Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
EFF bedreig politieke stabiliteit

Die EFF se populistiese styl veroorsaak nie net rassespanning in Suid-Afrika nie, maar sy fokus op die verdelingslyne in die politiek hou ’n groot gevaar vir politieke stabiliteit in, skryf Pieter Labuschagne.

Julius Malema, leier van die EFF, verlede week in aksie buite die lokaal waar Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het. Foto: Felix Dlangamandla

Die EFF het gedurende die laaste dekade in die Suid-Afrikaanse politiek die versimbolisering en vergestalting van ’n populistiese party ten volle uitgebuit. Die rooi-oorpakbrigade het populisme tot ’n fyn strategie ontwikkel deur die verskuiwingslyne in die politiek-ekonomiese landskap maksimaal uit te buit.

Dit neem gewoonlik net enkele minute in ’n hofsaak, verhoor of op ’n openbare geleentheid vir die EFF-rasieleier om mense op te sweep en op ’n golf van amperse massa-histerie mee te voer. Die samedromming bied ook die kans aan randgroepe, soos Black First Land First, om hul geykte propaganda-slagspreuke te laat hoor.

Die hoë profiel van die EFF en Julius Malema as leier is in wese die gevolg van intensiewe media-aandag. Die EFF se prominensie is die eindproduk van media-aandag wat duidelik buite verhouding tot dié party se nasionale steun is.

Die mediablootstelling wat die party met sy populistiese retoriek kry, is juis die suurstof waarna dié organisasie en sy leiers streef.

Die wese van populistiese leier s

James MacGregor Burns het in sy boek Leadership (1978) drie leierskapstyle geïdentifiseer. Die derde hiervan, die transformatiewe styl, is van belang.

Die transformatiewe leier se benadering tot politieke mag is nie sterk struktureel of op prosesse ingestel nie, maar eerder om as ’n sogenaamde visioenêre leier en sterk motiveerder op te tree. Transformatiewe leiers handhaaf gewoonlik sterk ideologiese oortuiginge en het die wilskrag om hul planne in werking te stel.

Dié kategorie leiers is nie daarop ingestel om kompromieë aan te gaan nie. Inteendeel, hulle wil eerder op populistiese wyse steun vir hul persoonlike visie by die regering, die party en in die samelewing mobiliseer.

Die Nazi-leier, Adolf Hitler, het propaganda meesterlik gebruik om populistiese steun te werf. Foto: Argief

Adolf Hitler het in sy toesprake voor sy verkiesing tot Duitse kanselier in 1933 op ’n simplistiese wyse aan die volk uitgewys “wie hul vyande is” en sy planne om dié ongewenste situasie reg te stel uitgestippel. Hitler was meesterlik daartoe in staat om deur die gebruik van propaganda sterk populistiese steun te genereer en dit in stemme om te skakel. Dit het hom in staat gestel om die politieke beheer in Duitsland te kry.

In die literatuur oor populisme word dié strategiese benadering as die leier se vermoë “om ’n storie te skep” bestempel. Die sukses van die storie is veral gekoppel aan die wyse waarop dit vertel word sodat dit breë inslag vind.

Dit is daarom nie ’n verrassing dat transformatiewe leierskap sterk ooreenkomste met ’n populismestyl toon nie.

Dit is vir transformatiewe leiers belangrik om hul betrokkenheid by die “populus” (die verontregtes) te toon. Dié strategie vereis dat die leier en sy leierskorps die probleme en bekommernisse in die samelewing doeltreffend artikuleer. Dit is veral belangrik dat die leier en die party hulle met die verontregtes vereenselwig.

Dit verklaar die EFF se rooi oorpakke, harde hoede en barette. Dit is bloot ’n strategie om solidariteit met die werkers en die onderdruktes te toon.

Die dra van rooi oorpakke beliggaam simbolies die onderdrukking van die werkers vir wie die party as kampvegter in die parlement en elders optree.

Dit is bloot ’n oppervlakkige strategie van ’n transformatiewe leier en sy populistiese party. Die koste van Floyd Shivambu, EFF-adjunkleier, se reistas beloop meer as ’n werker se jaarlikse salaris.

Die EFF-leierskorps handhaaf ’n hoë middelklas-leefstyl en nie dié van die arm bevolking met wie hulle hul probeer vereenselwig nie.

DNS van ’n populistiese party

Julius Malema, leier van die EFF, spreek ondersteuners verlede week toe by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Felix Dlangamandla

Die wesensaspek van populisme is die eis en aanspraak dat die leier of party die politieke elite teiken wat deel van die “korrupte” ekonomiese en politieke praktyke vorm.

Die populistiese strewe is volledig daarop gefokus om ’n legitieme lanseerbasis te skep om die gewaande onregverdigheid in die samelewing te takel.

Die leierskorps volg daarom ’n direkte roete na die publiek en vermy doelbewus enige strukture en prosesse tussen die leier en die populus. Dié strategie is belangrik om die idee te skep dat hulle die breër samelewing se hoop en vrese direk kan verwoord.

Soos genoem, is dit kernbelangrik in dié strategiese benadering dat die leier en sy beweging ’n populistiese storie vertel wat dan herhaaldelik aan die breër samelewing “verkoop” kan word.

Enige grondwetlike meganisme, soos howe of teenwigte, word as anti-revolusionêr beskou en gediskrediteer.

Vir Hitler was die fokus die wyse waarop Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog behandel en verneder is, wie Duitsland se vyande was en laastens hoe hy en die Nazi-party dit sal regstel.

In dié benadering bestaan daar ’n intrinsieke agterdog teenoor enige instelling wat in die pad van dié strewe staan. Enige grondwetlike meganisme, soos howe of teenwigte, word as anti-revolusionêr beskou en gediskrediteer.

Vir die transformatiewe leier en sy populistiese strewe is die mag van die leiers absoluut omdat dit fundamenteel in die “volk” geleë is. Hitler het dikwels in sy toesprake na die stem van die volk verwys en die feit dat hy eintlik daardie stem is.

Indien dieselfde populistiese kenmerke op die EFF van toepassing gemaak word, kan duidelik waargeneem word hoe dit ook ’n fundamentele deel van dié party se strategiese DNS vorm.

Geen ruimte vir kompromieë

’n Lid van die EFF betoog voor die Hoërskool Overvaal in Vereeniging. Foto: Felix Dlangamandla

Die party se aanvalle en temas in opruiende toesprake is voorspelbaar: soos dat wit mense alleen vir die ekonomiese probleme in die land verantwoordelik is. Die wyse waarop dit reggestel kan word, is om grond en ander materiële middele aan die “wettige” eienaars terug te gee.

Dié ongesofistikeerde en oppervlakkige benadering tot die sosio-ekonomiese probleme in die land skep ’n vrugbare teelaarde vir hol retoriek soos “witmonopoliekapitaal”.

Die meeste van die EFF se argumente en standpunte berus op ’n oppervlakkige kennis van die ekonomie en vertoon ’n basiese onvermoë om die groter historiese en politiek-ekonomiese konteks te verstaan.

Die transformatiewe leier se populistiese styl is eenvoudig en meestal in die vorm van kort slagspreuke en trefwoorde sonder enige diepte. Daar word ook van die skare verwag om die slagspreuke in ’n koor te herhaal. Die fokus is ook dikwels op een persoon, sonder dat die konteks in berekening gebring word.

Die EFF se aanval op Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is ’n voorbeeld hiervan.

’n Verdere groot gevaar van populisme en populistiese leiers is dat dié strategiese benadering tot outoritarisme kan lei.

Die Zondo-kommissie, waar getuienis teen Gordhan gelewer kan word, word bloot geïgnoreer.

Die groot gevaar wat ’n populistiese party se ekstreme standpunte inhou, is dat dit geen ruimte vir konsensus of kompromieë laat nie. Die oomblik wanneer ’n populistiese party se leiers gematig raak en hul standpunte verwater, verloor dit alle trefkrag en waarde.

’n Verdere groot gevaar van populisme en populistiese leiers is dat dié strategiese benadering tot outoritarisme kan lei. Die leiers is uiteraard sterk outoritêr ingestel, met die leierskap wat normaalweg in een sterk leier of ’n klein groepering van leiers gesentreer is.

Malema is die openbare gesig van die party en beheer die party saam met ’n kerngroepie leiers.

Dié soort leierskap verdra nie kritiek uit eie geledere nie en dit verklaar die voortdurende wisseling van leiers net buite die binnekring, soos wat gebeur met die EFF se verwisseling van parlementêre verteenwoordigers; die hoogste van alle partye in die parlement.

Die EFF en die verkiesing in 2019

Die EFF se steun tydens die plaaslike verkiesing in 2016 was 8,1%, met 1,217 miljoen mense wat vir hom gestem het. Sy grootste steun was in Noordwes, waar hy 12,53% van die steun gekry het.

Die sterker steun in Noordwes het gevolg op die populistiese wyse waarop die EFF die Marikana-slagting maksimaal tot sy voordeel uitgebuit het.

Die EFF skep egter twee groot gevare of probleme vir rasseharmonie in die land omdat hy probleme tussen rassegroepe doeltreffend uitbuit, gapings tussen hulle groter maak en opruiend op die grens van haatspraak beweeg.

Wanneer Malema en die EFF teengestaan word, is hulle vinnig om die rassekaart te speel en ander van rassisme te beskuldig.

Pieter Labuschagne

Die tweede gevaar wat die EFF inhou, is dat hy onderskat word en mense glo hy moet nie ernstig opgeneem word nie.

Die EFF kan volgende jaar ’n baie sterk en ontwrigtende rol speel. Hy sal beswaarlik sy steun hoër as 12% tot 15% kan opstoot. Die gevaar is egter hoe beter dié party in die verkiesing vaar, hoe swakker sal die ANC vaar.

Die EFF se steun sal grootliks uit die geledere van die swart middelklas en armes kom – die tradisionele steunbasis van die ANC.

Indien die ANC se steun tot onder die drempel van 50% daal, sal koalisiepolitiek ter sprake kom. Die ANC sal nie bereid wees om na regs op die politieke spektrum na koalisievennote te soek nie, wat die DA sal uitskakel.

Dit beteken dat die EFF die sleutelrol kan speel om te bepaal wie regeer.

So ’n scenario is nie in die beste belang van Suid-Afrika nie. Die toekoms sal dan beslis ’n onstabiele wipwarit wees, met die EFF-stert wat die ANC-hond swaai.

* Pieter Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Eff  |  Adolf Hitler  |  Julius Malema  |  Pieter Labuschagne  |  Verkiesing 2019  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.