Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ek het ’n droom’

Dis 4 April 1968. Die VSA word verskeur deur rassegeweld. Ontevrede swart mense wat meen daar word ondanks die grondwet en verskeie hooggeregshofuitsprake steeds teen hulle gediskrimineer, betoog en protesteer – plek-plek met geweld.

In dié plofbare situasie is daar ’n swart dominee wat kompromisloos om geregtigheid veg. Maar, anders as wat talle ongeduldige swart mense eis, spreek hy hom nie slegs teen alle vorms van rassediskriminasie en rassevooroordeel uit nie; hy verwag dat die betogings streng Christelik en geweldloos moet wees.

Maar dan word hy op 39-jarige ouderdom deur James Earl Ray, een van die wit mense wat die swart betogings juis as ’n bedreiging bestempel het, op ’n balkon in Memphis, Tennessee, vermoor.

Aan die voorpunt van verset

Martin Luther King jr. is nie verniet na Martin Luther, die vader van die Hervorming, genoem nie. Albei was as’t ware bestem om die gerieflike gemaksone van die establishment omver te werp.

King is in 1929 in Atlanta, Georgia, gebore, in die hartland van die Amerikaanse rassisme en segregasie. Toe die swart mense se verset teen rassesegregasie dus in 1954 in Montgomery, Alabama, begin, was King dáár en in die jare daarna steeds op die voorpunt.

Iemand soos J. Edgar Hoover, hoof van die FBI, het King as ’n gevaarlike kommunis bestempel en ’n dik lêer oor sy lewe saamgestel om te gebruik wanneer die tyd ryp was. Omdat King ’n feilbare mens was, het die lêer waarskynlik nogal brisante gegewens bevat.

Om maar ’n voorbeeld te noem: In 1991 het die Universiteit van Boston, waar King in 1955 ’n doktorsgraad in sistematiese teologie verwerf het, vasgestel dat dele van sy proefskrif geplagieer was (die universiteit wou nie sy graad terugtrek nie). Ook is dit bekend dat hy graag met allerlei vroue in die bed geklim het.

Nóg wit nóg swart rassisme

Nietemin is King se erfenis op veral twee gebiede belangrik, wat albei relevant vir Suid-Afrikaners is.

Die eerste is dat hy wit rassisme nie met swart rassisme wou vervang nie. Trouens, sy idees was streng nierassig.

Een van sy bekendste uitsprake lui: “A doctrine of black supremacy is as dangerous as a doctrine of white supremacy. God is not inter­ested in the freedom of black men or brown men or yellow men. God is interested in the freedom of the whole human race, the creation of

a society where every man will re­spect the dignity and worth of personality.”

Wat in dié verband belangrik is, is dat King geen revolusionêr soos Wladimir Lenin – of selfs Nelson Mandela in sy jonger dae – was nie. Hy wou eenvoudig die regte afdwing wat die Amerikaanse grondwet aan elke burger en inwoner van die land verleen het.

In sy bekende “I have a dream”- toespraak in Washington in 1960 het hy gesê: “When the architects of our Republic wrote the magnificent words of the Constitution and the Declaration of Independence, they were signing a promissory note to which every American was to fall heir. Instead of honoring this sacred obligation, America has given the Negro people a bad check; a check which has come back marked ‘insufficient funds’.”

Dié veldtog moes streng geweldloos en Christelik bly. Juis die weerhouding van gelyke regte moedig geweld aan, was sy vrees.

Diep beïnvloed deur die leer van Jesus van Nasaret en die Indiese leier Mohandas Gandhi, het hy in ’n preek met die titel “Loving your enemies” gesê: “Men must see that force begets force, hate begets hate, toughness begets toughness. And it is all a descending spiral, ultimately ending in destruction for all and everybody. Somebody must have sense enough and morality enough to cut off the chain of hate and the chain of evil in the universe. And that you do by love.”

Revolusie oor swart regte slaag

Uiteindelik het King natuurlik wel in sekere opsigte ’n spesiale soort revolusie in die VSA bewerkstellig. Teen die tyd dat hy vermoor is, was dit ’n taamlik aanvaarde idee dat swart mense gelyke regte het en dit mog uitoefen.

Uiteindelik het die oorwegend wit Amerikaanse kiesers selfs ’n swart politikus, Barack Obama, tot president gekies.

Obama se taamlik liberale idees het vir talle Amerikaners te ver gegaan. Onder diegene was ook heelparty wit rassiste, mense by wie King se nierassige Christelikheid nooit regtig ingang gevind het nie.

Dit is dié mense wat verlede Augustus in die stadjie Charlotte, Noord-Carolina, openlik met rassistiese baniere en leuses betoog het. Dis súlke mense wat nuwe moed geskep het met die dubbelsinnige houding wat pres. Donald Trump oor rassisme openbaar.

King se dood ’n halfeeu gelede word vandeesweek wyd in die VSA – en trouens wêreldwyd – herdenk. Daarby word die skaduwees oor sy lewe nie ontken nie, maar sy erfenis geniet groter aandag.

Vir Suid-Afrikaners kan King se boodskap vandag nog lesse inhou.

Een is dat ons Grondwet álle burgers in die land gelyke regte gee, dat wit mense nie op méér regte aanspraak kan maak nie, maar dat hulle ook nie mínder regte het nie. Gepaard daarmee is wit en swart rassisme ewe verwerplik. ’n Tweede is dat geweld níks oplos nie, maar probleme juis vererger.

Teen dié agtergrond kan King se lewe gerus nuwe aandag kry.

Leopold Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.