Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Droom die DA of wag sukses op hom?

Het die DA rede om positief te voel oor Oktober se munisipale verkiesing, wonder Wayne Sussman.

Die tussenverkiesing in wyk 44 van die Tshwane-metroraad verlede week by die Bright Beginnings-kleuterskool in Faerie Glen. Foto: Deon Raath

Suid-Afrika se munisipale verkiesing is ons ekwivalent van die Amerikaanse middeltermynverkiesing. Dit is die belangrikste verkiesing tussen die nasionale en provinsiale verkiesing en ’n geleentheid vir kiesers om die regerende party te waarsku om hul sokkies op te trek.

’n Goeie voorbeeld hiervan was die manier waarop kiesers die ANC in 2016 se “middeltermyn”- munisipale verkiesing gestraf het toe hul steun van 61% tot 54% gedaal het. Toe het die DA 27% van die stemme landswyd verower – ’n belangrike deurbraak vir ’n party wie se voorganger, die DP, in 1994 met minder as 2% van die stemme tevrede moes wees.

Die DA se grootste deurbraak in 2016 was in die Nelson Mandelabaai- en Tshwane-metro. Die toenemende vertroue van Suid-Afrikaners in die DA het meegebring dat die ANC ook onder 50% gedwing is in plekke soos Metsimaholo (Sasolburg), Mogale City (Krugersdorp), Rustenburg en Thabazimbi.

Daar was euforiese tonele buite die Gqeberha-stadsaal.

Daar was euforiese tonele buite die Gqeberha-stadsaal (die voormalige Port Elizabeth) en die Vryheidspark in Pretoria, waar die DA historiese oorwinnings behaal het. Die skare wat by hierdie geleenthede bymekaargekom het, was ver van die klein stempoel wat in 1994 vir die DA gestem het. Dit het jong swart aktiviste ingesluit wat trots was om hulle met die DA te identifiseer.

Dit het ook Afrikaanssprekende kiesers ingesluit wat die geleentheid gebruik het om vir ’n party te stem wat die ANC in byna al die metro’s kon uitdaag. En ook bruin, Indiër- en Moslem-kiesers wat nie aangetrokke gevoel het tot partye wat net op hul groepsbelange gefokus het nie. Die 2016-verkiesing was ongetwyfeld ’n monumentale gebeurtenis vir die DA.

Draai die horlosie vorentoe na vroeg in 2019 toe die eerste krake begin wys het toe kiesers wat die party nog drie jaar tevore ondersteun het, gewys het dat hulle ongelukkig was oor die rigting wat die party ingeslaan het. Hulle was duidelik ook ongelukkig oor die gebrek aan verandering in die metro’s waar die party saam met sy koalisievennote regeer het – en ook oor die feit dat die DA met die EFF begin saamwerk het.

Kiesers het groot verwagtinge van die “party van dienslewerings” gehad, maar dinge was nie besig om volgens plan te verloop nie. Die DA was aan die skarrel, terwyl die ANC op koers was vir ’n sterk vertoning.

Tog moet ’n mens die manier waarop die DA teruggesak het tussen Augustus 2016 en Mei 2019 in konteks sien: In ’n verkiesing waar die grootste party onderpresteer en die opposisieparty oorpresteer (soos in 2016) is dit altyd makliker vir die regerende party om weer van daardie verlore setels terug te wen as hulle weer hul sokkies opgetrek het en dinge gestabiliseer het.

Die tendens het net sedertdien voortgeduur en in die laaste paar tussenverkiesings (waarvan die laaste ronde verlede Woensdag plaasgevind het) het die DA ’n baie groter taak gehad om die grond wat hulle gewen het te behou as wat die ANC gehad het om daardie grondgebied terug te wen.

                                                                                  ***

In die eerste tydperk wat ek hier probeer ontleed – tussen die munisipale verkiesing in 2016 en die Schweizer-Reneke-voorval vroeg in 2019 – was die meeste tussenverkiesings wat die DA verloor het, in marginale wyke.

Tog was daar drie waarskuwingstekens: DA-kiesers in Metsimaholo (Sasolburg) was nie baie entoesiasties om te gaan stem nadat die verkiesing herhaal moes word nadat die regeringskoalisie (waarvan die DA ’n lid was) in duie gestort het nie. Kiesers het nie die “DA-verskil” in dienslewering gesien wat hulle verwag het nie.

Nog ’n onrusbarende terugslag was die verlies van ’n baie veilige setel in eThekwini (Shallcross), waar ongelukkigheid met die vorige DA-raadslid beteken het dat Indiër-kiesers die party in hul massas verlaat het in ’n eens sterk DA-vesting.

Daar was ook tekens dat kiesers in die ylbevolkte Weskus-streek van die Wes-Kaap nie tevrede was nie, aangesien die ANC twee indrukwekkende wykswinste daar gehad het.

                                                                                 ***

Die volgende duidelike tydperk wat ontleding verg, is die tydperk ná die Schweizer-Reneke-voorval en Mmusi Maimane se bedanking kort ná 2019 se algemene verkiesing.

Afrikaanse ondersteuners van die party was stomgeslaan oor Maimane se hantering van die Elana Barkhuizen-voorval by ’n skool in Schweizer-Reneke. Tydens die voorval het die DA hom by die EFF geskaar eerder as om hulle eers te vergewis van die feite oor Barkhuizen se “rassistiese optrede” deur wit en swart kinders in haar klas te skei.

Hierna het die VF Plus die DA in Matlosana (Stilfontein) en in JB Marks (Miederpark, Potchefstroom) verpletter. Dit was duidelik dat meer konserwatiewe ondersteuners van die party nie gelukkig was met die rigting wat die party ingeslaan het nie.

Teen die einde van Maimane se bewind as partyleier het die party van die eerste tot die derde grootste party in ’n tussenverkiesing in die Govan Mbeki (Bethal)-munisipaliteit geval toe kiesers die VF Plus bo die DA verkies het, met die gevolg dat die ANC die setel ingepalm het. Dit was teen daardie tyd so duidelik soos daglig: Afrikaanse kiesers in klein dorpies in die noorde van die land het nie ewige trou aan die party gesweer nie.

Die party kon steeds nie sy verliese aan die VF Plus beperk nie.

Só het Indiër- en Moslem-kiesers ook die DA vir die ANC begin verlaat in ’n tussenverkiesing in Endumeni (Glencoe) en Ekurhuleni (Actonville, Benoni) – nog tekens dat alles nie pluis was in die DA-huishouding nie.

Moslem-kiesers in Marlboro Gardens was van kritieke belang om die ANC te help om die DA uit te knikker in dié groot wyk in die noorde van Johannesburg wat ’n deel van Sandton en ’n deel van die Alexandra-township insluit. Kiesers hier was duidelik ontevrede met die hantering van grondgrype en informele nedersettings deur die DA-burgemeester, Herman Mashaba. Die DA is gesien as dat hy sy kiesers in die steek gelaat het.

Wat verder vir die DA kommerwekkend was, was ’n tussenverkiesing in Msunduzi (Allandale, Pietermaritzburg). Dit was ’n veilige afdeling waar die party nog in 2019 kon staatmaak op sterk steun. Slegs ’n paar maande later het die hoofsaaklik Indiërgemeenskap van Allandale nie eens die moeite gedoen om op te daag op stemdag nie. Kiesers van Copes­ville het dit wel gedoen, wat die ANC in staat gestel het om vir ’n groot opskudding te sorg.

Onder Maimane was die party besig om konserwatiewe Afrikaanse, Indiër- en Moslem-kiesers te verloor en het steeds gesukkel om kiesers wat nie meer vir die ANC wou stem nie te oortuig om DA toe te kom. En dit van ’n party wat nog altyd daarin kon slaag om wyke te wen deur meer kiesers as die opposisie by die stembus te kry. Dat hulle nie meer in staat was om hul kernstrategie tot uitvoer te bring nie, was rede tot kommer.

                                                                                 ***

Dit was duidelik dat die party tot aksie moes oorgaan. Die remedies wat die party in plek gestel het, het gelei tot die onmiddellike bedanking van die Johannesburgse burgemeester, Herman Mashaba; die partyleier, Mmusi Maimane; en die federale voorsitter, Athol Trollip.

Tog kon die party steeds nie sy verliese aan die VF Plus beperk nie. Hulle het nog twee wyke aan dié party in Noordwes afgestaan – in Schweizer-Reneke en meer kommerwekkend, in Potchefstroom. Dit het gelyk asof die VF Plus net vir ’n tussenverkiesing in Noordwes moes opdaag om die DA te klop.

Ook in die suide van Johannesburg het kiesers hul toorn teenoor die DA uitgespreek toe die party drie wyke op een dag verloor het. Bruin kiesers het Gayton McKenzie se Patriotic Alliance (PA) in Riverlea ondersteun en Moslem-kiesers in Lenasia het hul stem aan Al-Jamah gegee.

Daar was woede oor Ma­shaba, daar was woede oor die DA wat nie grondbesettings stopgesit het toe hy die stad beheer het nie, en terselfdertyd het bruin kiesers in die suide van die stad ’n nuwe tuiste in die PA gevind omdat dié party ondubbelsinnig was oor wie hulle verteenwoordig.

Hierdie nagmerrie in die suide van Johannesburg het homself verlede Woensdag herhaal toe die PA twee veilige setels van die DA in Eldoradopark verower het en die ANC ’n wyk in Ennerdale en Finetown kon wen omdat die PA en DA die bruin stem verdeel het, met die DA wat na ’n slegte derde plek afgeskuif het.

In hierdie tyd het die party ook wyke in die Tuinroete-distrik in die Wes-Kaap aan die ANC en Patricia de Lille se Good afgestaan soos die DA se steun verder onder bruin landelike kiesers in die Wes-Kaap getaan het.

Die nuwe leierskap en die nuwe rigting wat die party ingeslaan het, kon steeds nie die bloeding van die 2019-verkiesingswond stop nie.

                                                                                    ***

Is daar êrens hier ’n goue randjie om dié donker wolk?

Die party het wel ’n prototipe van hoe om goed te vaar in tussenverkiesings en munisipale verkiesings. Hiervan is daar goeie voorbeelde in Walter Sisulu (Aliwal-Noord) en Matjhabeng (Welkom) sedert die laaste munisipale verkiesing. Die party kon hier daarin slaag om gewilde kandidate in die gemeenskap te werf.

In Walter Sisulu kon die DA twee wyke van die ANC afneem met die hulp van die hardwerkende parlementslid Annette Steyn.

In Matjhabeng het die DA ’n setel in Hennenman verower en Woensdag baie naby daaraan gekom om die ANC in Odendaalsrus te klop.

In April het die Ratings Afrika Municipal Financial Sustainability Index (MFSI) aangekondig dat die vyf beste munisipaliteite in die land almal munisipaliteite is wat met regstreekse DA-meerderhede bestuur word.

Ek het verwag dat die party verlede week se tussenverkiesings in Tshwane se wyk 3 (Danville, Pretoria-Wes) en wyk 92 (Arcadia, Hatfield) sou verloor. Ek is verkeerd bewys. Die stempersentasie was klein, maar tog het die party hierdie setels behou. Met die nasionale verkiesing in 2019 het die ANC in dié gebied sterk steun gewen ten koste van die DA, maar tog kon die DA verlede Woensdag die volgehoue aanslag afweer. Dit behoort hulle baie moed te gee.

Die party is ook met hul veldtog vir vanjaar se munisipale verkiesing vinniger uit die blokke as al sy teenstanders.

Tog is daar min teken dat die ANC se steun in die metro’s besig is om in duie te stort.

Die DA se federale voorsitter, Helen Zille, is wel reg as sy sê dat die tussenverkiesingsuitslag in Kaapstad se wyk 88 (Philippi) die ANC baie benoud behoort te maak. Hier het ANC-steun gedaal van 71% na 46% terwyl die EFF-steun meer as verdriedubbel het tot 26% en die DA derde was op 22% (marginaal op van 19% in 2016.

Elders in die land staan die ANC egter steeds rotsvas. In Mangaung (Bloemfontein) het die ANC se steun toegeneem of minstens dieselfde gebly as in 2019 tydens drie agtereenvolgende tussenverkiesings teen die EFF in Botshabelo en Chris Hani einde verlede jaar.

In New Brighton in Nelson Mandelabaai het die ANC in ’n onlangse tussenverkiesing meer as 90% van die stemme gekry in ’n tweeperd-wedloop met die EFF. In ’n onlangse Ekurhuleni-tussenverkiesing in Katlehong het die ANC ook sy steun verhoog.

Ten spyte van die depressiewe prentjie vir die DA lyk dit tog of daar groot optimisme onder partylede vir die munisipale verkiesing op 27 Oktober heers. Miskien is daar iets in dié uitslae wat ek miskyk.

* Wayne Sussman is ’n onafhanklike verkiesingsontleder.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Mmusi Maimane  |  Athol Trollip  |  Vf Plus  |  Tussenverkiesings  |  Opposisiepartye  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.