedert die Afrikaanse Studentebond (ASB) ’n erg omstrede kongres oor “Die Kleurlinge in Suid-Afrika” gehou het.

Dit het ontaard in waarskynlik die venynigste uitruil van opponerende standpunte ooit tussen die “suidelike” Naspers- en “noordelike” Perskor-koerante.

Die dramatis personae was die destydse premier, John Vorster; die jong, briljante rektor van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), prof. Gerrit Viljoen; en die redakteurs en politieke joernaliste van Die Transvaler, Hoofstad en die Vaderland (in die “noordelike” hoek) en Die Burger en Rapport (in daardie stadium beswaarlik agt maande tevore gestig) in die “suidelike” hoek.

Die kongres het van 28 Junie tot 2 Julie 1971 op die kampus van die Universiteit van Pretoria plaasgevind. Verskeie referate was op die program – onder meer deur Viljoen, wat oor die politieke toekoms van die bruin mense sou praat.

Dit was ’n bitter naïewe versoek.

Vorster is gevra om op 28 Junie 1971 die kongres te open. Die ASB wou die “Kleurlingvraagstuk” buite partypolitieke verband ontgin, en het gevolglik die premier versoek om nié oor die kongrestema te praat nie – eerder dan oor “Die Morele en Sedelike Weerbaarheid van die Jeug”. Dit was ’n bitter naïewe versoek . . .

Vorster het geantwoord dis ’n demokratiese land, en ’n mens kan praat waaroor jy wil. En toe práát hy oor die bruin mense.

Vir baie jare in ons geskiedenis, het hy gesê, was hulle “die voetbal met elke verkiesing”. Dit is om daardie rede dat die Nasionale Party besluit het om hulle van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder. Hy bespreek die evolusie van NP-beleid oor die jare en eindig by sy skepping: Parallelle ontwikkeling, met die Verteenwoordigende Kleurlingraad as ’n liggaam met omskrewe wetgewende en uitvoerende funksies – weliswaar ’n anomalie, want dit sou beteken daar bestaan “twee parlemente” binne dieselfde staat.

Dié raad sou ook die skakel wees tussen die bruin mense en die (wit) parlement – wat egter die finale seggenskap sou hê. Maar, het Vorster gevra: “Is dit billik dat mense te alle tye in voogdyskap moet bly?”

En toe kom Vorster by ’n kernmoment in sy toespraak: As ideaal vir ’n oplossing is ’n eie tuisland vir bruin mense “seer seker aanloklik”. Maar die politiek, sê hy, is die wetenskap van die moontlike: “Ek het tot die konklusie gekom dat dit nie praktiese politiek is nie.”

John Vorster, eerste minister (regs). Foto: Getty Images

Terselfdertyd het Vorster hom sterk uitgespreek teen wat hy genoem het “die pad van integrasie” met bruin mense. Sy geslag het die fondament gelê, maar vir ’n finale oplossing gee hy die bal aan vir die volgende geslag.

Ná Vorster se toespraak is daar saam met die premierspaar en die ander eregaste tee gedrink. Ek was daar as RAU se studenteraadsvoorsitter. Viljoen – met wie ek ’n soort vertrouensverhouding opgebou het – het by my verbygeskuur en gefluister: “Ek moet my referaat gaan oorskryf.”

Twee dae later was Viljoen aan die woord. Hy het my en ’n paar ander studente gevra om hom by sy groen Mercedes-rektorsmotor te ontmoet om te help dra aan afskrifte van sy referaat. (Letterlik warm van die pers – ek onthou die bladsye was nog louwarm).

Viljoen sê sy waarneming is dat daar “ ’n mate van spanning” in Nasionale Party-geledere is oor die Kleurlingbeleid; “kwasterige vrae” word immers gevra. Ons moet nie onnodig die bobbejaan agter die bult gaan soek nie, sê hy, “maar ons moet darem vooraf be­sin wát om te doen as die bobbejaan die dag vanself agter die bult verskyn”. Dis duidelik dat hy die spook van politieke integrasie met bruin mense in gedagte gehad het.

Viljoen bespeur ’n “onheilspellende eensydigheid” in die gesprek oor Kleurlingbeleid, en voeg by dat daar uit bepaalde oorde – hy noem nie name nie – met groot heftigheid gereageer word op enige mening “wat net mag ruik na ’n tuislandgedagte vir die bruin mense”. Dis insigself ’n gevaarlike vorm van werklikheidsontvlugting, meen hy.

Hy sê sy tuisland was net ’n kammaland.

Klaarblyklik had hy Die Burger en Rapport in gedagte. Dít was aspris.

Viljoen ontwikkel dan die tuislandgedagte teen die agtergrond van die “geordende en planmatige uitbou van die groot hoeveelheid vestigings- en groeipunte vir Kleurlinge wat in elk geval in die toekoms nodig gaan wees”. Hy wys vervolgens op ’n aantal “politieke realiteite” wat sou maak dat ’n tuisland nie polities uitgevoer kán word nie, maar voeg by dat – “wetenskaplik gesien” – dit vir hom verkeerd lyk as die moontlikheid van ’n tuisland by voorbaat toegestop sou word. As die bruin mense oplaas nie tevrede is met die regeringsbeleid van parallelle ontwikkeling nie, “dan word altemit wat tans politiek onmoontlik is, deur die ander nog groter politieke onmoontlikheid [hy bedoel integrasie] weer binne die bestek van die moontlike teruggebring”.

Die destydse “mondstuk” van die NP in Kaapland, Die Burger (Piet Cillié) het op Donderdag 1 Julie 1971 in ’n hoofartikel teen Viljoen uitgevaar: “Kleurlingtuislanders weier om te dink; verkies om na die lugkasteel van ’n Kleurlingtuisland te vlug en is dan verbaas dat almal nie bereid is om saam met hulle te vlug nie.” Dis “dwelmdenke” wat sal eindig in die allerskerpste Afrikaner-verdeeldheid en troostelose vyandskap met die Kleurlingbevolking. Daarby, sê Die Burger: “Die onsinnigste van die voorgestelde gebasel oor ’n tuisland [ . . .] is dat voorstanders [ . . .] nog nie geprobeer het om selfs ’n aanduiding te gee van waar ’n tuisland ingerig moet word nie.”

Op Sondag 4 Julie trek Rapport los: ’n “Skerp konfrontasie” het ontstaan tussen Vorster en Viljoen oor die gedagte van ’n Kleurlingtuisland. Viljoen, sê Rapport, het die premier op die ASB-kongres “gerepudieer”. Dit word ook as ’n “aanslag” op Afrikaner-Kleurling-verhoudinge bestempel. Viljoen word verkwalik vir sy skimpe dat Die Burger en Rapport in hul opponering van die tuislandgedagte ’n “verskuilde agenda” gehad het: integrasie met die bruin mense.

Prof. Gerrit Viljoen

Rapport en Die Burger se aanvalle op Viljoen het soos ’n veldbrand deur die media getrek. Die “noordelike” en “suidelike” koerantgroepe het mekaar spreekwoordelik aan die keel gegryp, en die Engelse pers het hierdie twis binne die Nasionale Party terdeë geniet.

Die Transvaler sê op Maandag 5 Julie 1971 die indruk word “skaamteloos” gewek dat Viljoen hom “feitlik aan ’n soort politieke kettery skuldig gemaak het” deurdat hy op ’n openlike konfrontasie met premier John Vorster sou afgestuur het.

Allermins: Hy steun regeringsbeleid, maar sy optrede was voor ’n studentegehoor; nie ’n NP-vergadering nie.

Die Vaderland skryf op 6 Julie in ’n hoofartikel: “[Die] pouslike edik het tog lankal uit Keeromstraat uitgegaan dat net die Kaap die reg het om in die sagte stoele van die Nico Malan-skouburg oor die regte en voorregte van die Kleurlinge te praat.”

Die koerant verwys na die “rapportasie oor die konfrontasie oor die viljoeniaanse repudiasie” wat hom “met bewerasie” laat.

Dieselfde uitgawe van Die Vaderland se voorblad basuin dit uit: “Politiekery met prof. Viljoen: ASB laak Rapport en Die Burger.” Daar word berig dat die hoofbestuur van die ASB dié twee Naspers-koerante “skerp gerepudieer” het “oor die wyse waarop hierdie koerante die ASB-kongres en prof. Gerrit Viljoen in die politieke arena probeer insleep het”.

Op 5 Julie 1971 skryf Die Burger: “[Viljoen] gee te kenne dat hy nie eintlik ’n tuisland vir die Kleurlinge bepleit het nie, maar dit hipoteties gestel het as ’n moontlike uitweg indien parallelle ontwikkeling op ’n dooie punt sou uitloop.

“Kortom, hy steun die regering se voorwaartse beleid, maar hy dink by voorbaat aan ’n strategiese terugtog.”

Schalk Pienaar, voorheen redakteur van die Sondagkoerant Die Beeld.

Op 7 Julie 1971 publiseer Die Burger ’n lang verduidelikende brief van Viljoen: Sy referaat is onvolledig gerapporteer, sê hy. Die koerant aanvaar in ’n hoofartikel sy akademiese bona fides, maar maak daarop aanspraak dat Die Burger op die terrein van Kleurlingaangeleenthede “veel meer ervaring het as hy”.

Viljoen se woorde is vir misbruik vatbaar, waarsku die koerant en sluit af: “Dit sou goed wees as hy [Viljoen] help om die hoofstuk af te sluit. Die Burger het geen begeerte om die storie uit te rek nie.”

Op 7 Julie probeer ook Die Transvaler om die vure te blus. In ’n hoofartikel skryf hy die les van die storm is “dat die gees waarin debat gevoer word, reg en gesond gehou moet word”.

Op Sondag 11 Julie verduidelik Schalk Pienaar wat die “basiese verskille” tussen Rapport en Viljoen is.

Viljoen, sê hy, glo eintlik in ’n “onontwykbare keuse” tussen drie dinge: wit dominasie óf integrasie óf ’n Kleurlingtuisland. Pienaar verskil: “Verby die muur van dié drie onmoontlikhede kan en moet ’n pad gevind word. [ . . .] ’n Bestel van wedersyds bevredigende medeseggenskap in ’n gemeenskaplike vaderland moet ontwikkel word.”

Onder die opskrif “Iets Bereik” skryf Rapport: “As ons prof. Viljoen se teenwerpinge nou reg vertolk, dan sien selfs hy ’n Kleurlingtuisland nie as ’n ernstige alternatief vir ons huidige Kleurlingbeleid nie. Dan is daar tog iets bereik in die ontsaglike stofopskoppery van die afgelope week.

“Hy sal ook nou weet dat as ’n mens agterna moet verduidelik wat jy bedoel het, dan het jy te veel gesê, en dan help dit nie veel om die skuld op die koerante te pak nie.

“As ’n mens reeds met die moeilike werklikhede moet worstel, dan baat dit nie om droombeelde by te haal nie.”

Piet Cillié, redakteur van Die Burger.

Rapport van 11 Julie 1971 het ’n laaste hou ingekry: ’n Spotprent waarin ’n voëltjie (Viljoen) met die Peanuts-karakter Snoopy ’n lang gesprek voer.

Snoopy rol sy oë en vat als dan in ’n kort sinnetjie saam: “Hy sê sy tuisland was net ’n kammaland.”

Dit lyk my die werklike “wenner” van die petalje was die begrafnis – as ek dit so kan stel – van die tuislandgedagte vir ons bruin landgenote.

Dis nooit weer ernstig geopper nie.

Vorster het die “gees van die oomblik” goed gelees en vroeg in 1973 ’n kommissie van ondersoek na Kleurlingaangeleenthede aangestel, met ’n deurwinterde sosioloog – dr. Erika Theron – as voorsitter.

Omtrent al die aanbevelings wat met die ontwikkeling en opheffing van bruin mense verband gehou het – en wat finansiële implikasies ingehou het – is bloot “in beginsel” aanvaar. Dit, in antwoord op wat die kommissie bestempel het as die bruin mense se “chroniese gemeenskapsarmoede”.

Die vernaamste meerderheidsaanbeveling was dat bruin mense regstreeks op alle regeringsvlakke verteenwoordig moes word: Die bestaande staatkundige bedeling moes verander word om vir hulle voorsiening te maak.

Dit is summier deur die regering verwerp. Klaarblyklik wou Vorster tot elke prys ’n tweede skeuring in die NP vermy. Die Theron-verslag het daarna stof vergader.

En Gerrit Viljoen? Dit is merkwaardig dat hy geen permanente skade vanweë die tuislanddebakel gely het nie. Sy statuur as akademikus en Afrikanerleier het – volgens my waarneming – onaangetas gebly.

Viljoen se sterkste eienskap was dat hy kón verander. In 1971 het hy nog gesê integrasie met die bruin mense sal ’n “ramp” vir Suid-Afrika wees, maar in 1976 het hy tydens ’n radiodebat iets merkwaardigs gesê: “Afsonderlike ontwikkeling is vir my ’n metode en nie ’n beginsel of ideologie nie. Dit is ’n pad waarlangs jy beweeg en waarvan die uiteinde oop is. Jy kan langs die pad van afsonderlike ontwikkeling [ . . .] uiteindelik op ’n situasie afkom waar die verskillende volke wat afsonderlik ontwikkel het, juis deur dié ontwikkeling só vergelykbaar geword het in hulle kultuurpatroon, in hulle waardes, dat hulle nie meer afsonderlik wíl wees nie; dat hulle besluit om saam die toekoms te deel.”

Ek dink dat wat Viljoen daardie aand in 1976 oor die Afrikaanse radio in die vooruitsig gestel het, gedurende die afgelope kwarteeu – dit wil sê sedert die einde van apartheid – in ’n betekenisvolle mate waar geword het, ten minste vir wit en bruin Afrikaanssprekendes.

Bruin mense beklee – op meriete – leiersposte in haas elke terrein van die lewe. Tog leef die oorgrote meerderheid steeds in “chroniese gemeenskapsarmoede”.

Ek vind dit hartverskeurend om deur Karoodorpies te ry en op die sypaadjies jong bruin mense te sien sit – verveeld en uitsigloos.

Op my rak is daar ’n wonderbaarlike boek oor die byna magiese wyse waarop die Afrikanervolk ná die vernedering van die Anglo-Boereoorlog “opgestaan” het.

Sowel Verwoerd as Vorster het geglo die swart en bruin mense van die land kon dieselfde regkry – hulle moes maar net gedoen het wat die Afrikaners gedoen het. Dit was ’n strategiese mistasting.

Is dit nie nou tyd om weer ’n Reddingsdaadbond op die been te bring nie waarin wit en bruin Afrikaanssprekendes regtig sáám die probleem van ons bruin, Afrikaanse landgenote – wat soms in uiterste ellende ’n bestaan probeer maak – aanpak nie?

Vir die artikel het ek staatgemaak op my koerantknipselversameling oor gebeure, Erika Theron se Sonder hoed of handskoen (Tafelberg, 1983) en transkripsies van ’n aktualiteitsprogram wat ek in 1976 vir die SAUK se Afrikaanse Radiodiens gemaak het.) Die skrywer is ’n nie-praktiserende advokaat van Vleesbaai en was in 1971 studenteraadsvoorsitter van die RAU en lid van die ASB-hoofbestuur.

* Die berig is aangepas sedert dit gepubliseer is.

Meer oor:  Koerante  |  Die Burger  |  Apartheid  |  Rapport  |  Nasionale Party
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.