Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eers dagga, nóú ‘towersampioene’

Dit klink dalk soos ’n daggapypdroom, maar hy droom nou oor die dag dat sy Dagga-party ’n meerderheid LP’s sal hê wat hom in staat sal stel om daggawette te maak, het Jeremy Acton aan Murray La Vita gesê.

Jeremy Acton (heel voor) en die Rastafariër Garreth Prince reageer uitbundig nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof bevind het dat die verbod op die gebruik van dagga in die privaatheid van huise ’n inbreuk op die eisers se reg op privaatheid maak.Foto: Verskaf

Dit is die oggend ná die konstitusionele hof se uitspraak wat die kweek en gebruik van dagga in private plekke wettig, en die voorsitter van die Dagga-party is in ’n besonder goeie bui.

In ’n vriend se huis in die Johannesburgse voorstad Troyeville geniet Acton die nagloed van wat vir hom en sy party ’n oorwinning is. Hy “chill” daar voordat hy weer op ’n bus klim en na Kaapstad terugkeer. In die agtergrond is ’n blaffende hond, en wat klink na ’n kokketiel of papegaai, hoorbaar.

Acton is een van drie eisers wat die hooggeregshof in Kaapstad vroeër versoek het om dagga wettig te verklaar.

“’n Vroeëre uitspraak deur die Kaapse hooggeregshof het ons beperk en ons die vryheid ontneem om in die openbaar rond te beweeg met cannabis – ’n mens kon dit slegs tuis by jou hê en gebruik. Dít het dit vir mense moeilik gemaak om dagga te gaan koop en huis toe te neem en te gebruik.

“Die jongste uitspraak van die konstitusionele hof het nou die konsep van privaatheid tuis verruim na privaatheid van die persoon. Solank as wat ons ’n klein voorraad dagga vir ons persoonlike gebruik by ons het, mag ons nou van een private ruimte na ’n ander beweeg. Dit stel mense in staat om daardie [dagga]ekonomie te vestig en selfs dalk ’n gesondheidsparadigma.”

Acton spreek volgelinge op ’n saamtrek voor die parlement toe. Foto: Lindile Mbontsi

Party mik parlement toe

Hy het die daggasaak vir die eerste keer in 2012 hof toe geneem.

“Dit was die moeite werd. Nou kan ek my meer toespits op die missie van die Dagga-party vir volgende jaar se verkiesing.”

Iemand het hom gevra of die Dagga-party nou ná dié oorwinning gaan ontbind?

“Beslis nie. Die uitdaging van die daggakultuur van Suid-Afrika is nou om in die parlement te kom en om ’n groot genoeg meerderheid te kry – nie net een of twee LP’s nie – om in beheer te wees van die wette wat met betrekking tot cannabis gemaak word.

“So ek doen ’n beroep op die jong mense wat die toekoms tegemoet gaan, om te registreer om te stem indien hulle wil hê die Dagga-party moet seker maak dat wette deur die mense en nie deur sell-outs nie gemaak word.”

Ek neem gewoonlik magic mushrooms en luister na musiek tydens die rit.

Acton het Sondagaand in Kaapstad op ’n bus geklim om na Johannesburg te reis vir die konstitusionele hof se uitspraak Dinsdag.

“Ek het na vliegkaartjies gekyk, maar die pryse begin by R900 en gaan op tot amper R4 000! Ek het nie soveel geld gehad nie, so ek het net op die goedkoopste bus gespring met ’n kaartjie van R380.

“Ek gee nie om vir ’n oornagbusrit nie. Ek neem gewoonlik magic mushrooms en luister na musiek tydens die rit.”

Hy is juis ook gemoeid met pogings om psilocybin (“towersampioene”) gewettig te kry.

“Indien jy op PubMed Health gaan kyk – dit is die Amerikaanse nasionale gesondheidsinstituut se argief oor alle mediese onderwerpe – is daar omtrent 800 navorsingsverslae oor psilocybin. Die meeste van die navorsers meen psilocybin, saam met terapie soos kunsterapie of sielkundige terapie, is waar die toekoms van geestesgesondheid lê. Psilocybin gee ons serotonienvlakke ’n hupstoot.”

‘Grys areas’

Van die kritiek op die konstitusionele hof se uitspraak is dat daar “te veel grys areas” is; byvoorbeeld watter hoeveelheid dagga ’n mens in jou besit mag hê.

“Die hof het bloot die deur oopgemaak. Die parlement moet nou besluit hoeveel ’n volwassene mag gebruik, besit of kweek om dit as private gebruik te klassifiseer.

“Maar die Dagga-party wil uiteraard nie hê hierdie prohibisionistiese parlement moet dit doen nie. Ons moet hard probeer om by die punt te kom waar óns die wette maak.”

Cannabis is ’n roete weg van baie ander harde dwelmmiddels. As jy eerder dit gebruik, sal dit jou help om te chill terwyl jy worstel met die verslawing aan ’n ander dwelmmiddel.

Welke uitwerking meen hy gaan hierdie wetgewing op die onwettige dwelmbedryf en die nadelige gevolge van dwelmmisbruik in die samelewing hê?

“Daardie bedryf is sosio-ekonomies van aard, die dwelms as sulks is nie eintlik die kwessie nie. Neem byvoorbeeld tik – dit word deur mense gebruik wat in haglike maatskaplike omstandighede verkeer en min hoop het. Hulle gebruik dit om verligting te bring; dit is vir hulle soos ’n antidepressant hoewel dit ernstige nagevolge inhou vir hul gesondheid en geestesgesondheid, en vir die samelewing.

“Cannabis is ’n roete weg van baie ander harde dwelmmiddels. As jy eerder dit gebruik, sal dit jou help om te chill terwyl jy worstel met die verslawing aan ’n ander dwelmmiddel. So, ek dink nie dit gaan bydra tot groter nadele nie.

“Maar dit gaan beslis daartoe bydra om die nadelige gevolge van prohibisie ongedaan te maak – die indringing van huise en die inhegtenisneming van gewone mense wat dan saam met geharde misdadigers in die tronk gegooi word; die misbruik van die regstelsel; en die geldelike verlies van arm mense wanneer hulle borg en boetes moet betaal.”

Hy meen dit het ook die potensiaal om armoede te verlig.

“Mense sal maniere vind om privaat en diskreet dalk die hennepsaad te gebruik vir voedingsdoeleindes en dalk kan hulle selfs die takke van daggaplante gebruik deur daaruit blokke te vervaardig waarmee hulle ’n kamer by hul huis kan aanbou.

“Die ander uiters goeie gevolg van die uitspraak is dat dit ’n plant met geweldige mediese voordele in die hande van die mense plaas en dit weghou van korporasies. Ek is seker ons gaan binne die volgende paar jaar sien hoe ons openbare gesondheid noemenswaardig hierby gaan baat vind, veral armer mense wat nie toegang het tot gesondheidsorg nie.”

“Dit was die moeite werd. Nou kan ek my meer toespits op die missie van die Dagga-party vir volgende jaar se verkiesing.”Foto: Edrea Cloete

‘Nog altyd ongrondwetlik’

Hoe nou gemaak met mense wat vonnisse uitdien vir dagga-oortredings wat nou nie meer onwettig is nie?

Daar is verhoorafwagtende mense wat al agt maande in die tronk sit omdat hulle tuis dagga gekweek het. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar.

“In my vertoë aan die konstitusionele hof het ek aangevoer dat as hierdie wet ongrondwetlik is, dan was dit áltyd ongrondwetlik.

“Maar sedert die konstitusionele hof die saak op 7 November 2017 aangehoor het, is daar op tálle huise klopjagte uitgevoer en is daar beslag gelê op mense se besittings en geld. Daar is verhoorafwagtende mense wat al agt maande in die tronk sit omdat hulle tuis dagga gekweek het. Dit is eenvoudig onaanvaarbaar.

“Die beste roete waarlangs dié probleme opgelos kan word, is die Daggaparty-roete. ’n Hofroete gaan stadig en moeilik en moeisaam wees. Maar as ons die geleentheid kry om self die wette te skryf wanneer die Dagga-party LP’s het en hulle in die een of ander meerderheid is . . . Ek weet dit klink soos ’n pypdroom, ’n daggapypdroom, maar dit sal die vinnigste roete wees en daartoe lei dat gevangenes vrygelaat kan word.”

Plantgode

Acton het my in ’n vorige onderhoud vertel dat sy verhouding met dagga begin het terwyl hy diensplig in die Genieskool in Kroonstad verrig het.

“Dit is waar ek die eerste keer dagga gerook het. Ek het net op myself ingekeer geraak; nadenkend. En ek het soort van net onbewus geraak van die chaos in die bungalow.”

Hy rook nie tabak nie en gebruik ook nie alkohol nie.

“In my army-dae het ek gedrink uit verveeldheid en so aan. Teen die einde het ek afgekoel en my geld op potplante begin uitgee. Nie regte pot nie, maar binnenshuise plante. So, ek het ’n belangstelling in plante en die natuur gehad.”

Ná diensplig het hy ’n maand in die bekende plantman Keith Kirsten se kwekery gewerk, maar niks van Johannesburg gehou nie. Hy het hom toe in Kaapstad gevestig en ’n ruk daar as tekenaar gewerk.

Dit is in hierdie tyd dat hy bergfiets begin ry het en op Saterdae ná so’n rit ’n trek dagga sou neem.

Hy het ook die Teachings of Don Juan – A Yaqui Way of Knowledge van Carlos Castaneda ontdek.

“Daarin word verduidelik hoe hierdie kulture ’n substansie benader. Hulle glo daar is ’n entiteit, ’n lewende wese, in daardie plant . . . en het die peyote-kaktus of die San Pedro-kaktus of wat hulle ook al gebruik om met hierdie plantgode te kommunikeer.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Jeremy Acton  |  Konstitusionele Hof  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.