Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dr. Chris, die hartebreker

Dr. Christiaan Barnard se supersterstatus ná die eerste suksesvolle hartoorplanting was nie juis bevorderlik vir sy huwelikslewe nie, skryf James-Brent Styan in dié geredigeerde uittreksel uit sy boek, Hartebreker.

Chris Barnard op ’n perskonferensie in 1968. Foto: Argief

Enkele dae ná Louis Washkansky [ontvanger van die oorgeplante hart] se begrafnis is Christiaan Barnard op sy eerste warrelwindtoer na Europa en die VSA om gehore oor die wonder-operasie in Kaapstad te gaan toespreek.

Louwtjie [sy vrou] is saam.

Die Barnards het Kersfees in New York deurgebring.

Dit was ’n wonderlike tyd vir Chris, ’n totaal ander ervaring as die eerste keer in 1955 toe hy as vreemdeling in Amerika aangekom het en sneeu moes skoffel om geld vir kos te verdien.

Dié keer is hy op die hande gedra en hy was die middelpunt van belangstelling.

Vir Louwtjie was dit haar eerste slegte ervaring met Chris se roem.

Daar was geen presente nie. Daar was nie eens ’n Kersboodskap van my man nie.

“Daardie dag was ek vir die eerste keer hartseer. Dit was die eerste keer dat ek van my huis en kinders af weg was oor Kersfees en daar was geen bekendes om ‘geseënde Kersfees’ voor te sê nie.

“Daar was geen presente nie. Daar was nie eens ’n Kersboodskap van my man nie.”

Haar man was elders besig om hande te skud.

Louwtjie het ondanks haar verlange die eerste blitstoer aan die VSA geniet.

Terug in Suid-Afrika het Chris sy tweede hartoorplanting uitgevoer, dié keer op ’n Kaapse tandarts, dr. Philip Blaiberg.

Dit was ’n dawerende sukses en het sy roem vermenigvuldig.

Die Duitse aktrise

Kort daarna is Chris genooi om Europa te besoek.

Dié keer sou Louwtjie by die huis bly.

Chris Barnard het op ’n Rooikruis-bal met prinses Grace van Monaco gedans. Foto: Argief

Later sou sy dié besoek aan Europa as “rampspoedig vir die Barnard-gesin” beskryf.

Dit was veral die ná-uurse aktiwiteite van die dokter van Kaapstad wat media-aandag ontlok het.

In Duitsland het Barnard se gasheer hom ná ’n televisie-onderhoud na ’n nagklub geneem waar ’n meisie hom betower het.

“Sy het ’n manjifieke lyf, bruin hare, ’n Slawiese voorkoms met hoë wangbene en donkerbruin oë. ‘Dit is Uta Levka en dit is prof. Barnard,’ stel hy ons voor.”

“ ‘Wil jy dans?’ spin sy.”

Die twee dans en Chris – “gehipnotiseer deur die nabyheid van haar liggaam” – is onbewus van die kameraflitse wat om hulle afgaan.

“Ons dans die grootste deel van die aand om terwyl ons mekaar vertroetel en soos jare lange minnaars saamlag.”

Later teken Barnard die gasteboek en skryf oor ’n “onvergeetlike aand in die arms van een van die mooiste meisies in die wêreld wat nog intelligent is ook”.

Ek hoop ek sien jou later . . .

Die volgende oggend is daar voorbladfoto’s en stories oor die aktrise, wat veral vir haar naak optredes in rolprente bekend is.

Hulle dans twee dae later weer die aand om op ’n bal in Bayerische Hof totdat die Duitse aktrise ’n briefie in sy hand stop voordat sy die hotel verlaat. Dis haar adres en die kort boodskap lui: “Ek hoop ek sien jou later . . .

Chris haas hom na die adres toe.

“Uta het ’n vleiende dun tabberd aan. Ek hoef nie te twyfel waarom sy my na haar woonstel genooi het nie.”

Dans met prinses Grace

Die laaste spyker in die doodskis van die Barnards se huwelik was egter die befaamde Rooikruis-bal in Monaco waarheen Chris deur prins Rainier en sy vrou, prinses Grace, genooi is.

“Ek het gevra om saam te gaan bal toe en gevra of hy vir my ’n mooi rok sou koop. Hy het gesê ek is nie genooi nie en kan nie gaan nie. Dit was soos ’n doodsvonnis,” onthou Louwtjie.

Chris Barnard het die status van ’n superster gehad ná sy suksesvolle hartoorplantings. Foto: Argief

Marius Barnard [sy broer] onthou ook dat die Rooikruis-bal ’n saak van groot onmin tussen Chris en Louwtjie was.

“Sy het hom gesoebat om dit nie by te woon nie.”

Chris het egter daarop aangedring om te gaan.

“Ek is vasbeslote om na Rooikruis-bal te gaan, al sê Louwtjie ons huwelik is verby as ek gaan. Watter mens op ’n staatsdienssalaris wat persoonlik deur koninklikes genooi word om hul eregas te wees wys dit van die hand?”

Chris het die Rooikruis-bal op 10 Augustus 1968 as eregas van die Rainiers bygewoon.

Vir Chris was prinses Grace “mooier as wat ek kon droom”.

Sy het Chris se klere in swart plastieksakke gesit en uit die huis gegooi.

Chris het aan haar linkerkant gesit en later die tweede dans van die aand met die prinses van Monaco gedans. Die foto’s van die dans is deur die wêreldpers gepubliseer.

In Kaapstad het die media weer ’n groot bohaai oor Barnard en prinses Grace gemaak.

Louwtjie het gevoel dit is die finale verraad. Sy het Chris se klere in swart plastieksakke gesit en uit die huis in Zeekoevlei gegooi.

Sy het op 23 Mei 1969 vir Chris in die Kaapse hooggeregshof om ’n egskeiding gedagvaar. Louwtjie het aan die hof verduidelik dat Chris reeds in Maart aan haar gesê hy sal “nooit weer na haar terugkeer nie”.

Die lewe sou egter vir Louwtjie anders bewys.

Maar vir eers, vir Chris, was dit ’n mallemeule met talle ervarings.

Vriendskap met Diana

As daar een persoon was by wie Chris Barnard in later jare aanklank gevind het, was dit prinses Diana van Engeland.

Chris Barnard en Diana Spencer. Foto: Verskaf

Die twee sou dikwels in Kensington-paleis in Londen kuier, waar lady Di haarself gevestig het nadat sy en prins Charles van bed en tafel geskei is.

Die oorkoepelende rede vir haar en Chris se aanvanklike vriendskap was die plan om ’n hartstigting vir kinders te stig.

Diana wou hê hy moes aangaan met die werk wat hy die belangrikste geag het – om kinders met hartsiektes te red. As chirurg het Chris gedurende sy loopbaan dikwels gratis geopereer op honderde kinders uit arm onderontwikkelde lande en kinders wie se ouers nie die operasies kon bekostig nie.

Die werk is grootliks deur die media en sy kritici misgekyk.

Chris was vasbeslote om Diana se droom te verwenslik.

Toe sy artritis vererger, kon Chris die operasies nie meer self uitvoer nie. Hy het besef hy het geld nodig en Diana sou baie kon beteken as beskermvrou. Hul vriendskap het uit hul samewerking ontwikkel tot Diana se ontydige en tragiese dood op 31 Augustus 1997 in ’n motorongeluk in Parys.

Chris was vasbeslote om Diana se droom te verwenslik en het aanvanklik met behulp van die Arthur Andersen Group die Christiaan Barnard-stigting in 1998 begin.

’n Paar jaar lank het die stigting uitstaande werk gelewer.

Sy vriendskap met Diana het ’n interessante stertjie daarby wat handel oor Diana se droom om haar in Suid-Afrika te vestig.

Diana en prins Charles het sedert 1992 apart geleef.

Diana het by Barnard gepleit om vir Khan 'n werk in Suid-Afrika te kry.

Die prinses het ’n Pakistanse hartchirurg genaamd Hasnat Khan terloops op 1 September 1995 ontmoet. Hasnat het haar so te sê geïgnoreer.

Haar verhouding met Khan was daarna lank ’n groot geheim, maar die twee was langer as twee jaar ’n paartjie.

In Julie 1996 het prins Charles vir Diana ’n egskeiding aangebied.

In Oktober het Diana na Italië gereis, waar sy en Chris ’n humanitêre toekenning ontvang het. Op dié geleentheid het sy hom gevra om vir Khan ’n pos as hartchirurg in Suid-Afrika te reël.

Die boek Diana in Search of Herself: Portrait of a Troubled Princess deur Sally Bedell Smith voer aan dat Diana dolverlief was en bereid was om haar tot Islam te bekeer om met die hartchirurg te trou.

“Diana het by dr. Barnard gepleit om vir [Khan] werk te kry in Suid-Afrika. Sy wou ’n paar dogters by hom hê en wou naby haar broer huis opsit.”

Diana se broer, graaf Spencer, het toe nog in die Kaapstadse voorstad Constantia gewoon.

Dit sou egter op niks uitloop nie, ten spyte van Chris se hulp.

Die probleem was waarskynlik dat Chris teen daardie tyd min invloed in Kaapstadse mediese kringe oorgehad het.

Vir Diana het ’n storie wat mooi kon eindig, tragies afgesluit.

Eers het Khan hul verhouding beëindig – grootliks as gevolg van die volgehoue media-aandag in Europa – en toe is Diana dood in ’n tragiese motorongeluk in ’n donker Paryse tonnel, omring deur paparazzi.

* Hartebreker: Christiaan Barnard en die Eerste Hartoorplanting word deur Jonathan Ball uitgegee en kos R240.

Meer oor:  Chris Barnard  |  Hartoorplantings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.