Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ek blý waar ek vandaan kom...

Te veel tyd word spandeer deur te veel mense wat bereid is om te sterf op te veel heuwels om te min rede, skryf Bruce Clark.

Daar was ’n tyd – in 1986 – toe wit en swart nog saam op Nuwejaar in die strate van Hillbrow kon dans. Foto: Gideon Mendel, Corbis

Daar is ’n karwassery naby ons huis in Johannesburg.

Dit is naby die einde van een van my drafroetes, en oor baie jare heen – te voet of per motor – is ek seker duisende kere daar verby.

Oor naweke is daar ’n mengelmoes van kliënte by die nabygeleë winkels – ’n bloemiste, slaghuis, vape-winkel, groentewinkel en ’n skoonheidsalon – en die omgewing lyk meer soos ’n buurtkermis.

Daar sal ’n paar treiler-winkeltjies wees, en ’n tou mense by die ou wat koffie en pannekoek verkoop.

As ’n nuwe kar by die motorwassery aankom, drentel die koerantverkoper by die verkeerslig nader om te sien of hier besigheid vir hom is.

Dis raserig. Musiek, van die harde doef-doef-soort, blêr uit ’n luidspreker van êrens en ding met die stofsuiers mee.

Jongmense wil nie weet wie was reg of verkeerd nie.

’n Afrikaanse man en sy vrou werk saam agter die gasbraaiers. Hy kook en sy verkoop.

Daar is ’n paar lendelam tafels en plastiekstoele wat oral rondstaan.

Kliënte by die karwassery eet, gesels of lees die tyd om.

Dikwels kom ek terug by die huis, rasend honger nadat ek deur die koswalms moes draf.

Op weeksdae is dit egter ’n ander plek. Dit voel effens hartseer. Daar is geen luide stemme nie, geen koswalms of doef-doefmusiek nie. Die koswaentjies en kermisatmosfeer is weg.

As ek daar verbyhardloop, is dit net die motorwassers wat lui rondsit wat aandui dat die plek hoegenaamd oop is.

Die toevallige weekdag­kliënt is gewoonlik ’n vrou. Sy dra gimklere en haar motor is ’n mom’s taxi-model – met jare se skoolplakkers op die voorruit.

As sy nie haar kar daar gelos het terwyl sy haar aërobiese oefeninge doen nie, drink sy ’n wegneem-cappuccino en lees haar selfoonboodskappe terwyl sy wag.

                                                                                         ***

Maar jy besef natuurlik ek gaan nie regtig oor die was van karre skryf nie. ’n Karwassery is net ’n “ding” op dieselfde manier as wat Oktober net ’n maand is.

Oktober is die mooiste maand. Hoekom? Wat is so mooi aan Oktober? Wat maak Oktober mooi op maniere waarop die ander 11 maande nie mooi is nie?

Ons is almal saam in dieselfde boksie.

Dis maklik. Leipoldt maak dit tog duidelik: Oktober is die mooiste maand, want dan is die dag so helder, so groen is elke aand. Die hoop is in die vorm van ’n “blomtuin-vol van kleure” en “bloekoms langs die paaie, almal nuutgeboen”.

Oktober is ’n alternatief vir “dae soos yster”. En ook ’n alternatief vir winter.

Ons het so gewoond geraak aan lelikgeit – om die waarheid te sê verwag ons dit – maar Oktober gee bietjie hoop.

Soos T.S. Elliot se “cruelest April” gee Oktober hoop.

Dis die mooiste maand juis vanweë sy kontras met ander maande.

’n “Ding” is nooit so invloedryk as die afwesigheid daarvan nie. Dinge is ’n alternatief vir uitsigloosheid.

Die hoop kom van die “boomsingertjies en die kriekies, dié hoor jy oral fluit”.

Wat skeel dit as ons later weer donker dae kry? Die hoop kom van viooltjies in die voorhuis. Hulle is ’n alternatief vir die donker dae. Oktober is die maand waarop ’n “blomtuin-vol van kleure uit die asvaal ou Karoo opstaan”.

Jy kan miskien die daaglikse houe vat, maar sal jy hulle steeds verduur as hulle vir net een enkele dag stop?

                                                                                        ***

My krisis het op ’n onlangse weeksdag gearriveer.

Voor ek begin, moet ek dalk eers ’n bietjie stilstaan. Die mense op die heuwels het tyd nodig om te vergader.

Watter heuwels? Daardie heuwels waarop hulle bereid is om te sterwe, natuurlik in die gevegte wat hulle bereid is om te veg ten behoewe van die oortuigings waarvan hulle nie bereid is om af te sien nie. Ons het die Vallei van ’n Duisend Heuwels binne ons grense, gelukkig, want ons het elkeen van hulle nodig.

Die motorwassery het skielik anders gevoel. So bekend is ek met die buurt dat iets skielik vreemd gevoel het toe ek om die hoek kom. Daar was die karwassery – wat doodstil behoort te wees – maar daar was vier karre.

Drie van hulle was uitermate vuil dubbelkajuitbakkies en een ’n blou afslaandak-BMW-sportmotor. Die vier bestuurders was oënskynlik almal min of meer ewe oud. Ek is baie sleg daarmee om ouderdomme te skat, maar ek sal raai hulle was almal so om en by 30.

Mense wat ek “jonk” sal noem.

Die bakkiebestuurders was almal wit, manlik en Afrikaans. As jy van stereotipes, hou, sal jy hierdie geniet: bruin sokkies, Australiese Chelsea-stewels (daai soort met die rekverband aan die kant), kakiekortbroek (in die winter) en two-tone hemde.

Dit was of hul vrouens (of mans) saam gaan inkopies doen het. Hulle het gelyk soos boere of die seuns van boere – maar hoekom sal drie boere hul bakkies by ’n motorwassery in die stad in die middel van die week laat was?

Ek raai graag wat mense doen deur net na hul klere of gewoontes te kyk – so, al drie mans was duidelik saam daar.

Die beste waarmee ek vorendag kon kom, was dat al drie saam by dieselfde konstruksiemaatskappy werk.

Ingenieurs? Landmeters? Ek weet nie. Wat ek wel weet is dat hulle almal in ’n losse halfkring om die BMW-bestuurder gestaan het – ’n vrou – en haar geterg het oor haar patetiese gholf.

O ja, gholf. Ek het vergeet om te sê dat een van die attraksies van die karwassery ’n kunsmatige setperk is. Dis nie baie groot nie, maar dit blyk gewild te wees. Dit is reg agter die wassery geleë, met ’n gaatjie aan die een kant, ’n asblik vol setstokke aan die ander kant. Kliënte van die gholf-variëteit kan hulle ding doen terwyl hul karre geskrop word.

Die meisie was regtig uitsonderlik mooi. ’n Digter sou haar skoonheid as heeltemal oorbodig beskryf het. Sy was beduidend langer as die mans, slank en geklee in hoë­hakskoene en ’n sake-pakkie met potloodstrepies en wit bloes.

En sy was swart. ’n Naomi Campbell-lookalike, maar met beter maniere. ’n Model? Kan nie wees nie. Dit was te vroeg, en modelle slaap tot middagete. ’n Bankier? ’n Regsgeleerde? Daarvoor het sy nie gestres genoeg gelyk nie.

Die toneel was bisar genoeg vir my om my drafsessie te laat vaar en op die paaltjiesheining te gaan sit om na hulle te staar.

Haar gholf was beroerd. Sy het die setstok vasgehou soos ’n bofbalkolf en na die bal geswaai. Die kere wanneer sy daarin geslaag het om die bal raak te slaan en die bal in die regte rigting gerol het, het die drie mans hande geklap en gejuig.

Ek het nog nooit ’n swart vrou gesien gholf speel nie en dit het ’n bietjie vreemd gelyk.

Maar dan weer, waarom sal ’n buitengewone lang, swart vrou in hoë hakke met ’n potloodstrepie-pakkie en ’n lang halssnoer nie op ’n weeksdag by ’n karwassery ’n bietjie gholf speel nie – pleks daarvan om iets op haar foon te lees?

Ja, ja, ek kan hoor julle daar op jul heuwels begin wakker word, maak jul kele skoon, reg om ’n punt te maak.

As ek verbaas is om ’n swart vrou te sien gholf speel is dit ’n bewys dat ek ’n rassis is.

As ek verbaas is om ’n vrou te sien gholf speel, word ek afgegradeer tot ’n vrouehater.

Of dit is ’n bewys dat ek nie gholf speel – en nie baie daarvan weet nie. Ek het wel al genoeg vroue gesien wat hul oë rol as die woord gholf net genoem word, ek het al die term gholfweduwee gehoor en aangeneem dat gholf, hoofsaaklik, mans-terrein is.

Ek weet daar is ’n man genaamd Tiger, nog een wat Ernie heet, dat daar ’n miljoen gholf-feite is waarvan ek nie weet nie. Ek het sedertdien (dankie mnr. Google) uitgevind dat Suid-Afrika twee professionele swart vrouegholfspelers het. Niks anders, sover dit gholf betref, het nog ooit deur my onbelangstelling gedring nie. Wat my betref, is gholfbane plekke om te gaan hardloop, veral op koue wintersoggende wanneer jy die ryp onder jou voete kan hoor kraak.

Die vier het ’n jolige tyd gehad. Die mans het na Engels oorgeslaan en die kern van hul boodskap was: Hou by jou day job.

Ongesteurd daardeur dat sy die middelpunt van belangstelling is, het die vrou opgekyk van haar onbeholpe kappery na die balletjie en teruggespot.

Dit was die bes moontlike manier om ’n drafsessie te voltooi. Om op ’n heining te sit terwyl jy emmers vol sweet en te kyk hoe die vreemdste kombinasie van Suid-Afrikaners die tydjie gate uit geniet.

Kurt Vonnegut het ’n bietjie raad vir ons: “Let asseblief op as jy gelukkig is.”

Ek het – en ek was.

En so gaan dit. Vir die kortste van oomblikke is ons weer normaal. Die son het ondergegaan, die son het opgekom en daarmee saam die kontras.

Oktober was verby en die wêreld was weer onderstebo.

                                                                                         ***

Ek is wit en Engelssprekend en dit is nie ’n feit waarop ek vreeslik trots is nie. Dit is nie ’n handewringende verklaring van selfhaat nie. Ek het geen probleem daarmee om wit te wees nie, of Engels te praat nie, maar ek is selfbewus oor die feit dat ek nie, minstens, tweetalig is nie.

Dit was nog altyd so. Ek staan met ’n effens beskaamde uitdrukking op my gesig terwyl ander mense my tegemoetkom.

Deur ’n toevalligheid van die lewe, wat nie nou ter sprake is nie – en beroerde tuisonderrig (waaroor ek al voorheen op dié blaaie geskryf het) – praat ek net een taal. As jy nou hierdie in Afrikaans lees, is dit omdat ’n meer bekwame persoon die moeite gedoen het om my taal te lees en dit in jou taal om te sit.

Ek is ook ’n Afrikaan en dit is iets waarop ek trots is. Ja, dit is wat ek is. Ek voel geen begeerte of behoefte om dit te verduidelik nie. Waarom moet ek?

Tog maak dit hopeloos te veel mense briesend om gesond te wees. Hulle staan, in hul duisende, op van hul heuwel, swaai hul spiese en ratel hul skilde terwyl hulle uit hul rooi oorpakke bars.

Hul woede oor hierdie wit man, ’n Engelssprekende, wat as Afrikaan identifiseer, is instinktief, diepgesete en verontrustend.

“Jy kan nie wees nie!”

Maar ek is.

“Jy is nie swart nie!”

Ek weet. Maar wat daarvan?

“Fokof van waar jy gekom het.”

Waar ek vandaan kom? My huis? Waar die kaalvoetkinders in die straat parkeerplek aanwys?

Hillbrow? Die plek waarvan die naderende ondergang so pynlik mooi beskryf is deur ’n ander manjifieke Suid-Afrikaner en Afrikaner, Johannes Kerkorrel, as “’n toekoms vol gate?’

’n Leeftyd gelede en net ’n paar strate weg, wil hulle nou hê dat ek moet teruggaan na waar die “boemelaars raas by die Wimpy Bar”?

“Dit” is altyd met ons, is dit nie? Jy weet wat ek bedoel, want die monster bly ook in jóú kelder. Hy is oral.

Om daarvan te ontsnap, “met ’n helse lot pyn”, praat jy van ’n nuwe ontworteling en die meriete van ’n nuwe Groot Trek. Die monster, ons generasie se dilemma, ons hardnekkige probleem, ons vernietigende verlede, ons toksiese hede, ons vergiftigde toekoms, ons sosiale verbrokkeling, ons politieke ongedurigheid, ons ekonomiese ineenstorting, ons verval, ons inploffing, ons eie Tsjernobil.

Ons spook van apartheid.

Maar terug na daardie heuwels. Te veel tyd word spandeer deur te veel mense wat bereid is om te sterf op te veel heuwels om te min rede.

Dit is alles so puntloos.

Wil jy oorlog maak teen ’n spesifieke taal? Gaan voort. Gebruik jou hele ministerie, ’n paar professors, talle koerantrubriekskrywers en ’n leër van trolle; druk wetgewing deur en alles sal kom tot . . . niks.

Meer mense sal dit praat, meer mense sal dit leer en, net omdat hulle kan, sal meer mense jou daarmee tart. Verbied sommige kleure en meer mense sal daarmee verf; verbied ’n vlag en meer mense sal dit swaai; verbied ’n lied en meer mense sal dit sing. Verbied mense om hier te werk en hulle sal elders gaan.

Het ons, met ons unieke geskiedenis, dan niks daaruit geleer nie?

My grootste vrees is dit: Wanneer die geveg oor is, as die hange verlate is, wat dan? Die wenner lê beslag op ’n karkas, die oorwinning is ’n skynsukses en die mense waarvoor ons die meeste omgee, ons jeug, is weg. Ons mors ons tyd en hulle is moeg vir ons stront.

Ek is genoegsaam genestel as ouer in twee “ten volle getransformeerde” private skole om te weet dat, reg oor die spektrum heen, beplan die beste en slimstes om te waai. Daar is dalk ’n wraaksugtige bevrediging daarin om te dink dat ons ontslae raak van die Smarties waarvan ons nie hou nie, maar, raai wat, ons is almal saam in dieselfde boksie.

Lank voordat ons dink hulle is reg vir keuses, het hulle al klaar gekies. Daar is geen sentiment betrokke nie of sprake van “tradisie” nie.

Jongmense wil nie weet wie is dit waardig of wie nie, wie was reg en wie was verkeerd nie. Ons ervaring van pyn is vir hulle so interessant soos oupa se aambeie.

Hoe ons ons heuwels beset en ons oorloë veg is van geen belang nie. Hulle wil ’n skakelaar druk en lig hê, ’n kraan oopdraai en water drink. Hulle wil in interessante funksionele stede bly. Hulle wil ’n geneesmiddel vir kanker vind, vegvliegtuie vlieg en brûe bou. Hulle wil lag en dans en vry. Hulle wil normaal wees, veilig en gesond jonk. En hulle gaan waai!

Laat my toe om vir ’n oomblik te spog: 14 jaar oud, pas in die hoërskool en, met die eerste probeerslag, ’n top-tien in die wiskunde-olimpiade. Daar is ook ’n ander een: 13 jaar oud, op pad hoërskool toe, en net so slim.

Vat so, Hillbrow. Kyk wat het ek gedoen. Ek het mense gemaak: intelligent, liefdevol, minsaam en gelukkig. Ek wil hulle bekend stel voordat ek hulle wegjaag. Ek het hulle nie grootgemaak om gekromde skouers of senuweeagtige oë te hê nie. Staan regop en kyk op. Neem jou wonderlike gees en gaan.

                                                                                   ***

En kyk nou wat het gebeur.

Wat begin het by ’n motorwassery het tot hier gelei.

Wys my ’n pragtige swart vrou wat grappies maak met ’n paar jong Afrikanermans en kapoef – ek het ’n identiteitskrisis.

Wat om te doen? Besluite, besluite, besluite. Waar gaan jy as jy ’n krisis het en nie meer jonk is nie en nie meer nodig is nie? Wat doen ek as my werk as ouer gedoen is en my kinders weg is?

Ek gaan goeie raad volg. Ek gaan “fokof waar ek vandaan kom” – wat beteken dat ek net hier gaan bly.

Ek gaan ophou om verskoning te vra vir goed wat ek nie gedoen het nie. Ek gaan ophou om gedwee te wees. Ek gaan veg vir wat myne is. Ek gaan myself ’n bietjie woede toelaat. My Moer soek ’n Vrou.

Ek sal nie stilgemaak word nie. Uiteindelik, op hierdie laat stadium van my lewe, leer ek nou ’n Afrikataal. Ek het die een gekies wat een van my beste vriende praat. Hulle is so taai soos ratels en hulle laat my lag. Afrikaans.

Ek het ’n vertaling-app op my foon en ’n woordeboek op my lessenaar. Ek het ’n paar idiome nageslaan en een geleer wat ek seker is ek op een of ander stadium gaan nodig kry.

Ek skrik nie vir koue pampoen nie.

* Bruce Clark is die skrywer van die boek Love, Sex, Fleas, God – Confessions of a Stay-at-home Dad.

Meer oor:  Taal  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.