Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eens trae Britte veg volspoed teen virus

Brittanje staan taamlik boaan die globale lys van per capita-sterftes aan die koronavirus. Wat het die land reg gedoen, en waar is foute begaan? Leopold Scholtz berig.

Die afgelope week het Brittanje die twyfelagtige eer gehad om die eerste Europese land te word met meer as 100 000 Covid-19-sterftes. Dit ondanks die verdiende eer as die eerste Europese land waar met inenting begin is.

Brittanje is ook ná België (1 818 sterftes per miljoen) en Slowenië (1 613) die Europese land met die derde hoogste per capita-sterftekoers, naamlik 1 495 per miljoen.

Suid-Afrika trek hierteenoor by 736 sterftes per miljoen.

Brittanje presteer wel in dié sin dat byna 7 miljoen mense al die eerste van twee dosisse entstof ontvang het en byna ’n halfmiljoen die tweede. Byna 40% van mense bo die ouderdom van 80 was dié week ingeënt.

In Duitsland is die syfer vir eerste dosisse “slegs” 1,7 miljoen, en in Nederland was dit vandeesweek sowat 170 000.

As Brittanje só ver voorloop, wat het dan gebeur?

Die antwoord lê in die “Engelse” variant van die virus – só genoem omdat dit die eerste keer in die suide van Engeland waargeneem is.

Dié variant versprei aansienlik vinniger as die “normale” virus, wat reeds hoogs aansteeklik is. Dit is dalk selfs dodeliker.

Op ’n mediakonferensie van premier Boris Johnson het dr. Patrick Vallance, hoof- wetenskaplike raadgewer van die Britse regering, verduidelik: “As jy ’n man in sy 60’s vat, is die gemiddelde risiko dat tien mense van elke 1 000 wat geïnfekteer word, ongelukkig sal sterf. Met die nuwe variant kan verwag word dat 13 of 14 van elke 1 000 geïnfekteerdes sal sterf.”

Weens angstigheid oor die Engelse variant, het heelparty Europese regerings begin om verkeer na en van Brittanje te keer.

Die jongste Covid-19-skokke in Brittanje volg nadat aansienlike kritiek reeds uitgespreek is oor die trae manier waarop die Johnson-regering aanvanklik op die pandemie gereageer het.

Die Britse epidemioloog prof. Neil Ferguson het aan die BBC gesê: “As ons sowel vroeër as strenger opgetree het in September, toe ons die getal gevalle vir die eerste keer sien opgaan het, as ons toe ’n beleid gehad het om die getalle redelik laag te hou, dan dink ek dat baie van die sterftes wat ons die afgelope vier of vyf maande gesien het, vermy kon gewees het.”

Hy het wel berug geword toe hy sowat ’n jaar gelede voorspel het ’n halfmiljoen Britte kan sterf as daar nie onmiddellik drasties ingegryp word nie. Hy het wiskundige modelle gebruik om die verspreiding van die virus te voorspel, wat geblyk het foutief te wees.

Ferguson, wat weens sy voorspellings die bynaam “Professor Lockdown” gekry het, het in Mei bedank nadat The Daily Telegraph onthul het dat hy self die inperkingsmaatreëls saam met sy vriendin verbreek het.

Dis egter steeds waar dat Johnson se reaksie aanvanklik taamlik traag was. In sy eie Konserwatiewe Party is hy gekonfronteer met taamlike teenstand van mense wat gemeen het sy inperkingsmaatreëls kniehalter die ekonomie onnodig.

Andersyds het Keir Starmer, leier van die Arbeidersparty, daarop gewys dat die syfer van 100 000 oorledenes twee keer meer is as wat Brittanje tydens die Duitse lugbombardemente van 1940-’41 verloor het, en dat dit sowat dieselfde is as die bevolking van kleiner stede soos Bath of Stevenage. Hy noem dit ’n “nasionale tragedie”.

Intussen het nóg ’n politieke rusie tussen die entstof-fabrikant AstraZeneca en die Europese Kommissie uitgebreek.

Toe die kontrak tussen die twee ’n paar maande gelede geteken is, was die idee dat AstraZeneca 80 miljoen dosisse aan die EU sou lewer. Die middel is in samewerking met die Universiteit van Oxford ontwikkel, deels met EU-geld. Maar AstraZeneca het aangekondig dat “produksieprobleme” by sy fabriek in België meebring dat hy slegs 31 miljoen dosisse aan EU-lande kan lewer, wat vir die Europeërs ’n groot probleem is.

Pascal Soriot, besturende direkteur van AstraZeneca, sê in die kontrak met die EU staan slegs dat die maatskappy “sy bes” moet doen om die afgesproke getal dosisse te lewer. Die verantwoordelike EU-kommissaris, Stella Kyriakides, bestry dit en sê die onderneming in die kontrak “verplig” die maatskappy.

Intussen het Johnson opgemerk dat Brittanje meer entstof beskikbaar het as wat hy nodig het, en dat hy ’n deel daarvan kan uitvoer. Dit het Europeërs dadelik laat vermoed dat AstraZeneca ’n deel van die dosisse wat hy aan Europa moes gelewer het, teen ’n groter wins aan Brittanje verkoop het.

Vir Brittanje is die vinnige inentingsproses weliswaar ’n ligpunt. Die Britse regering mik om teen Maart soveel as 30 miljoen inentings af te handel.

Dit lyk tog of Brittanje, wat traag begin het, nou volspoed teen Covid-19 baklei.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brittanje  |  Covid-19  |  Sterftesyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.