Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Einde van Covid-19: Moet nie te gou opgewonde raak

Dit is feitlik onmoontlik om afgeronde en finale eindes van pandemies te bepaal of te voorspel, skryf Agnes Arnold-Forster.

Die einde? ’n Betoger by ’n protesoptrede wat onlangs in Brasilia oor die Brasiliaanse owerhede se hantering van die Covid-19-pandemie gehou is. Foto: Reuters

“Nadat die pandemie verby is,” moet een van die frases wees wat die meeste in 2021 geuiter is.

Ek is beslis skuldig aan dié soort optimisme en kan nie wag vir die dag wanneer ek weer op ’n vliegtuig kan klim, saam met my vriende kan eet en al die babas kan vashou wat tydens die Covid-19-inperkings gebore is nie.

Die Britse regering het in Februarie ’n plan van vier fases bekend gemaak om Engeland se inperkingsmaatreëls teen 21 Junie te verslap.

Hoewel die premier gewaarsku het dat die toekoms bepaal sal word deur “data en nie datums nie”, lyk dit of sy selfbeheersing nie juis veel van ’n invloed op die bevolking se vlakke van opgewondenheid gehad het nie.

Tog wys die geskiedenis vir ons dat die einde van pandemies selde – indien ooit – afgerond en ongekompliseerd is.

Memes en plasings op sosiale media het dadelik toegeneem met mense wat in afwagting op dié komende vryheid vlugte bespreek, partytjies beplan en verlof geneem het.

Dit is nie net in Brittanje waar mense uitsien na die einde van die pandemie nie, en soos meer inentings gedoen word (hoewel nie oral ewe suksesvol nie), begin mense dink aan feesvierings en verligting.

Tog wys die geskiedenis vir ons dat die einde van pandemies selde – indien ooit – afgerond en ongekompliseerd is en dat dit selfs moeilik is om ’n presiese datum daaraan te koppel.

Pandemies in die verlede

’n Barbier dra ’n masker terwyl hy ’n kliënt in Chicago tydens die griepepidemie van 1918 skeer. Foto: Getty Images

Die Spaanse Griep-pandemie van 1918, met sy misleidende naam, was die dodelikste in die geskiedenis. Meer as 500 miljoen mense oor die wêreld heen is besmet en dit het die lewens van tussen 20 miljoen tot 50 miljoen geëis.

En soos vandag was mense aan sosiale beperkings onderwerp en moes hulle maskers dra.

Die pandemie het afgeneem maar dit is bykans onmoontlik om die presiese einde daarvan te bepaal.

Stede in Europa en Noord-Amerika het jare ná die pandemie se veronderstelde einde nog deurgeloop onder vlae van die virus wat opgeduik het.

Verskeie koerante het in 1920 berig dat die griep weer kop uitgesteek het. Daar is berig dat sowat 5 000 gevalle binne ses dae in Chicago voorgekom het en dat teaters opdrag gekry het om te sluit.

Later in daardie jaar is “drastiese maatreëls” ingestel om die verspreiding van griep in die stad New York te probeer bekamp nadat ’n noodvergadering met die vervoer-owerhede, die eienaars van teaters en bioskope, en die verteenwoordigers van afdelingswinkels gehou is.

In Parys is sowat 60 mense terselfdertyd aan griep dood.

Stede in Europa en Noord-Amerika het jare ná die pandemie se veronderstelde einde nog deurgeloop onder vlae van die virus wat opgeduik het.

Bofbalspelers in Amerika dra maskers tydens die griepepidemie van 1918. Foto: Getty Images

Tot so laat as 1925, en binne die bestek van nege dae, is 201 mense in Chicago dood aan wat koerante ’n “hoogs aansteeklike griep-epidemie” genoem het.

Dit is dus nie verbasend nie dat daar min historiese bewyse is van partytjies wat gehou is om die einde van die verskriklike virus te vier.

Vandag se koronavirus-pandemie verskil uiteraard van die verspreiding van griep oor die wêreld heen in 1918, veral omdat ons verskeie hoogs doeltreffende entstowwe het.

Dit is ’n magtige hulpmiddel en baie mense se hoop op die einde van Covid-19 is op dié wonderlike tegnologie gegrond.

Tog is polio eers byna drie dekades later in Brittanje in bedwang gebring.

Hoewel entstowwe ’n deurslaggewende rol gespeel het in pogings om aansteeklike siektes in die verlede te bekamp, is dié stowwe se vermoë om pandemies vinnig tot ’n beslissende einde te bring baie meer beperk.

Neem polio as ’n voorbeeld. ’n Entstof daarvoor is in die 1950’s ontwikkel en Jonas Salk, die man wat dit ontwikkel het, het byna onmiddellik ’n Amerikaanse held geword. Tog is polio eers byna drie dekades later in Brittanje in bedwang gebring en daar was geen vakansiedae om die laaste natuurlike infeksie in 1984 te herdenk nie.

Die einde van vrees

’n Betoger in Brasilia wat protes teen die Brasiliaanse owerhede se hantering van die Covid-19-pandemie aanteken. Foto: AP

Mediese geskiedkundiges weet dat pandemies en epidemies sosiale verskynsels is. Gevolglik kom dit op twee maniere tot ’n einde.

Daar is die mediese afsluiting wanneer gevalle van die siekte afneem en die sterftesyfers skerp daal.

Maar daar is ook die sosiale einde wanneer vrees vir infeksies afneem en sosiale beperkings gelig word.

Dit is onwaarskynlik dat daar ’n presiese einddatum vir die pandemie sal wees.

Dit is belangrik om daarop te let dat jy die een sonder die ander kan hê.

Koronavirus-gevalle kan afneem, minder mense sal in hospitale opgeneem word of sterf, mense sal minder angstig wees en die lewe sal na normaal terugkeer – in daardie volgorde.

Of die gevalle sal dieselfde bly en mense sal net keelvol raak vir beperkings en – ongeag die gevolge – die partytjies hou wat hulle beplan het.

Of die gevalle kan afneem, maar mense kan bang bly – hulle sal nie gerus voel daaroor om na ’n “normale lewe” terug te keer nie en sal steeds hou by van die voorsorgmaatreëls waaraan hulle gewoond geraak het.

Ons moet ook onthou dat die koronavirus ’n wêreldwye siekte is en dat verskillende plekke uiteenlopende sosiale en mediese eindes aan hul onderskeie weergawes van die pandemie sal ondervind.

Situasie nie oral dieselfde

Entstowwe is die wêreld se enigste hoop op ’n spoedige einde aan die Covid-19-pandemie. Foto: AP

MIV/vigs het in die 1980’s en 1990’s oor Europa en Noord-Amerika gespoel. Die infeksies het sedertdien drasties verminder en baie mense in ontwikkelde lande wat MIV-positief is, kan lank en gesond leef.

En tog was bykans 40 miljoen mense wêreldwyd teen 2019 met MIV besmet en ervaar ons steeds wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ’n “wêreldwye pandemie” noem – dit is net dat die geografiese omvang van die siekte verander het.

Soos wat die ryker nasies hulle uit die inperkingsmaatreëls inent, sal die einde van hul pandemies relatief vinnig aanbreek. Maar wat van die res van die wêreld? Wanneer sal ontwikkelende lande ’n soortgelyke ontwikkeling kan waarneem?

Hoewel ons almal dalk ’n dosis optimisme nodig het, moet ons nou begin dink oor die toekoms waarna ons uitsien.

Dit is onwaarskynlik dat daar ’n presiese einddatum vir die pandemie sal wees, waar jy ook al kyk.

Ons kon nog net een siekte (pokke) suksesvol uitwis en die einde van elke ander epidemie of pandemie in die geskiedenis was morsig, uitgerek en ongelyk.

Hoewel ons almal dalk ’n dosis optimisme nodig het, moet ons nou begin dink oor die toekoms waarna ons uitsien en hoe ons die lesse wat ons die afgelope jaar geleer het, gaan toepas – eerder as om partytjies en vakansies te beplan.

Arnold-Forster is ’n navorser oor die geskiedenis van geneeskunde en gesondheidsorg aan die Universiteit van Bristol. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Parys  |  Brittanje  |  Chicago  |  Entstowwe  |  Koronavirus  |  Vigs  |  Spaanse Griep  |  Polio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.