Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ek en St. Nelson

Oudpres. Nelson Mandela het die vermoë gehad om die rykste mense in die land se arm te draai tot hul oë traan, skryf Ton Vosloo.

Oudpres. Nelson Mandela in die presidensiële straler met ’n kombersie oor die voete en ’n Volksblad op die skoot. Foto: Christiaan Kotze

Op ’n goeie dag in 1999 vertrek ek met ons land se eerste demokraties verkose president op ’n rondrit. Dit was kort voor sy uittrede as staatspresident in Junie van daardie jaar.

Die rondrit begin en eindig in ’n klein straalvliegtuig. Ons twee sou allerhande goeie dade in hulpbehoewende gemeenskappe gaan verrig. Ek sou weldra weet waar oral ek bestem was om ’n goeie daad te verrig.

Dié dag het ek gesien hoe behendig St. Nelson, Suid-Afrika se eie heilige, na die minste van sy mense probeer omsien het.

Pres. Mandela het my uitgenooi om Calitzdorp en Carnarvon op dié gedenkwaardige dag te besoek. Hy het kort voor sy uittrede ’n rits plekke besoek waar die nood onder agtergeblewe gemeenskappe die hoogste was.

Sakelui is aan die hand van ’n lys wat opgestel is, saamgenooi om by die arm gemeenskappe aan te doen. Daar aangekom, is hul arms uit potjie gedraai om ’n skool, kliniek of iets anders wat die gemeenskap kon ophef, te skenk.

Dié dag is dit my beurt. Ons vlieg van Ysterplaat in ’n haastige klein straler na Oudtshoorn. Mandela, ’n TV-span van die SAUK en ’n paar personeellede het al ses­uur die oggend van Waterkloof vertrek om my in die Kaap op te pik.

Saam met ons was die groot onderwysman Franklin Sonn, dalk reeds finaal terug van sy termyn as die eerste Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington ná die verkiesing van 1994.

Ek word weer voorgestel as die man wat die dorp lag-lag kan koop.

’n Reiswaardin van die Suid-Afrikaanse Lugmag dra vir Mandela ’n wolkombersie aan. Die president trek sy skoene uit en strek sy bene om op sy leersitplek te rus. Hy vra sy bril, en lees eers Die Burger en die Cape Times. Onderweg na Kaapstad het hy reeds klaargespeel met Beeld, The Citizen, The Star en die Sowetan. Hy was ’n kranige koerantleser.

Tussenin gesels ons boeke vol. Ek het destyds ’n artikel oor dié rondrit vir Rapport geskryf. Ek sal vertroue skend, het ek geskrywe, as ek alles moet oordra wat Mandela oor die De Klerks (sowel FW as sy intussen gestorwe vrou, Marike), PW Botha, Bill Clinton (toe nog omstrede Amerikaanse president), die Britse koningin, Kabila, Savimbi, Arabiese konings en prinse te sê gehad het. Maar ek het bygesê dat hoewel Mandela van stories oorborrel, hy nie regtig nydig is of skinder nie.

Met ons aankoms op Calitzdorp wag duisende mense op die rugbyveld in Bergsig, die bruin dorp oorkant die Nelsrivier. Dit jil en joel terwyl ons groen Mercedes, swaar gepantser teen moontlike aanslagkoeëls (Mandela het dit van PW geërf) tussen die trompoppies deurry.

Mandela en Ton Vosloo in 2005 by die KKNK in Oudtshoorn. Foto: Gallo Images

Hulle gil: “Viva Tata!”, “Viva Madiba!”, “Viva Mandela!” En toe hy uitklim: “Jive vir ons!”

Mandela het nie gejive nie. Hy is ingelig ons het net 45 minute, dan moet ons aanstoot terug Oudtshoorn toe. Van daar sal ons in ons straalvliegtuig na De Aar vlieg. ’n Kleiner skroefvliegtuig van die lugmag sou ons vervolgens na Carnarvon neem, waar ’n ewe groot skare in die son en stof wag.

Maar wat doen Mandela toe? Hy bedank die skare vir hul opkoms, maar stel hulle teleur deur te sê hy gaan nie veel meer sê nie. Hy wil hulle eerder voorstel aan ’n belangrike man, een van die rykste mense, iemand wat sommer die hele Calitzdorp lag-lag kan koop. En dié man gaan vir hulle vertel wat hy alles vir hulle gaan doen.

Ek was totaal onvoorbereid op ’n toespraak. Laat staan dat ek as die gemeenskap se skatryk, voornemende weldoener voorgestel sou word! St. Nelson het my lekker onkant gevang. Ek stotter dit toe uit dat ek maar net vir Naspers teen ’n salaris werk. En buitendien, wie is ek nou eintlik? Die mense van Calitzdorp weet van Huisgenoot, Die Burger, Rapport en M-Net, maar nie van Ton Vosloo nie. Nietemin, ons sal iets rondom leerlingbehoeftes prakseer.

Die skare juig, en in ’n oomblik van stilte dink ek hoe merkwaardig die byeenkoms ooreenstem met dié van die Natte van 30, 40 jaar terug. Die dominee is daar om met skriflesing en gebed te open, die koor kry ’n beurt, die lapelruiker word aangesteek, die geskenke word uitgedeel, en daar is ’n rits bedankings. Als in lekker Afrikaans. Dit is my mense hierdie . . . mense wat so lank deur wit mense uitgestoot en verneder is.

Terug in die vliegtuig hoor ek van die verhouding met die bewaarders op Robbeneiland, Pollsmoor en Victor Verster. Hoe ds. Scheffler se besoeke as geestelike bearbeider skielik stopgesit is toe Mandela vir hom ’n koejawel skenk om aan sy vrou te gee. Of hoe ds. Mehl se besoeke later daarop uitgeloop het dat die veiligheidspolisie stilletjies agter sy motor aanry om dop te hou by wie hy stop. Hy is verdink daarvan dat hy ’n boodskapdraer vir die ANC is.

Ons praat oor die rolle van Kobie Coetsee, Pik Botha en Niël Barnard in die delikate onderhandelingsproses; hoe Mandela hom tydens Kodesa vererg het vir FW en hom trompop geloop het oor die NP se agterdog dat die ANC in kwade trou onderhandel. Dit het Kodesa byna verongeluk. Mandela het later vir FW gebel. Met die hervatting van die onderhandelinge het hy opsigtelik na FW gestap en sy hand geskud om vertroue te herstel.

Pres. Mandela vertel in die vliegtuig ook dat die nuwe mev. Mandela, Graça, haar oorwerk in haar toewyding aan opheffingsprojekte.

Op ’n vraag sê hy daar is nie by hom bitterheid oor die 27 verlore jare nie.

Hierdie is ’n uittreksel uit die boek Oor grense deur Ton Vosloo uitgegee deur Jonathan Ball Uitgewers. Dit kos R275.

“Ons het in die tronk ’n onderneming gegee dat wanneer ons vry is, ons almal, die ouer mense en die jonges, ons lewens aan konstruktiewe bydraes tot die samelewing sal wy.”

Onderweg na Carnarvon sê ek hy gaan daar dalk skaapvleis as geskenkpak kry. Want sien, in die Noordweste eet die mense vleis, en as jy groente vra, gee hulle jou ’n varktjop. In Calitzdorp was dit port. Calitzdorp is immers ons land se port-hoofstad.

Aangekom op Carnarvon, kry mnr. Mandela sowaar ’n geskenk van toegedraaide vleis. Self eet hy nie juis vleis nie. Hy het die hele dag mineraalwater gedrink en twee piepklein toebroodjies geëet toe die lugwaardin op sy vraag sê hulle het nie grondbone aan boord nie.

Op Carnarvon is die verwelkoming gul en ek word weer voorgestel as die man wat die dorp lag-lag kan koop.

Ek belowe ons sal dink aan ’n rekenaarsentrum wat Naspers dalk saam met M-Web en M-Cell kan aanbied.

Die koor van al drie skole op die dorp begin sing. Die kleintjies steek hand uit. Ook die vroue reik uit na Madiba. En nou begin hy jive. Hy gryp die Noord-Kaapse premier, Manne Dipico. Jy kon sien en voel hier is nou ’n politikus, ’n man in totale harmonie met sy mense.

Op Carnarvon kon ek die Madiba-magic op volle toere sien. Dié betowering skryf ek aan verskillende aspekte van sy persoonlikheid toe. ’n Mens kon al sy eienskappe daar in die Noord-Kaap waarneem. Hy is ongekunsteld, maar so slim soos min. Hy kan met konings en agterryers omgaan. Elkeen voel hy stel net in hulle belang. Hy straal outydse warmte en spontaneïteit uit. Hy is eg.

Sy vrylating is oor die wêreld heen as ’n persoonlike morele oorwinning oor die Suid-Afrikaanse rassebeleid gesien. Die martelaarstatus wat sy inkerkering aan sy buitengewoon innemende persoonlikheid toegevoeg het, het van hom inderdaad ’n soort heilige gemaak. Hier van Calitzdorp en Carnarvon se stofstrate tot by Stockholm, Washington, Tokio en Parys se vergulde ontvangste.

Terug op ons skof Kaap toe is almal se skoene vol stof. Syne word gehaal en skoongepoets. Hy sit met sy voete opgelig, drink water en ons gesels lank en lekker. ’n Koerantman se droom.

My ooglede dreig soms om nouer te trek, al moes ek dié oggend nie so vroeg soos Mandela opstaan en met die rondrit begin nie. Die bejaarde van byna 82 jaar oorkant my verdraai nie ’n woord nie, herhaal nie ’n storie nie, en boei vir my en Franklin Sonn met ongelooflike binnestories.

Die man het stamina wat my bene lam maak.

Mandela het nie alleen stamina gehad nie, maar ook staal in sy pype. Die ou Boere-uitdrukking vir ’n goeie en ware man, ’n man “met ’n hart van goud en ’n wil van staal” kom by ’n mens op.

Toe sy regering in die eerste jaar die weermag se begroting met R700 miljoen besnoei, kon ’n mens sy staal sien. Hy vra ’n helikopter aan om iewers heen te vlieg. Die helikopter tot sy beskikking is kort voor die vlug onklaar.

Op ’n ander dag draai dit ná vyf minute in die lug om, oënskynlik met enjinprobleme.

“Dit was die weermag se manier om vir my te sein dat hulle nie hul toerusting in orde kan hou as ons hul geld inkort nie,” vertel Mandela op die terugvlug. Hy moes sy staal wys. As opperbevelhebber roep hy die verdedigingsminister, Joe Modise, in en vra ’n verslag aan oor wat met die tjoppers skort. Sake het sedertdien drasties verbeter, want die twee vliegtuie waarmee ons dié dag reis, is in ’n topkondisie.

Nelson Mandela was op byna 82 self in ’n topkondisie, miskien weens sy selfdissipline wat mens op die rondrit alleen al aan sy gesonde eetgewoontes kon sien. Hy laai vir my en Franklin Sonn in die Kaap af en draai om Waterkloof toe. Daar lê vir hom nog ’n uur en ’n half voor. Vir ons twee veel jonger manne was dit die einde van ’n veeleisende maar heuglike dag saam met ’n onvergeetlike man.

Mandela is enkele maande later, met die wisseling van die millennium, deur Time Magazine tot een van die 100 belangrikste mense van die 20ste eeu uitgeroep.

Meer oor:  Nelson  |  Mandela  |  Madiba  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.