Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eentaligheid nié enigste uitweg
Lede van die AfriForum Jeugtak op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus het gister 91 ballonne losgelaat om 91 jaar van Afrikaans te vier. Volgens Marike van As, AfriForum-kampuskoördineerder, is dit baie simbolies omdat daar op soveel kampusse in Suid-Afrika teen Afrikaans baklei word. “Dis lekker om vandag te sien hoeveel studente deel van die vieringe is, want daar is studente van verskillende rasse wat ook Afrikaans praat,” sê sy. AfriForum het ’n veldtog begin waar studente hul naam en ook die kampus waar hulle studeer na 32687 SMS om ’n studiebeurs van R20 000 te wen. Foto: Elsje Waldeck

Eentaligheid in die universitêre lewe is glad nie die enigste uitweg nie. Inteendeel, ’n gedifferensieerde benadering dui ’n praktiese uitweg anderkant die verstikkende aard van ’n eentalige wêreld aan, skryf prof. Danie Goosen.

Oor die vraag of jy jou universiteitsklasse in Afrikaans moet bywoon, heers daar vandag diepe twyfel, om dit sagkens te stel. Ten minste twee radikaal uiteenlopende standpunte word daaroor gehuldig. Hieronder word kortliks na elkeen van hulle verwys.

Alvorens ons egter die twee standpunte ter sprake bring, moet daarop gewys word dat hulle ’n belangrike uitgangspunt met mekaar deel. Ondanks die diep verskille tussen hulle, aanvaar albei standpunte dat Engels vandag die lingua franca van die universitêre wêreld is. Enigeen wat hierdie feit ontken, volgens albei, is gewoon onrealisties.

Hieronder word deurgaans aanvaar dat daar vandag inderdaad vir sowel ons moedertale as Engels plek gemaak kan word. En aan talle universiteite wêreldwyd (onder meer in Duitsland, Frankryk, Rusland, Hongarye, Pole, Japan, ens.) is dit presies wat gebeur. Ondanks die aanwesigheid van Engels, maak veral “gemeenskapsuniversiteite” in dié lande steeds ruim van hul eie moedertale gebruik.

Ter wille van die argument kan na hulle as die “sentralistiese” en die “gedifferensieerde” benaderinge verwys word.

Die sentralistiese benadering

Sentraliste redeneer in uitsluitende “óf . . . óf”-terme. Hulle gaan uit van die standpunt dat die veelheid van moedertale op universiteit deur Engels, die taal van die sogenaamde “globale sentrum”, vervang moet word. Indien dit nie gedoen word nie, sê hulle, loop universiteite die gevaar om hulself in enklaves toe te sluit en hulself so van die globale orde te isoleer. Universiteite kan dit nie bekostig nie. Hulle is deel van die globale netwerk. En Engels is ten ene male die “instrument” waarmee universiteite aan dié netwerk deelneem, sê hulle.

Volgens sommige sentraliste beteken dit nie dat die veelheid van moedertale noodwendig onbelangrik is nie. Maar, voeg hulle dikwels vinnig by, die moedertale kan en moet vandag in die private wêreld (die “kombuis”) tot hul reg kom. Anders as in die verlede hoort die moedertale nie meer in die openbare wêreld van die universiteitswese nie. Dáár moet Engels die deurslag gee.

So sterk het die sentralistiese beeld in die universiteitswese geword dat sommige akademici aan voormalige Afrikaanse universiteite hulself geroepe voel om self aggressief vir die magtige sentrum en Engelse eentaligheid in te tree. So asof die sentrum hul ondersteuning nodig het. Enigeen wat dit waag om teen die voorskriftelikheid van die sentrum op te staan, word summier van isolasiedenke en selfs van apartheidsnostalgie beskuldig.

  • Moet die sentralistiese standpunt egter aanvaar word? Dit word deur ten minste die volgende probleme gekenmerk: Een van die belangrikste eienskappe van die sentrum-standpunt is dat dit deur ’n bepaalde opvatting van “universitêre opvoeding” onderlê word. Opvoeding beteken nie meer om studente op te voed met die oog op die verantwoordelike deelname aan die volwasse lewe “daar buite” nie. Indien die woord “opvoeding” nog hoegenaamd deur sentraliste gebruik word, word dit deur hulle tot die blote “oordrag van inligting” verskraal.) Die sentralistiese standpunt word deur ’n oeroue koloniale mentaliteit gekenmerk. In ooreenstemming met dié mentaliteit, word die globale sentrum telkens weer as beter as die veeltalige buitewyke voorgehou. Verskeie Afrikaanse akademici kniel vandag graag vóór die sentrum neer.

Ten nouste hieraan verbind, is die gedagte dat die navorsing wat in die sentrum gedoen word, eenvoudig strate beter is as dié in die buitewyke. Daarom verteenwoordig die publisering van jou artikel in ’n sogenaamde “internasionale tydskrif” omtrent iets soos ’n akademies-orgastiese hoogtepunt in die lewe van akademici.

Dieselfde minderwaardigheid onderlê die staat se opvatting van navorsing. Volgens die staat is navorsing in die sentrum per definisie meerderwaardig, al ontken die staat en sy woordvoerders dit ewe driftig. Formules met behulp waarvan die staatsondersteunde NRF geld vir navorsing toeken, moedig publikasie in eentalige Engelse tydskrifte aan. Anderstalige tydskrifte word as van mindere belang beskou. Geen goeie navorsing kan daarin verskyn nie, word geglo.

Hieraan is ’n reuse-ironie verbonde. Ondanks die feit dat die staat homself graag as “anti-kolonialisties” beskryf (en Afrikaanse akademici oor hul voete val om daarby in te val), hou hy met sy bewondering vir die sentrum juis die koloniale mentaliteit in stand.

  • Iets soortgelyks gebeur in die wyse waarop die uitfasering van universitêre Afrikaans gemotiveer word. Terwyl dekolonisering gepredik word, word in der waarheid voor die koloniale sentrum neergebuig; met inklusiwiteit word ’n harde eksklusiwiteit bedoel; multikultureel beteken ’n ongenaakbare monokulturaliteit. Sentraliste is nie net onderhorig aan die globale sentrum nie, maar ook en veral aan die staat. Pappa-staat is die groot mag waarvoor neergekniel word, terwyl diegene wat weier voor stok gekry word as synde téén inklusiwiteit, téén nasiebou, téén menseregte, sommer téén alles wat fatsoenlik is.
Ironies hiervan is dat ons vandag in vele opsigte met ’n verswakte staat te doen het. Laasgenoemde is ’n staat wat in talle van sy vertakkinge aan bykans patologiese vorme van ondoeltreffendheid, korrupsie, nepotisme en ’n proto-totalitêre miskenning van die veelheid van kulture en tale ly. Om voor enige staat neer te buig, getuig reeds van ’n gebrek aan selfrespek. Maar om voor dié staat neer te buig, is gewoon benede kommentaar – veral as dit deur akademici gepleeg word.

Die gedifferensieerde benadering

Hierdie benadering gaan uit van die standpunt dat die globale wêreld nie noodwendig in spanning met die veelheid van tale en kulture staan nie. Inteendeel, hoe sterker die globale wêreld beslag kry, des te belangriker word hulle.

Volgens die gedifferensieerde benadering, hoef die verhouding tussen die globale en die veelheid van tale dus nie met behulp van die uitsluitende “óf . . . óf” verstaan te word nie. Inteendeel, die insluitende “sowel . . . as” is veel sinvoller. In ooreenstemming daarmee is daar vir albei plek, dit wil sê vir sowel die algemene as die partikuliere.

Is die gedifferensieerde benadering egter prakties moontlik, word dikwels gevra. Maak dit sin om, te midde van die dominansie van Engels, tegelyk jou klasse in Afrikaans by te woon, jou nagraadse werk in Afrikaans te doen, jou navorsing in Afrikaanse tydskrifte te publiseer, jou boeke in Afrikaans te skryf?

  • My antwoord hierop is “ja”. Afrikaanse akademici kan vandag, indien hulle hul werk in Afrikaans publiseer, steeds “gehoor” en “gelees” word. Ter motivering kan ten minste die volgende punte genoem word: Afrikaanse akademici wat deur die sentrum gehoor en gelees wil word, vergeet dikwels watter diskriminerende kragte in die sentrum aan die werk is. Dit is kragte wat bepaal wie en wat regtig gehoor en gelees word.

Om werklik deur die sentrum gehoor en gelees te word, moet akademici vanuit die nie-Engelstalige wêreld bykans deur die figuurlike vuurhoepel spring. Alhoewel dit nie onmoontlik is nie, is dit heel onwaarskynlik.

Zygmunt Bauman en Leonidas Donskis, wêreldbekende sosioloë, skryf in hul essay, “Consuming university: the new sense of meaningless­ness and the loss of criteria”, dat nie-Engelstalige akademici (vanuit onder meer Oos-Europa, om nie eens te praat vanuit Afrika nie) bykans geen kans staan om akademiese poste aan enige van die groot Amerikaanse of Britse universiteite te kry nie.

Word akademici buite die sentrum dus gehoor? Word hul skryfwerk werklik gelees? Nee, lui die antwoord van dié sosioloë. Ondanks die openheid wat deur die sentrum gepredik word, word die buitewyke as van mindere belang beskou.

Kortom, ondanks die prysgawe van hul moedertale oefen akademici vanuit die buitewyke eenvoudig weinig invloed op die sentrum uit.

  • Dit laat ons voor ’n eenvoudige vraag: Oefen die akademici in die sogenaamde buitewyke en op die periferie van die globale sentrum nie veel groter invloed uit wanneer hulle juis hul akademiese werk op hul eie wêreld rig en daarmee praat nie? Laasgenoemde punt moet in samehang met ’n ander verskynsel in die globale “mark” van akademiese publikasies gesien word, naamlik die verskynsel van akademiese oorversadiging.
Vandag is daar nie net ’n ooraanbod van akademiese personeel in die “sentrum” nie (dikwels met tragiese gevolge vir akademici wat nie vaste betrekkinge kan kry nie), maar ook ’n ooraanbod van akademiese publikasies (ook en veral in ’n magdom van Engelse akademiese tydskrifte).

Die gevolg van die ooraanbod is dat verreweg die meeste akademiese artikels nie gelees word nie.

  • Een van die ironiese implikasies hiervan is dat akademici wat in hul eie moedertale skryf, dikwels ’n groter kans staan om hoegenaamd gehoor en gelees te word as diegene wat in Engels skryf. Om hierdie punt ten volle te ontgin, sal akademici deur die “koloniale mentaliteit” moet breek. So sal hulle die voordele van lokaliteit, partikulariteit en die eie moedertale kan raaksien. Vanweë die tegniese middele wat vandag beskikbaar is (soos onder meer die vordering met vertalingsdienste), is daar toenemend ook meer ondersteuning vir die gedifferensieerde benadering.
Vanweë hierdie middele bestaan daar toenemend minder redes vir skrywers wat in Engels gelees wil word, om slegs in Engels te skryf. En die mees vanselfsprekende voorbeeld hiervan is wat buite die akademiese wêreld in die letterkunde gebeur. Afrikaanse skrywers soos Breyten Breytenbach, Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden hoef nie op te hou om in Afrikaans te skryf bloot om in die Engelstalige wêreld gehoor te word nie. Trouens, in en deur die vertalingsdienste wat vandag beskikbaar is, word Breytenbach, Van Niekerk en Van Heerden selfs ver buite die grense van net die Engelstalige wêreld gehoor en gelees.

Hoekom is dieselfde waarheid nie ook op die akademiese wêreld van toepassing nie?

Kortom, eentaligheid in die universitêre lewe is glad nie die enigste uitweg nie. Inteendeel, ’n gedifferensieerde benadering dui ’n praktiese uitweg anderkant die verstikkende aard van ’n eentalige wêreld aan.

Prof. Goosen is voorsitter van die FAK. Dit is ’n opsomming van ’n artikel wat oorspronklik op die NP van Wyk Louw-sentrum vir gemeenskapstudies se webtuiste verskyn het. Lees die volledige artikel by www.npvanwyklouw.org.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.