Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ek gáán dit maak’

Die TV-dekking van Sondag se Comrades gaan iemand se lewe êrens in die land onherroeplik ten goede verander, skryf Bruce Clark.

’n Ultramarathon doen meer om jou aan jouself voor te stel as bykans enige ander aktiwiteit. In daardie opsig is die Comrades brutaal – en dit wys.Foto: Herman Verwey

Die stadsaal kom eerste in sig, die spreiligte so helder in die donker dat dit jou oë laat pyn. Dis vyfuur in die oggend op die Suid-Afrikaanse dag der dae. Comradesdag.

’n Kombers word gehaal, die koffie begin sy werk doen en die oë begin gewoond raak aan die donker. Onder die duisende hardlopers is daar heelparty wat plakkate omhoog hou: “Is ons al daar?” “Hallo Nelspruit.” “Hier is ek.” “Feet don’t fail me.” “Will you marry me?” “Vasbyt.” “Hou bene hou.”

Groep A tot H. Landsvlae, die vlae van die verskillende pasaangeërs. Pers ballonne.

Die stemme in die televisieateljee doof uit en die geluide van die wegspring word in voorkamers reg oor die land ingedra. ’n hartverskeurende “Shosholoza”. “Chariots of Fire”. En dan, met pette af, die hand op die hart en betraande oë na die hemel gedraai, ons pragtige volkslied.

Die slaap is teen hierdie tyd goed uit die oë gevee en verplaas deur ’n oorweldigende begeerte om ook in die middel van daardie skare mense te wees – die verenigde nasies van hardlopers.

Voordat enige samehangende gedagte nog gevorm is, glip die woorde “volgende jaar” uit en staan jy met duisende ander oor die hele land in jou pantoffels en pajamas op aandag terwyl jy met ’n gebalde vuis om 05:25 op ’n Sondagoggend die volkslied in jou eie voorkamer sing.

Ek kan met redelike sekerheid sê dat die TV-dekking van die Comrades-marathon vandag êrens in die land iemand se lewe vir altyd onherroeplik gaan verander – ten goede. Êrens gaan iemand ’n nuwe doel in die lewe kry, êrens gaan iemand ’n jaar van vandag af hul eie wedergeboorte kan herlei na hierdie oggend, die dag toe hulle na dié grootse wedloop op die televisie lê en kyk het.

Met ‘Braveheart’ in gedagte, die drang om te veg wat pols in die are, word die deur oopgegooi en jy verdwyn in die vroeë aandlug. Die voorbereiding vir die Comrades het begin.

Die grootste deel van die dag gaan op die rusbank deurgebring word. En elke keer as die ketel aangeskakel word of in die yskas geloer word, gaan die foon saam. Net in geval ’n familielid of ’n vriend wat vandag hardloop gedurende dié tyd êrens oor ’n tydmat hardloop en jy die SMS mis. Want jy wil op daardie presiese oomblik daarvan weet; jy wil hulle dit in jou geestesoog sien doen.

Twee uur in die wedloop in is dit steeds ’n ordelike prosessie van gemaklike hardlopers. Volgens die omroepers is die grootste gros van deelnemers nie super-
atlete nie, net gewone mense – mynwerkers, polisiemanne, onderwysers – wat die buitengewone probeer regkry.

Vir al die duisende ekke en joue is hierdie nie ’n resies nie, dit is ’n dag van groei, leer, en selfrefleksie.

Opinies word gegee. Wie het geen kans nie en wie het ’n klein kans. Wie het te vinnig weggespring en wie gaan die voorlopers nooit inhaal nie.

Twee koppies koffie later en skaars verby ontbyt is die wedren vir die beste atlete en die stryd om die toptien posisies so te sê verby. Die individuele hardlopers is besig om die laaste heuwel aan te durf en die einde is in sig.

Hulle sal stadiger hardloop – en moontlik van plekke verwissel – maar binne die volgende 30 minute sal hul dag verby wees. Dan kan hulle ’n laat ontbyt of vroeë middagete in Durban eet en nadink oor die wedloop om oorlewing wat maar pas 40 km buite Durban begin het.

Nêrens anders leer jy jouself beter ken as in ’n ultramarathon nie. In daardie opsig is die Comrades brutaal – en dit wys. Tussen Ethembeni School en die bopunt van Botha’s Hill is dit ’n bloedbad. Die pad is lank en eindeloos. Hardlopers, gedwing om hul eie swakhede te erken, sukkel duim vir duim vorentoe.

Ure lank wag rye en rye klein liggaampies met uitgestrekte hande in rolstoele, met krukke, blou truitjies en glimlagte vir die stroom hardlopers wat verbykom. Bewegende hande raak aan statiese hande. Gekneusde liggame maak gesonde liggame nederig.

Dan Inchanga – Mount Doom – die een heuwel wat oor alle ander heers. Dit hurk reg in die middel van die roete vanwaar dit alles kan sien. Dit meet jou energievlakke en bepaal jou lot. Die dag sal goed, sleg of verskriklik wees, afhangende van hoe jy op Mount Doom voel. Drie kilometer verder oos en dit sou die Comrades-roete presies in twee gedeel het, maar dit is nie presies in die middel nie – en afgryslik so. Net voor die halfpadmerk as jy af hardloop, net ná halfpad met die opgaanslag. Dit eet jou bene op pad na Durban en vernietig jou kop na Pietermaritzburg. Kies jou gif.

Bruce Clark (nr. 1064) beduie in ’n vorige Comrades aan sy vrou, Christine, dat Inchanga nog voorlê.

By Arthur’s Seat, die halfpadmerk, staan die hardlopers in lang toue om respek te betoon aan die legendariese mnr. Newton wat die Comrades vyf keer in die 1920’s gewen het. Wees beleefd teenoor Arthur, so sê hulle, en jy sal ’n goeie tweede helfte beleef. Terwyl elkeen ’n blom tot die groeiende ruiker toevoeg hoor jy hulle sê: “Good morning Arthur, môre Arthur.” Op hul gesigte die tekens van vermoeienis en, ja, paniek. Jy kan ook hul gedagtes lees: Sal ek dit maak? Kan ek dit maak? Ek gaan dit maak.

Die TV-aanbieder gesels met iemand in die ateljee wat al daar was en weet wat in hul koppe aangaan. Die persoon sê om die tweede helfte van die Comrades te oorleef, is soos om ’n olifant te eet. En die enigste manier om ’n olifant te eet is happie vir happie.

By die Comrades-gedenkmuur sien jy hoe talle atlete stadiger hardloop, selfs stop, om doelgerig ’n naam te soek en vlugtig aan die baksteen te raak. Jy kan ook hul gedagtes lees: “Hallo. Help my. Ek mis jou.”

Die son begin water trek en die swaarkry is amper oor. Terwyl hul skaduwees ál langer word, stroom die hardlopers steeds na die eindstreep. Alle gelowe, vorms en groottes verenig. So doen die Comrades aan hierdie valse onderskeide wat dit nog altyd gedoen het. Dit ontbloot dit vir wat dit werklik is. ’n Dag op die pad skil die lae af en laat ons almal naak. Die groot menslike wedloop het, weer eens, mense van ons almal gemaak.

Oor die laaste paar honderd meters is daar ’n aanvoelbare verbetering in die gemoed. Toeskouers wat hang oor die versperrings slaan op advertensieborde terwyl hulle die name van deelnemers skreeu.

Rûe raak weer regop en koppe lig en as die eindstreep eers in sig is, verrys ’n innerlike vrede uit die oorverdowende lawaai. Die taak is amper voltooi. Of hulle reeds vriende is die afgelope 40 jaar of vyf minute gelede vriende geword het – dit is vriende wat na mekaar uitreik en hande vat. Glimlagte verskyn en oë helder op.

Net een tree voor die eindstreep oorhandig die Comrades aan jou ’n geskenk wat aanhou gee: ’n geloof in jouself. Daardie oomblik sal vir altyd in jou geheue gegraveer bly en daarmee saam die wete dat, as jy so besluit, jy onoorwinlik is. Wat ook al gebeur, jy is die meester van jou eie lot, die kaptein van jou eie skip.

Dan arriveer die 12 uur-bus. Die werkerbye. Hulle wat van vroeg vanoggend al saamgewerk het. Die manier om ’n olifant te eet is om al jou energie saam te poel en dit saam te doen. Die enigste geraas luider as die skare, is dié van die werkerbye. ’n Paar honderd sterk kom hulle om die laaste draai, wag ’n oomblik vir almal om in te haal en dan, singend en handeklappend en dansend, storm hulle huis toe. Die gepiep van die tydmat soos die golf oor die eindstreep spoel word slegs uitgedoof deur die gebrul van die skare.

Die afsnypunt kom nader. Die man met die pistool, die moordenaar van drome, maak sy verskyning. In die woonkamer voor die TV is almal op hul voete.

’n Paar meters van die eindstreep het ’n hardloper ineengestort. Ander probeer help. In die laaste paar sekondes voordat die skoot afgaan, spring almal op en af en skree op die televisie: Go, go, go!

Bang. Die Comrades-marathon is verby.

Behalwe dat dit nie is nie. Terwyl honderde hardlopers steeds stadig in die aandskemer na die afgekordonde eindstreep aanstap, het die wiel finaal gedraai.

Pantoffels word uitgetrek, pajamas word afgestroop en hardloopklere word aangetrek. Met Braveheart in gedagte, die drang om te veg wat pols in die are, word die deur oopgegooi en jy verdwyn in die
vroeë aandlug. Die voorbereiding vir die Comrades het begin.

Izokuthoba – dit sal jou nederig maak. O ja, dit sal. Zinikele – dit neem alles uit jou. Ja dis so, absoluut. Asijiki – daar is geen omdraaikans nie. Nee, glad nie. Dis soos dit moet wees.

  • Bruce Clark hoop om Sondag sy 22ste Comrades te voltooi. Sy wedloopnommer is 1064. Jy kan hom en ander atlete volg deur die app Ultimate LIVE op jou slimfoon te laai.
Meer oor:  Bruce Clark  |  Comrades
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.