Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dordrecht toon gifmengsel van godsdiens en politiek

400 jaar gelede was een van die belangrikste vergaderings in die geskiedenis van die Gereformeerde kerke, die Sinode van Dordrecht, in volle gang. Dit het getoon hoe gevaarlik die kaping van godsdiens vir politieke doeleindes kan wees, skryf Rudolf Stehle.

’n Skildery van die Sinode van Dordrecht deur Pouwels Weyts die jongere.

As die eerste internasionale Protestantse kerkvergadering was die sinode ’n historiese gebeurtenis. Van heinde en ver het sensasiejagters en toeriste in die loop van sewe maande tussen November 1618 en Mei 1619 opgeruk na Dordrecht om die verrigtinge van die sinode van agter ’n traliehek in die openbare galery gade te slaan. Dit ondanks die feit dat die beraadslagings in Latyn plaasgevind het, ’n taal wat bitter min van hulle kon verstaan.

Die grondbeginsels van Calvinisme soos bely deur die Nederlandse Gereformeerde Kerk was op die spel. Die State-Generaal, die federale bestuursvergadering van die jong Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande (Groningen, Friesland, Overijssel, Gelderland, Utrecht, Holland en Zeeland), het die stadsraad van Dordrecht in 1618 opdrag gegee om ’n nasionale sinode te reël.

Gravure van Jacobus Arminius (1625) deur Willem van Swanenburg.

Die sinode moes uitsluitsel gee oor ’n teologiese dispuut oor die leer van die Goddelike uitverkiesing wat in 1603 aan die Universiteit van Leiden tussen die teologieprofessore Jacobus Arminius (1560-1609) en Franciscus Gomarus (1563-1641) ontstaan het en spoedig na gemeentes landwyd uitgekring het.

Hierdie godsdiens-twis het egter verstrengel geraak met ’n interne politieke magstryd wat ná die sluiting in 1609 van ’n wapenstilstand met Spanje, die Twaalfjarige Bestand, opgevlam het.

In die een hoek was prins Maurits van Oranje, seun van prins Willem van Oranje en sy opvolger as stadhouer en opperbevelhebber van die Nederlandse weermag. In die ander hoek was die gesoute staatsman Johan van Oldenbarnevelt, landsadvokaat (hoofminister) van die State van Holland, die bestuursvergadering van die magtigste provinsie in die republiek.

Stryd tussen radikale en gematigde Calviniste

Prins Maurits (1607) deur die werkwinkel van Michiel Janszoon van Mierevelt.

Aanvanklik, terwyl die oorlog om onafhanklikheid van Spanje nog gewoed het, was die twee bondgenote. Maurits het die Spanjaarde op die slagveld opgekeil, terwyl Oldenbarnevelt die land se bronne vir die oorlogspoging gemobiliseer en diplomasie bedryf het. Soos wat Maurits se statuur met sy sukses op die slagveld gegroei het, het hy Oldenbarnevelt se inmenging in militêre sake ál meer begin verpes.

Hy was veral verbitterd nadat Oldenbarnevelt hom teen sy sin oorreed het om Vlaandere in 1600 binne te val ten einde ’n opstand teen die Spaanse veroweraars te laat posvat. Ná aanvanklike suksesse het die veldtog in ’n volslae mislukking ontaard.

Die wedersydse wantroue het met die aanvang in 1606 van vredesonderhandelinge met Spanje verdiep. Maurits was daarteen gekant en wou die oorlog voortsit totdat die vyand heeltemal verslaan is. Hy het Oldenbarnevelt daarvan verdink dat hy die Nederlandse onafhanklikheid wil opoffer terwyl Oldenbarnevelt vermoed het dat Maurits soewereine mag wil bekom.

Terselfdertyd het ’n stryd tussen die radikale en gematigde Calviniste in Nederland al dekades lank geprut. Willem van Oranje, Oldenbarnevelt en die meerderheid burgemeesters in Holland het behoort tot die gematigdes, of Libertyne. Hulle het die religieuse vraagstuk benader vanuit die staatsman se perspektief. As veterane van die rebellie teen die Spaanse Inkwisisie in die Lae Lande was hulle ewe teen godsdienstige onverdraagsaamheid vanuit Calvinistiese geledere gekant. Hulle wou die kerk in ’n breë volkskerk omskep met ’n buigsame benadering tot dogma ten einde soveel moontlik mense te akkommodeer en tweespalt in die samelewing te vermy.

Die fokus van die Gereformeerde predikante, die radikales, was op dogmatiese suiwerheid en hulle wou die grense van die kerk se leer onafhanklik neerlê. Daarvoor wou hulle ’n nasionale sinode byeenroep met die doel om ’n staatskerk in die lewe te roep, waarvan die beginsels deur alle landsburgers onderskryf moes word. Die Libertyne was gekant hierteen omdat hulle dit beskou het as ’n poging om die oppergesag van die kerk op die staat af te dwing.

Uitverkiesing ’n twispunt

Gravure van Franciscus Gomarus (1608) deur Willem van Swanenburg.

Die struwelinge tussen die twee groeperinge het tot uitbarsting gekom toe Jacobus Arminius in 1603 as professor in teologie in Leiden aangestel is. Franciscus Gomarus, ’n leidende radikale Calvinis, was toe al agt jaar lank daar ’n professor. Albei het ’n groep volgelinge om hulle versamel en betrokke geraak in debatte oor die uitverkiesingsleer, op grond waarvan gelowiges die ewige lewe sou beërf.

Die Arminiane het geglo dat God diegene uitverkies het wat Hy op grond van sy ewige vooruitkennis geweet het in Hom sou glo, terwyl die Gomariste geglo het dat die uitverkiesing ’n kwessie van suiwer genade is, selfs vir die ergste oortreder, en dat God geloof skenk aan diegene wat Hy vooraf uitverkies het.

Kort ná die dood van Arminius in 1609 het ’n groep Arminiaanse predikante in 1610 ’n griefskrif, of remonstransie, vir oorweging deur die State van Holland opgestel. Hierin het hulle hul meningsverskil met sekere leerstellings van Calvinisme in vyf artikels uiteengesit. Hulle het ook versoek dat ’n nasionale sinode deur die regering byeengeroep word om uitsluitsel oor die dispuut te gee. Die Arminiane sou voortaan as die Remonstrante bekend staan.

Van Oldenbarnevelt, hoewel geen teoloog nie, het die Remonstrante in die geheim ondersteun vanweë hul groter godsdienstige verdraagsaamheid en hul erkenning van die staat se oppergesag in godsdienstige sowel as siviele aangeleenthede.

Die Gomariste het in 1611 teruggekap met hul kontra-remonstransie, waarin hulle in sewe artikels die grondbeginsels van Calvinisme verdedig het en op ’n uitsluitlik kerklike sinode aangedring het. Hulle sou voortaan as die Kontra-Remonstrante bekend staan.

Teenstand teen sinode uit die weg geruim

Johan van Oldenbarnevelt (c. 1590-1624) deur die werkwinkel van Michiel Janszoon van Mierevelt.

’n Meerderheid van die provinsies in die State-Generaal het die Kontra-Remonstrante gesteun, maar onder invloed van Oldenbarnevelt het die State van Holland in 1613 met ’n klein meerderheid sy gewig agter die Remonstrante ingegooi en geweier dat ’n uitsluitlik kerklike sinode gehou word. Hiermee het ’n politieke toutrekkery begin wat tot 1618 sou duur.

Die meerderheid van die stadsbesture in Holland, behalwe Amsterdam en ’n paar ander, was Arminiane, terwyl die meerderheid van die gewone bevolking in die republiek Kontra-Remonstrante was. In die Arminiaans beheerde stede is Kontra-Remonstrantse predikante afgedank en dit het tot oproerigheid onder Kontra-Remonstrante gelei. Die landsadvokaat was vasbeslote om die State van Holland se gesag af te dwing.

Intussen het die State-Generaal in Mei 1617 met vier stemme teen drie op die byeenroeping van ’n nasionale sinode besluit. Die State van Holland het weer met ’n klein meerderheid besluit om nie hieraan gehoor te gee nie. Hiermee is ’n dooiepunt bereik en prins Maurits, wat self nie veel erg aan godsdiens had nie, het hom oplaas by die Kontra-Remonstrante geskaar.

Oldenbarnevelt het nie op hom laat wag nie en op 4 Augustus ’n voorstel, bekend as die Skerp Resolusie, deur die State van Holland gevoer waardeur Holland geweier het om toe te stem tot die byeenkoms van enige sinode, nasionaal of provinsiaal, en die oppergesag van die State in religieuse aangeleenthede bevestig het. Die munisipale owerhede is ook opdrag gegee om huurtroepe (waardgelders) op te kommandeer om die vrede te bewaar en alle amptenare is gedwing om ’n eed van getrouheid aan die State af te lê of andersins afgedank te word.

Prins Maurits het dié stap as ’n openlike ondermyning van sy gesag as militêre leier van die republiek beskou. Die State-Generaal het dit beskou as die verklaring van soewereine onafhanklikheid deur Holland en was vasbeslote om die besluit oor die byeenroeping van ’n nasionale sinode deur te voer.

Ná weke se geredekawel en oor-en-weer-beskuldigings is die Remonstrante op 14 Januarie 1619 uit die sinode gejaag.

Teen 9 Julie 1618 het die State-Generaal die opkommandering van plaaslike troepe onwettig verklaar en op 23 Julie is besluit dat ’n afvaardiging onder prins Maurits na Utrecht gestuur sal word om die ontbinding van die huursoldate daar te eis. Toe Maurits die stad kort daarna met sy troepe binnemarsjeer het die huursoldate hul wapens sonder ’n skoot neergelê en daarmee is die rebellie in die kiem gesmoor.

Op 28 Augustus is ’n geheime resolusie deur die meerderheid van die State-Generaal bekragtig, sonder die wete van Holland se afgevaardigdes, om Oldenbarnevelt en sy medewerkers in hegtenis te neem. Oldenbarnevelt is die volgende dag gevange geneem.

Hierna het prins Maurits en sy lyfwagte van stad tot stad in Holland gegaan en die stadsrade met Kontra-Remonstrante vervang. Gevolglik is nuwe afgevaardigdes deur die stede na die State van Holland gestuur, met die gevolg dat daarin geen ondersteuners van Oldenbarnevelt en sy beleid meer oor was nie. Alle teenstand teen die sinode was daarmee heen.

Sinode lei ook tot verdeling

Die Grote Kerk in Dordrecht, waar die sinode met ’n kerkdiens geopen en afgesluit is. Foto: Michiel Verbeek

Op 13 November kon meer as 100 afgevaardigdes uit Gereformeerde kerke in die republiek asook Engeland, Skotland, Switserland en die Duitse gebiede onder voorsitterskap van ds. Johannes Bogerman in Dordrecht byeenkom. Altesaam 58 was predikante, professore en ouderlinge, aangewys deur die republiek se provinsiale sinodes, 15 was kommissarisse aangestel deur die State-Generaal om oor die verrigtinge toesig te hou, en 28 was lede van buitelandse Gereformeerde kerke.

Die sinode het die Remonstrante versoek om ’n deputasie te stuur om hul standpunte te verdedig.

Op 6 Desember het 13 Remonstrante onder leiding van Simon Episcopius sitplek aan ’n tafel voor die sinodegangers ingeneem. Episcopius het in ’n ellelange toespraak oor nege sittings heen uitgevaar teen die sinode oor prosedurele aangeleenthede wat hy aangevoer het die Remonstrante uit die staanspoor benadeel. Sy welsprekendheid het egter dadels beteken vir ’n sinode waarvan die beslissing reeds vooraf bepaal is.

Ná weke se geredekawel en oor-en-weer-beskuldigings is die Remonstrante op 14 Januarie 1619 uit die sinode gejaag. Die Kontra-Remonstrantse sinodegangers het in die volgende maande voortgegaan met die formulering van die Dordtse Leerreëls, waarin hulle die Remonstrantse sieninge verwerp en die ware Gereformeerde leer in vyf artikels uiteengesit het.

Dit is as ’n nuwe Gereformeerde belydenisskrif gevoeg by die bestaande belydenisskrifte – die Nederlandse Geloofsbelydenis van 1561 en die Heidelbergse Kategismus van 1563.

Bejaarde Van Oldenbarnevelt verhoor

’n Statenbijbel van 1637.

Van Oldenbarnevelt is intussen ná sy inhegtenisneming in eensame opsluiting in die Binnenhof in Den Haag aangehou totdat ’n kommissie, aangewys deur die State-Generaal, in November 1618 begin het om die saak te ondersoek. Die bejaarde staatsman moes 60 keer voor die kommissie verskyn, waartydens hy oor elke detail in sy loopbaan van 40 jaar en persoonlike lewe ondervra en gekruisondervra is.

Hy is geen regsverteenwoordiger of toegang tot dokumente gegun nie. In Februarie 1619 het die State-Generaal ’n buitengewone tribunaal aangestel om Oldenbarnevelt en kie te verhoor. Byna al die lede was politieke of persoonlike vyande van Oldenbarnevelt en dit was dus geen verrassing nie toe hy op 1 Mei aan hoogverraad teen die republiek skuldig bevind is.

Die vonnisoplegging is uitgestel tot ná die afsluiting van die sinode op 9 Mei, en op 12 Mei is Oldenbarnevelt ter dood veroordeel. Pleidooie vanuit die buiteland aan prins Maurits om hom te begenadig het op dowe ore geval en hy is die volgende oggend ten aanskoue van ’n skare mense en die prins op ’n houtplatform in die Binnenhof onthoof.

Altesaam sowat 200 Remonstrantse predikante is uit die land verban en hul volgelinge is verbied om hul geloof in die openbaar te beoefen.

Die Remonstrantse afvaardiging is op 20 Mei deur die kommissarisse van die sinode ingeroep en gebied om hulle van die prediking en verwante aktiwiteite te weerhou en Episcopius is verbied om briewe of boeke te skryf wat die leer van die Remonstrante sou bevorder. Die Remonstrante het ingestem om hulle van die bediening in die staatskerke te weerhou, maar volgehou dat dit hul plig is om hul leerstellinge te verkondig waar ook al mense sou vergader om na hulle te luister.

Op 5 Julie is die Remonstrante na die vergadering van die State-Generaal geroep waar hulle versoek is om die Acte van Cessatie – die wettiging van die opdrag om hulle van die bediening te weerhou – te onderteken. Toe hulle weier, is hulle veroordeel as “verstoorders van de openbare vrede” en gebied om die republiek te verlaat.

Altesaam sowat 200 Remonstrantse predikante is uit die land verban en hul volgelinge is verbied om hul geloof in die openbaar te beoefen.

Van die verbanne predikante het egter in September in Antwerpen oorgegaan tot die stigting van ’n nuwe kerkgenootskap, die Remonstrantse Broederskap.

Ná die dood van Maurits in 1625 het sommige bannelinge na die republiek teruggekeer en teen 1630 is hulle deur die State-Generaal toegelaat om hulle oral in die republiek te hervestig, waar die kerkgenootskap vandag nog voortbestaan.


Die Statenbijbel

Op die Sinode van Dordrecht is die besluit geneem om die Bybel opnuut vanuit die oorspronklike tale in Nederlands te vertaal. Indertyd was daar slegs swak vertalings van die Latynse Vulgaat en die Duitse Lutherse Bybel, maar nou sou die vertaling deur geleerdes uit Grieks en Hebreeus met die byvoeging van kantaantekeninge gedoen word.

Die Statenbijbel, so genoem danksy die State-Generaal se amptelike goedkeuring en finansiering daarvan, is in 1637 voltooi en teen 1657 is sowat ’n halfmiljoen eksemplare gedruk en na kerke, skole en huishoudings landwyd versprei.

Dit het sedertdien ’n enorme en blywende invloed op die ontwikkeling van die Nederlandse taal en literatuur uitgeoefen. Soos sy Engelse eweknie, die King James-Bybel (1611), het die Statenbijbel die Nederlandse woordeskat verryk. Nuwe woorde is toegevoeg en ander is aan die vergetelheid ontruk. Daarby het dit ook indertyd tot die standaardisering van geskrewe Nederlands deur die vaslegging van sekere spelvorme en ’n konsekwente woordgebruik bygedra.

Al wat egter vandag nog van die invloed van die Statenbijbel op hedendaagse Nederlands sigbaar is, is die groot aantal uitdrukkings wat voortleef, soos “op handen gedragen”, “in het zweet zijns aanschijns”, “een lust voor het oog”, “in goede aarde vallen”, “de dag des oordeels”, “een doorn in het oog”, “de haren rijzen je te berge”, “je moet niet bij de pakken neer zitten”, “iets ter elfder ure doen”, en “de verzenen tegen de prikkels slaan”.


Die stadhouer

Die stadhouer was aanvanklik ’n edelman wat namens die landheer (die koning van Spanje) in een of meer gebiede die gesag uitgeoefen het, maar ná die afsetting van die koning as heerser deur die republiek in 1581 was die stadhouer die hoogste uitvoerende amptenaar en is deur die statevergadering van elke provinsie aangewys.

Maurits was van 1585 af stadhouer van Holland en Zeeland en van 1590 af ook van Utrecht, Gelderland en Overijssel.

Hoewel die stadhouerskap aanvanklik nie oorgeërf kon word nie, is die titel in praktyk dikwels van vader na seun oorgedra, en teen die einde van die 17de eeu het dit amptelik oorerflik geword.

* Bronne: www.britannica.com, Ton Crijnen: “Statenvertaling was eeuwenlang het enige boek in huis,” in Trouw, George Edmundson: History of Holland (1992), www.entoen.nu, www.synode400.nl, Fred van Lieburg: The Synod of Dordrecht (2107).

* Rudolf Stehle is ’n redaksielid van Beeld. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.