Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Drie reuse en ’n haka vir ‘Koningin Lear’

Murray La Vita doen verslag oor ’n gesprek tussen drie kulturele reuse: Antjie Krog wat aan Marthinus Basson en Antoinette Kellermann die vrae vra wat sy haar “hele lewe lank al wou vra”. Koningin Lear was ook teenwoordig.

Antoinette Kellerman, Marthinus Basson, Hugo Theart en Antjie Krog praat in Stellenbosch oor Koningin Lear. Foto: Murray La Vita

Om ’n tafel onder ’n ou druiweprieel sit Krog op ’n Saterdagoggend in Stellenbosch met oorkant haar Basson en Kellermann.

Aan die hoof van die tafel is Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, wat Koningin Lear vroeër vanjaar vir die eerste keer op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangebied het as ’n opdragstuk ter viering van dié fees se 25ste bestaansjaar.

Ná die reuse-sukses op die KKNK en die Aardklop-fees is die veelbekroonde toneelstuk met ’n sterbelaaide rolverdeling eersdaags in die Baxter-teater in Kaapstad.

Koningin Lear is ’n herverbeelding van William Shakespeare se King Lear deur die internasionaal gevierde Belgiese dramaturg Tom Lanoye. Krog het die teks uit Vlaams vertaal, Basson het die regie behartig en Kellermann is Elizabeth Lear.

Krog: “Wat het jy in Koningin Lear gesien wat jou laat dink het: dit gaan hier werk?”

Basson: “Sjoe, dis heftige ene. Lear is ’n ultieme merker; dit is soos die Himalayas wat ’n mens moet uit. Maar die wonderlike ding van Tom is: hy herskep vollédig. Die raamwerk, die ruggraat, is daar, maar dan is álles anders. Die wonder van sy teks is dat hy ál die groot temas van Lear aanraak en terselfdertyd ’n klomp nuwe idees daar byvoeg.”

So ’n opvoering is ’n drukgang: min tyd, ’n helse teks.
Marthinus Basson

Krog: “Ek het gehoor jy hou nie oudisies nie, jy kies eenvoudig.”

Basson: “Ons werk gewoonlik met verskriklik min tyd, soms net drie weke; jy moet dus ekonomies werk – dit wil sê jy gaan na die mense wat jy vertrou, en my vertrouebasis is relatief klein, maar word gelukkig altyd groter. As dosent by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement werk jy met mense en kan sien in wie jy kan belê. So ’n opvoering is ’n drukgang: min tyd, ’n helse teks. Dan werk jy verkieslik met strydrosse wat jy absoluut vertrou.”

Theart: “Jy het geweet Antoinette is Koningin Lear, so dan bou jy om daardie gegewe.”

Krog: “Werk jy verskillend met jong en meer ervare akteurs?”

Basson: “Ek dink op die ou end benader jy hulle presies dieselfde. Die problematiek vir die twee is ietwat anders, maar terselfdertyd wil jy nie die persoon laat voel soos ’n jong akteur nie. Soms moet jy hard praat met die jonges, maar ek praat hard met Antoinette ook. Jy doen dit op dieselfde manier. Jy moet versigtig wees en jy moet vashou en jy moet soms dra.”

’n Leë vat

Antoinette Kellermann as Koningin Lear. Foto: Nardus Engelbrecht

Krog: “Lánk gelede het Fred le Roux [akteur, regisseur, joernalis en hoof van die US se dramadepartement] by geleentheid gesê ’n akteur – hy het eerstens na homself verwys – is ’n leë vat wat jy moet vul. Hy het geen persoonlikheid nie, is eintlik ’n verskríklike vervelige ding tót hy ’n karakter het, dan kry daai persoon dimensie en diepte en jy kan saam met hom begin leef.”

Basson: “Daar is ’n sekere mate van waarheid daarin. Maar ek dink leë vat is ’n moeilike, skerp beeld. Ek verduidelik dit altyd só aan die studente: hier staan die glas: ’n akteur, ’n goéie akteur, is soos glas. Jy kom in ’n vorm en dít kan jy nie verander nie; dít is wat jou enig maak. Maar die ról wat jy daarin gooi moet die ding vul en daarna moet die gehoor van alle kante af daarna kan kyk."

“Maar dan kry ook twee soorte akteurs; jy kry ’n persoonlikheidsakteur en dan kry jy een wat ’n verkleurmannetjie is, wat inhabit.”

‘Dis nie Antoinette nie’

Krog: “Ek het deur die hele Koningin Lear nie een keer gedink: O, dis Antoinette, nie. Hoe slaag jy wat Antoinette is – iemand wat ’n unieke soort persoonlikheid en voorkoms het – om die gehoor te oortuig dis nie Antoinette Kellermann op die verhoog nie?”

Basson: ’n Goeie teks lei jou merendeels na die regte plek toe . . . Enige akteur wat sensitief staan teenoor materiaal gaan begin assimileer.”

Kellermann: “En dis organies, voordat jy agterkom, is daar ’n fisieke verskuiwing. Ook stemgewys . . . ’n mens werk ook met stemplásing. Marthinus het byvoorbeeld in ’n stadium met Lear gesê: ‘Jou lae register – gaan vir jou lae register. In dié konteks klink die hoë register oneerlik.’”

Basson: “ ’n Goeie teks doen driekwart van die werk!”

As gevolg van my ma wat Alzheimers gehad het, het ek baie geleer oor hoe die brein funksioneer.
Marthinus Basson

Kellermann: “Nie net die konstruksie en storielyn nie, maar ook táál; hoe taal op jou tong lê. En karáktertaal. Baie mense skryf teks, maar hulle vergeet die karákters. Die ritme wissel nie en almal klink dieselfde. Maar in Lear, en by Breyten ook – dis dalk ’n digtersding – is daar alliterasie; en die aangee van klank van een karakter na ’n ander. Dít help baie; en jy baklei nie teen ’n teks nie.”

Krog: "Koningin Lear was by die KKNK en Aardklop. Hoekom sou ’n mens dit weer moet kom kyk?"

Basson: “Ek kan vir jou dít sê – dit geld nie net vir Lear nie – die énigste voordeel van feeste, afgesien van die feit dat dit nog werk skep vir akteurs, is dat jy kan teruggaan na iets toe en kléin bietjie verfyn. Dis soos poetswerk aan enige skryfwerk – dit moet áfgerond wees. Daar is nie enige radikale verandering nie, maar daar is verdiéping en verfyning.”

Krog: “Wát is verdieping?”

Basson: “Dit gaan lê. Die woorde word íngebed. Die brein . . . As gevolg van my ma wat Alzheimers gehad het, het ek baie geleer oor hoe die brein funksioneer: as jy iets verkeerd inlê met ’n eerste leer, vat dit séwentien keer van herhaling om ’n nuwe sinaps te groei. As jy onder stres is, glip die gedagte terug na die fout toe. Dan sit jy nog met twee breinhelftes, so wanneer jy onder druk werk, is dit nét die een deel van die brein wat assimileer. Jy moet saam leef met die teks, slaap, eet en dan uiteindelik skuif die gedagtes deur na beide kante toe en dis waar die verdiepingsproses plaasvind. Die wonderlike is dat verwysings uit jou eie ervaring en vorige rolle begin vanself ontwikkel tussen jou en die teks en dán begin werk rêrig verdiep en ontroerend raak . . .”

‘Nóú kan jy luister’

Koningin Lear, haar regterhand Kent, en seuns en skoondogters. Foto: Nardus Engelbrecht

Kellermann: “Dis ook goed vir ’n speler – die vyf maande wat ons nié gespeel het ná KKNK nie . . . Ek het amper elke dag aan Liesbet Lear gedink. En dan besef jy skielik: Dís wat dit beteken; dís waarheen die klem gaan; dit gaan terug na dáái toneel toe in die eerste helfte . . . Álles, álles het daarmee te doen, jy bly die hele tyd daarmee besig."

“En dan, as jy op die verhoog kom, het jy vir die eerste keer tyd om te hóór wat die ander karakter sê. Jy is verby die stadium waar jy net angstig vir jou cue wag. Nóú kan ’n mens luister. Maar dit is ook ingewikkeld, want jy mag nie so meegesleur raak dat jy uit jou konsentrasie glip nie.”

Basson: “Jy ontwikkel ook stamina vir die volle lading van die stuk. Dit neem tyd om stamina te bou.”

Nou die dag staan ek weer voor die wasbak en was oggendskottelgoed en sê dele van die teks op, nét om te kyk of my geheue goed is.
Antoinette Kellermann

Krog: “Wat doen jy die aand en die dag voor so ’n vertoning?”

Kellermann: “Ek staan gewoonlik goed op en ek doen my koffie en my sigarette – seker so tien van elk [sy lag] en dan sit ek met die teks. Ek kán nie op daardie verhoog gaan as ek nie die teks deurgegaan het nie. En dit vat my drie uur, want die ander mense se teks lees ek ook; ek moet weet waarop ek reageer; daar’s beweging; jou muscle memory is deel van die teks . . . Ons is gewoonlik twee uur voor die tyd by die teater, dan die drie-uurlange opvoering en minstens ’n uur om nog af te swing, want jou kop is die hele tyd in replay. Ek drink ’n slaappil. Ek kan nie anders nie . . . "

“En dan is daar ekstra verhoogstres soos die aand toe die stel breek onder Edwin [van der Walt, wat die rol van Cornald, Lear se jongste seun, vertolk] en Wilhelm [van der Walt, wat die rol van Lear se seun Hendrik vertolk] en ek sit in die wings en ek hou dit dop sodat ek betrokke bly as my jongste kind na sy dood spring . . . en om emosioneel in die moment te kan wees as ek opkom, toe bréék die stel onder hom. Weet jy, dat ek só gil van agter af – instinktiéf – want dis my kínd en alles breek nou onder hom."

“Toe ek daarna opstap, was dit een van die realste oomblikke: jy het dit gesién . . . dit het deur jou geruk. Dit word vir altyd deel van jou hele emosionele lading – dus, dit hou nooit op nie. Die groei en die opvoer hou nooit op nie. Nou die dag staan ek weer voor die wasbak en was oggendskottelgoed en sê dele van die teks op, nét om te kyk of my geheue goed is, en skielik dink ek: Maar my f*k, dís wat dit beteken! Ná al hierdie weke!”

Gevaar van voorkennis

’n Toneel tussen Lear en haar seun Gregory, vertolk deur Neels van Jaarsveld. Foto: Nardus Engelbrecht

Basson: “Dan is daar natuurlik iets soos om met voorkennis te speel; dit wil sê ons weet wat die uiteinde van die storie is, maar die gehoor nie. Ons mag nie speel op ’n manier wat alreeds die einde uitspel nie."

Kellerman: “Daarom is die eerste toneel die moeilikste vir my; daardie monoloog, my nemesis."

Krog: Jy’s dadelik in die jambes in: ‘Nou ja, van altyd af het ek geweet / dat hierdie dag gaan aanbreek . . .’ ”

By Aardklop is ek een aand byna fisiek misvorm soos wat ek moes inhou om by daardie plek uit te kom. Dis ’n verskríklike vloek daai . . .
Antoinette Kellermann

Kellermann: "Vir my is die mooiste monoloog (in Lear se stem): “Vaarwel, my seun. Ek val jou nooit weer lastig nie. / Nooit sien of praat ons ooit weer met mekaar nie. / Jy was, so dag ek, vlees van my. Iets van / My gees . . . My kind. Maar kyk nou!/ Jy blyk ’n kwade swelling van my lyf, / ’n Tumor met die voorkoms van ’n mens, / ’n Pitsweer wat ek met ’n seun verwar./ ’n Grote puis, ’n etterklier wat skuim, / ’n Gistende karbonkel, vol vuil bloed. / Maar goed! Ek wil nie skel nie.”

Sy lag en sê: “Dis wat so lekker is van hierdie teks!”

Krog: “Dis moeilik om jambes reg te kry in Afrikaans en darem nog hedendaags te klink. Nederlands het baie ‘-en’ aan hulle woorde (mogen plaatsen, titanen, helden) wat héérlik is vir jambes, maar iets anders vra in Afrikaans . . .”

Kellermann: “Die ander monoloog wat moeilik is om perfek te laat eskaleer, is wanneer Lear die vloek op haar kinders uitspreek. Dis van die moeilikste om te speel en te bou . . . By Aardklop is ek een aand byna fisiek misvorm soos wat ek moes inhou om by daardie plek uit te kom. Dis ’n verskríklike vloek daai . . .”

‘My oë is dood’

Lear, Gregory en sy vrou, Connie, vertolk deur Anna-Mart van der Merwe. Foto: Neels van Jaarsveld

Krog: “Wat maak verhoudings met ander akteurs betekenisvol op so ’n verhoog? Daar was byvoorbeeld die mooi opmerking van Neels [van Jaarsveld, wat die rol van Lear se seun Gregory vertolk] in Oudtshoorn; hy sê hy staan so naby aan jou dat hy homself in jou oë kan sien – hoe scáry dit op een vlak is, maar ook wat ’n ongelooflike voorreg . . .”

Kellermann: “Omdat jy in die begin so betrokke is by jou eie karakter en jou eie lewe binne die toneelstuk, is daar báie min kontak . . . vir mý. My oë, dink ek, is dood. Jy dínk jy kyk iemand in die oë, maar jy het ’n baas, want jy fokus op die innerlike werk van jou teks. Maar die wonderlike ding . . . as daai boeie áf is en jy jou vryheid kry en jy begin vloei en klein goedjies kom by want jy voel veilig en die teks kom natuurlik by sy binneste lewe.

“Maar weer eens, dis ook moeilik: jy mág nie vooruit dink nie! . . . dis ’n moerse gevaarlike ding want dan slaat jou teks weg; jou kop spring.”

Basson: “Of as jy begin nadink: ‘Dit was verkeerd.’ "

Ons doen ’n vorm van ’n haka voor ons opgaan, jy weet as die Springbokke so gaan kniel voor die tyd . . . ons doen daai hele hopie-ding.
Antoinette Kellermann

Kellermann: “Jy moet die heeltyd ín die oomblik bly. Dis die wonderlikste ding op ’n verhoog, as almal in die oomblik is.”

Basson: “Dis dan soos water."

Kellermann: “Dis Neels se oomblik. Dít lê in oë. Die oomblik as jy met iemand oogkontak maak, maak jy op ’n vreemde manier emosionele kontak as karákter, én as speler.”

Basson: “Dis ’n uitsonderlike groep in Koningin Lear.”

Kellermann: “Ons doen ’n vorm van ’n haka voor ons opgaan, jy weet as die Springbokke so gaan kniel voor die tyd . . . ons doen daai hele hopie-ding. Neels het dit begin – ons sit ons hande so op mekaar en roep dan: ‘Go, Lear!!’ ”

‘Jy moet ’n passie hê’

Basson en Kellermann. Foto: Hugo Theart

Krog: “Ek dink dit is so ’n voorreg om Koningin Lear te kan beleef. Jy sién nie meer so ’n range van vaardigheid op die verhoog nie, so ’n skaal van emosies of diepgang van taal en betekenis. Dit resoneer met oudword, met weggegooi wees, maar ook: hoe val wit rykdom uitmekaar? Jy het die stuk gekies vir jou fees, Hugo, hoe het die geld gewerk?"

Theart: “As ek iets lees en weet daar is hiérdie mense wat jy hierby betrokke kan maak, dan wíl jy dit laat gebeur; dan móét jy dit laat gebeur; dan is dit jou plíg om dit te laat gebeur. Jy moet ’n pássie hê, want jy moet dan ander mense oortuig waarom daar geld hieraan bestee moet word.

“Die geld het gekom van Kunste Onbeperk en van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) af. En dan kry jy nou bietjies, bietjies, bietjies soos van die Vlaamse Fonds af vir die vertaling, en so aan. Vir vandag se tye is dit redelik, maar binne die konteks van wat eintlik moet gebeur, is dit baie min.

“Is dit die moeite werd? Een honderd persent, want jy het daardie aspirasie nodig na iets groots, net soos wat jy klein wonderlike juwele by ’n fees moet hê. ’n Mens kan dit nie elke jaar doen nie, maar ten minste elke nou en dan moet jy iets groots, iets van hierdie kaliber aanpak, want waarheen gaan ons anders?"

Krog: “Tom sê altyd as hy hier weggaan kry hy so skaam oor hoe gul hulle kunste ondersteun word en watter wondere ons hier met so min verrig. En dis waar, die dag as niemand meer kans sien vir so iets nie, dan is dit ook maar die einde, nè?”

*Koningin Lear is van 7 tot 16 November in die Baxter-teatersentrum.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.