SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Aktueel
Duitsland: Die muur in mense se koppe staan nog

Dit was Saterdag, 9 November, presies 30 jaar gelede dat die Berlynse Muur geval het. Wat is die stand van sake vandag? Leopold Scholtz gee ’n gemengde antwoord.

Toeriste gee ’n kamera aan deur ’n gat in ’n deel van die Berlynse Muur wat nog staan. Foto: AP

Dit is Donderdagmiddag laat, 9 November 1989. Op ’n perskonferensie kry die woordvoerder van die Oos-Duitse regering, Günther Schabowski, opeens ’n nota voor sy neus waarin staan dat die kommunistiese regime die verbod op buitelandse reise ophef.

“Wanneer word dit van krag?” vra ’n verslaggewer.

Enigsins aarselend antwoord Schabowski: “Sover ek weet, onmiddellik.”

Binne enkele ure versprei die nuus soos ’n veldbrand. Tienduisende Oos-Duitsers drom by die enkele grensoorgange tussen Oos- en Wes-Berlyn saam en eis om deurgelaat te word.

Uiteindelik neem ’n kolonel wat vir bloedvergieting van die steeds woedender wordende menigte vrees die inisiatief en gee opdrag dat alle grensoorgange oopgestel word. Die Muur het geval.

Sommige oos-Duitse streke beleef laer werkloosheidsyfers as in die weste.

Terug kon sake nie meer nie. Die Duitse Demokratiese Republiek (DDR, oftewel Oos-Duitsland) was ’n kunsmatige skepping van die Koue Oorlog. Die einde van dié konfrontasie, saam met die val van die Muur, het ’n onkeerbare getygolf aan die gang gesit wat uitgeloop het op een van die grootste geopolitieke herskikkings van die 20ste eeu.

Duitsland is herenig. Die Sowjet-juk oor Sentraal-Europa is gelig. Die Sowjetunie het verbrokkel. Die kommunistiese militêre bondgenootskap, die Warschau-pakt, is opgehef, en sowel Navo as die Europese Unie het talle Sentraal- en Oos-Europese state opgeneem.

Maar hoe gaan dit sedertdien met Duitsland? As jy slegs na die harde statistieke kyk, was die hereniging ’n duidelike sukses.

Dit het begin met die omvorming van die rampspoedig ondoeltreffende kommunistiese ekonomie na een gegrond op die vrye mark. Dis moontlik gemaak deur ’n stroom owerheidsgeld wat in die ooste ingepomp is (byna €2 000 miljard). Dit het 3 miljoen mense weliswaar in werkloosheid gedompel omdat die kommunistiese ondernemings opgehef of geprivatiseer moes word, maar dié aanvanklike ontbering is grotendeels verby.

Sommige oos-Duitse streke beleef laer werkloosheidsyfers as in die weste. Die inkomste van die gemiddelde inwoner in een van die ses oos-Duitse deelstate is 85% van dié in die weste, waar die lewenskoste hoër is. Die laer lewensverwagting wat in die ooste gegeld het, trek nou gelyk met dié in die weste.

Maar geld is nie alles nie.

Die muur in mense se koppe

’n Vrou skryf ’n boodskap op ’n muur by die Georgetown-universiteit in Washington in die VSA as deel van die vieringe van die val van die Berlynse Muur 30 jaar gelede. Foto: Reuters

Uit talle ondersoeke blyk dat die fisieke muur weliswaar weg is en dat die twee Duitslande op verskeie terreine inmekaar vloei, maar dat die muur in baie mense se koppe nog bestaan.

Luidens ’n onlangse regeringsverslag meen slegs 38% van alle oos-Duitsers dat die hereniging geslaag was. By mense onder 40 jaar – dié wat die ou DDR nie meegemaak het nie – daal die persentasie tot 20.

’n Mens sien dié ontevredenheid veral in kiesers se stemgedrag.

In die weste stem die kiesers oorweldigend vir een van die gevestigde partye, die Christen-Demokrate, die Sosiaal-Demokrate en die Liberaal-Demokrate. In die ooste is die polarisering vele male groter.

In die pas afgelope deelstaatverkiesing in die oostelike deelstaat Thüringen het die Linkses, die erfgename van die ou oos-Duitse kommuniste, 31% van die stemme (’n vordering van 2,8 persentasiepunte vergeleke met vier jaar gelede) getrek, terwyl 23,4% van die kiesers (12,8 punte meer) vir die ekstreemregse Alternative für Deutschland (AfD) gestem het. Daarteenoor het die gevestigde Christen-Demokrate met 11,7 punte tot 21,8% (dus minder as die AfD) gedaal.

Jong mense van Berlyn sit in 2014 op die muur wat hul stad eens verdeel het. Foto: AP

Neem in ag dat die doelbewuste provokasies van die AfD-leier in Thüringen, Björn Höcke, hom by wyse van spreke net ’n millimeter van die Nazi-gedagtegoed posisioneer, en dis duidelik dat iets hier aan die gang is. Ook in ander oostelike deelstate het die Linkses en die AfD goed gegroei, ofskoon nie heeltemal in dieselfde mate as in Thüringen nie.

Die AfD se belangrikste propaganda-item is verset teen immigrasie. Wat sake des te eienaardiger maak, is dat die persentasie vreemdelinge van dié deelstaat (4) onder die laagste in die hele land is.

Koppel dit nou met die ewe sterk groei vir die Linkses, en dit wys dat die verset teen immigrante, altans sover dit die oostelike deelstate betref, as verklaring vir die sterk AfD-steun sterk oordryf word. As ’n mens dieper grawe, kom jy op ’n ander, interessante verskynsel af, iets wat ek uit eie ervaring op grond van my gereelde besoeke aan Duitsland kan bevestig.

Dit is die gevoel onder die Ossi’s (oos-Duitsers) dat die Wessi’s op hulle neerkyk. Dit is waar; ek het male sonder tal gemerk hoe die Wessi’s half meewarig, half minagtend, na die Ossi’s verwys as naïewelinge wat nie die kwaai mededingendheid van die Wes-Europese kultuur sonder spesiale hulp kan oorleef nie.

Ostalgie

Angela Merkel, kanselier van Duitsland: “Wat baie Wes-Duitsers moeilik kan begryp, is dat jy ook onder ’n diktatuur ’n geslaagde lewe kan lei.” Foto: Getty Images

Onder die Ossi’s heers in mindere of meerdere mate ’n gevoel wat die Duitsers noem Ostalgie – nostalgie na die dae van die DDR, toe daar glo meer van ’n saamhorigheid onder mense was, pleks van die huidige elkeen vir homself. (Ofskoon, in ’n land waar die geheime polisie, die Stasi, op sowat 620 000 verklikkers in die bevolking staat gemaak het, was dié saamhorigheid maar relatief.)

Nietemin, kanselier Angela Merkel, self ’n Ossi, het dit goed in ’n onderhoud met die nuustydskrif Der Spiegel verwoord:

“Wat baie Wes-Duitsers moeilik kan begryp, is dat jy ook onder ’n diktatuur ’n geslaagde lewe kan lei. Dat ons ook familie en vriende gehad het, met wie ons ondanks die staat verjaarsdae gevier en Kersfees of verdriet gedeel het. Omdat dié kant van ons lewens in die DDR deur baie Wes-Duitsers nie gesien word nie of ontken word, ontstaan in die reaksie van menige Oos-Duitser ’n soort romantisering: Ons lewe in die DDR kan niemand van ons afneem nie.”

Anders as in die weste, is die mense in die ooste nie met hul eie aktiewe of passiewe skuld gekonfronteer nie.

Nog ’n faktor is dat die oostelike deelstate – in teenstelling met dié in die Weste – nie die pynlike en moeisame pad van demokratisering en de-nazifisering kon volg nie. Die mense in die DDR is wysgemaak dat húlle onskuldige slagoffers van die Nazi-regime was, dat die “imperialistiese” Wes-Duitse regering vol gewese Nazi’s sit.

Anders as in die weste, is die mense in die ooste nie met hul eie aktiewe of passiewe skuld gekonfronteer nie. Vandaar dat so baie van hulle so maklik op populistiese partye naby aan die kommunisme of Naziïsme – die Linkses en die AfD – stem.

In die eerste gesamentlike algemene verkiesing van die herenigde Duitsland in Desember 1990 het bondskanselier Helmut Kohl “bloeiende landskappe” beloof. Dit het veel langer geduur as wat hy bedoel het, maar ekonomies word die verskil tussen die weste en ooste steeds kleiner.

In die afwesigheid van die fisieke Muur wat Berlyn en Duitsland so lank in twee verdeel het, het die muur in die koppe van baie mense steeds nie verdwyn nie. Omdat ’n herverdeling van die land ondenkbaar is, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die “Mauer im Kopf” ook wegkwyn.

* Dr. Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Angela Merkel  |  Duitsland  |  Berlyn  |  Koue Oorlog  |  Berlynse Muur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.