Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Duiwe kan valke verjaag
Pres. Cyril Rampahosa praat met verslaggewers nadat hy die afgelope naweek met die leiers van kleiner politieke partye oor die Covid-19-pandemie vergader het. Foto: Felix Dlangamandla

Die moontlikheid van ’n groot gematigde politieke party is dalk een van die positiewe gevolge van die Covid-19-pandemie, skryf Pieter Labuschagne.

Dis dikwels die sameloop van verskillende weerstelsels in die natuur wat tot die ontstaan van ’n “perfekte” maar verwoestende storm kan lei. In ons politiek is daar waarneembare tekens van die opbou van soortgelyke faktore wat die potensiaal het om ’n “perfekte” politieke storm te skep.

Die huidige sameloop van omstandighede het die potensiaal om toenemende politieke onstabiliteit te skep wat selfs die ANC se skip in twee kan laat breek.

Pres. Cyril Ramaphosa het sedert die 2019-verkiesing versigtig te werk gegaan om van die vrot appels in die ANC ontslae te raak. Die meeste van hulle is tot die rand van die party gemarginaliseer en van buite lyk dit of die barste vir eers toegesmeer is.

Die meer radikale valke in die party, met hul sterk sosialistiese denke onder hul de facto-leier, Ace Magashule, is egter steeds stewig in die ANC-regering geposisioneer.

Die wesenlik bedreiging wat dié ekstremiste met hul sosialistiese beskouings vir eenheid in die party inhou, het dus nie verdwyn nie. Hulle beweeg net onder die spreekwoordelike radar.

Covid-19-kalmte dalk tydelik

Onder leiding van die sterk en bekwame leierskap van Ramaphosa het die regering uitmuntend daarin geslaag om te midde van groot verdeeldheid en kommer oor die Covid-19-pandemie ’n illusie van solidariteit oor partygrense heen te skep.

Die byeenkoms en gesamentlike verklarings met die verskillende opposisiepartyleiers was ’n meesterlike skuif. Selfs Julius Malema van die EFF het meer gematig as gewoonlik voorgekom in sy reaksie, en sy verklaring het in die geheel tot die gerusstelling bygedra.

Ramaphosa en die regering se beredeneerde stappe en gebeurlikheidsplanne om die virus te bekamp, het reeds vrugte afgewerp. Die gevolg is dat sy aansien selfs buite die ANC heelwat gestyg het.

Dié kalm politieke water mag egter net tydelik wees. Die getal mense wat in dié stadium die virus opgedoen het, is hanteerbaar klein in vergelyking met sommige Europese lande. Indien die verspreiding van die virus voortduur en die toename dramaties verskerp, veral in informele nedersettings met min of geen kwarantyngeriewe nie, kan die situasie vinnig versleg.

Die verskerpte maatreëls en die regering se beperkings om die verspreiding te bekamp, sal geleidelik meer byt begin kry, wat mense se lewe nog meer sal inperk. Die inperking en beheer oor die groter bevolking kan geleidelik met tyd die positiewe siening van die regering na ’n negatiewe een laat omswaai.

Daar is reeds kommer uitgespreek oor toestande in staatshospitale, en as meer en meer mense met Covid-19 opgeneem moet word, kan ons wisselende vorme van verval sien wat die positiewe prentjie handomkeer kan verander.

As ontwikkelde lande soos Italië, Spanje en Duitsland se hospitale dit moeilik vind om Covid-19-pasiënte te hanteer, kan ’n mens net dink wat in ons hospitale kan gebeur.

Wanneer Covid-19-pasiënte en hul families gefrustreerd oor ondoeltreffende gesondheidsdienste raak, kan die positiewe siening van die ANC blitsvinnig verander. Daar is reeds berigte dat mediese beamptes in toetssentrums in KwaZulu-Natal nie eens beskermde klere en maskers het nie.

Die valke teen die duiwe

Voor dit onder beheer gebring kan word, sal Covid-19 ’n invloed op die ekonomie en sosio-ekonomiese omstandighede hê. Die impak van beurtkrag het reeds baie klein ondernemings op hul knieë gedwing. Covid-19 sal dit verder vererger.

’n Handelaar in ’n voorheen besige winkelsentrum het my die naweek meegedeel dat minder as die helfte van die normale aantal klante in sy winkel daardie oggend deur sy deure gestap het. Die 21 dae van inperking beteken dat hy vir drie weke lank géén klante sal hê nie.

Die pap ekonomie en vooruitsigte van ’n nóg laer groeikoers laat die sosio-ekonomiese prentjie vorentoe al hoe donkerder lyk.

Die politieke weerstelsel wat gaan saamspan om die “perfekte” storm te skep, is die toepassing van die besparingsmaatreëls wat in die begrotingstoespraak aangekondig is.

Wanneer die korona-stormwind afgeneem het, sal daar na die besparingsmaatreëls teruggekeer moet word. Dit is duidelik dat dié aangekondigde stappe tot groot politieke teenreaksie en weerstand in verskeie sektore gaan lei.

Die vermindering van staatsuitgawes, soos die besnoeiing van die staat se salarisrekening, asook die ekonomiese herstrukturering van die SAL, sal ernstige gevolge vir die regerende party inhou.

Die afdanking van mense of vermindering van salarisse en die plafon op salarisverhogings, sal nie geredelik aanvaar word nie. Daar sal verskeie ontevrede en bitter ANC-ondersteuners wees wat hulle eensklaps in die koue gaan bevind.

In die volgende paar maande sal daar dus beslis uit vakbondgeledere skerp reaksie teenoor die besparingsmaatreëls en ander stappe wees en grootskaalse ontwrigting is selfs moontlik. Ramaphosa en die regering sal dus te midde van geweldige druk moet vasstaan.

Dit moet in gedagte gehou word dat die besparingsmaatreëls sterk kapitalisties gefundeerd is. Die beperking van staatsuitgawes te midde van ’n laer ekonomiese groeikoers, is standaard-optrede in ’n kapitalistiese huishouding.

Daar moet egter vir geen oomblik gedink word dat die sosialistiese denkers in die ANC se regtervleuel met die besparingsmaatreëls gediend sal wees nie.

Hul sentimente en lojaliteit is sterk verweef met dié van die werkers wie se poste in die gedrang is. . En dit is dieselfde werkers wat die politici mag gegee het deur vir hulle in verkiesings te stem.

Die punt is dit: Hoe harder Ramaphosa dus vorentoe beur met die besnoeiingsmaatreëls, hoe meer druk sal dit op die interne verdelingslyne in die ANC plaas.

Die verskille tussen dié twee groepe, die vakbonde en die valke in die ANC aan die een kant en Ramaphosa wat die gematigde duiwe lei, sal sterk na vore kom en ’n skeuring is nie onmoontlik nie.

Regering van nasionale eenheid

Die oplossing vir Suid-Afrika se toekoms is onteenseglik in sosiale solidariteit en die skep van ’n regering van nasionale eenheid geleë.

Die solidariteit, veral tussen die DA en die ANC, oor Covid-19 was opmerklik en moet spoedig in landsbelang uitgebou word.

In 1934 het genl. J.B.M. Hertzog en genl. Jan Smuts hul verskille in tye van ekonomiese agteruitgang en politieke onsekerheid opsy geskuif om die Verenigde Party te stig.

Die DA se pogings in 2019 om hom as ’n breë verteenwoordigende party op die politieke spektrum te vestig, het duidelik misluk.

Dit beteken egter nie dat die DA irrelevant geraak het nie. Dié party verteenwoordig steeds een uit elke vyf kiesers in die land.

Die DA is stewig in die gematigde liberale ruimte op die politieke spektrum ingebed en speel in dié opsig ’n belangrike rol. Dit is egter nodig dat die party ernstiger oor koalisievorming moet begin dink.

Die DA se poging om oor die ideologiese kloof heen samewerkingsooreenkomste in plaaslike regerings met die EFF aan te gaan, het skouspelagtig misluk.

Sy strategiese beskouing behoort sterker direk op die party langs hom op die ideologiese spektrum gefokus te wees – die linkervleuel (of duiwe) in die ANC. Skeur die ANC, kan Ramaphosa volgens kenners op sowat die helfte van dié party se steun staatmaak. In die landwye konteks beteken dit ongeveer 30% gematigde (nasionale) steun.

In geval van ’n skeuring sal die ideaal wees om ’n gematigde front te skep bestaande uit die Ramaphosa-faksie in die ANC (steun van 30% steun), die DA (20,7%), die IVP (3,38%) en die kleiner gematigde partye soos die ACDP en die UDM.

Die gematigde front van groter en kleiner partye kan ’n steunbasis van oor die 60% opbou, wat die land net kan versterk en die uitvoering van beleid makliker sal maak.

Die enigste wyse waarop die krisisse wat deur die “perfekte” storm geskep is die hoof gebied kan word, is deur ’n verenigde gematigde front. Dit beteken ook die isolering van radikalisme in die land.

Dit is tyd dat sterker opgetree word om radikalisme te beperk en diegene wat daarin glo te isoleer. Dit kan alleen gebeur, soos wat die eertydse eerste minister dr. D.F. Malan gesê het, wanneer individue wat dieselfde innerlike oortuiging het en in landsbelang wil optree by mekaar uitkom.

Die moontlikheid van ’n groot gematigde politieke party is dalk een van die positiewe gevolge van die Covid-19-pandemie.

  • Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa.
Meer oor:  Pieter Labuschagne  |  Valke  |  Inperkings  |  Koronavirus  |  Duiwe  |  Regering  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.