Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Dreig ’n oorlog tussen Amerika en Iran?

Dreig daar ’n oorlog tussen die VSA en Iran? En wat is die kans dat só ’n konflik by verstek kan uitbreek? vra Scott Lucas.

Vat so! ’n Betoger met ’n mombakkies wat hom soos pres. Donald Trump van die VSA laat lyk, kry ’n vuishou tydens ’n betoging in Teheran. Foto: AP

’n Mens kan nie sê die wêreld is nie gewaarsku nie.

John Bolton, Amerika se nasionale veiligheidsraadgewer en ’n voorstander van die rampspoedige oorlog van 2003 in Irak, het in Februarie ’n videoboodskap aan Ajatolla Ali Khamenei, opperleier van Iran, gestuur 40 jaar ná die totstandkoming van die Islamitiese Republiek: “Ek dink nie jy gaan baie meer gedenkdae hê om te geniet nie.”

So hoe ver sal Trump se regering gaan? En is daar ’n dreigende gevaar van ’n oorlog tussen die VSA en Iran?

Pres. Donald Trump van die VSA se regering, tot ’n groot mate aangevuur deur Bolton, het in Mei 2018 onttrek aan die kernkragooreenkoms tussen die 5+1 magte – die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland, Rusland en China.

Washington het in November uitgebreide sanksies teen Teheran ingestel, ook op die energie- en finansiële sektore.

Maar Bolton het ’n onsubtiele sein uitgestuur: Ons kan nog meer skade aanrig as ons wil.

So hoe ver sal Trump se regering gaan? En is daar ’n dreigende gevaar van ’n oorlog tussen die VSA en Iran?

Op 13 Mei, ná weke van oplaaiende spanning, het Mike Pompeo, Amerika se minister van buitelandse sake, en Khamenei albei ’n retoriese stap terug gegee.

In Moskou langs Sergei Lavrov, Rusland se minister van buitelandse sake, het Pompeo gesê Trump se regering soek nie “fundamenteel” na konflik nie.

Op dieselfde dag het Khamenei in ’n toespraak voor die president en ander senior amptenare aangevoer: “Nie ons of hulle nie, wat weet oorlog sal nie in hul belang wees nie, jaag oorlog na nie.”

Tog was daar ander veglustige woorde en stappe aan albei kante.

Daar sal nie oorlog wees nie. Ayatollah Ali Khamenei, opperleier van Iran, spreek lede van die Iranse regering toe. Foto: AP

Khamenei het ’n steekhou ingekry: “Met (sy) beleid van konfrontasie met die Islamitiese Republiek sal die VSA beslis ’n nederlaag ly.”

Pompeo het op sy beurt gesê: “Ons het dit ook duidelik aan die Irannese gemaak dat ons beslis op ’n gepaste manier sal reageer as Amerikaanse belange aangeval word.”

Ure later het die Amerikaanse regering die gedeeltelike onttrekking van sy ambassadepersoneel in Bagdad in Irak, Iran se buurland, gelas.

Sielkunde van oorlogstromme

Die bedreiging van oorlog is nie net op Trump se Twitter-tydlyn nie. Dit is ook deel van Pompeo se reise deur Europa om die Britte se arm te draai om op te tree. (’n Ontmoeting met die Duitsers is gekanselleer omdat hulle as te versoenend teenoor die Islamitiese Republiek beskou word.)

Dit is ook duidelik uitgespel met die ontplooiing van ’n vlootaanvalsmag met die USS Abraham Lincoln en bomwerpers in die Persiese Golf en die posisionering van nog bomwerpers in Katar.

Dit het ook voorgekom met amptenare wat The New York Times vertel het van ’n aangepaste militêre plan wat by ’n ontmoeting van nasionale veiligheidsbeamptes ter tafel gelê is en voorsiening maak vir die ontplooiing van 120 000 troepe na die Midde-Ooste as Iran Amerikaanse magte aanval of werk aan kernwapens versnel.

’n Logistieke spesialis maak vraghouers vas aan ’n Sea Hawk-helikopter aan boord die vliegdekskip die USS Abraham Lincoln. Foto: AP

Bolton en ander bittereinders het opdrag vir die opstel van die plan gegee.

Trump het die berig sedertdien verwerp, maar gesê as hy besluit om meer aggressief teen Iran op te tree, sal baie meer (“a hell of a lot more”) soldate ontplooi word.

Maar dit is waarskynlik die illusie van oorlog, nie ’n oorlogsverklaring nie. Dit is alles praatjies in diens van die VSA-regering se nie-militêre planne om Iran se opperleier tot ’n val te bring.

Dié keer het die groeiende swartlys nie onderhandelinge oor ’n hernieude ooreenkoms ten doel nie.

Met dié spel – wat weer nie baie subtiel is nie – moet Iran se ekonomie op sy knieë gedwing word. Die regering van pres, Barack Obama het ook sanksies vererger, maar toe was die doel om Irak na die onderhandelingstafel te dwing oor sy kernkragprogram.

Dié keer het die groeiende swartlys nie onderhandelinge oor ’n hernieude ooreenkoms ten doel nie. Die doel daarvan is om Iran se produksie, handel en beleggings te beperk en sodoende werkloosheid te verhoog en sy geldeenheid te verswak.

Om sulke doelwitte te steun, kan die VSA weer kyk na sy koverte operasies van die verlede soos die Stuxnet-rekenaarvirus om kernkrag- en ander operasies te ontwrig en – soos ’n Iranse ingenieur beweer – Iran se elektrisiteitsnetwerk te saboteer.

Oorlog by verstek

Vroue by ’n moskee in Teheran skree anti-Amerikaanse slagspreuke. Foto: AP

Maar wat gebeur as die overte sanksie en koverte sabotasie Khamenei nie dwing om pad te gee nie?

Die visie van Bolton en sy landgenote, aangemoedig deur sekere Iranse diaspora-groepe, is dat die Irannese in hul honderdduisende strate toe sal stroom soos met die Groen Beweging ná die betwiste presidensiële verkiesing van 2009.

Dit is waarskynlik wensdenkery.

Die Iranse regime onderdruk andersdenkendes nou al vir bykans ’n dekade doeltreffend.

Die leiers van die Groen Beweging is al sedert Februarie 2011 onder huisarres.

Honderde aktiviste, studente, regslui, arbeidsleiers en menseregte-advokate is in die tronk of onder die voortdurende gevaar van aanhouding.

Kommunikasie is steeds beperk met die bykomende bedreiging van straf vir oortredings.

Baie in Iran probeer net oorleef en die gemoed is een van berusting.

As die mense weer strate toe sal stroom, sal die oorweging vir baie wees om die stelsel te verander, nie revolusie nie – veral nie as die VSA ’n regeringsverandering wil hê nie.

So wat dan?

Met Khamenei wat hom nie aan enige eise van die straat sal steur nie, sal Bolton, Pompeo en kie besluit om die hamer te gebruik?

Hulle sal straks probeer om Iran die eerste kragdadige skuif te laat maak en dan op die voorwendsel van selfverdediging optree.

Daar is nog geen teken van Iranse snelbote wat om die Amerikaanse vliegdekskip en sy bomwerpers draai nie of Iran wat die Seestraat van Hormuz sluit nie.

Maar op 12 Mei is vier handelskepe, insluitende twee tenkskepe van Saoedi-Arabië, aan die kus van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) beskadig in wat dié land ’n “sabotasie-aanval” genoem het.

Twee dae later het twee hommeltuie volgens Saoedi-Arabië ’n brand by oliepompstasies veroorsaak,

Aanvalle deur Iranse elemente of hul medewerkers? Sogenaamde “vals vlag-aanvalle” sodat Teheran geblameer kan word?

Onder albei scenario’s kan meer gewelddadige optrede uitbrei.

Soos Ilan Goldenberg van die Center for a New American Security dit opgesom het: “Niemand wil ’n oorlog hê nie.”

Daar is egter baie logiese argumente wat daarop wys dat ’n uitbreiding (eskalasie) onmoontlik is. Faksies in die Islamitiese Republiek, van Khamenei tot die Revolusionêre Wag, weet dat ’n kop-teen-kop konfrontasie met die VSA selfmoord kan wees. Trump sal ook nie in 2020 se presidentsverkiesing stemme wen as Amerikaanse soldate betrokke is in ’n konflik waarvan die uitslag onseker is nie.

Met die moontlike uitsondering van Benjamin Netanyahu, premier van Israel, Mohammad bin Salman, Saoedi-Arabië se kroonprins, en die VAE-kroonprins Mohammed bin Zayed is bykans alle ander internasionale rolspelers – die Verenigde Nasies, die Europese Unie, China, Rusland, die Organisasie van Islamitiese Lande – teen oorlog gekant.

Soos Ilan Goldenberg van die Center for a New American Security dit opgesom het: “Niemand wil ’n oorlog hê nie.”

Waarskynlik. Maar sommige amptenare in Washington mag dalk nie so ongeneë wees vir ’n oorlog as dit dalk uitbreek nie.

Die titel van Bolton se laaste meningstuk vir The Wall Street Journal voor hy by die Trump-regering aangesluit het, was immers: “The legal case for striking North Korea first.”

* Lucas is professor in internasionale politiek aan die Universiteit van Birmingham. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Donald Trump  |  Ayatollah Ali Khamenei  |  John Bolton  |  Mike Pompeo  |  The Conversation  |  Amerika  |  Oorlog  |  Iran
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.