Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eendag was daar...

Geskiedenisonderrig in Suid-Afrikaanse skole: Beweeg ons nader aan 'n oplossing, vra Jackie Groble.

Veel is die afgelope paar weke gesê oor die departement van basiese onderwys se voorneme om geskiedenis as vak van 2023 verpligtend te maak vir alle hoërskoolleerlinge tot matriek.

Baie van dié kommentaar was ten beste sinies – of in die meeste gevalle openlik krities oor die planne.

Om leerlinge te dwing om geskiedenis tot in hul 12de skooljaar te neem, is egter nie so ’n slegte idee nie.

Reg aangebied is geskiedenis ’n manier om jongmense dieper insig te gee oor die land en wêreld waarin hulle leef, om hulle te leer om verskillende en dikwels teenstrydige standpunte op te weeg en om ingeligte menings en standpunte in te neem – nie net oor dit wat in die verlede gebeur het nie, maar ook oor dit wat op die oomblik in die land en in die wêreld gebeur.

Daan Potgieter, hoof van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria en self baie jare lank ’n geskiedenisonderwyser, sê hy is oortuig dat dié eienskappe van geskiedenis die ideale vak maak om ’n brugbouer in Suid-Afrika te wees en om verskillende groepe te help om mekaar beter te verstaan.

Die realiteit is egter dat geskiedenisonderrig op skool tans só afgeskeep word dat slegs ’n minimale persentasie van matriekleerlinge wat wél die vak neem, oor noemenswaardige kennis van die verlede beskik – wat nog te sê van die vermoë om gebeure te ontleed en vertolk.

Die rusie, in wese, gaan oor wat ingesluit moet word by so ’n leerplan.

My ervaring as dosent aan die Universiteit van Pretoria het dit jaar ná jaar bevestig. Minder as een uit tien geskiedenisstudente in hul eerste jaar was hoegenaamd seker wat eerste gebeur het: Die Franse Revolusie of die Eerste Wêreldoorlog. Slegs een uit 20 kon die kontinent waarop die stad Buenos Aires is op ’n wêreldkaart identifiseer. En wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis betref, was meer as die helfte van mening dat Jan van Riebeeck ? Voortrekkerleier was.

Natuurlik is dit nie ’n refleksie op alle skole nie. Daar is uitstekende geskiedenisonderwysers, maar hulle is – ongelukkig – yl gesaai. Gevolglik beskik ons jongmense, op enkele uitsonderings na, oor geen begrip van of kennis oor die verlede nie.

Die verheffing van geskiedenis tot verpligte vak tot gr. 12 sal hierdie leemte kan aanpak. Maar dit sal net kan gebeur indien verskeie slaggate vermy word.

Nommer een, volgens Potgieter, is die voorwaarde dat dit ons land se omstrede geskiedenis op die mees gebalanseerde wyse moontlik hanteer.

Maar kan dit gebeur? Is dit hoegenaamd moontlik?

Die eerste ding wat mens moet besef – en dit is ’n belangrike filosofiese onderskeid – is dat geskiedenis nie handel oor dit wat in die verlede gebeur het nie. Geskiedenis is bloot ’n poging om die verlede te probeer uitbeeld.

Sulke uitbeeldings kan op verskeie wyses geskied. Dit kan in ’n boek oor ’n historiese gebeurtenis wees of ’n skildery (soos die talle bekendes oor die Slag van Bloedrivier), ’n rolprent met ’n historiese tema (soos dié oor Viëtnam of Duinkerken), ’n dokumentêre prent op die History Channel of ’n historiese roman of selfs ’n verhoogproduksie (soos Evita).

Ons kan argumenteer oor die historiese “juistheid” van elkeen van dié uitbeeldings, maar aangesien geskiedenis altyd neerkom op ’n mens (of groep mense) se uitbeelding van die verlede, is dit in wese altyd subjektief.

Hoekom so? Want geen mens kan heeltemal objektief wees nie. Dit is veral die geval wanneer mense iets probeer uitbeeld of oorvertel wat lank gelede gebeur het en moet staatmaak op ander – noodwendig subjektiewe – beskrywings van gebeure. Die skrywer, kunstenaar of rolprentmaker word noodwendig beïnvloed deur die keuses van bronne – wie hulle insluit en uitsluit en aan wie hulle groter waarde heg as ander.

Die neiging van magshebbers om die verlede te gebruik om hul eie beheer te regverdig is nie eie aan die 21ste-eeuse Suid-Afrika nie. Dit het in die Verenigde State van Amerika gebeur toe die konsep manifest destiny gebruik is as regverdiging vir die Amerikaners se weswaartse uitbreiding oor die Noord-Amerikaanse kontinent.

Die gewaande meerderwaardigheid van die Anglo-Saksiese beskawing en die “wonderlike voordele” wat almal in Britse kolonies beleef het nadat die Rooibaadjies hulle uit hul “primitiewe stagnasie” gered het, het oral in die Britse Ryk as regverdiging vir die empaaier se oorloë gedien.

Die kommunistiese leiers van die Sowjet-Unie het van 1917 af die opvatting dat die klassestryd die gang van die mensdom bepaal, gebruik om die vestiging van die diktatuur van die proletariaat en die onderdrukking en volksmoord wat daarmee gepaard gegaan het, te regverdig.

In Suid-Afrika het maghebbers in die apartheidsera telkens die geskiedenis van hul stryd om reg en geregtigheid benut om die vestiging van wit baasskap te regverdig.

Die noodsaak om die geskiedenis in diens van politieke heerskappy te stel, lei dikwels daartoe dat geskiedenis of opvattings “geskep” word waar daar niks is om die gebeure of teorie te ondersteun nie. Die uitstaande voorbeeld in hedendaagse Suid-Afrika is die skepping van ’n hoofman genaamd Tshwane wat kwansuis oor die gebied waar Pretoria jare later gestig is, regeer het – dit net sodat die hoofstad na hom hernoem kon word.

Die Russiese skrywer en digter Boris Pasternak, skepper van die hoog geprese historiese roman Dokter Zjiwago, het in reaksie op die amptelike hantering van geskiedenis in die Sowjet-Unie in die volgstroom van die Revolusie van 1917 geskryf dat geskiedenis ’n verlede is wat met behulp van selektiewe herinnering deur mense geskep word.

Volgens die openbare verklarings in dié verband gaan die planne om geskiedenis ’n verpligte vak tot op matriekvlak te maak ook gepaard met die opstel en aanvaarding van ’n nuwe geskiedenisleerplan.

Die inhoud en aard van geskiedenisleerplanne op skool is op sigself ? omstrede onderwerp. Daar word telkens daaroor geredekawel en talle boeke en akademiese artikels is al daaroor geskryf.

Die rusie, in wese, gaan oor wat ingesluit moet word by so ’n leerplan en wat weggelaat moet word.

Die komitees wat daaroor besluit, ontvang hul riglyne van die departement van basiese onderrig. Die vernaamste riglyn,
in wese, is dat niks ingesluit sal word wat vir die owerheid ’n verleentheid sal skep nie. Die breë doelstellings van die regering moet deur die geskiedenisleerplanne gedien word. Dit is vandag so en dit was so in vorige bedelings.

Dekades voor apartheid, toe lord Milner en sy sogenaamde kindergarten direk ná die Anglo-Boereoorlog beheer gehad het oor die skoolleerplanne in die eertydse Boererepublieke, was dit die uitnemendheid van die Britte en hul beskawing waarmee die Afrikaanse skoolkinders gevoer is.

My pa het jare gelede, toe ek ’n student was, aan my vertel dat hy destyds op ’n goeie dag by die huis gaan kla het oor wat op skool aan hulle opgedwing word. Sy pa het in reaksie daarop hom aanbeveel om hard te leer en in die eksamens te skryf wat hulle op skool wysgemaak word, maar om dit nie te glo nie, want hy wat my oupa was, sal hom by die huis “die ware geskiedenis vertel”.

In die apartheidsera het Afrikaners se verlede die spil geword waarom die skoolvak geskiedenis gedraai het. Die riglyne vir die geskiedenisvakkomitees het dit duidelik gestel dat die leerplanne klem moet lê op die verhaal van “blanke” vooruitgang in Suid-Afrika. Swart leerlinge was gedoem om jaar in en jaar uit te moes aanhoor hoe wonderlik die wit mense was en dat hul voorouers geen bydrae tot die vooruitgang van die mensdom en spesifiek van hul eie geboorteland gemaak het nie. Daardie kwalik bedekte belediging het ongetwyfeld by baie van hulle ’n weersin in wit mense opgewek.

Ná 1994, en veral ná 2003 met die aanvaarding van die “History Curriculum Statement”, het die klem in Suid-Afrika verskuif na transformasie en leerplanne wat die diversiteit van stemme in die daarstelling van die land se geskiedenis moes weerspieël. Die doel was om ’n meer inklusiewe geskiedenis aan te bied.

Hierdie “insluitende” geskiedenis moes wegbeweeg van die eensydige klem op politieke geskiedenis. Dit moes ook ’n maatskaplike geskiedenisdimensie insluit wat op ’n nierassige fondament gegrond moes wees. Daarbenewens moes die waarde van wêreldgeskiedenis en die invloed van internasionale strominge op die geskiedenis van Suid-Afrika onderstreep word.

Volgens prof. Elize van Eeden van die Noordwes-Universiteit is daar ná 2003 in wese ’n “van bo na onder”, polities gemotiveerde en menseregte-gedrewe benadering gevolg. Geen beredenering daarvan het voor die vasstelling van die leerplanne op onderrigvlak daaroor plaasgevind nie. Toe die koeël reeds deur die kerk was, het vurige debatte daaroor wel gevolg – soos op konferensies van die Vereniging van Suid-Afrikaanse Geskiedenisonderwysers.

Die wydlopende kritiek wat uitgespreek is, was veral gemik op die temas wat vir insluiting in die gewysigde Suid-Afrikaanse geskiedeniskurrikulum gekies is. ’n Mens kan met reg aanvoer dat die inkorting (of telkens uitskakeling) van Europese geskiedenis uit die leerplanne neerkom op die ondermyning van een van die fondamente van die nuwe Suid-Afrika.
Die Suid-Afrikaanse nasie is immers ’n produk van sowel Europese invloede as Afrikatradisie.

Die chronologiese beweegrede van die keuse van temas vir insluiting in die leerplanne kom telkens irrasioneel voor, want dit word gekenmerk deur die ewige herhaling van sommige temas, waaronder veral die stryd teen oorheersing deur wit mense, oftewel die struggle.

Staatskole mag net handboeke wat deur die departement van basiese onderwys goedgekeur is, gebruik. Die wyse waarop die ideale van die opstellers van die leerplanne in hierdie goedgekeurde handboeke weerspieël word, kan bevraagteken word. In die eerste plek is daar, net soos die geval is in die leerplanne, ? gebrek aan harmonie tussen wat op die terrein van wêreldgeskiedenis en op die terrein van Suid-Afrikaanse geskiedenis aangebied word.

Soos wêreldgeskiedenis byvoorbeeld in goedgekeurde gr. 12-handboeke aangebied word, word daar feitlik geen poging aangewend om te wys op die invloed van internasionale ontwikkelinge op Suid-Afrika of op Suid-Afrika se invloed op internasionale ontwikkelinge nie.

Die goedgekeurde handboeke word boonop telkens gekenmerk deur wanvoorstellings, ’n gebrek aan balans en growwe veralgemenings. In ’n gr. 7-handboek word byvoorbeeld verkondig dat “die mense van Wes-Afrika” “lank (voor) die meeste Europeërs kon lees en skryf”.

In ’n ander goedgekeurde gr. 7-handboek word beweer dat die Khoi in die Kaap teen 1738 “op die punt van uitwissing gestaan het” vanweë “die onteiening van hul grond”. Hoe die kloutjie by die oortjie pas, word nie verduidelik nie. Dit is inderdaad so dat die Khoi-bevolking amper uitgewis was, maar dit was weens die pokke-epidemie van 1713, wat nie vermeld word nie.

Ten spyte van die kritiek wat tot dusver oor die leerplanne en handboeke uitgespreek is, is daar natuurlik ook positiewe elemente. Dit sluit in die opdragte om verskynsels vanuit verskillende oogpunte te ontleed.

Die nuwe leerplanne vir geskiedenis as verpligte vak tot gr. 12 sal hopelik hierdie positiewe elemente insluit.

Die vraag bly egter: Hoe uitvoerbaar is hierdie planne?

Een van die werklikhede wat in ag geneem sal moet word, is dat daar tans hopeloos te min opgeleide geskiedenisonderwysers is om vir alle leerlinge in die senior fase geskiedenis aan te bied.

Potgieter waarsku dat die onderwysowerhede in Suid-Afrika glad nie tans gerat is om die verandering te implementeer nie.

Lukrake stappe sal geen oplossing bied nie. Dit is goed en wel dat daar skynbaar planne gemaak word om voor 2023 genoeg onderwysers wat die verpligte vak geskiedenis kan en wil aanbied op te lei, maar dit moet nog gebeur.

Potgieter se kommer is dat as daar nie betyds genoeg opgeleide onderwysers is nie, die onderrig in die hande van onkundiges gelaat sal moet word. Dit word skynbaar beoog om onderwysers wat in lewensoriëntering opgelei is, as geskiedenisonderwysers te herontplooi. Gaan hulle kans sien daarvoor?

Onderwysers wat nie ’n vak kan of wil aanbied nie, se enigste uitweg is om terug te val op die handboek. Hulle lees eenvoudig vir die klas uit die handboek voor en maak seker dat hulle nie in toetse en eksamens vrae vra wat onnodige eise aan hul eie kennis gaan stel nie.

So word die handboek ’n kruk eerder as die onderriginstrument wat dit behoort te wees.

Volgens openbare verklarings in verband met die beoogde vernuwing word dit in die vooruitsig gestel dat daar groter klem as tevore op die geskiedenis van die ontwikkeling van Afrika gelê gaan word. Dit is ’n positiewe vooruitsig, want Suid-Afrika se wortels lê in hierdie kontinent. Die vraag is of dit op objektiewe wyse gaan gebeur – of gaan ons kinders met verdere wanvoorstellings gebombardeer word?

Om af te sluit: Die risiko is groot dat hierdie transformasie van geskiedenis op skoolvlak baie lawaai maar weinig wol gaan oplewer. In Suid-Afrika gebeur dit dikwels dat die soeke na waarheidsgetrouheid moet plek maak vir die aandrang op politieke korrektheid. Indien dit ons voorland met geskiedenis as verpligte vak tot gr. 12 is, gaan geen vordering gemaak word nie. Indien leerlinge net aan oppervlakkige gebeurtenisgeskiedenis en enkele menings daaroor blootgestel gaan word, gaan dit niemand bemagtig nie.

Mag die geskiedenis leer dat ons hierdie slaggate vermy het.

* Dr. Jackie Grobler is ’n afgetrede lektor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.