Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Druk van rassisme kan Bokke, SA laat struikel

Hy het as afrigter van Zola Budd geleer dat politieke druk ’n nadelige invloed op sportlui se vertonings kan hê en glo daarom voortdurende bewerings van rassisme sal die Bokke se spel nadelig beïnvloed, skryf Pieter Labuschagne.

Eben Etzebeth, om wie se kop daar ’n rasse-storm losgebars het, omhels Cheslin Kolbe ná een van dié vleuel se drieë in die Wêreldbeker-wedstryd teen Italië. Foto: Gallo Imgaes

Is dit eties aanvaarbaar of gepas dat ’n land, wat intern só op rassegronde verdeeld is, rugby se Wêreldbeker verower?

In 1995 het die eertydse reënboognasie onder die trusteeskap van Nelson Mandela as president verenig agter die Springbokke gestaan. Dié eenheid was ’n emosionele, nasionalistiese gety van 45 miljoen mense wat die Bokke tot ’n oorwinning gedra het.

In 2007 se Wêreldbeker-toernooi was Suid-Afrika nie weer so sterk agter die span verenig nie. Oudpres. Thabo Mbeki was anders as Mandela ongemaklik en styf in die rol van morele rasieleier. Die Springbokke het egter breë steun geniet en – baie belangrik – daar was geen rassekonflikte wat die span se aandag kon verdeel nie.

Omstredenheid oor ras verdeel die span se aandag en plaas hom onder onnodige politieke druk wat hom in sy opmars na die eindstryd kan pootjie.

Die Springbokke het nou weer, soos in 1995 en 2007, ’n spanbestuur en spelers wat dit kan regkry om in die eindstryd te speel. Die Bokke is danksy die kundige afrigting en beplanning van hul breier, Rassie Erasmus, en sy afrigtingspan, ’n pak wat nie sy gelyke in die toernooi het nie, en briljante individuele spelers in die agterlyn, soos Handré Pollard en Cheslin Kolbe ’n gedugte span.

Daarom is die omstredenheid oor ras, soos die voorvalle rondom Eben Etzebeth en Makazole Mapimpi, betreurenswaardig.

Dit verdeel die span se aandag en plaas hom onder onnodige politieke druk wat hom in sy opmars na die eindstryd kan pootjie.

Is Suid-Afrika as land in dié opsig nie self sy eie grootste vyand nie?

Invloed van politieke spanning

Zola Budd in aksie in ’n wedloop in Engeland in 1984.Foto: Getty Images

My ervaring as afrigter van Zola Budd in 1984-1986 het my geleer watter impak politieke druk op sportlui kan hê.

Die internasionale druk in internasionale wedlope en toernooie vir sportmanne of vroue is net-net binne beheerbare vlakke. As dit nie binne beheerbare vlakke gehou kan word nie, spoel dit vinnig oor in swak vertonings, verdeelde aandag en gebrekkige konsentrasie. Sportlui se geestelike energie word verdeel en getap en prestasie neem diensooreenkomstig af.

Zola Budd en Pieter Labuschagne op ’n byeenkoms in 1984 in Crystal Palace, Londen. Foto: Getty Images

In 1985 het Budd sewe agtereenvolgende persoonlike beste tye aangeteken, die Wêreld-landloopbyeenkoms en die Europese Beker-byeenkoms gewen. In 1986 was haar oefentye op hoër vlakke as in die vorige jaar, maar haar prestasie het baie afgeneem. Die rede was die druk wat ontstaan het weens haar deelname aan die Statebondspele van 1986 en die tap van haar en haar afrigtingspan se geestelike energie.

Die ekstra politieke druk in kombinasie met die gewone druk het net te veel geword en dié aspek speel voortdurend ’n rol in Suid-Afrikaanse spanne se vertonings.

In internasionale sport is fokus van kritieke belang en omstredenheid langs die kantlyn het die vermoë om dit te versteur.

John Smit en oudpres. Thabo Mbeki met die Wêreldbeker in 2007. Foto: Getty Images

John Smit, kaptein van die Bokke toe hulle in 2007 die Wêreldbeker gewen het, het in ’n onderhoud verwys na die keer toe Richie McCaw, die All Black-kaptein, geluister het na ’n lang telefoniese onderhoud wat hy met ’n joernalis gehad het.

McCaw het agterna opgemerk dat die hele onderhoud oor politiek gegaan het en nie rugby nie.

Hoeveel ander internasionale spanne is tydens internasionale toernooie opgeskeep met sport- én politieke kwessies?

Is dit regverdig teenoor ons Bokke dat hulle die kans ontneem word om net op rugby te konsentreer?

Die All Blacks of die Iere kan net op rugby konsentreer en die probleme wat hulle mag ervaar, het bitter min met politiek te doen en kan maklik opgelos word.

Dit is duidelik dat die aanklagte van aanranding en rassisme teen Etzebeth sy spel beïnvloed. Die aandrang dat hy na Suid-Afrika teruggestuur moet word en bespiegelinge op sosiale media het egter ook ’n negatiewe invloed op sy spanmaats en die spanbestuur.

Die media en ondersteuners vra vrae wat niks met rugby te doen het nie en dit lei die aandag af van die doel waarvoor die Springbokke in Japan is.

Die spanning sal toeneem en namate die kwarteindronde nader kom, sal die bykomende druk oor bewerings van rassisme die water oor die spreekwoordelike glas se rand laat stort.

Bewerings oor Etzebeth se optrede in Langebaan waar ’n man glo aangerand en rassisties beledig is, hang nie net soos ’n onwelkome skadu oor die Springbokke nie, maar selfs die geringste ding beland nou ook onder die vergrootglas van rassisme – soos met die Mapimpi-voorval ná die wedstryd teen Italië gesien is toe hy glo uitgesluit is van ’n groepie wit spelers se feesvieringe.

Verdien ons om die Wêreldbeker te wen?

Een van die mees ikoniese foto’s van die afgelope 25 jaar: Oudpres. Nelson Mandela oorhandig die Wêreldbeker aan Francois Pienaar ná die Springbokke se sege in 1995.Foto: Jan Hamman

Ons het ná die Springbokke se oorwinning oor Italië in ’n restaurant gaan eet om die sege te vier. Al die personeel in die restaurant het Springboktruie aangehad en toe ons die oorwinning met ’n kelner wou deel, het sy reaksie ons verras. Hy het taamlik skerp opgemerk hy dra die Springboktrui net omdat die eienaar hom opdrag gegee het om dit te doen en dat hy die All Blacks ondersteun.

Tog glo ek die meerderheid Suid-Afrikaners steun die Bokke en dat daar met die aanwysing van Siya Kolisi as kaptein reuse-treë gegee is om rugby ’n sport vir almal in die land te maak.

Die Springbokke verdien uiteraard om die Wêreldbeker op grond van die span se peil te wen. Die Bokke tel beslis onder die vyf beste spanne ter wêreld.

Makazole Mapimpi, Eben Etzebeth (nr. 4) en Siya Kolisi vier die Springbokke se sege oor Italië in die onlangse Wêreldbeker-wedstryd.Foto: Getty Images

Maar verdien ons (die land) die beker?

Op ’n etiese en humanitêre vlak is die voortdurende oordrewe opblaas van rassekwessies simptomaties van ’n samelewing, wat nie bokant probleme kan uitstyg nie. Die werklikheid is dat daar nog soveel verdeeldheid oor rassisme in die land is dat selfs oënskynlik onskuldige voorvalle soos dié met Mapimpi die voorblaaie van koerante kan haal.

Ons is ons eie grootste vyande.

Ramaphosa het nog geen poging aangewend om die Wêreldbekertoernooi te gebruik om eenheid in die land te bevorder nie.

In die aanloop tot die toernooi en ook met die eerste wedstryde het pres. Cyril Rampahosa, wat die solidariteit en eenheid van die land as ’n prioriteit behoort te beskou, sy afstand gehandhaaf. Ramaphosa het nog geen poging aangewend om die Wêreldbekertoernooi te gebruik om eenheid in die land te bevorder nie.

Daar kan net gehoop word dat namate die Springbokke die halfeindstryd nader die nasiebougees weer sal opvlam en dat ons as ’n nasie kan verenig om bokant sieklike en selfvernietigende rassisme te kan uitstyg.

As ons dit regkry en as ’n verenigde Suid-Afrika na die buitewêreld kyk, verdien ons as land om die Wêreldbeker te wen – net soos in 1995.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.