Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eers apartheid . . . nou gays wat dalk die laaste strooi is

Dalk is ’n ruimer en meer verdraagsame kerk met groter openheid op hande, skryf Frits Gaum.

Die kerk, by name die NG Kerk, was deur die jare dikwels op die rand van skeuring. In die vorige eeu was dit die Johannes du Plessis-saak (1932), die Cottesloe-kerkeberaad (1960), die beleidstuk “Kerk en Samelewing” (1986 en 1990) en die Rustenburgberaad (1990) en in die huidige eeu die algemene sinodes van 2015, 2016 en 2019 wat skeurdreigemente en soms skeurdade meegebring het.

In al die gevalle het dit gegaan oor hoe ’n mens die Bybel moet verstaan en meestal ook oor onreg teen mense – teen nie-witmense en teen nie-heteroseksuele mense.

Die algemene sinode van die NG Kerk het in 1962, kort ná die Cottesloe-beraad (en die besluite wat daar teen apartheid geneem is), onder ’n wolk van onenigheid en spanning tot stand gekom. Die algemene sinode bestaan uit tien samestellende streeksinodes, en sommige van hulle het destyds geweier om deel te word van die verenigde algemene sinode as die ander streeksinodes hulle nie onomwonde van die Cottesloe-besluite distansieer nie.

Dalk kan uit die twis iets anders gebore word.

Wat toe ook gebeur het.

In 1986 het die kerk se beleidstuk “Kerk en Samelewing” die lig gesien en daarin is versigtig van apartheid afskeid geneem. Dit het tot ’n woeste opstand by ’n groot aantal lidmate gelei en nagenoeg 30 000 van hulle het, onder leiding van ’n vorige redakteur van Kerkbode en moderator van die Natalse streeksinode, dr. Willie Lubbe, weggebreek en ’n nuwe kerk gestig: die Afrikaanse Protestantse Kerk.

Vier jaar later, by die Rustenburgberaad (’n kerklike samekoms wat deur niemand minder nie as die destydse president, FW de Klerk, geïnisieer is – sodat die kerke van Suid-Afrika met één stem met die regering sou praat) was dit weer apartheid wat tot groot spanning gelei het. By daardie beraad het die NG Kerk vir die ander kerke en vir Suid-Afrikaners onomwonde om verskoning gevra vir die leed wat apartheid en die NG Kerk se betrokkenheid daarby mense aangedoen het. Aartsbiskop Desmond Tutu het die verskoning aanvaar (“Die Here Jesus het gesê jy moet 70 maal sewe keer vergewe as van jou vergifnis gevra word . . .”), maar die NG Kerk se Familiekerke wou die kerk nie sommer maklik vergewe nie. Aan die ander kant was baie lidmate (en ook die afgetrede pres. PW Botha) onthuts deur die gedurige verskoningvraery.

Die kerklike stryd rondom apartheid het, darem sonder verdere skeurings, algaande tot rus gekom en die NG Kerk se “getuienis en belydenis” oor die kerk se reis met apartheid het selfs op die tafel van die Waarheids-en-versoeningskommissie beland.

En toe kom die “gay-stryd”. ’n Lang storie, baie trane, baie verslae, baie sinodes. Die algemene sinode van 2015 het selfdegeslagverhoudings en -verbintenisse goedgekeur, 2016 se buitengewone algemene sinode – byeengeroep net vir die één saak – het ’n regsomkeer gemaak, ’n hofsaak het gevolg wat die NG Kerk loshande verloor het, en die 2019-sinode het uiteindelik ruimte gegee vir selfdegeslagverbintenisse, hoewel bra binnesmonds.

Binnesmonds of te nie, dit was genoeg om die kerkwêreld opnuut in beroering te bring. Die Goudland-streeksinode en Moreletapark-gemeente het voor in die koor gaan staan en gedreig om die algemene sinodale verband te verlaat . . . en Goudland het blykbaar die daad by die woord gevoeg met ’n besluit dat hulle nie meer hul finansiële bydrae vir die algemene sinode gaan betaal nie (Rapport, 16/02). Landswyd is daar gemeentes wat doleer (treur) oor die 2019-besluit en dreig om hul goed te vat en te loop.

Later vanjaar vind ’n reeks streeksinodes plaas waarvan sommige dalk soortgelyke besluite sal wil neem. Dit is iets wat kerkregtelik gesproke nie so maklik is nie, maar die oortuiging loop by party dominees en lidmate diep dat die NG Kerk die spoor byster geraak het en dat daar nie meer salf daaraan te smeer is nie.

Destyds was dit apartheid en die kerk se oortuiging ná baie worsteling dat dit ’n onregverdige bestel was, wat sommige lidmate ’n nuwe kerk laat stig het. Nou is dit die kerk se bereidheid om gay-lidmate te gun wat al die ander lidmate vir hulself opeis, wat gemeentes en streeksinodes op loop het.

Niemand word deur die besluit oor gay-lidmate tot iets gedwing nie, daar word net ruimte gegee vir meer as een standpunt en optrede . . . maar vir sommige lidmate is dit eens te veel. Hulle duld geen alternatief vir hul sienings en hul verstaan van die Skrif nie.

Die Groot Gebod (liefde vir God, liefde vir jou naaste soos vir jouself) sluit volgens hul Skrifverstaan nie alle ander naastes in nie. Veral nie mense wat “anders” is as jy nie. Jy en jou sienings is die maatstaf.

Is die NG Kerk in sy huidige vorm op die punt om (weer) te skeur?

Laat ek eers sê: Ek dink nie daar is ’n kans dat die algemene sinode gaan terugkrabbel van die 2019-besluit nie. Dié besluit staan en sal nie verander word nie. Inteendeel: Daar word die afgelope tyd ernstige gesprekke met die kerkleiding gevoer oor hoe om die ruimte wat vir gay-mense gegee is, ten beste te gebruik om herstellende geregtigheid in die kerk te bevorder. LBGTQI+-lidmate (om die meer tegnies korrekte term te gebruik) moet, soos alle ander lidmate, volledig tot hul reg kom in die kerklike son.

Dit lyk egter tog of daar ’n herverdeling of her­oriën­tering in die NG Kerk op hande is. Moontlik nie ’n “skeuring” nie, maar ’n nuwe manier van inrig. Dalk gaan die algemene sinode as beleidmakende liggaam in sy huidige gedaante in die volgende paar jaar verdwyn en iets soos ’n federale raad met adviserende bevoegdheid in sy plek kom. Dalk gaan die streeksinodes ’n groter mate van vryheid kry om hul eie beleidsbesluite te neem.

Dalk kan ’n groter, maar losser “Federasie van Gereformeerde Kerke” tot stand kom waarin ’n verskeidenheid standpunte oor aktuele sake geduld word sonder om die grondliggende eenheid in Christus prys te gee.

Dalk sal ook die NG Familiekerke (die Verenigende Gereformeerde Kerk, die NG Kerk in Afrika en die Reformed Church in Africa) as kerke met ’n eie identiteit in so ’n federasie hul plek wil inneem. En dalk, wie weet, ook die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk (die “Doppers”).

Dalk, droom ’n mens, kan uit die huidige kerklike twis iets anders gebore word: ’n ruimer, verdraagsamer kerk met groter openheid in sommige streke en in sommige gemeentes . . .

’n Soepeler kerk, dus, wat in die laaste instansie weet en bely dat ons gesamentlike geloof in Jesus Christus as ons Here belangriker is as alle ander geskilpunte.

  • Frits Gaum was skriba van die algemene sinode van die NG Kerk.
Meer oor:  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.