Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eerste skooldag wys SA het 2 stelsels

Die nuwe jaar se eerste skooldag het opnuut die gaping tussen Suid-Afrika se welvarendste en armer skole beklemtoon. Michael le Cordeur verduidelik waarom die gaping wat steeds groter word, dui op die regering se onvermoë om ’n demokratiese stelsel te vestig.

’n Vervalle skoolgebou in die Oos-Kaap. Foto: Gallo Images

Die herorganisering van Suid-Afrika se onderwysstelsel en sy nasionale opvoedkundige beleid moet een van die sleuteltake van die huidige regering in sy strewe na ’n ware demokratiese en ’n nie-rassige Suid-Afrikaanse samelewing wees.

Een van die eerste take van die eerste demokratiese verkose regering was juis om die ras-gefragmenteerde onderwysstelsel wat voor 1994 uit vyf departemente van onderwys bestaan het (een elk vir wit, bruin, swart asook Asiërs en die oorkoepelende department) te vervang met ’n stelsel wat verteenwoordigend van die hele Suid-Afrika sou wees.

Maar jammerlik soos dit is, is die onderwysstelsel van die ou bedeling vanweë sy rasseskeiding en die beperking van onderwys van gehalte tot wit leerlinge en voormalige model-C-skole steeds een van die ooglopendste eienskappe wat ons onderwysstelsel kenmerk.

Dit is interessant om te sien hoe die SAUK en kykNET verskillende perspektiewe op dieselfde nuusitem bied. As ’n rubriekskrywer is dit belangrik om saans na albei nuusbulletins te kyk en van albei perspektiewe kennis te neem.

Ongelykheid

Kinders staan tou vir kos by ’n skool in ’n landelike gebied. Foto: Gallo Images

Dat Suid-Afrika die ongelykste land ter wêreld is, is ou nuus. Dit was nêrens meer opsigtelik as met Suid-Afrika se eerste skooldag verlede week nie. Die beelde wat Suid-Afrika se twee hoof-nuusbulletins op Woensdagaand, 15 Januarie vertoon het, bevestig dié standpunt.

By ’n Gautengse laerskool het ’n verwelkomende atmosfeer die nuwe graadeens begroet. Daar was selfs ’n gelukbringer. Dié graadeens sal hul eerste skooldag vir altyd onthou.

By ’n hoërskool in Pretoria was die skool se pragtige sportveld die fokusgebied vir die nuwe gr. 8’s. Ook vir hulle sal hul eerste dag op hoërskool ’n mooi herinnering wees.

Maar dit is die mooi kant van Suid-Afrika. Daar is ook ’n ander (nare) werklikheid.

Jy sou hoop dat elke skool en elke provinsiale onderwysdepartement hul beplanning al verlede jaar gedoen het, soos wat Neels Snyman, skoolhoof van die Laerskool Garsfontein trots opgemerk het. Maar die hoop beskaam.

Daar was genoeg voorbeelde dat in baie gevalle geen beplanning vir die nuwe skooljaar gedoen is nie.

Nare werklikheid

Dié modderhut in Willowvale is in 2015 nog as klaskamer gebruik. Foto: Gallo Images

Ek noem slegs drie voorbeelde: Leerlinge waarvan sommige so jonk as sewe jaar, moes op die eerste skooldag vir 12 km langs N1 in die onherbergsame Karoo stap en aankomende verkeer trotseer. In ’n stadium moes hulle die gevaarlike N1 oorsteek op pad na die Dlikidla Laerskool en die Mandlenkosi Sekondêre skool.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het die vervoerskema gekanselleer omdat slegs leerlinge wat verder as 5 km van die skool woon, voortaan vervoer sal word.

By die Ibhongo Lethu Laerskool in Upington in die Noord-Kaap moes 900 leerlinge die nuwe skooljaar begin sonder toilette. Die skool se toilette is gevandaliseer en sedert 2018 huur die onderwysdepartement vier tydelike toilette vir 900 leerders van gr. 1 tot 7. Na verneem word het die Noord-Kaapse Onderwysdepartement versuim om die rekening vir die huur te betaal.

Ek behoort aan ’n organisasie wat onlangs (baie meer as vier) toilette vir ’n skool in Stellenbosch gebou het. Dit het ons net ’n paar maande geneem.

Hoe lank kan dit neem om toilette te bou? Hoe kan vier toilette voldoende wees vir 900 leerlinge?

Ek behoort aan ’n organisasie wat onlangs (baie meer as vier) toilette vir ’n skool in Stellenbosch gebou het. Dit het ons net ’n paar maande geneem.

Dit is meer as net pligsversuim deur regeringsamptenare. Die situasie skreeu ook onbevoegdheid, laksheid en geen beplanning.

By ’n skool in Limpopo is die leerlinge begroet deur ’n skool waarvan die dak afgebrand het. Die provinsiale owerhede sou ’n nuwe skool vir die gemeenskap bou, maar het só lekker vakansie gehou dat dit hulle skoon ontgaan het.

Die kinders se skamele kleredrag en gebrek aan skoene het nie hierdie kyker of die SAUK se kameraman ontgaan nie.

Armstes in steek gelaat

Michael le Cordeur

In al die gevalle wat hier bo genoem is, is dit die armstes van die armes wat deur die regering en die onderwysdepartemente in die steek gelaat is.

Dan praat ek nie eens van arm skole wat nog nooit ’n sportveld gehad het nie; dat al die beloftes ná die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 net mooipraatjies was. Anders as die leerlinge by Waterkloof en Garsfontein, sal hierdie leerlinge eerder hul eerste skooldag wil vergeet. Hulle kan selfs nagmerries daaroor hê.

Dit alles maak van die fanfare waarmee die nasionale minister die matriekuitslae aangekondig het, ’n klug. In ’n vorige artikel het ek breedvoerig hieroor geskryf.

Dit alles bevestig dat die huidige regering die afgelope 26 jaar weinig gedoen het om ’n omgewing te skep wat bevorderlik is vir leer vir die meeste leerlinge, veral die armes.

Was dit nie vir hardwerkende ouers by sommige ander skole nie, sou die regering bitter min hê om te wys vir die feit dat onderwys die land se grootste begrotingsuitgawe is.

Ouers kan ook nie hul verantwoordelikheid net afskuif op die skool nie. Die dae dat ouers net hul kinders by die skool kon aflaai sodat hulle in die swembad kan ontspan (soos ’n gewilde grappie wat tans op sosiale media die ronde doen, suggereer) is verby.

Fiona Sellar, skoolhoof van die St. Mary’s-laerskool in die Kaap, stel dit so mooi: Ouers wat 100% insit kan 100% van hul kinders verwag!

Ons is opreg dankbaar vir die hulp van ouers en die privaat sektor (soos die hulp wat die privaat skool Curro aangebied het).

Nuwe leierskap

Dit bly egter die onderwysdepartement en die regering se verantwoordelikheid om toe te sien dat die skool ’n plek is waar elke kind hom of haar kan uitleef (in die woorde van Chris Deneysschen, die skoolhoof van Waterkloof).

’n Skool se enigste doel moet wees om net die beste onderrig aan elke kind te gee (om Neels Snyman, skoolhoof van Garsfontein, aan te haal).

Dis veral die arm kinders wat in die steek gelaat is.

Terwyl sommige skole en hul beheerliggame die pas aangee, het die onderwysdepartement en sy minister agterweë gebly. Dis veral die arm kinders wat in die steek gelaat is.

Dit is tyd vir ’n “change of guard”. Tyd vir verandering. Ons benodig nuwe leierskap.

* Prof. Le Cordeur is die hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.