Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Dopper Daryl’ maak geskiedenis in Potch

’n Groot kringloop in sy lewensreis is voltooi toe prof. Daryl Balia begin vanjaar die eerste mens van kleur geword het wat aan die stuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus staan. Susan Cilliers het met dié “Metodiste-dopper” gesels. 

Prof. Daryl Balia in sy kantoor op die Potchefstroom-kampus.Foto: Wouter Pienaar

Mukthipudi Balia was nege jaar oud toe hy in 1910 saam met ’n groep landgenote as ’n slaaf uit Indië na Suid-Afrika gebring is. Dit was ander tye, vertel sy kleinseun prof. Daryl Balia.

“Kinders is gesien as ’n rykdom om jou werkmag mee uit te brei.”

Vandag, 109 jaar later, sit dié kleinseun in die adjunk-visekanselier se kantoor op die NWU se Potchefstroom-kampus. Dit beteken hy is aan die stuur van dié kampus.

Oupa Mukthipudi sou trots gewees het op sy kleinseun; hy is die eerste mens van kleur in hierdie pos aan die tradisieryke Potchefstroom-kampus, wat vanjaar al 150 jaar oud is.

Die lang man met die sagte stem se persoonlike reis hierheen is tekenend van hoe die land tot demokrasie gegroei het. In die middel 1970’s het Balia daarvan gedroom om teologie op dié kampus te studeer, maar dit was onmoontlik omdat hy as Indiërman in die apartheidsjare net by die destydse Universiteit van Durban-Westville kon gaan studeer.

Al was hy ’n Metodis, moes hy hom in die Gereformeerde teologie ingrawe omdat die regering net studie in Gereformeerde teologie aan die sogenaamde “tuisland-universiteite” bevorder het. Dít terwyl die Balia-familie geslagte lank Metodiste was; hulle het in Indië al dié geloof aangeneem.

“Toe ek nie teologie kon gaan studeer waar ek wou nie, het ek vir die eerste keer die volle implikasies van apartheid besef en ’n politieke bewussyn ontwikkel,” vertel Balia hier in sy kantoor langs Lover’s Lane waar jy die tortelduiwe kan hoor koer.

“ ’n Mens verpolitiseer wanneer jy uitsluiting en diskriminasie ervaar.”

En toe, meer as vier dekades later, word Balia se jongmensdroom waar toe die NWU hom in 2017 in die hart van Dopperland as dekaan van die fakulteit teologie aanstel.

Só het dit toe gekom dat die getroue Metodis die bynaam Dopper Daryl gekry het.

Prof. Daryl Balia voor die hoofgebou op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Foto’s: Wouter Pienaar

’n Metodis in Dopperland

Balia was direkteur van institu­sionele beplanning aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein toe hy in Desember 2017 die dekaanspos in Potchefstroom gekry het.

Hy het prof. Fika Janse van Rensburg opgevolg nadat dié rektor van die Potch-kampus geword het.

“Ek het baie vervulling in die dekaanspos ervaar, hoofsaaklik weens die goeie verhoudinge en kameraderie tussen my en my kollegas,” sê Balia.

“Hulle het my die bynaam Dopper Daryl gegee.”

Min het hy toe geweet hy sal binne twee jaar wéér in Janse van Rensburg se voetspore volg.

“Ek was reeds bewus van die fluisteringe in die gange dat ek ’n moontlike kandidaat is om prof. Fika op te volg wanneer hy (einde 2018) sou aftree.”

Die titel rektor het intussen verander in adjunk-visekanselier gemoeid met die bedryfsbestuur van die Potchefstroom-kampus.

Janse van Rensburg het Balia self sowat ’n week voor die sluitingsdatum vir aansoeke om dié pos gevra of sy aansoek al ingedien is.

Prof. Daryl Balia in sy kantoor op die Potchefstroom-kampus.Foto: Wouter Pienaar

Balia het die kans gewaag.

Hy het die pos gekry – en skielik was dit asof ’n groot kringloop in sy lewensreis voltooi is.

Dié reis het reeds in KwaDukuza (voorheen Stanger) in KwaZulu-Natal begin waar die Balias al drie geslagte lank woon. Balia se pa, Nathaniel, het sy oupa Muk-thipudi se motorwerktuigkundige onderneming daar oorgeneem. Oupa Mukthipudi was die eerste mens in die dorp wat so ’n onderneming bedryf het. Albert Luthuli (oudpresident van die ANC) het gereeld sy vragmotor vir herstelwerk daarheen gebring.

Die jong Daryl, een van vyf kinders, het by die Ashram-skool vir uitsluitlik Indiër-kinders skoolgegaan.

“Ek het my roeping op 16 gevind,” sê Balia.

“Dit was in 1976 toe my pa sê ek moet predikant word. Hy het reeds gesien ek het die persoonlikheid daarvoor. Geregtigheid en regverdigheid was van kleins af vir my belangrik. Ander se swaarkry het my reeds van ’n jong ouderdom af gepla.”

Nadat Balia besef het studie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) was uit, is hy na die Universiteit van Durban-Westville.

Prof. Daryl Balia stap in Lover’s Lane op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Politieke bewussyn

Balia se politieke radar was toe reeds geaktiveer. Hy het die studenteradiostasie Audwax gestig. Die musiek van internasionale kunstenaars wat Suid-Afrika nie geboikot het nie, is nooit daarop gespeel nie.

“Ons het in protes teen apartheid ook aan geen formele sportgeleenthede met ander universiteite deelgeneem nie.”

Balia se studie in die Gereformeerde teologie het veroorsaak dat hy in sy studentejare sekere Metodiste-tradisies uitgedaag het – in so ’n mate dat hy aanvanklik nie as predikant toegelaat is nie. Hy is wel later toegelaat en was twee jaar lank ’n Metodiste-predikant in Atlantis op die Kaapse Vlakte.

Sy honger na kennis het hom egter akademie toe gedryf. Hy spog met onder meer twee doktorsgrade, onderskeidelik in teologie en openbare administrasie. Sy doktorsgraad in teologie het oor die Christelike weerstand teen apartheid gehandel.

Balia het, soos oupa Mukthipudi, ver gereis. Hy het in die 1980’s en ’90’s oorsee gewoon en gewerk, onder meer aan die Universiteit van Hamburg in Duitsland, waar hy navorsing vir sy doktorsgraad in teologie gedoen het. Hy het ook aan die Sorbonne-universiteit in Parys studeer waar hy ’n taalkursus in Frans gedoen het. Balia het ook kwalifikasies in bestuursvaardighede aan die Universiteit van Berkeley in die VSA en die Harvard-sakeskool verwerf.

“Ek wou altyd terugkom na Suid-Afrika. Ek wou hê my kinders moet verstaan hulle is Afrikane.”

Nou wil Balia veral hier op die Potchefstroom-kampus ’n stukkie model-Afrika skep.

Prof. Daryl Balia in sy kantoor op die Potchefstroom-kampus.Foto: Wouter Pienaar

Mikrokosmos van ideale SA

Hy wil by die NWU ’n “mikrokosmos” help skep van hoe Suid-Afrika behoort te lyk.

“Die universiteit is baie divers met verskillende soorte studente van uiteenlopende plekke oor die land heen.

“Hulle studeer ook op drie verskillende kampusse (Vanderbijlpark, Potchefstroom en Mahikeng), wat elkeen sy eie karakter en voedingsare het.”

Balia meen dis juis ’n voordeel omdat dit ’n geleentheid bied om vir die res van die land te wys alle Suid-Afrikaners kán saamwerk.

“Ons moet mekaar menswaardig en met respek behandel. Dis veral vir my ’n uitdaging om ruimte te skep vir sowel studente wat oor verskeie generasies heen ’n geskiedenis met die NWU het, as diegene wat nie hierdie generasie lange verbintenis het nie omdat hul ouers weens die apartheidsbeleid nie hier kon studeer nie.

“Daar moet by alle studente ’n bewussyn wees van hoe eksklusiwiteit mense in die verlede seergemaak het. Dit het veroorsaak dat nie almal ’n positiewe ervaring van die universiteit gehad het nie.”

Hierdie verskille lei veral tot ontevredenheid wanneer eerstejaars die oriënteringstydperk aan die begin van die universiteitsjaar deurgaan.

“Ons kry klagtes van sommige studente wat dit nie positief ervaar nie, maar ook hier lê ’n opvoedingstaak. Senior studente moet sensitief wees vir die werklikhede van ons land se geskiedenis – al die studente moet die universiteitslewe met oorgawe kan geniet.

Ek was bewus van die persepsie dat dit ’n konserwatiewe dorp is, maar baie oor myself en my lewensuitkyk is ook konserwatief. Die dorp het ’n akademiese atmos­feer waarby ek aanklank vind. Ek is nie ’n stadsmens nie.

“Ons wil nie leiers ontwikkel wat geïnhibeer voel nie, ons wil die studente-ervaring optimaliseer. Baie studente ontmoet hul lewensmaat hier. Sommige sal selfs later hier werk en loopbane bou.

“Almal moet met trots kan terugkeer.”

Balia meen egter daar moet gewaak word teen ’n oordrewe fokus op die rassesamestelling van die universiteit.

“Die NWU het ’n sterk akademiese nalatenskap en ons moet daarop ook fokus.”

Hy sê juis vanweë die gemengde nalatenskap van die universiteit gaan daar met die 150ste bestaansjaarviering vanjaar besin word oor die goeie én slegte aspekte in die universiteit se geskiedenis en ontwikkeling.

“Terwyl sommige die geluk en geborgenheid van tradisies oor generasies heen kan koester, moet hulle steeds die hele konteks kan sien van ander generasies wat onder uitsluiting gely het. Ons kan nie daarvan wegkom dat die land se hele geskiedenis bevlek is nie.”

Die toekoms in

Balia se strewe om die universiteitservaring vir almal van die nuwe generasies positief en toeganklik te maak, strek tot in sy eie gesin.

Sy seun, Javahl, wou vanjaar in die regte aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad gaan studeer, maar Balia het hom omgepraat om op die NWU se Potchefstroom-kampus te kom studeer.

“Ek kan nie hoof van die kampus wees en my seun studeer aan Rhodes nie. Watter boodskap sal dit oordra?”

Javahl geniet sy studentelewe in De Wilgers-manskoshuis op die Potch-kampus nou soveel dat dit sy hele lewe verander het, sê sy trotse pa.

“Hy aard na my; reg en geregtigheid is vir hom baie belangrik.”

Potchefstroom het Balia verras sedert hy in 2017 hierheen gekom het.

“Ek was bewus van die persepsie dat dit ’n konserwatiewe dorp is, maar baie oor myself en my lewensuitkyk is ook konserwatief. Die dorp het ’n akademiese atmos­feer waarby ek aanklank vind. Ek is nie ’n stadsmens nie.”

Balia ervaar ook dat Potchefstroom se mense in die algemeen vir mekaar omgee, ongeag ras.

“Die dorp het ’n akademiese etos. Die mense is oop vir verandering en ’n nuwe soort samelewing, die soort samelewing wat oudpres. Nelson Mandela nagestreef het.”

Die belese en veelberese prof. Balia kan steeds droom. Hy is gek oor rugby en is spyt hy het nooit self gespeel nie.

Balia se vrou, Rosita, en sy dogter, Tarah, wat nou in gr. 9 is, woon steeds in Bloemfontein. Balia pendel gemiddeld elke tweede week na die Rosestad.

Hy het Rosita, ’n onderwyseres, ontmoet toe sy en haar musiekgroep in 1999 op ’n teenkorrupsiekonferensie in die parlement in Kaapstad opgetree het.

Balia se ouers is albei reeds dood. Sy ma, Patricia, wat ’n kleremaker was, se waardes en invloed op sy lewe is vandag nog “onskatbaar”.

“Sy is my rolmodel. Ek sou nêrens sonder haar gekom het nie. My ma het nooit in haar lewe ’n leuen vertel nie. Vroue wat die kinders in hierdie land grootmaak, verdien groter erkenning vir die morele rol wat hulle in ons lewe speel.”

In die werksomgewing is prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, sy rolmodel.

Die belese en veelberese prof. Balia kan steeds droom. Hy is gek oor rugby en is spyt hy het nooit self gespeel nie.

“Ek sou graag ’n nr. 8-trui oor my kop wou trek.”

Met die groetslag sê dié Metodiste-dopper hy kan ook nie wag vir vanjaar se Varsitybeker-rugbykampioenskap nie.

  • Cilliers is Netwerk24 se senior joernalis in Noordwes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.